Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 7/1 bl. 28-30
  • Uitbuiters van ‘armoede en ongeletterdheid’?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uitbuiters van ‘armoede en ongeletterdheid’?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Christelike godsdiens—Waarom dit geringes aangetrek het
  • God is nie partydig nie
  • Hedendaagse tye
  • Jehovah se Getuies
    Redenering uit die Skrif
  • Vind baat by die beste opvoeding wat daar is!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hou geleerdheid op die regte plek
    Ontwaak!—1994
  • “Leer by my”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 7/1 bl. 28-30

Uitbuiters van ‘armoede en ongeletterdheid’?

“JEHOVAH SE GETUIES . . . buit die armoede, die verwaarlosing en die ongeletterdheid van ’n groot deel van ons volk uit ten einde hulle gewete progressief te beheer”, het Mexikaanse skrywer Jorge García beweer.—Excelsior van 9 Maart 1983.

Soortgelyke aantygings teen Jehovah se Getuies word dikwels in Latyns-Amerika gehoor. ‘Geen vooraanstaande persoon word ooit een van Jehovah se Getuies nie’, sê sommige beroepsmense, politici en godsdiensleiers. ‘Jehovah se Getuies kry hulle volgelinge uit die arm, ongeletterde mense.’ Baie van Jehovah se Getuies het weliswaar ’n beskeie inkomste, maar beteken dit dat Jehovah se Getuies ‘armoede, verwaarlosing en ongeletterdheid uitbuit’? Beteken die feit dat talle nederige en arm mense aan hulle leerstellings gehoor gee dat sulke leerstellings verkeerd is?

Ten einde hierdie vrae te beantwoord, moet ons terugdink aan die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling. Watter soort mense is destyds tot die Christelike godsdiens aangetrek?

Die Christelike godsdiens—Waarom dit geringes aangetrek het

Diegene wat Jehovah se Getuies vandag kritiseer, herhaal bloot die woorde van eerste-eeuse teenstanders van die Christelike godsdiens. Beskou byvoorbeeld die Griekse intellektuele wat in die eertydse stad Korinthe gewoon het. Soos die apostel Paulus dit gestel het: “Die Grieke soek wysheid” (1 Korinthiërs 1:22). Hulle wou natuurlik nie Bybelse wysheid nie, maar diepsinnige filosofiese argumente hê. En toe die apostel Paulus “nie . . . met voortreflikheid van woorde of van wysheid” gekom het nie, maar eerder die eenvoudige boodskap van “Christus, en Hom as gekruisigde” verkondig het, het talle die Christelike godsdiens as “dwaasheid” bespot.—1 Korinthiërs 1:23; 2:1, 2.

Het Paulus dus ‘ongeletterdheid uitgebuit’ toe by ’n beroep op die nederiges en geringes, asook die ander inwoners van Korinthe, gedoen het? Glad nie. Paulus het vir Christene aldaar verduidelik: “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie . . . maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam . . . sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”—1 Korinthiërs 1:26-29.

Die Christelike godsdiens was van die staanspoor af ’n godsdiens wat hoofsaaklik geringe, nederige mense aangetrek het. Jesus se 12 apostels—die fondament van sy kerk—is nie uit die geleerde skrifgeleerdes en Fariseërs geneem nie (Efesiërs 2:20). Hulle was eerder uit die werkerstand, waarvan vier vissers van beroep was (Mattheüs 4:18-22; 10:2, 3). Hulle was manne wat deur die godsdiensleiers as ‘ongeleerd en eenvoudig’ beskou is, wat beteken het dat hulle ’n elementêre opleiding gehad het en nie aan die skole vir hoër geleerdheid onderrig is nie (Handelinge 4:13). Die “geleerde” skrifgeleerdes en Fariseërs het die langverwagte Messias verneder en sy leerstellings en sy volgelinge bespot. Hulle het die standpunt ingeneem dat ‘geen vooraanstaande persoon Jesus volg nie’.

Dink aan wat by een geleentheid gebeur het toe hulle dienaars gestuur het om Jesus “gevange te neem”. Die dienaars het met leë hande teruggekeer. Waarom? Die Bybelverslag sê: “Die dienaars antwoord: Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” Ja, hulle was verwonderd oor Christus se leerstellings! Maar hoe het die geleerde godsdiensleiers gereageer? “En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs?” (Johannes 7:32, 44-48). Trots het dus verhinder dat hulle Jesus aanvaar. Die Bybel sê weliswaar: “Selfs baie van die owerstes [het] in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.”—Johannes 12:42, 43.

Stel jou dit voor! Hierdie mense was oortuig daarvan dat Jesus die waarheid gehad het, maar het uit mensevrees geweier om sy dissipels te word. Dit was eenvoudig nie gerieflik vir daardie owerstes om hulle posisie in die sosiale, politieke en godsdienskringe op te offer om volgelinge van Jesus te word nie. Dit is geen wonder nie dat Jesus gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle dat ’n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan”! (Mattheüs 19:23). Sulke persone was dus oor die algemeen te trots om ’n godsdiens te beoefen wat vereis het dat hulle nederig ‘hulle kruis opneem en Jesus volg’ (Mattheüs 16:24). Christus het dus eenkeer in gebed gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het” (Lukas 10:21, NAV). Anders as die wêreldse intellektuele was sulke persone ontvanklik vir die waarheid.—Vergelyk Mattheüs 18:3.

God is nie partydig nie

Die dissipel Jakobus het geskryf: “Het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5). Het dit dan beteken dat diegene wat ryk was en geleerdheid gehad het God nie kon dien nie? Glad nie! Nadat die eerste nie-Joodse bekeerling, Cornelius, die heilige gees ontvang het, het Petrus gesê: “Ek bemerk seer seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid werk, aanvaarbaar vir hom” (Handelinge 10:34, 35, NW). Miskien het Petrus teruggedink aan Jehovah se woorde aan Samuel, wat eeue vantevore gespreek is: “Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”—1 Samuel 16:7.

Dit is dus interessant dat die Bybel sê: “’n Groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof” (Handelinge 6:7). Daar was ook Christene in die invloedryke “keiserlike huis” (Filippense 4:22). En hoewel die meeste Christene ’n beskeie inkomste gehad het, was daar sommige in die gemeente wat ryk was.—1 Timotheüs 6:17.

Hedendaagse tye

Dit moet ons dus nie verbaas nie dat die waarheid vandag hoofsaaklik onder die gewone mense vrug dra. Jehovah kyk steeds na die hart, nie na iemand se bankrekening of geleerdheid nie (Spreuke 21:2). Onthou ook dat Jesus gesê het: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Die Vader sal sekerlik net diegene wat nederig en ontvanklik is na hom toe trek, nie waar nie?

Dit beteken egter nie dat geleerde en sogenaamde beroepsmense nie getuies van Jehovah word nie. Toe Paulus ’n eenvoudige, nogtans kragtige, uitleg van die waarheid voor koning Agrippa gegee het, het die koning erken: “Jy beweeg my byna om ’n Christen te word” (Handelinge 26:27, 28). Talle geleerde persone is eweneens tot die waarheid aangetrek deur die duidelike en logiese verduideliking van Bybelwaarheid wat Jehovah se Getuies gee. Onthou, ’n nederige persoon is nie noodwendig ongeletterd nie. Moses is “die sagmoedigste van alle mense wat op die oppervlakte van die aardbodem was”, genoem (Numeri 12:3, NW). Nogtans was by “opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars”.—Handelinge 7:22.

Dit is egter opmerkenswaardig dat wanneer mense met min geleerdheid met Jehovah se Getuies begin omgaan hulle dikwels stappe doen om hulle opvoedkundige vaardighede te verbeter. Hulle probeer hul lees- en studiegewoontes verbeter sodat hulle die grondleerstellings van die Bybel kan leer en kan bybly met die gereelde stroom van Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies gedruk word. As ’n opregte persoon die Bybel wil leer ken, maar dit weens ongeletterdheid moeilik vind, kan gratis onderrig dikwels deur die plaaslike gemeente gereël word.

Die Wagtoringgenootskap druk selfs ’n boekie met die titel Learn to Read and Write. Hierdie boekie het duisende mense in Asië, Afrika en Sentraal- en Suid-Amerika gehelp om te leer lees. In een Latyns-Amerikaanse land het 51 249 gedurende die afgelope 26 jaar met behulp van hierdie boekie geleer lees en skryf! In een Latyns-Amerikaanse dorpie het die inspekteur van die Departement van Onderwys met verteenwoordigers van verskeie organisasies vergader—waaronder Jehovah se Getuies. Die Getuie het hulle daar van die Learn to Read-boekie vertel en die groep na een van die Getuie-vergaderinge uitgenooi.

Die groep het die Teokratiese Bedieningskool bygewoon—’n vergadering wat daarop gemik is om manne en vroue te help om bekwame onderrigters te word. Tot hulle verbasing het hulle ’n man gesien wat hulle geken het toe hy ongeletterd was—hy was op die verhoog en het ’n Bybeltoespraak gehou! Een van die besoekers, ’n skoolhoof, het gesê: “Dit is nie moontlik dat hierdie man wat ons altyd as ’n ongeletterde geken het Spaans [pleks van sy boorlingdialek] kan praat nie, wat nog te sê ’n gehoor toespreek, maar hy doen dit wel.”

Pleks van geringe mense dus uit te buit, help hedendaagse ware Christene hulle om hulself te verbeter deur hulle te help om kennis van die waarheid op te doen. Sulke Christene doen die opvoedkundige werk wat Jesus hulle opgedra het toe hy gesê het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). En gevolglik sluit tienduisende uit alle vlakke van die gemeenskap elke jaar by die geledere van Jehovah se Getuies aan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel