Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 1/15 bl. 5-7
  • Is jy ontvanklik vir nuwe idees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy ontvanklik vir nuwe idees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voorbeeld van die Bereane
  • Wees selektief!
  • Waarom moet jy ontvanklik wees vir nuwe idees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Verrassing vir Japan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Waarom moet jy die Bybel bestudeer?
    Ontwaak!—1991
  • “Hy het . . . uit die Skrif met hulle geredeneer”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 1/15 bl. 5-7

Is jy ontvanklik vir nuwe idees?

PARTY mense sluit hulle gemoed vir enige nuwe idee. Hulle verwerp dit moontlik omdat dit van hulle siening verskil. ’n Sekere dame in Denemarke het byvoorbeeld aan die weekblad Hjemmet geskryf en gesê: “Die Jehovasgetuies kom val ons voortdurend by ons deur lastig. Hulle irriteer my vreeslik, maar ek kan nie aan ’n manier dink waarop ek van hulle ontslae kan raak nie. . . . Kan hulle plaery nie deur die wet verbied word nie?”

Die Japannese het dit ook as “plaery” beskou toe die Weste in die middel van die 19de eeu aan hulle deur kom klop het. In die oë van talle Japannese was alles wat met die indringers verband gehou het nutteloos of selfs skadelik. Soos ’n Oosterse spreekwoord sê: “Agterdog skep monsters in die donkerte.” Die gemoedstemming van talle Japannese is goed geïllustreer deur hulle tekeninge van kommodoor Perry. Van die sowat 50 wat oorbly, beeld net 2 of 3 hom as ’n gewone Amerikaanse vlootoffisier af. Die ander beeld hom as ’n kabouter met ’n lang neus of ’n monster met ’n bleek gesig af, soos die tekening toon.

Met die oopstelling van hulle land het ontvanklike Japannese egter besef dat die buitelanders nie barbare is nie. Vir party lede van die eerste Japannese afvaardiging na die Verenigde State was dit asof skille van hulle oë afgeval het toe hulle self die Westerse kultuur gesien het. Hooggeplaaste amptenare het voortdurend gekla oor hoe onbeleefd die Amerikaners vanuit ’n Japannese oogpunt is. Maar die jongeres het ’n meer gebalanseerde opinie van die nuwe kultuur gevorm.

Een 19-jarige helper van ’n hooggeplaaste amptenaar het later geskryf: “Die meeste van die 70 Japannese afgevaardigdes op hierdie sending het aanstoot geneem aan [die Amerikaners] of het hulle gehaat. Maar toe ons die ware toedrag van sake sien, het party van ons besef dat hulle hul misgis het en was ons jammer dat ons sulke gevoelens gekoester het. As ons dink dat buitelanders so sleg soos honde of perde is en ons hulle beledig, sal ons net ’n reputasie van ongevoeligheid en onregverdigheid by hulle opbou.” Is jy ontvanklik genoeg om nuwe gedagtes met so ’n onbevooroordeelde gesindheid soos dié van hierdie jong helper te ondersoek?

Die voorbeeld van die Bereane

In die eerste eeu G.J. het baie Jode onredelike vooroordeel teen Christelike leerstellings gekoester. In party opsigte kom dit ooreen met die vooroordeel wat Japannese isolasioniste teen die buitewêreld gehad het. ‘Oral word daar teen die Christelike godsdiens gespreek’, het die Jode in eertydse Rome beweer (Handelinge 28:22). Aangaande sekere Christene in die stad Thessalonika het bevooroordeelde Jode uitgeroep: “Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom!”—Handelinge 17:6.

Daar was nogtans mense wat bereid was om verder as hulle vooroordele te kyk. Hoe het inwoners van Berea byvoorbeeld gereageer op die goeie nuus wat deur die apostel Paulus en sy metgesel Silas verkondig is? Die Bybelskrywer Lukas het aangaande die Bereane gesê: “Hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Is jy ‘edelmoedig’ soos die Bereane?

Beskou asseblief die geval van Masaji. Daar was ’n tyd toe hy baie vyandig teenoor die Christelike godsdiens was. Hy was soos die isolasioniste wat die oopstelling van Japan teengestaan het. Toe sy vrou, Satsjiko, die Bybel begin bestudeer het, het hy haar gewelddadig teengestaan. Hy het dit selfs oorweeg om sy gesin dood te maak en dan selfmoord te pleeg. Weens sy gewelddadigheid moes sy gesin na die huis van Satsjiko se ouer broer in Noord-Japan vlug.

Uiteindelik het Masaji besluit om sy gemoed effens oop te stel en sy vrou se godsdiens te ondersoek. Nadat hy Bybellektuur gelees het, het hy besef dat hy veranderinge sou moes aanbring. Namate hy die Skrif bestudeer het, het sy gewelddadige gesindheid verander in een wat die vrugte van God se gees weerspieël (Galasiërs 5:22). Masaji het gehuiwer om vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, omdat hy bang was dat die Getuies hulle op hom sou wreek weens sy gewelddade teen hulle. Maar toe hy uiteindelik na ’n Koninkryksaal gegaan het, is hy met sulke hartlikheid verwelkom dat hy in trane uitgebars het.

Ja, as ons vooroordeel oorkom en nuwe idees ondersoek, kan dit ons horison verruim en ons op ander maniere tot voordeel strek. Beteken dit egter dat ons ontvanklik moet wees vir elke nuwe idee waarvan ons hoor?

Wees selektief!

Toe Japan se afsondering geëindig het, het nuwe idees die land binnegestroom. Party hiervan het die Japannese tot voordeel gestrek, maar hulle sou beter af gewees het sonder ander. “In stryd met kommodoor Perry se bedoelinge”, het Amerikaanse generaal Douglas MacArthur gesê toe hy Japan se oorgawe na die Tweede Wêreldoorlog aanvaar het, “het Japan die kennis van die Weste in ’n instrument van onderdrukking en slawerny verander.” Japan het sy Westerse leermeesters nagevolg en ’n weg ingeslaan wat hom in ’n reeks oorloë gedompel het. Hierdie oorloë het ’n hoogtepunt bereik in die Tweede Wêreldoorlog, en aan die einde daarvan is twee atoombomme op Japannese gebied gegooi.

Wat kan ons hieruit leër? Dat ons selektief moet wees en nie net enige nuwe idee moet aanvaar nie. Dit sal goed wees as ons die Bereane navolg deur “elke dag die Skrifte [te] ondersoek of hierdie dinge [wat deur Paulus geleer is] so was” (Handelinge 17:11). Die Griekse woord wat hier met “ondersoek” weergegee word, beteken om “noukeurige en juiste navorsing te doen soos in regsprosedures” (Word Pictures in the New Testament, deur A. T. Robertson). Pleks van elke nuwe idee waarvan ons boor blindelings te aanvaar, moet ons noukeurige en juiste navorsing doen, net soos ’n regter sal doen wanneer hy ’n regsaak verhoor.

As ons selektief is, sal ons nie meegevoer word deur elke tydelike gier of deur nuwe idees wat in werklikheid skadelik is nie. Ter toeligting: Die sogenoemde nuwe moraliteit van die sestigerjare het vir party na ’n aantreklike nuwe idee gelyk. Maar ’n noukeurige ondersoek sou getoon het dat dit maar net skadelike ou immoraliteit onder ’n nuwe naam is. Ook het baie mense in die ekonomies sukkelende Duitsland van die twintigerjare Nazisme ongetwyfeld as ’n opwindende nuwe idee beskou, maar watter smart het dit tog meegebring!

Gelukkig het God ’n toetssteen voorsien wat gebruik kan word om nuwe idees op die proef te stel. Dit is sy geïnspireerde Woord, die Bybel. As ons die riglyne daarvan in die gesinslewe en in menseverhoudinge toepas, sal dit ons help om baie van die nuwe idees te toets wat vandag bevorder word deur sosioloë, sielkundiges en ander wat beweer dat hulle deskundiges op hierdie gebiede is (Efesiërs 5:21–6:4; Kolossense 3:5-14). Die Bybel se raad aangaande ons verhouding met God en ons naaste stel ons in staat om baie van die nuwe idees aangaande godsdiens te toets wat tans versprei word (Markus 12:28-31). Juiste Bybelkennis sal ons toerus om vas te stel of ’n nuwe idee werklik waarde het of nie. Dan sal ons ‘alle dinge kan beproef en die goeie kan behou’.—1 Thessalonicense 5:21.

Jehovah se Getuies besoek hulle bure om hulle aan te spoor om meer aangaande die Bybel te leer en nuwe idees sodoende behoorlik te kan beoordeel. Die Getuies vestig ook die aandag op Bybelgedagtes waarvan baie mense nog nie gehoor het nie. Sulke gedagtes behels onder meer die waarheid aangaande die tye waarin ons lewe en wat die toekoms werklik vir die mensdom inhou (Mattheüs 24:3-44; 2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 21:3, 4). Moet dus nie ’n isolasionistiese gesindheid aanneem wanneer die Getuies aan jou deur kom klop nie. Maak gerus jou deur oop en luister na wat hulle wil se. Moenie jou gemoed sluit vir idees wat jou tot ewige voordeel kan strek nie.

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Foto LC-USC62-7258 van die Amerikaanse Nasionale Biblioteek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel