Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 8/1 bl. 4-7
  • Die Christelike beskouing van beelde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Christelike beskouing van beelde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Christendom se beelde—Van waar?
  • Hoe die gebruik van godsdiensbeelde regverdig word
  • Beelde—die aanbidder se beskouing
  • Wat sê die Bybel?
  • Aanbid ‘in waarheid’
  • Kan beelde jou nader aan God bring?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Beelde
    Ontwaak!—2014
  • Moet God deur middel van beelde aanbid word?
    Ontwaak!—2008
  • Die verering van beelde—’n geskilpunt
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 8/1 bl. 4-7

Die Christelike beskouing van beelde

“JULLE [het] opgehou . . . om die afgode te dien en na die ware lewende God toe gekom . . . om Hom te dien”, het die apostel Paulus aan Christene in Thessalonika geskryf (1 Thessalonicense 1:9, Die Lewende Bybel). Ja, talle vroeë Christene was voorheen afgodedienaars (1 Korinthiërs 6:9-11). Maar hulle het hulle afgodiese gebruike gestaak toe hulle Christene geword het.

Dit was egter so ’n algemene gebruik om voor beelde neer te buig dat Christene bespot is omdat hulle sonder beelde aanbid het. Sommige heidene het hulle selfs daarvan beskuldig dat hulle ateïste is! Hoe het die verering van beelde dan later so algemeen in die Christendom geword?

Die Christendom se beelde—Van waar?

Talle heidense gebruike is ná die sogenaamde bekering van Romeinse keiser Konstantyn onder “Christene” ingevoer. “Sedert die dae van Konstantyn”, sê godsdiensgeskiedskrywer Edwyn Bevan in sy boek Holy Images, “het die Kruis wat as simbool gebruik word oral in die Christelike wêreld iets algemeens geword, en vorme van hulde is kort voor lank daaraan gebring.” Dit het die weg gebaan vir ander vorme van beeldaanbidding. Dieselfde boek sê: “Dit lyk waarskynlik dat huldebetoning aan prente en beelde voorafgegaan is deur die gebruik om hulde aan die simbool van die Kruis te bring, wat self . . . nie op Christelike monumente of gewyde kunsvoorwerpe aangetref is voordat Konstantyn die voorbeeld met die labarum [militêre vaandel met ’n kruis daarop] gestel het nie.”

Hierdie verwikkeling was blywend van aard. In die agtste eeu G.J. het Johannes van Damaskus, wat deur die Rooms-Katolieke en die Oosters-Ortodokse kerke as ’n “heilige” beskou is, geskryf: “Net soos die heilige Vaders die tempels en altare van die duiwels omgegooi en in hulle plekke altare in die name van Heiliges opgerig en ons hulle aanbid het, net so het hulle die beelde van die duiwels omgegooi en in hulle plek beelde van Christus en God se Moeder en die Heiliges opgerig.”

Thomas van Aquino, Rooms-Katolieke “heilige” van die 13de eeu, het hierby gevoeg: “Dieselfde eer moet teenoor ’n beeld van Christus en teenoor Christus self betoon word . . . Die Kruis word met dieselfde verering as Christus vereer, dit wil sê, met die verering van latria [Katolieke definisie oor die hoogste vorm van aanbidding], en om daardie rede wend ons ons tot en smeek ons die Kruis net soos ons dit met die Gekruisigde self doen.”

Katolieke beskou Thomas van Aquino steeds as iemand wat ’n belangrike bydrae tot die leerstelling van die “verering van beelde” gelewer het. Volgens die New Catholic Encyclopedia moes die “verering van beelde” op hom wag “vir ’n eie, breedvoerige verduideliking”. Dit is nietemin duidelik dat “Christelike” beeldaanbidding bloot heidense beeldaanbidding vervang het.

Hoe die gebruik van godsdiensbeelde regverdig word

Talle wat vandag godsdiensbeelde vereer, sal daarteen beswaar maak om beeldaanbidders genoem te word. Hulle besware teen so ’n benaming is egter nie nuut nie. In die vierde eeu het sogenoemde Sint Augustinus die redenasies van beeldaanbiddende nie-Christene bespot en gesê: “Daar is ’n sekere redetwister wat vir homself geleerd lyk en sê: Ek aanbid nie daardie klip en ook nie daardie beeld wat geen verstand het nie; . . . ek aanbid nie hierdie beeld nie; maar ek vereer wat ek sien en dien hom wat ek nie sien nie.” Met ander woorde, hulle het beweer dat hulle slegs die onsigbare persoon aanbid wat deur hulle beelde voorgestel word. “Deur hulle beelde só te beskryf”, het Augustinus bygevoeg, “lyk hulle vir hulself bekwame redetwisters, omdat hulle nie beelde aanbid nie, maar tog duiwels aanbid.”—Expositions on the Book of Psalms deur Augustinus, Psalm xcvii 9.

Hoewel Rooms-Katolieke teoloë nie op hul laat wag het om heidense afgodediens te veroordeel nie, het hulle, wat hulle eie gebruik van beelde betref, dikwels die einste regverdigings gebruik wat die sogenaamde heiden gebruik het. Aangaande beelde van Christus, Maria en die “heiliges” het die 16de-eeuse Konsilie van Trente byvoorbeeld verklaar: “Gepaste eer en verering moet aan hulle gegee word; nie dat daar egter enige goddelikheid of deug aan hulle toegeskryf word wat verg dat hulle vereer moet word nie.” Waarom moes hulle dan vereer word? “Omdat die eer wat aan hulle betoon word”, het die konsilie verduidelik, “gaan aan die prototipes wat deur hulle voorgestel word, sodat ons deur middel van die beelde wat ons soen en voor wie ons die hoofde ontbloot en ons neerbuig Christus aanbid en die heiliges vereer, na wie hulle lyk.”

Die Rooms-Katolieke Kerk regverdig afgodediens vandag nog met dieselfde redes: dat beelde bloot ’n middel is om die aandag te vestig op die hemelse wese wat daardeur voorgestel word en dat daar geen deug of mag in die beelde is nie. Maar in watter mate geld dit in die praktyk? Glo almal wat beelde gebruik werklik dat daar geen ‘goddelikheid of deug in hulle’ is nie?

Beelde—die aanbidder se beskouing

In Sevilla, Spanje, heers daar fanatieke mededinging tussen die volgelinge van die Maagd la Macarena en die Maagd de la Esperanza. In die Chartres-katedraal, Frankryk, is daar drie Maagde—Ons Liewe Vrou van die Suil, Ons Liewe Vrou van die Krip en Ons Liewe Vrou van die “Belle Verriere”—wat elk haar eie aanhangers het. Die aanbidders glo blykbaar dat hulle beeld van die Madonna op die een of ander manier beter as die ander beelde is—selfs al stel al drie beelde dieselfde persoon voor! Dit is dus duidelik dat die eer nie aan wat voorgestel word nie maar aan die beelde self bewys word.

Dikwels is wat die Rooms-Katolieke Kerk as relatiewe aanbidding vergoelik dus in werklikheid aanbidding van ’n beeld. Subtiele teologiese onderskeide beteken baie min in die lig van wat eeue lank beoefen is.

Wat sê die Bybel?

Die Bybel se raad weerspreek die teorieë van teoloë. God het eertydse Israel duidelik laat verstaan dat hy afgodediens geheel en al veroordeel (Exodus 20:4, 5; Deuteronomium 4:15-19). Sommige afbeeldings, soos die koperslang wat Moses gemaak het, is weliswaar toegelaat. Maar om in aanbidding voor sulke voorwerpe neer te buig was streng verbode.—Numeri 21:9; 2 Konings 18:1, 4.

Israel het soms hierdie verbod op afgodediens veronagsaam. By Sinai het Israel byvoorbeeld ’n goue kalf gemaak om te aanbid. Hoe lasterlik was dit tog van hulle om ‘God se heerlikheid te verruil vir die afbeelding van ’n bees wat gras eet’! (Psalm 106:20, vgl. NW). Maar soos sommige hedendaagse godsdiensyweraars het hulle beweer dat hulle nie die bees nie maar God self aanbid! “‘Hier is jou God’, het hulle uitgeroep, ‘wat jou uit Egipte bevry het, Israel!’” (Exodus 32:1-5, NAV). Jehovah het hierdie “relatiewe” aanbidding, hierdie onbeskaamde terugkeer tot die Egiptiese godsdiens, egter nie geduld nie (Handelinge 7:39-41). Dit was ’n direkte skending van die verbond wat hulle by Sinai aangegaan het en het Israel gevaar van uitwissing laat loop.—Exodus 32:9, 10, 30-35; Deuteronomium 4:23.

Maar waarom het Jehovah God so ’n besliste standpunt teen beelde ingeneem? Omdat beelde in die eerste plek magteloos is; hulle is niks nie (Deuteronomium 32:21a; Psalm 31:7). Jeremia het gesê dat hulle soos voelverskrikkers is wat geen gees in hulle het nie (Jeremia 10:5, 14). Jesaja het eweneens die spot gedrywe met diegene wat ’n deel van ’n boom as vuurmaakhout gebruik om op te kook en ’n ander deel om ’n god mee te maak. Die profeet waarsku dat sulke beeldaanbidders nie “weet nie en [nie] verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie”.—Jesaja 44:13-18.

Een besonder groot gevaar wat met beeldaanbidding gepaard gaan, is die moontlikheid dat demoniese magte ’n beeld as kontakpunt kan gebruik. Die psalmis het van die Israeliete gesê: “Hulle het ook hierdie volke se afgode begin aanbid en so verstrik geraak in die afgodediens, dat hulle hulle kinders vir die duiwelse geeste geoffer het.” (Psalm 106:35-37, LB; vergelyk Levitikus 17:7; Deuteronomium 32:17.) Gevolglik het dit die weg gebaan vir ander bygelowige, spiritistiese gebruike. Nog ’n voorbeeld is dié van koning Manasse wat afgodediens opnuut in Israel ingevoer het. Naderhand “het [hy] altare gebou vir die hele leer van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE” en “met goelery en verklaring van voortekens omgegaan”.—2 Konings 21:1-6.

Die Christelike Griekse Skrifte waarsku teen dieselfde gevare. The New Bible Dictionary sê: “Die Ou-Testamentiese polemiek teen afgodediens . . . erken dieselfde twee waarhede wat Paulus later sou bevestig: dat die beeld niks is nie, maar dat daar nietemin ’n demoniese geestemag is waarmee rekening gehou moet word en dat die beeld dus bepaald ’n geestelike gevaar uitmaak.” Paulus het geskryf: “Ons [weet] dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.” Maar by het later gewaarsku: “Die wat aan hulle offer, [offer] aan duiwels . . . en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met duiwels gemeenskap hou nie.”—1 Korinthiërs 8:4; 10:19, 20, NAV.

Ja, bose geestemagte wil individue graag onder hulle beheer bring. Paulus het geskryf: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Beeldaanbidding van enige aard verstomp dus ’n mens se geestelike insig, moedig bygelowigheid aan en vergemaklik manipulasie deur die okkulte heersers van hierdie donker, bose wêreld.

Aanbid ‘in waarheid’

Talle opregte mense gebruik beelde om nader aan die Hoorder van die gebed te kom. Dit is wenslik om ’n intieme verhouding met God te hê. Maar staan dit ons vry om self te kies op watter manier ons God wil nader? Ons moet tog seker daarna streef om God te nader op die manier wat hom behaag en nie op ons eie manier nie. Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Dit sal die gebruik van afgodiese beelde uitsluit. Jesus het voorts geleer: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:23, 24.

Kan iemand wat gees is deur ’n stoflike beeld voorgestel word? Nee. Ongeag hoe indrukwekkend ’n beeld ook al is, dit kan nooit die heerlikheid van God ewenaar nie. ’n Beeld van God kan dus nooit waarheidsgetrou wees nie. (Vergelyk Romeine 1:22, 23.) Sal iemand dan ‘in waarheid’ aanbid as hy God deur die een of ander vals beeld nader?

Jehovah se Getuies het al duisende mense gehelp om afgodiese gebruike die rug toe te keer en ‘die soort aanbidders te word wat die Vader soek’. Nadat hulle uit die Bybel getoon is hoe God beelde beskou, is talle beweeg om beelde uit hulle huise te verwyder en uit hulle vorm van aanbidding uit te skakel. (Vergelyk Deuteronomium 7:25.) Dit was weliswaar nie altyd vir hulle maklik om dit te doen nie. Maar hulle is beweeg deur ’n opregte begeerte om streng by God se Woord die Bybel te bly, wat ware Christene soos volg vermaan: “Kinders, bewaar julleself van die afgode.”—1 Johannes 5:21.

[Venster op bladsy 7]

Word ‘ikone nooit afgode’ nie?

’n “Ikon” is ’n spesifieke soort beeld, naamlik gewyde portrette wat deur lede van die Oosters-Ortodokse Kerk vereer word. Sommige is afbeeldings van Christus; ander beeld die Drie-eenheid, Maria, “heiliges” of engele af. Soos Rooms-Katolieke regverdig Ortodokse teoloë die verering van ikone as ’n relatiewe daad wat toegewydheid oordra aan die hemelse wese wat daardeur afgebeeld word. “Die ikon”, beweer Russiese teoloog Sergei Bulgakof, “bly net ’n ding en word nooit ’n afgod of ’n fetisj nie.”

Die Oosters-Ortodokse kerk leer egter terselfdertyd dat ’n ikon spesiale voordele kan bring vir ’n aanbidder wat daarvoor bid, mits die ikon deur die kerk “gewy” is. “Die rite van die wyding van die ikon”, sê Bulgakof in sy boek The Orthodox Church, “bewerkstellig ’n verband tussen die beeld en sy prototipe, tussen wat afgebeeld word en die afbeelding self. Die wyding van die ikon van Christus maak ’n mistieke ontmoeting van die gelowiges en Christus moontlik. Dit geld ook vir die ikone van die Maagd en die Heiliges; hulle ikone, kan ’n mens maar sê, verleng hulle lewe hier op aarde.”

Voorts besit talle ikone van Maria glo wonderdadige kragte. “Hoewel sy in die hemel voortbestaan”, beweer Bulgakof, “leef sy nog saam met ons die lewe van ons wêreld, ondervind sy die lyding en ween sy met die trane daarvan. Sy tree as bemiddelaar vir die wêreld op voor die troon van God. Sy openbaar haarself aan die wêreld deur haar wonderdadige ikone.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel