Koninkryksverkondigers berig
Ondervindinge uit Tuvalu
DIE goeie nuus van die Koninkryk word op die pragtige eilande van Tuvalu, in die Stille Suidsee, verkondig, en selfs hooggeplaaste manne het ’n goeie getuienis ontvang. ’n Australiese broer wat saam met sy vrou in die reiswerk in Tuvalu dien, vertel ons van sy ondervinding:
“Ek en my vrou is uitgenooi na ’n ete by die huis van die Eerste Minister van Tuvalu. Die geleentheid was die besoek van Australië se Minister van Buitelandse Sake. Ek en my vrou het gedurende die maaltyd ’n goeie geleentheid gehad om vir beide die Australiese minister en sy vrou te getuig. Toe die Eerste Minister ons voorstel, het by gemeld wat ’n wonderlike werk Jehovah se Getuies in Tuvalu doen, veral wat die vertaling van ons lektuur in die Tuvalu-taal betref. ‘Ek het eksemplare van al hulle publikasies in my biblioteek, en hulle is uitstekend!’ het hy gesê. Die minister sowel as sy vrou het met belangstelling geluister hoe ons werk op Tuvalu vorder.
“Later die aand het ons ’n plaaslike onthaal met tradisionele danse bygewoon. Die Goewerneurgeneraal van Tuvalu het ons daarna genader en gemeld dat Getuies sy woning die week vantevore besoek het en eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! daar gelaat het. Hy het agterop een van die tydskrifte ’n advertensie vir die New World Translation of the Holy Scriptures gesien en wou weet hoe hy plaaslik een kon bekom. Ons het gesê dat ons hom met graagte ’n eksemplaar sou gee. Ek het die daaropvolgende Sondag met die Bybel na sy woning gegaan, en ons het omtrent ’n uur lank ’n goeie bespreking gehad. Hy het gemeld hoeveel hy ons werk en publikasies waardeer. Trouens, toe ons by sy huis opdaag, was sy vrou besig om die Paradys op aarde-boek in die Tuvalu-taal te lees. Ons was dus bly dat ons vir sommige ‘wat hooggeplaas is’, kon getuig.”—1 Timotheüs 2:1-4.
By ’n ander geleentheid het die Eerste Minister van Tuvalu die Salomonseilande besoek. Die gemeenskap van Tuvaluane wat daar woon, het ’n fees ter ere van hom gehou. Onder diegene wat na die fees genooi is, was een suster, wat die volgende ondervinding vertel het:
“Aan die einde van die fees het die Eerste Minister mense die geleentheid gebied om vrae te stel oor die jongste verwikkelinge op Tuvalu. Een vraag wat gestel is, was: ‘Is daar enige nuwe godsdienste in Tuvalu?’ Die Eerste Minister het geantwoord dat ‘’n paar nuwe godsdienste in Tuvalu toegelaat is, maar dat daar slegs een goeie een is’. Toe daar gevra is watter een dit is, het hy geantwoord: ‘Jehovah se Getuies.’
“Almal was verbaas oor sy antwoord, en vanselfsprekend het iemand toe gevra waarom Jehovah se Getuies die ‘enigste goeie godsdiens’ is. Hy het gesê: ‘Omdat ons pastors die hele dag by die huis sit en net op Sondae ’n klok lui sodat ons na hulle kan gaan luister. Maar Jehovah se Getuies kom na jou toe, en hoewel jy dalk nie kerk toe gaan nie, sal hulle jou in jou eie huis die Bybel leer.’”
Hoewel sommige ons huis-tot-huisbediening kritiseer, is dit dus duidelik dat ander dit waardeer as ons die boodskap na hulle huise neem.—Handelinge 5:42.