Die drie “Wyses”—Feit of verdigsel?
“C + M + B”
Beteken hierdie letters enigiets vir jou? As jy in ’n Rooms-Katolieke gebied van die Bondsrepubliek Duitsland woon, beteken dit dalk iets. Daar sal jy dikwels die letters saam met die jaar op deurposte geskryf sien. Waarom?
Volgens volkslegende is hierdie letters die voorletters in Duits van die sogenaamde drie “Wyses”, Kaspar (Duits, Caspar), Melchior en Balthasar.a Die “Wyses” se oorskot is kwansuis in die jaar 1164 na Keulen geneem en later in die stad se katedraal begrawe, wat Keulen die sentrum van hulle verering gemaak het. Elke jaar, op 6 Januarie—bekend as die Driekoningefees—gaan groepe jongmense wat soos eertydse konings geklee is van huis tot huis en skryf hulle die letters op deurposte. Volgens oorlewering beskerm dit huisbewoners teen onheil.
Godsdienskuns en -tradisie impliseer dat die drie “Wyses”, of “konings”, deur ’n “ster” gelei is na waar Jesus gebore is. Met die oog op die eer, selfs verering, wat hierdie “konings” kry, ontstaan die vraag of hierdie opvatting op die Skrif gebaseer is.
Mattheüs is die enigste Evangelie wat van hierdie besoekers melding maak (2:1-12). Maar sê Mattheüs dat daar drie was en dat hulle konings was, en vermeld hy hulle name? Die Katolieke koerant Kirchenzeitung für das Bistum Aachen erken: “Die Bybel meld nie die Drie Heilige Konings as sodanig nie. In die sesde eeu het die idee ontstaan dat die wyse manne . . . drie konings was. . . . Mattheüs meld geen besonderhede . . . oor hoeveel astroloë daar was nie. . . . In die negende eeu het hulle vir die eerste keer die name Kaspar, Melchior en Balthasar gekry.” Boonop sê die Katolieke naslaanwerk Lexikon für Theologie und Kirche dat die Griekse woord maʹgoi nie konings beteken nie, maar eerder “persone wat geheime kennis van astrologie het”. Justinus Martyr, Origenes en Tertullianus het almal verstaan dat die woord “astroloog” beteken. Moderne Bybelvertalings gebruik ook “astroloë” in Mattheüs 2:1, 7.—NAV; An American Translation.
Was hulle by Jesus se geboorte teenwoordig, aangesien geboortetonele van Jesus as ’n baba sonder uitsondering die “drie konings” insluit? Die leksikon voeg by: “Mattheüs 2:16 dui aan dat die besoek miskien ’n jaar of langer na die geboorte van Jesus plaasgevind het.” Trouens, vers 11 praat van ’n “huis”, nie ’n stal nie, waar hulle ‘die Kindjie gesien het’.—NAV.b
Wat van die benaming “Heilige Konings”? Kan die besoekers tereg heilig genoem word? Die Skrif beskryf hulle nooit as sodanig nie. Hulle het, om die waarheid te sê, goddelike beginsels geskend. In Jesaja 47:13, 14 veroordeel God “die wat die hemel indeel [“astroloë”, volgens die Septuaginta], die sterrekykers”. (Vergelyk Deuteronomium 18:10.) Hierdie astroloë het “uit die Ooste” gekom, heel waarskynlik die destydse sentrum van okkulte aanbidding, onheilige Babilon, waar hulle valse gode aanbid het. Hulle is dus gelei deur wat volgens hulle mening ’n bewegende “ster” was, wat niemand anders luidens berig gesien het nie. Mattheüs toon ook dat die “ster” hulle eers na koning Herodes gelei het, wat toe probeer het om Jesus te laat doodmaak.—Mattheüs 2:1, 2.
Nee, God het nie ’n “ster” gestuur om hulle na Jesus te lei nie. Is dit nie waarskynliker dat hierdie “ster” deur iemand gestuur is wat Jesus wou doodmaak voordat hy sy godgegewe toewysing kon vervul nie?—Vergelyk Genesis 3:15.
Jesus het gewaarsku dat die Woord van God “kragteloos” gemaak kan word as dit met “oorlewering” vermeng word (Mattheüs 15:6). Die oorleweringe waardeur hierdie mense omring word, is duidelik onskriftuurlik. Stem jy derhalwe nie saam dat dit verkeerd sou wees om die astroloë te vereer of om hulle as heilig te beskou nie?
[Voetnote]
a Ter verduideliking wys die geestelikes ook op die Latynse frase Christus mansionem benedicat, “Mag Christus hierdie huis seën”.
b Kyk The Watchtower se nommer van 15 Desember 1979, bladsy 30, vir verdere inligting oor die aankoms van die astroloë.