Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/15 bl. 10-15
  • Wie sal deur Jehovah goedgekeur word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie sal deur Jehovah goedgekeur word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het sy woorde beteken?
  • Hy het mense verwelkom
  • Ongelowiges en die Christengemeente
  • Behou God se goedkeuring vir redding
  • Help ander om God te aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wat verhinder jou om gedoop te word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Gedoop in die naam van wie en wat?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Moet ek my lewe aan God toewy en gedoop word?
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/15 bl. 10-15

Wie sal deur Jehovah goedgekeur word?

“Werk julle eie heil [“redding”, “NW”] uit . . . want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”—FILIPPENSE 2:12, 13.

1, 2. In watter situasie is ’n verklaring van goddelike goedkeuring oor Jesus uitgespreek, en waarom moet dit vir ons van belang wees?

DIT was ’n keerpunt in die geskiedenis. Johannes die Doper het God se boodskap verkondig en berouvolle mense in water ondergedompel. Toe het ’n man hom genader wat Johannes geweet het regverdig is; hy was Jesus. Hy het geen sonde gehad waaroor hy berou moes toon nie, en tog het hy gevra om gedoop te word “om alle geregtigheid te vervul”.—Mattheüs 3:1-15.

2 Nadat Johannes beskeie ingewillig het en Jesus uit die water opgekom het, “gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ’n duif neerdaal”. Boonop “kom [daar] ’n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het [“wat ek goedgekeur het”, NW]” (Mattheüs 3:16, 17; Markus 1:11, vgl. NW). Wat ’n verklaring! Ons almal geniet dit om iemand vir wie ons respek het te behaag (Handelinge 6:3-6; 16:1, 2; Filippense 2:19-22; Mattheüs 25:21). Stel jou dan voor hoe jy sal voel as die almagtige God sê: ‘Ek het jou goedgekeur!’

3. Waarin moet ons belangstel wat God se goedkeuring betref?

3 Kan ’n mens vandag deur God goedgekeur word? Beskou byvoorbeeld ’n man wat “sonder hoop en sonder God in die wêreld” is en “vervreemd [is] van die lewe van God” (Efesiërs 2:12; 4:18). Kan hy daardie situasie verander en die geseënde toestand van goedkeuring deur Jehovah geniet? Indien wel, hoe? Kom ons kyk.

Wat het sy woorde beteken?

4. (a) Wat is die betekenis van die Griekse woord vir “goedgekeur” in God se verklaring? (b) Waarom is die gebruik hiervan in hierdie geval van besondere belang?

4 In die Evangelieverslae van God se woorde: ‘Ek het [Jesus] goedgekeur’, word die Griekse werkwoord eu·do·keʹo gebruik (Mattheüs 3:17, NW; Markus 1:11, NW; Lukas 3:22, NW). Dit beteken “om ingenome te wees, gunstig te beskou, behae te skep in”, en die selfstandige naamwoord het die betekenis van “welwillendheid, behae, guns, wens, begeerte”. Eu·do·keʹo is nie tot goddelike goedkeuring beperk nie. Christene in Macedonië het dit byvoorbeeld “goedgevind” om ander geldelik te help (Romeine 10:1, NW; 15:26; 2 Korinthiërs 5:8, NW; 1 Thessalonicense 2:8; 3:1, NW). Nietemin is die goedkeuring wat Jesus ontvang het deur God uitgespreek, nie deur mense nie. Hierdie woord word in verband met Jesus gebruik slegs nadat hy gedoop is (Mattheüs 17:5, NW; 2 Petrus 1:17, NW). Interessant genoeg gebruik Lukas 2:52 ’n ander woord—khaʹris—wanneer dit meld dat Jesus as ’n ongedoopte jong man “genade” van God en mense ontvang het.

5. (a) Hoe is dit duidelik dat onvolmaakte mense deur God goedgekeur kan word? (b) Wie is “mense van welwillendheid”?

5 Kan onvolmaakte mense soos ons ook God se goedkeuring verkry? Gelukkig is die antwoord ja. Toe Jesus gebore is, het engele aangekondig: “Glorie in die hoogste hoogtes aan God, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid [eu·do·kiʹas]” (Lukas 2:14, NW). In die letterlike Grieks het die engele gesing van ’n komende seën vir “mense van goeie denke” of “mense wat deur God goedgekeur word”.a Professor Hans Bietenhard skryf oor hierdie gebruik van en an·throʹpois eu·do·kiʹas: “Die sinsnede het betrekking op die mense van God se welbehae . . . Hier het ons dus nie te doen met die welwillendheid van mense nie . . . Ons het te doen met God se soewereine en genadige wil, wat ’n eie volk vir redding kies.” Soos Jehovah se Getuies al lank verduidelik, toon Lukas 2:14 dus dat dit deur toewyding en doop vir onvolmaakte mense moontlik is om mense van welwillendheid te word, mense wat deur God goedgekeur word!b

6. Wat moet ons nog omtrent God se goedkeuring leer?

6 Maar jy besef moontlik die verskil tussen diegene wat ‘vyande van God is met hul gees gerig op die werke wat goddeloos is’ en diegene wat as metgeselle van ons regverdige en wyse God goedgekeur is (Kolossense 1:21, NW; Psalm 15:1-5). Gevolglik wil jy dalk, hoewel jy verlig is om te hoor dat mense goedgekeur kan word, weet wat dit behels. Ons kan uit God se vorige handelinge meer hieromtrent leer.

Hy het mense verwelkom

7. Wat dui Exodus 12:38 met betrekking tot God se gesindheid aan?

7 In die eeue voor die aankondiging in Lukas 2:14 het Jehovah mense verwelkom wat hom wou kom aanbid. God se handelinge was natuurlik beperk tot die nasie van Israel, wat aan hom toegewy was (Exodus 19:5-8; 31:16, 17). Maar onthou, “’n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek” toe Israel Egiptiese slawerny verlaat het (Exodus 12:38). Hierdie nie-Israeliete wat moontlik met God se volk te doen gehad het en die plae oor Egipte gesien het, het nou besluit om saam met Israel te gaan. Sommige het waarskynlik volwaardige proseliete geword.

8. Watter twee soorte vreemdelinge het in Israel gewoon, en waarom het die Israeliete hulle nie eenders behandel nie?

8 Die Wetsverbond het die situasie van nie-Israeliete met betrekking tot God en sy volk erken. Sommige vreemdelinge was setlaars wat eenvoudig in die land Israel gewoon hat, waar hulle basiese wette, soos dié teen moord en dié wat onderhouding van die Sabbat vereis hat, moes gehoorsaam (Nehemia 13:16-21). Pleks van hierdie setlaars as broers te aanvaar, was ’n Israeliet redelik versigtig wanneer hy met hulle gepraat of te doen gehad het, want hulle was nog nie ’n deel van God se nasie nie. Hoewel ’n Israeliet verbied is om die ongebloeide karkas van ’n dier wat vanself doodgegaan het te koop en te eet, mag sulke vreemdelinge wat nie proseliete was nie dit byvoorbeeld wel gedoen het (Deuteronomium 14:21; Esegiël 4:14). Mettertyd sou sommige van hierdie setlaars uit ander lande moontlik dieselfde as ander vreemdelinge doen en besnede proseliete word. Eers dan is hulle as broers in ware aanbidding behandel, onder verpligting om die hele Wet te onderhou (Levitikus 16:29; 17:10; 19:33, 34; 24:22). Rut, die Moabitiese vrou, en Naäman, die Siriese melaatse, was nie-Israeliete wat deur God aanvaar is.—Mattheüs 1:5; Lukas 4:27.

9. Hoe het Salomo God se gesindheid teenoor uitlanders bevestig?

9 In die dae van koning Salomo sien ons ook God se verwelkomende gesindheid teenoor nie-Israeliete. Toe Salomo die tempel ingewy het, het hy gebid: “Na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land ter wille van u Naam kom . . . en bid na hierdie huis toe, wil U dan hoor uit die hemel, . . . sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel” (1 Konings 8:41-43). Ja, Jehovah het die gebede van opregte uitlanders wat na hom gesoek het, verwelkom. Dalk sou hulle ook sy wette leer, hulle laat besny en aanvaarde lede van sy geseënde volk word.

10. Hoe sou die Jode die Ethiopiese eunug behandel het, en waarom het besnydenis hom tot voordeel gestrek?

10 Een man wat dit later gedoen het, was die skatmeester van koningin Kandace in verafgeleë Ethiopië. Toe hy aanvanklik van die Jode en hulle aanbidding gehoor het, was sy lewenstyl of godsdiensgebruike waarskynlik vir Jehovah onaanvaarbaar. Die Jode sou derhalwe ’n mate van verdraagsaamheid moes toon terwyl hierdie uitlander in hulle midde die Wet bestudeer het om God se vereistes te leer. Hy het klaarblyklik vordering gemaak en die nodige veranderinge aangebring om vir besnydenis te kwalifiseer. Handelinge 8:27 deel ons mee dat hy “na Jerusalem gekom het om te aanbid” (Exodus 12:48, 49). Dit toon dat hy toe ’n volwaardige proseliet was. Hy was dus in ’n posisie om die Messias te aanvaar en sy gedoopte dissipel te word, waardeur hy hom na God se progressiewe wil geskik het.

Ongelowiges en die Christengemeente

11, 12. (a) Watter verdere verandering was daar toe die Ethiopiër gedoop is? (b) Hoe het dit met Filippense 2:12, 13 gestrook?

11 Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Die pas gemelde Ethiopiese proseliet het reeds kennis van Jehovah en van die heilige gees gehad. Nadat Filippus hom gehelp het om te verstaan dat Jesus die messiaanse Seun van God is en hom as sodanig te aanvaar, kon hy dus gedoop word. Hy sou sodoende ’n goedgekeurde lid word van Jehovah se volk wat Christus navolg. Hy sou natuurlik teenoor God aanspreeklik wees en ‘alles moes onderhou’ wat Christene beveel is. Maar ’n wonderlike vooruitsig het met hierdie aanspreeklikheid gepaard gegaan: redding!

12 Paulus het later geskryf dat alle Christene ‘hulle eie redding met vrees en bewing moet uitwerk’. Maar dit kon gedoen word, “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae [eu·do·kiʹas]”.—Filippense 2:12, 13.

13. Hoe sou Christene diegene behandel het wat nie so gou soos die Ethiopiese eunug gedoop is nie?

13 Nie almal wat met ware Christene in aanraking gekom het, was so bereid en bevoeg soos daardie Ethiopiër om gou gedoop te word nie. Sommige, wat nie Jode of proseliete was nie, het min of geen kennis van Jehovah en sy handelwyse gehad nie; en hulle sedes is nie deur sy standaarde gerig nie. Hoe moes hulle behandel word? Christene moes Jesus se voorbeeld volg. Hy het sonde beslis nie aangemoedig of selfs vergoelik nie (Johannes 5:14). Tog was hy verdraagsaam teenoor sondaars wat tot hom aangetrokke gevoel het en wat hulle handelwyse in ooreenstemming met dié van God wou bring.—Lukas 15:1-7.

14, 15. Watter soort mense, buiten gesalfde Christene, het vergaderinge in Korinthe bygewoon, en hoe het hulle moontlik verskil wat geestelike vordering betref?

14 Die feit dat Christene verdraagsaam was teenoor diegene wat van God geleer het, blyk uit Paulus se kommentaar oor vergaderinge in Korinthe. In sy bespreking van die gebruik van wondergawes van die gees wat aanvanklik aangedui het dat die Christelike godsdiens God se seën geniet, het Paulus “gelowiges” en “ongelowiges” gemeld (1 Korinthiërs 14:22). “Gelowiges” was diegene wat Christus aanvaar het en gedoop is (Handelinge 8:13; 16:31-34). “Baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.”—Handelinge 18:8.

15 Volgens 1 Korinthiërs 14:24 (NW) het ‘ongelowiges of gewone mense’ ook die vergaderinge in Korinthe bygewoon en is hulle daar verwelkom.c Hulle het waarskynlik teen verskillende tempo’s gevorder wat die bestudering en toepassing van God se Woord betref. Dalk het sommige steeds sonde beoefen. Ander het dalk ’n mate van geloof verkry, reeds veranderinge in hulle lewe aangebring en, selfs voor hulle doop, begin om vir ander te vertel wat hulle geleer het.

16. Hoe kon sulke persone baat vind by omgang met Christene by gemeentevergaderinge?

16 Sulke ongedoopte persone was natuurlik nie “in die Here” nie (1 Korinthiërs 7:39). As hulle in die verlede ernstige sedelike en geestelike foute begaan het, sou hulle hul begryplikerwys dalk eers na verloop van tyd na God se standaarde kon skik. Intussen was hulle welkom, solank hulle nie kwaadwillig probeer het om die geloof en reinheid van die gemeente te ondermyn nie. Wat hulle by die vergaderinge gesien en gehoor het, kon ‘hulle teregwys’ namate die ‘geheime van hulle hart aan die lig gekom het’.—1 Korinthiërs 14:21-25, vgl. NW; 2 Korinthiërs 6:14.

Behou God se goedkeuring vir redding

17. Hoe is Lukas 2:14 in die eerste eeu vervul?

17 Danksy die openbare predikingswerk van gedoopte Christene in die eerste eeu het duisende die goeie nuus gehoor. Hulle het geloof gestel in wat hulle gehoor het, berou gehad oor hulle vorige leefwyse en is gedoop, waardeur hulle “’n openbare bekendmaking tot redding” gedoen het (Romeine 10:10-15, NW; Handelinge 2:41-44; 5:14; Kolossense 1:23). Dit het geen twyfel gely dat gedoopte persone destyds Jehovah se goedkeuring gehad het nie, want hy het hulle met die heilige gees gesalf en hulle sodoende as geestelike seuns aangeneem. Die apostel Paulus het geskryf: “Hy [het] ons voorbeskik . . . om ons as sy [seuns] vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae [eu·do·kiʹan] van sy wil” (Efesiërs 1:5, vgl. NW). Die engele se voorspelling ten tyde van Jesus se geboorte het dus in daardie eeu begin uitkom: “Vrede onder mense van welwillendheid [of, mense wat God se goedkeuring het].”—Lukas 2:14, NW.

18. Waarom kon gesalfde Christene hulle goedgekeurde posisie voor God nie as vanselfsprekend aanvaar nie?

18 Daardie “mense van welwillendheid” moes aanhou om hulle ‘eie heil met vrees en bewing uit te werk’ om daardie vrede te behou (Filippense 2:12). Dit was nie maklik nie, want hulle was steeds onvolmaakte mense. Hulle sou te kampe hê met versoekings en druk om te sondig. As hulle voor sonde sou swig, sou hulle God se goedkeuring verloor. Jehovah het dus liefdevol gereel dat geestelike herders die gemeentes help en beskerm.—1 Petrus 5:2, 3.

19, 20. Watter voorsienings het God gemaak sodat gedoopte Christene sy goedgekeurde knegte kon bly?

19 Sulke gemeentelike ouere manne sou Paulus se raad ter harte neem: “As iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Galasiërs 6:1). Dit is te begrype dat iemand wat die belangrike stap van doop gedoen het in groter mate aanspreeklik gehou sou word, net soos ’n vreemdeling wat ’n besnede proseliet in Israel geword het meer aanspreeklik was. Nietemin kon ’n gedoopte Christen wat gesondig het liefdevolle hulp in die gemeente kry.

20 ’n Groep ouere manne in die gemeente kon aanbied om iemand wat in ernstige sonde verval het te help. Judas het geskryf: “Bly barmhartigheid toon teenoor sommige wat twyfel; red hulle deur hulle uit die vuur te ruk. Maar bly teenoor ander barmhartigheid toon, en doen dit met vrees, terwyl julle selfs die onderkleed wat deur die vlees besoedel is, haat” (Judas 22, 23, NW). ’n Gedoopte gemeentelid wat op hierdie manier gehelp is, kon steeds Jehovah se goedkeuring en die vrede waarvan die engele ten tyde van Jesus se geboorte gepraat het, geniet.

21, 22. Wat sou gebeur as iemand ’n onberouvolle sondaar geword het, en hoe sou lojale gemeentelede daarop gereageer het?

21 Hoewel dit ongewoon was, was daar sommige gevalle waar die oortreder nie berouvol was nie. Dan sou die ouere manne hom moes uitsit om die rein gemeente teen besmetting te beskerm. Dit het gebeur met ’n gedoopte man in Korinthe wat nie ’n onsedelike verhouding wou beëindig nie. Paulus het die gemeente gemaan: “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie—dit wil sê, nie hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan—maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”—1 Korinthiërs 5:9-11.

22 Aangesien die Korinthiese man die belangrike stap van doop gedoen het en sodoende deur God goedgekeur is en ’n lid van die gemeente geword het, was sy uitsetting ’n ernstige saak. Paulus het aangedui dat Christene nie met hom moes omgaan nie, want hy het sy goedgekeurde posisie voor God verwerp. (Vergelyk 2 Johannes 10, 11.) Petrus het aangaande sulke uitgesette persone geskryf: “Dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel.”—2 Petrus 2:21, 22.

23. Wat was die algemene situasie onder Christene in die eerste eeu wat die behoud van God se goedkeuring betref?

23 Jehovah kon sulke individue uiteraard nie meer as goedgekeur beskou nie, want hulle is uitgesit omdat hulle onberouvolle sondaars was. (Hebreërs 10:38; vergelyk 1 Korinthiërs 10:5.) Klaarblyklik is slegs ’n minderheid uitgesit. Die meeste wat ‘genade en vrede van God’ ontvang het en ‘na die welbehae van sy wil as seuns aangeneem is’, het getrou gebly.—Efesiërs 1:2, 5, 8-10, vgl. NW.

24. Watter aspek van hierdie onderwerp verdien ons verdere aandag?

24 In ons tyd is dit basies ook die geval. Maar kom ons kyk hoe ‘ongelowiges of gewone mense’ gehelp kan word om vandag God se goedkeuring te ontvang en wat gedoen kan word om hulle te help as hulle in die proses ’n fout begaan. Die volgende artikel sal hierdie aangeleenthede bespreek.

[Voetnote]

a Vergelyk “mense wat hy goedkeur”, New Testament, deur George Swann; “mense in wie hy behae skep”, The Revised Standard Version.

b Kyk Die Wagtoring van 1 Januarie 1965, bladsye 12-17.

c “Die ἄπιστος (apistos, ‘ongelowige’), en ιδιώτης (idiōtēs, ‘persoon sonder begrip’, die ‘navraer’) val albei in die kategorie van ongelowiges, in teenstelling met diegene in die Christelike kerk wat gered is.”—The Expositor’s Bible Commentary, Deel 10, bladsy 275.

Onthou jy?

◻ Sedert wanneer en op watter manier kan mense volgens die Skrif deur God goedgekeur word?

◻ Wat was God se beskouing van uitlanders onder sy volk, maar waarom moes die Israeliete die ewewig tussen versigtigheid en verdraagsaamheid bewaar?

◻ Wat kan ons aflei uit die feit dat “ongelowiges” Christelike vergaderinge in Korinthe bygewoon bet?

◻ Hoe het God voorsiening gemaak om gedoopte Christene te help om sy goedgekeurde knegte te bly?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel