Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 10/1 bl. 8-9
  • Wees gereed!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees gereed!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees gereed!
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Bly gereed, getroue bestuurder!
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Beplan vooruit – Gebruik praktiese wysheid
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 10/1 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Wees gereed!

NADAT hy die menigtes teen hebsug gewaarsku het en sy dissipels gemaan het om nie te veel aandag aan materiële dinge te skenk nie, bemoedig Jesus hulle: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” Hy openbaar dus dat net ’n betreklik klein aantal (later is daar getoon dat dit 144 000 is) in die hemelse Koninkryk sal wees. Die meeste van die wat die ewige lewe ontvang, sal aardse onderdane van die Koninkryk wees.

Wat ’n wonderlike gawe, “die koninkryk”! Jesus beskryf hoe die dissipels gepas by ontvangs van hierdie gawe behoort te reageer deur hulle aan te spoor: “Verkoop julle besittings en gee aalmoese.” Ja, hulle moet hul bates gebruik om ander geestelik te bevoordeel en sodoende “’n skat in die hemel wat onuitputlik is”, bymekaarmaak.

Jesus vermaan sy dissipels vervolgens om gereed te wees vir sy terugkoms. Hy sê: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.”

In hierdie gelykenis word die diensknegte se gereedheid wanneer hul heer terugkom, getoon deur die feit dat hulle hul lang gewade optrek en dit onder hulle gordels vasbind; en hulle kom hulle pligte tot in die nag toe by die lig van gevulde lampe na. Jesus verduidelik: ‘As die heer in die tweede nagwaak [van ongeveer nege-uur in die aand tot middernag] of in die derde nagwaak [van middernag tot ongeveer drieuur die oggend] kom, en dit so vind—gelukkig is daardie diensknegte!’

Die heer beloon sy diensknegte op ’n buitengewone manier. Hy laat hulle aan tafel gaan en begin hulle bedien. Hy behandel hulle nie soos slawe nie, maar soos lojale vriende. Wat ’n wonderlike beloning ontvang hulle tog omdat hulle dwarsdeur die nag aangehou het om vir hul heer te werk terwyl hulle op sy terugkoms gewag het! Jesus sê ten slotte: “Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Petrus vra nou: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?”

Pleks van ’n direkte antwoord te gee, vertel Jesus nog ’n gelykenis. “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder”, vra hy, “wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”

Dit is duidelik dat Jesus Christus die “heer” is. Die “bestuurder” beeld die “klein kuddetjie” dissipels as ’n gesamentlike liggaam af, en die “diensvolk” slaan op hierdie selfde groep van 144 000 wat die hemelse Koninkryk ontvang, maar dit beklemtoon hulle werk as individue. Die “besittings” waaroor die getroue bestuurder aangestel word om na om te sien, is die heer se koninklike belange op aarde, wat die Koninkryk se aardse onderdane insluit.

Jesus gaan voort met die gelykenis en vestig die aandag op die moontlikheid dat nie alle lede van daardie bestuurder- oftewel diensknegklas lojaal sal wees nie deur te verduidelik: “Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie . . . en sal hom [met die grootste strengheid straf].”

Jesus toon verder dat sy koms ’n beproewende tyd vir die Jode meegebring het, aangesien party sy leringe aanvaar en ander dit verwerp. Meer as drie jaar tevore is hy in water gedoop, maar nou kom die einde van sy doop in die dood al hoe nader, en soos hy sê: “Hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!”

Nadat Jesus hierdie dinge vir sy dissipels gesê het, praat hy weer met die menigtes. Hy betreur hulle hardkoppige weiering om die duidelike bewys van sy identiteit en die belang daarvan te aanvaar. “Wanneer julle ’n wolk in die weste sien opkom”, merk hy op, “sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?” Lukas 12:32-59, vgl. NW.

◆ Uit hoeveel lede bestaan die “klein kuddetjie”, en wat ontvang hulle?

◆ Hoe beklemtoon Jesus die belangrikheid daarvan dat sy diensknegte gereed moet wees?

◆ Wie is die “heer”, die “bestuurder”, die “diensvolk” en die “besittings” in Jesus se gelykenis?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel