Ons onvergeetlike reis na Vanuatu
TOE ons vliegtuig van Port-Vila se lughawe opstyg om ons na Nouméa, Nieu-Caledonië, terug te neem, het ons begin besef dat baie van wat ons op ons reis ondervind het onverwags was. Nie net die besienswaardighede en geluide van die pragtige Vanuatu-eilande en sy goedhartige mense nie, maar ook die skokkende belewenis om ’n verwoestende sikloon op ’n tropiese eiland te oorleef was diep in ons geheue gegraveer.
Vanuatu is ’n Y-vormige groep van ongeveer 80 eilande in die suidwestelike gebied van die Stille Oseaan, ongeveer 400 kilometer noordoos van Nieu-Caledonië. Vier-en-tagtig van ons medegetuies van Jehovah is in twee gemeentes oor die eilande versprei. Ek en my vrou was heel opgewonde toe reëlings getref is sodat ons hulle kon besoek. Natuurlik het talle vrae by ons opgekom. Watter soort toestande sou ons teëkom? Watter soort mense is die eilandbewoners? En die belangrikste, hoe sou hulle reageer op die goeie nuus van die Koninkryk?
Byeenkoms in Port-Vila
Ons was ’n bietjie bekommerd toe ons hoor dat daar meer as honderd tale dwarsdeur die argipel gepraat word hoewel die meeste van die inwoners Melanesiërs is. Maar ons was verlig om uit te vind dat ’n soort Pidgin-Engels wat Bislama genoem word ’n algemene taal is. Daar sou dus nie ’n groot probleem wees om met die mense te kommunikeer nie.
Ons eerste stilhouplek was Port-Vila, die hoofstad van Vanuatu. Hier sou ons die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms bywoon. Die plaaslike Getuies het hard gewerk om dit gereed te kry. Dit was hartverblydend om byeenkomsgangers van afgeleë eilande te ontmoet wat maande lank moes spaar om die rit te kon onderneem.
Die byeenkomssaal was vanaf die eerste dag van die byeenkoms stampvol. Meer as 300 mense het gekom om die Bybeldramas te sien wat deur middel van videobandopnames aangebied is. Dit was buitengewoon as ’n mens in aanmerking neem dat daar slegs 84 Koninkryksverkondigers dwarsdeur die eilande is. Jehovah berei beslis ’n goeie oes voor op hierdie stippeltjies aarde in die middel van die Stille Oseaan.
Ons ontmoet die “Klein Nambas”
Die volgende dag het ek en ’n plaaslike broer in ’n klein vliegtuig na die eiland Malekula vertrek. Na ’n onstuimige en stamperige vlug het ons by Suidwes-baai geland. My metgesel het sy neef gaan soek om vir ons ’n boot te kry. Dit was die enigste manier waarop ons die statjie Letokas, ons finale bestemming, kon bereik.
Toe ons in ons boot vertrek en die kuslyn volg, is ek getref deur die natuurskoon van die eiland. Die steil kranse wat regaf in die oseaan stort, was eenvoudig ontsagwekkend. Welige plantegroei was oral, getooi met helder blomme of bedek met rankplante, varings en delikate orgideë. Kleurryke voëls, soos die kokoslories, het van boom tot boom gevlieg.
Uit ons boot kon ons ook die rykdom van die see sien—die koraalrif, die tradisionele spens van die eilandbewoners. Mense kom van oor die hele wêreld om te duik en die prag van die koraal en die tropiese visse te bewonder. Skulpe en krewe is ook volop, en die inwoners vang hulle met nette en spere vir voedsel.
Ons het spoedig rook vanuit ’n kokosplantasie in die verte sien opstyg. Dit het ons bestemming, ’n pragtige inham, naby Bamboesbaai, aangedui. Terwyl ons die land genader het, het ’n paar tornyne rondom ons kom speel. Toe het ons ’n groepie mans met pyl en boog gesien wat opgewonde ’n klomp gebare gemaak het. Onder hulle het ons ons broers gesien wat verheug was oor ons koms.
Hierdie mense was die Klein Nambas van Suid-Malekula, een van die mees afgesonderde stamme in die Stille Suidsee. Hulle woon in statte hoog in die berge wat ’n paar dae se loop van die kus af is. Die mans het die “namba” gedra, ’n lendebedekking wat gemaak is van blare wat aan ’n basgordel geheg is. Die vroue dra kort grasrompe. In elke stat is daar gewoonlik ’n seremoniële sentrum waar offerdanse en ander rituele uitgevoer word. Hoewel talle van die statbewoners die Westerse leefwyse aangeneem het, is bygelowige en spiritistiese gebruike steeds algemeen.
Dit was ’n plesier om die broers te ontmoet en te groet. Die mans was klein van gestalte, maar baie sterk. Hulle natuurlike skugterheid en hulle vriendelikheid het my hart geroer. Party van die kinders was bang vir my omdat die Witmense wat hulle geken het gewoonlik dokters was, en die kinders kon die inspuitings goed onthou!
Die stat is in twee verdeel deur ’n klein kokosplantasie in die middel. Een helfte van die stat is gereserveer vir diegene wat die waarheid aanvaar het, en ek het spoedig die rede hiervoor uitgevind. Sommige moet apart van die ander statbewoners woon ten einde hulle standpunt vir die waarheid in te neem en hulle Bybelstudie voort te sit.
Die hutte is bo-op bamboespale gebou. Toe ons een van hulle binnegaan, is ek onmiddellik aangetas deur digte rook van ’n vuur in die middel van die vertrek. Die rook het my oë laat jeuk, maar dit het ten minste ook muskiete en vlieë weggehou. In ’n ander hutjie daar naby was ’n vrou besig om ’n stuk buluk, of beesvleis, te bewerk wat op laplap-blare gelê het en swart van die vlieë was.
Ons het die mense uitgenooi om Woensdagaand ’n skyfievertoning by te woon. Dit was ’n aanbieding oor die geskiedenis van Jehovah se Getuies met die titel Wêreldwye vooruitgang ondanks vervolging. Een van die verkondigers het op ’n daglange reis vooruitgegaan om sommige statbewoners in die berge uit te nooi. Ek was gretig om te sien of hulle sou kom. Teen sononder het ’n jong man met sy pyl en boog opgedaag. Hy is deur ’n paar ander persone gevolg. Ek was verheug om te sien dat die afstand hulle nie verhinder het om na hierdie vergadering te kom nie.
Ons is spoedig deur pyle en boë omring. Ongeveer 80 mense het gekom, en ons het met die program begin. Dit was amusant om na die geluide te luister wat hulle met hulle tong gemaak het wanneer hulle verbaas was oor iets wat hulle in die skyfies gesien het.
Na die skyfieprogram het die bespreking gehandel oor die gebruike en gewoontes van die inwoners. Die statbewoners het aandagtig geluister en die Bybel se waarskuwing teen demonisme in 1 Korinthiërs 10:20, 21 met blydskap aanvaar. Hulle het hul geruime tyd verset teen die pogings van die sendelinge van die Christendom se kerke om hulle die sogenaamde Christelike leefwyse te laat volg. Dit was deels omdat hulle nie saamgestem het met sommige van die leerstellings wat deur die sendelinge verkondig is nie en deels omdat hulle geskok is deur die gedrag van sommige wat beweer het dat hulle Christene is. Die statbewoners was toe bly om te leer van God se belofte om ’n aardse paradys te herstel en die dooies op te wek. Ek kon nie anders as om aan Jesus se woorde in Johannes 8:32 te dink nie: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”
Die geloof van hierdie mense en hulle liefde vir die Bybel het ook teenstand vir hulle beteken. Sommige godsdienstige hoofmanne het die inwoners gedwing om ons brosjures aan hulle deure vas te spyker as ’n teken wat sê: ‘Ons wil dit nie hier hê nie.’ Maar hierdie soort druk het net veroorsaak dat sommige huisbewoners ’n Bybelstudie wou hê om die waarheid te leer. Dit was vir my baie moeilik om hierdie goeie vriende wat die waarheid liefhet te verlaat. Ek het belowe dat ek sou terugkom en hulle stat bo in die berge sou besoek.
Ons oorleef die sikloon Uma
Ons reis het ’n besoek by Espíritu Santo, nog ’n eiland in die noorde van Vanuatu, ingesluit. Daar het ons die Luganville-gemeente besoek. Hoewel daar net een ouere man in daardie gemeente was, heers daar ’n goeie gees onder die vriende. Ons was Sondag met die Bybeltoespraak aangenaam verras om 150 mense te sien, drie keer die getal Koninkryksverkondigers.
Ons moes na Port-Vila terugkeer om die vliegtuig te haal wat ons huis toe sou neem na Nouméa, Nieu-Caledonië. Terwyl ons in Port-Vila was, het ons Vrydagmiddag verneem dat sikloon Uma op pad was. Die mense was nie te verbaas nie, aangesien hierdie soort weerstoestande daardie tyd van die jaar heel algemeen is. Daar is toe berig dat die sikloon teen 7:00 nm. daar sou wees. Ons het gou ’n boodskap oor die plaaslike radiostasie gestuur dat ons vergaderinge uitgestel sou word. En ek was ’n bietjie bekommerd oor ons vlug Sondag terug na Nouméa.
Teen 5:30 nm. was die wind so sterk dat dit party vensters begin stukkend ruk het. Ons het besef dat ons die vensters en deure moet bedek sodat die wind nie kon inwaai en die dak afruk nie. Matrasse, beddens, skryftafels en tafels is teen die vensters en deure opgestapel. Ons kon die krag van die wind teen die huis voel slaan, maar gelukkig het alles bly staan. Later het ons verneem dat die wind daardie nag tot 240 kilometer per uur bereik het.
Daar was spoedig ’n windstilte. Ons het hierdie geleentheid benut en uitgehardloop om te sien hoe dit met die Getuies gaan wat langsaan woon. Ons was verstom om te sien dat die bome in hulle werf omgewaai is en dat die muur van een vertrek ingestort het. Die drie susters het in ’n ander vertrek op hulp gewag. Ons het begin wonder hoe dit met ons ander broers gaan. Ons almal het tot Jehovah gebid om hulle te bewaar.
Teen middernag, na byna agt uitputtende ure, het die sikloon suid van die argipel gedraai. Maar weerlig en reën het voortgeduur. Ons kon deur middel van die voortdurende flitse sien hoe sinkdakke orals verbyvlieg. En dit het spoedig by die huis begin inreën. Dit was nou 2:30 vm. en ons het besluit dat ons moet gaan kyk hoe dit met ons broers gaan.
Die gevolge
Die strate was besaai met blare en takke, stukkies en brokkies meubels, sinkdakke en huisraad. Metaallamppale is verwring en op die grond neergegooi. Ons moes deur al die puin loop. Ons het ’n vreeslike gesig van verwoesting aanskou. Toe het ons die plaaslike presiderende opsiener en sy gesin gevind waar hulle in hulle motortjie sit en bibber. Die dak van hulle huis is deur die sikloon afgewaai en die huis is vernietig. Dit was ’n verligting om hulle ongedeerd aan te tref.
Daardie sikloon was die verwoestendste wat Vanuatu in 25 jaar ondervind het. Die onstuimige see het al die skepe laat strand, en ons het verneem dat 46 mense omgekom het of vermis was, meestal onder diegene op die skepe. Byna 4 000 mense het hulle huise verloor, en die skade aan die gewasse en eiendom het na raming R426-miljoen beloop. Ons was bly om te verneem dat nie een van ons broers omgekom het of beseer is nie.
’n Noodlenigingskomitee is gou op die been gebring. Jehovah se Getuies in Nieu-Caledonië het meer as 450 kilogram voorrade gestuur, waaronder voedsel, klere en items om die broers te help om hulle huise te herbou. ’n Groep belangstellendes aan die ander kant van die eiland het ons omhels toe hulle ons sien. Hulle gewasse is vernietig, en net een hut wat volgens die ou styl gebou is, het in die storm staande gebly. Ons het seker gemaak dat hulle genoeg voedsel vir twee dae het en het toe na Port-Vila teruggekeer.
Die plaaslike owerhede het ook hulp begin voorsien, en hulp het ook van naburige lande begin instroom. Toe die stank van ontbinding begin versprei, het die regering die mense aangeraai om die stad so gou moontlik skoon te maak. Ons het ’n paar wenke aan die hand gedoen oor die gebruik van water sodat die verspreiding van siektes soos buiktifus en cholera verhoed kon word.
Tot almal se vreugde het ons die daaropvolgende Donderdag daarin geslaag om die skyfieprogram aan te bied. Na die vergadering kon ons die gegons van gesprekke onder die vriende hoor. Sommige van hulle was nog nie oor die skok wat deur die verlies van al hulle besittings veroorsaak is nie. Maar elkeen het ’n wonderlike gees van bereidwilligheid om te help en na die behoeftes van ander om te sien getoon. Wat ’n bewys van Christelike eenheid tog!
Dit was uiteindelik tyd vir ons om ons geliefde broers en susters te verlaat. Ons was besonder aangemoedig deur hulle liefde en ywer. Die ontberinge wat ons ervaar het, het ons net nader aan mekaar gebring. Toe ons vliegtuig uit Port-Vila vertrek, was dit ons innige wens dat ons sal terugkeer en hulle almal weer sal sien.—Bygedra.
[Kaart/Prente op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
VANUATU
ESPÍRITU SANTO
Luganville
MALEKULA
EFATE
Port-Vila
NIEU-CALEDONIË
Nouméa
[Prente]
Port-Vila, hoofstad van Vanuatu
’n Plaaslike inwoner hoor die goeie nuus
’n Tipiese statjie
[Prent op bladsy 29]
Bly om die goeie nuus te hoor