Godsdienstradisies—Word God in waarheid aanbid?
“SALGA, salga, salga” (“Kom uit, kom uit, kom uit”). Die klaagroep kom van ’n donker begraafplaas op die eiland Janitzio in die Pátzcuaro-meer, Mexiko. Daar bid ’n vroom Tarasco-Indiaan met behulp van ’n geskrewe gebed tot sy afgestorwe familielid. “Laat die Heilige Rosekrans die kettings breek wat jou bind”, smeek hy.
Dit is die Dag van die Dode. Vroue en kinders het van vroegoggend af hulle familiebegraafplase met blomme en versierde houtrame opgetooi. Hulle het offerandes van vrugte en koekies voor die grafte geplaas. En nou trotseer hulle die koue nag om gebede te sing-praat of om stil te waak in die dowwe lig van duisende flikkerende kerse wat ten behoewe van die dode aangesteek is.
Wat vir ’n buitestaander vreemd of selfs eienaardig lyk, is vir hierdie mense ’n eerbiedwaardige godsdienstradisie: die Katolieke viering van Allersieledag. In talle Latyns-Amerikaanse lande skryf tradisie voor dat duisende gelowiges na die begraafplase stroom om geskrewe gebede namens hulle afgestorwenes te doen en gawes vir hulle te offer.
Latyns-Amerika het ook talle tradisies ten opsigte van godsdiensbeelde. Beelde van Christus en van Maria is oral te vinde en versier die meeste huise en winkels. Klim op ’n bus, en jy sal sonder uitsondering klein prentjies van Maria bokant die bestuurder se sitplek sien. Daar word selfs beelde van Maria, met haar gesig in die rigting van die middelgangetjie gekeer en met gekleurde flikkerligte pleks van kerse as versiering op die busse geplaas.
In Colombia is daar kolossale beelde van Christus en van Maria op hoë berge bokant talle stede. Bo-op die bekende Monserrateberg is daar ’n kerk vol beelde wat met diepe eerbied bejeën word. Gedurende spesiale heilige weke klim duisende inwoners van Bogotá op na hierdie rotsagtige bergspits, en sommige kruip op stukkende en bloeiende kniee.
Beelde, kruise, feeste—dit is deel van die godsdienstradisies wat ’n gevestigde leefwyse vir mense oor die hele wêreld geword het. Hierdie tradisies is van geslag tot geslag oorgedra, en mense is geneig om dit as heilig te beskou.
Aanbidding in waarheid?
Hoewel die meeste miskien tevrede is om tradisies blindelings te volg, skep hierdie tradisies vir talle Christene ’n ontstellende dilemma. Jesus Christus self het op stuk van sake gesê: “Die ware aanbidders [sal] die Vader in gees en waarheid . . . aanbid” (Johannes 4:23). Maar dit is duidelik dat talle godsdienstradisies van nie-Christelike godsdiensritusse kom, of ten minste ’n verbasende ooreenkoms daarmee toon. Een voorbeeld is Allersieledag, wat feitlik presies dieselfde is as die Boeddhistefees van “Ullambana”, ’n dag wat afgesonder word om “ouerverering aan afgestorwe voorouers te betoon en geeste van slawerny aan hierdie wêreld te bevry” (The New Encyclopædia Britannica, uitgawe van 1976, Micropædia, Deel 1, bladsy 260). Aanbid mense wat sulke tradisies navolg God werklik in waarheid?
Sommige redeneer dat die blote aanvaarding van tradisies in die kerk dit regverdig. Die Tweede Vatikaanse Konsilie het in 1965 gesê: “Dit is nie net uit die heilige Skrif dat die Kerk sekerheid kry oor alles wat geopenbaar is nie. Daarom moet heilige tradisie sowel as die heilige Skrif met dieselfde toegewydheid en eerbied aanvaar en vereer word.”
Maar sê nou daar is fundamentele teenstrydighede tussen mensgemaakte tradisie en die Skrif wat deur God geïnspireer is. Wat dan? Laat ons, in antwoord hierop, tradisies in die lig van die Bybel se raad noulettend ondersoek.