Ouers—Bereik julle kind se hart van kleins af
“Voed [julle kinders] op in die tug en vermaning van die Here.”—EFESIËRS 6:4.
1. Wat het gedurende ’n besonder moeilike tydperk in Jesus se lewe plaasgevind?
JESUS CHRISTUS en sy dissipels was op pad na Jerusalem. Jesus het kort tevore by twee geleenthede vir sy dissipels gesê dat hy baie sou ly en in daardie stad om die lewe gebring sou word (Markus 8:31; 9:31). Gedurende hierdie besonder moeilike tydperk vir Jesus, sê die Bybelverslag, het hulle “ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak”.—Lukas 18:15.
2. (a) Waarom het die dissipels moontlik die mense probeer wegwys? (b) Hoe het Jesus op die situasie gereageer?
2 Wat was die reaksie hierop? Wel, die dissipels het die mense bestraf en hulle probeer wegstuur, ongetwyfeld omdat hulle geglo het dat hulle Jesus ’n guns doen deur hom teen onnodige steurnis en spanning te beskerm. Maar Jesus het verontwaardig geword jeens sy dissipels en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie . . . En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën” (Markus 10:13-16). Ja, ondanks al die dinge wat sy verstand en hart in beslag moes geneem het, het Jesus tyd vir klein kindertjies afgesonder.
Watter les kan ouers hieruit leer?
3. Watter les moet ouers uit hierdie voorval leer?
3 ’n Les hieruit vir ouers moet wees: Watter verpligtinge of probleme julle ook al het, julle moet eerstens tyd saam met julle kinders deurbring. Die tyd wat julle saam deurbring, sal julle in staat stel om die geestelike waardes wat die harte van julle kinders sal bewaak en hulle op die regte weg sal plaas by hulle in te prent (Deuteronomium 6:4-9; Spreuke 4:23-27). Eunice en Lois, respektiewelik die moeder en die grootmoeder van Timotheüs, het tyd afgesonder om hom die onderrig te gee wat sy hartjie geraak en sy lewe gevorm het sodat hy as ’n toegewyde kneg van God grootgeword het.—2 Timotheüs 1:5; 3:15.
4. Hoe kosbaar is kinders, en hoe moet ouers toon dat hulle hulle waardeer?
4 Christenouers kan nie bekostig om die kinders te verwaarloos wat Jehovah God hulle gegun het nie. Ja, kinders is ’n kosbare gawe van Jehovah (Psalm 127:3). Bring dus tyd deur saam met hulle—bereik hulle harte—iets waarin Timotheüs se moeder en grootmoeder die voorbeeld gestel het. Julle moet nie net tyd saam met julle kinders deurbring om met hulle oor hulle gedrag te praat en hulle te dissiplineer nie, maar julle moet ook etes saam met hulle geniet, saam met hulle lees, met hulle speel, hulle help om saans gereed te maak om bed toe te gaan. Al hierdie tyd wat julle saam met julle kinders deurbring, is noodsaaklik.
5. Gee ’n voorbeeld van ’n vader wat getoon het dat hy sy ouerlike verantwoordelikhede besef.
5 ’n Vooraanstaande Japannese sakeman wat een van Jehovah se Getuies geword het, het hierdie feit besef. Onder die opskrif “Hooggeplaaste JNS-amptenaar bedank om by gesin te wees”, het die Mainichi Daily News van 10 Februarie 1986 berig: “’n Hooggeplaaste amptenaar van die Japannese Nasionale Spoorweë (JNS) het verkies om te bedank eerder as om van sy gesin geskei te wees . . . Tamoera sê: ‘Die pos van direkteur-generaal kan deur enigiemand beklee word. Maar ek is die enigste vader van my kinders.’” Neem julle julle ouerlike verantwoordelikhede net so ernstig op?
Waarom besondere inspanning nou nodig is
6. Waarom is dit vandag so moeilik om kinders reg groot te maak?
6 Dit was waarskynlik nog nooit in die mensegeskiedenis so moeilik om kinders groot te maak op die manier wat God se Woord voorskryf nie, naamlik “in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Die rede hiervoor is dat ons “in die laaste dae” lewe, en Satan en sy demone veroorsaak groot wee omdat hulle woedend is, daar hulle weet dat hulle net ’n kort rukkie oor het (2 Timotheüs 3:1-5; Openbaring 12:7-12). Ouers se pogings om hulle kinders op ’n godvrugtige manier groot te maak, word dus teengewerk deur die simboliese “lug” waaroor Satan gesag uitoefen. Daardie “lug”, of selfsugtige en ongehoorsame gees, is so deurdringend soos die letterlike lug wat ons inasem.—Efesiërs 2:2.
7, 8. (a) Wat kan die televisie in die huis inbring, en wat doen talle ouers nietemin? (b) Waarom is dit ’n jammerlike verwaarlosing van ouerlike verantwoordelikheid as die televisie as ’n kinderoppasser gebruik word?
7 Die televisie in die besonder bring hierdie “gees van die wêreld”, hierdie giftige “lug”, in die huis in (1 Korinthiërs 2:12). Wat op die televisie verskyn, word dikwels in groot mate beïnvloed deur ’n sterk onsedelike en homoseksuele deel van die vermaaklikheidswêreld (Romeine 1:24-32). Julle kinders is veral ontvanklik vir die goddelose denke en sedelike smerigheid wat aangebied word, net soos hulle vir letterlike lugbesoedeling is. Maar wat doen baie ouers?
8 Hulle gebruik die televisie as ’n kinderoppasser. “Nie nou nie, hartjie. Ek is besig. Gaan kyk televisie”, sê hulle vir hulle kinders. ’n Vooraanstaande televisie-omroeper het gesê dat dit “die algemeenste woorde in talle Amerikaanse huise” is. Maar wanneer kinders gestuur word om te gaan kyk na wat ook al op televisie is, kom dit in werklikheid daarop neer dat hulle aan hulleself oorgelaat word (Spreuke 29:15). Dit is ’n jammerlike verwaarlosing van ouerlike verantwoordelikheid. Soos hierdie omroeper oor die grootmaak van kinders gesê het: “Ouerskap is tydrowend en ’n groot verantwoordelikheid, en dit moet nie aan ’n ander oorgedra word nie, beslis nie aan die televisiestel nie.”
9. Teen watter besoedeling moet kinders in die besonder beskerm word?
9 Weens die druk van die tye waarin ons lewe, kan julle egter ook geneig wees om, soos die dissipels, kinders weg te wys sodat julle kan omsien na wat dalk as belangriker sake beskou word. Maar wat is belangriker as julle eie kinders? Hulle geestelike lewens staan op die spel! Julle kan dalk onthou dat kinders na die Tsjernobil-kernongeluk, wat in 1986 in die Sowjet-Unie plaasgevind het, uit die gebied verwyder is om hulle teen die besoedeling te beskerm. As julle julle kinders se geestelike gesondheid wil bewaak, moet julle hulle eweneens beskerm teen die wêreld se giftige “lug”, wat so dikwels uit die televisiestel stroom.—Spreuke 13:20.
10. Watter ander bronne van giftige “lug” hou ’n gevaar vir kinders in, en watter Bybelvoorbeeld lig dit toe?
10 Daar is egter ander bronne van giftige “lug” wat sedelike waardes kan vernietig en jong verstande kan verhard. Verkeerde omgang met kinders in die buurt en by die skool kan ook Bybelwaarhede wat in jong harte geprent is, verdring (1 Korinthiërs 15:33). ’n Les kan geleer word uit die geval van Jakob se jong dogter Dina wat “uitgegaan [het] om die dogters van die land te leer ken” en as gevolg daarvan deur een van die jong manne onteer is (Genesis 34:1, 2). Kinders moet goed onderrig en opgelei word om die sedelike valstrikke te vermy van ’n wêreld wat vandag selfs verdorwener is as wat dit toe was.
Waarom moet hulle van kleins of opgelei word?
11. (a) Wanneer moet ouerlike opleiding begin? (b) Watter uitstekende resultate kan verwag word?
11 Maar wanneer moet ouerlike opleiding begin? Die Bybel sê dat Timotheüs sy opleiding “van kleins af” ontvang het (2 Timotheüs 3:15). Dit is interessant dat breʹfos, die Griekse woord hier, dikwels vir ’n ongebore kindjie gebruik word, soos in Lukas 1:41, 44. Daar sê dit dat die kindjie Johannes in sy moeder se baarmoeder gespring het. Maar breʹfos word ook gebruik vir die pasgebore Israelitiese babas wie se lewens in Egipte bedreig is gedurende die tyd toe Moses gebore is (Handelinge 7:19, 20). In Timotheus se geval slaan die woord duidelik op ’n suigeling, of baba, en nie bloot op ’n jong kindjie nie. Timotheüs het onderrig uit die heilige skrifte ontvang sover terug as wat hy kon onthou, sedert die tyd toe hy bloot ’n baba was. En met watter uitstekende resultate tog! (Filippense 2:19-22). Maar kan pasgebore babas werklik by sulke vroeë onderrig baat vind?
12. (a) Wanneer kan kindertjies indrukke en inligting begin absorbeer? (b) Wanneer en hoe moet ouers hulle kinders van geestelike onderrig begin voorsien?
12 “Een van die opwindendste ontwikkelinge op die hele gebied van die sielkunde is ons nuwe begrip van die baba se groot leervermoë”, het dr. Edward Zigler, ’n professor aan die Yale-Universiteit, in 1984 berig. Trouens, die tydskrif Health sê: “Volgens nuwe navorsing kan babas wat nog in die baarmoeder is moontlik sien, hoor, proe—en emosies ‘ervaar’.” Ouers kan blykbaar nooit te vroeg begin om hulle kinders te onderrig nie (Deuteronomium 31:12). Hulle kan begin deur vir hulle kinders prentjies in boeke te wys en vir hulle stories te vertel. “Die kritieke jare”, sê Masaroe Iboeka, skrywer van die boek Kindergarten Is Too Late, “is die eerste drie jaar na geboorte.” Dit is omdat die jong verstand besonder vormbaar is en inligting makliker absorbeer, soos blyk uit hoe vinnig ’n kindjie ’n nuwe taal bemeester. ’n Professor in kleuteropvoeding aan die Universiteit van New York het selfs gesê dat “ouers moet begin om hulle kinders te leer lees die oomblik wanneer hulle hulle van die hospitaal of huis toe bring”!
13. Wat lig kindertjies se vermoë om te leer toe?
13 ’n Moeder in Kanada skryf omtrent haar kind se leervermoë: “Eendag het ek vir my vier en ’n halfjarige seuntjie, Shaun, ’n verhaal uit My boek met Bybelverhale gelees. Toe ek by ’n plek pouseer, het hy die verhaal tot my verbasing woord vir woord soos dit in die Bybelverhale-boek verskyn, voortgesit. . . . Ek het ’n ander verhaal en toe nog een gekies en hy het elkeen uit die kop geken. . . . Hy het in werklikheid die eerste 33 verhale, met inbegrip van moeilike name van plekke en mense, woord vir woord gememoriseer.”a
14. (a) Wie is nie verbaas oor wat kindertjies kan doen nie? (b) Wat moet Christenouers se doelwit wees? (c) Waarvoor moet kinders voorberei word, en waarom?
14 Diegene wat goed vertroud is met kindertjies se leerpotensiaal is nie verbaas oor sulke prestasies nie. “Die wêreld kan vol intellektuele reuse soos Einstein, Shakespeare, Beethoven en Leonardo da Vinci wees as ons babas pleks van kinders leer”, beweer dr. Glenn Doman, direkteur van Die Instituut vir die Verwesenliking van Menslike Potensiaal. Die doelwit van Christenouers is natuurlik nie om intellektuele reuse voort te bring nie, maar om die harte van hulle kinders te bereik sodat die kinders nooit afwyk van hulle diens aan God nie (Spreuke 22:6). Hierdie pogings moet aangewend word lank voor die kind skool toe gaan sodat dit hom kan voorberei vir die toetse waarvoor hy daar te staan sal kom. Kindertuin- of dagsorgsentrums hou byvoorbeeld verjaarsdag- en vakansiepartye wat vir kinders pret kan wees. Die kind moet dus verstaan waarom Jehovah se knegte nie daaraan deelneem nie. Anders kan hy naderhand ’n hekel aan sy ouers se godsdiens kry.
Hoe om ’n kind se hart te bereik
15, 16. Wat kan ouers gebruik om hulle hul kind se hart te help bereik, en hoe kan hierdie voorsienings doeltreffend benut word?
15 Jehovah se Getuies het publikasies soos Luister na die Groot Onderwyser voorsien om ouers te help om hulle kind se hart te bereik. In die hoofstuk “Twee manne wat verjaarsdae gevier het”, praat dit van partytjies en hoe ‘dit groot pret kan wees’. Maar die hoofstuk verduidelik dat die enigste twee verjaarsdagpartytjies wat in die Bybel gemeld word deur heidene gehou is wat Jehovah nie aanbid het nie, en dat daar by albei partytjies ‘iemand se kop afgekap is’ (Markus 6:17-29; Genesis 40:20-22). Hoe kan jy hierdie inligting gebruik om jou kind se hart te bereik?
16 Jy kan die interessante metode van die Groot Onderwyser-boek gebruik en sê: “Ons weet dat alles wat in die Bybel is, vir ’n rede daar is.” Vra dan: “Wat, sou jy dus sê, vertel God vir ons van verjaarsdagpartytjies?” Jou kind word sodoende gehelp om oor die saak te redeneer en tot die regte gevolgtrekkings te kom. Benewens die Groot Onderwyser-boek is ander lektuur vir ouers se gebruik voorsien, onder meer My boek met Bybelverhale en die reeks “Jesus se lewe en bediening” wat sedert April 1985 in elke nommer van Die Wagtoring verskyn. Gebruik jy hierdie artikels om jou kinders sowel as jouself te leer?
17. Watter praktiese wenke word hier aan ouers gegee?
17 Jy moet keer op keer materiaal met jou kind oorgaan wat geskille en situasies dek waarvoor hy by die skool te staan sal kom. Vertel jou kind dat julle albei teenoor Jehovah aanspreeklik is (Romeine 14:12). Beklemtoon die goeie dinge wat Jehovah vir ons doen en beweeg so die kind se hartjie om Jehovah te wil behaag (Handelinge 14:17). Maak leersessies ’n genotvolle tyd. Kinders hou van verhale, en daarom moet jy jou werklik daarop toelê om op ’n lewendige manier te onderrig sodat dit jou kind se hart sal bereik. Baie gesinne verspeel ’n wonderlike geleentheid vir sulke sessies deur nie gereeld saam te eet nie. Eet julle as ’n gesin saam? Indien nie, kan jy die situasie regstel?—Vergelyk Handelinge 2:42, 46, 47.
18, 19. (a) Hoe moet ouers die onderrig van hulle kinders reël, en wat kan nie oorbeklemtoon word nie? (b) Watter kenmerke van ’n hedendaagse voorbeeld van ouerlike opleiding beïndruk jou, en wat dink jy sal die resultaat wees as ’n ouer dit toepas?
18 Die leersessie moet by die kind se ouderdom aangepas word. Met ’n klein kindjie, wat net ’n rukkie kan konsentreer, moet ’n mens dus elke dag ’n paar kort sessies hê. Laat dit dan geleidelik langer word en meer inligting dek. Die belangrikheid van gereelde sessies om jou kinders te leer, kan eenvoudig nie oorbeklemtoon word nie (Genesis 18:19; Deuteronomium 11:18-21). Een vader, wat nou in sy sewentigerjare is, het ’n goeie voorbeeld gestel in die manier waarop hy sy seun, wat nou ’n Christen- ouere man is, grootgemaak het. Jare gelede het hy sy program beskryf en verduidelik:
19 “Toe ons seun omtrent ’n jaar oud was, het ek teen slaaptyd vir hom Bybelverhale begin vertel, en dit op ’n breedvoerige, interessante wyse gedoen om ’n duidelike indruk te maak. Toe hy in sy tweede jaar begin praat het, het ons langs sy gebed gekniel en het ek hom die ‘Onse Vader’ sin vir sin agter my laat aan sê. . . . Toe hy drie was, het ek ’n gereelde Bybelstudie met hom begin hou . . . Hy het in sy boek gevolg en die woorde agter my aan gesê. So het hy geleer om woorde reg uit te spreek en om selfs swaar woorde duidelik uit te spreek. . . . Toe hy drie was, het ons ook begin om hom eenvoudige Bybeltekste uit die kop te laat leer sodat Bybelwaarhede diep in sy hart kon insink. Teen die tyd dat hy kindertuin toe gegaan het, het by sowat dertig tekste geken, en verlede September toe hy graad een toe is, het hy al sewentig tekste gememoriseer. . . . Voor ons seun bed toe gaan, laat ek hom party van sy tekste opsê. Ook wanneer hy soggens opstaan, sê hy dikwels ’n paar Bybeltekste op as deel van sy dagsê.”
20. Wat moet in ’n onderrigprogram ingesluit word, en hoe kan ’n kind die huis-tot-huisbediening geniet?
20 So ’n progressiewe onderrigprogram, met inbegrip van ’n goeie voorbeeld deur ouers en die toepassing van konsekwente dissipline, sal jou kind ’n grondslag in die lewe gee waarvoor hy altyd dankbaar sal wees (Spreuke 22:15; 23:13, 14). ’n Noodsaaklike deel van die program moet opleiding in die openbare bediening van ’n vroeë ouderdom af wees. Maak dit ’n aangename ondervinding deur jou kind voor te berei om ’n sinvolle deelname te hê. Die bogenoemde vader het verder omtrent sy seun gesê: “Sy vermoë om tekste aan te haal, laat hom groot welslae in die huis-tot-huisbediening behaal, aangesien baie huisbewoners verbaas is en nie sy aanbod van Bybeltydskrifte kan weerstaan nie. Hy neem al sedert hy drie jaar oud is aan hierdie Christelike diens deel en laat nou [op die ouderdom van ses] dikwels meer Bybellektuur by mense as ek en my vrou.”—Ontwaak!, 8 April 1965, bladsye 3, 4.
21. (a) Wat is die beste gawe wat ouers aan hulle kinders kan nalaat? (b) Watter vermaning word tot ouers gerig, en wat moet alle ouers met minderjarige kinders hê?
21 Christenouers het voorwaar ’n wonderlike erfenis, kennis van Jehovah, om aan hulle kinders na te laat en tesame daarmee die vooruitsigte op eindelose lewe, vrede en geluk in ’n glorieryke nuwe wêreld (Spreuke 3:1-6, 13-18; 13:22). Bou bowenal vertroue in die werklikheid van daardie wonderlike toekoms in julle kindertjies se harte, sowel as ’n begeerte om Jehovah te dien. Maak ware aanbidding ’n natuurlike en gelukkige ondervinding vir hulle (1 Timotheüs 1:11). Skerp vertroue in Jehovah van kleins af in. En moet nooit, nee, nooit, gereelde leersessies met hulle verwaarloos nie! Laat dit die voorkeur geniet, en herondersoek gedurig watter inligting julle kinders nodig het en hoe julle hulle harte die beste daarmee kan bereik. Jy is besig en onder druk; Satan en sy wêreld sorg daarvoor. Maar onthou Jesus se voorbeeld! Moet nooit te besig wees om ’n gereelde studie met jou kinders te hou nie!
[Voetnote]
a Lank voor hy kon lees, het hy daardie verhale geleer bloot deur na die kassetopnames van die boek te luister.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter Bybelgetuienis toon dat ouers die voorkeur aan hulle kinders se behoeftes moet gee?
◻ Waarom is dit nou vir ouers nodig om spesiale pogings aan te wend om hulle kinders te beskerm?
◻ Waarom is dit so noodsaaklik dat kinders van kleins of opgelei word?
◻ Wat is ’n paar praktiese wenke vir ouers om hulle kind se hart te bereik?
◻ Wat moet Christenouers nooit verwaarloos nie?
[Prent op bladsy 12]
Ouerlike opleiding kan nie te vroeg begin nie