Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 6/1 bl. 4-7
  • Waarom sommige van godsdiens verander het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom sommige van godsdiens verander het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verhouding wat vryheid en hoop gee
  • Vind die waarheid en ware vriende
  • Glimlag vir ’n vreemdeling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Aanbidding wat God se goedkeuring wegdra
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Godsdiens
    Redenering uit die Skrif
  • Boeddhisme—’n Soeke na verligting sonder God
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 6/1 bl. 4-7

Waarom sommige van godsdiens verander het

IEMAND wat so ’n drastiese stap doen soos om van godsdiens te verander, moet beslis goeie redes hê. Die voordele sal enige nadele moet oortref.

Sou jy dit as ’n goeie rede beskou as jy sodoende jou Skepper kan leer ken en ’n verhouding met hom kan opbou? Talle het wel. As ons ’n verhouding met iemand wil opbou, moet ons die persoon goed leer ken. Byvoorbeeld: ’n Kindjie is dalk bang om ’n vreemdeling by die hand te neem totdat hy hom leer ken. So ook moet ons God leer ken voor ons begin om hom te vertrou. Die meeste godsdienste het weliswaar ’n hooffiguur wat hulle as God aanbid. Maar is dit nie ook waar dat God vir die meeste mense vaag en ver weg en sonder enige duidelik omskrewe persoonlikheid is nie? Hoe leer ons hom dan ken?

Wanneer ons na die dinge om ons kyk, word ons met ontsag vervul deur wat ons sien. Ons bemerk skoonheid, intelligensie en mag. Die oorsprong van al hierdie dinge verbyster talle, maar daar is ’n boek wat dit duidelik uiteensit. Dit is die Bybel. Deur die blaaie daarvan leer ons dat hierdie wonders voortgebring is deur ’n Skepper wat ’n naam en ’n persoonlikheid het. Namate ons die Bybel sorgvuldig bestudeer, kry ons ’n baie goeie begrip van God se persoonlikheid. Ons sien hom as ’n God van liefde en sorg. “God is liefde”, sê die Bybel (1 Johannes 4:8). Ons begin ons aangetrokke voel tot hierdie luisterryke persoonlikheid wat volkome gebalanseerd is in liefde, wysheid, geregtigheid en mag. Dit lei tot ’n intieme verhouding.

Juis dit het met Misae gebeur, want sy het haar aangetrokke begin voel tot Jehovah. Sy het verduidelik: ‘As kind is ek geleer dat daar talle gode is. Daar was ’n god vir die water, ’n god vir die bome en een vir die huis. Al het ek aan hulle bestaan getwyfel, het ek wel geglo dat daar een ware God moet wees. My streng Boeddhisties-Sjintoïstiese opvoeding het my aan God laat dink as iemand wat skrikwekkend is en wat straf vir oortredinge uitdeel. Hoewel ek graag na ’n kerk wou gaan en van die Christelike God wou leer, het my Boeddhistiese agtergrond my daarvan weerhou. Toe het ’n dame my by my huis besoek en aangebied om die Bybel met my te bestudeer. Deur middel van daardie studie het ek geleer dat God ’n naam, Jehovah, het. Ek was ingenome met die feit dat hy nie ’n skrikwekkende God is nie, maar ’n liefdevolle, wat altyd oor ons waak, nie om te straf nie, maar om te help. Ek wou daardie God dien en het dus van godsdiens verander.’ Sy geniet al sowat 29 jaar lank ’n bevredigende verhouding met God.

’n Verhouding wat vryheid en hoop gee

Daar is ’n bykomstige voordeel wat talle ontvang het deur ’n verhouding met God op te bou. Namate ander verhoudings minder belangrik in hulle lewens geraak het, is talle bevry van verslawende mensevrees en veeleisende gebruike wat geen ware betekenis en waarde het nie. Hulle is gevolglik bevry van die drukkende koste om die skyn en tradisies te handhaaf, wat talle families voortdurend onder skuld gebuk laat gaan. “Die vrees vir die mens span ’n strik”, waarsku die Bybel, met die versekering, “maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.”—Spreuke 29:25.

Nog ’n vryheid wat verkry kan word, is die vryheid van vrees vir die dood. Misae, wat vroeër aangehaal is, sê: “Toe ek 22 was, het ek ingewandskoors opgedoen. Terwyl ek half bewusteloos daar gelê het, kon ek vriende en familielede van my hoor praat, asof hulle verwag het dat ek sou sterf. Maar ek was bang vir die dood. My enigste gedagte was dat ek wou leef, en gelukkig het ek gesond geword. My latere studie van die Bybel het my van daardie vrees vir die dood bevry. Ek het geleer dat die dood bloot ’n toestand van nie-bestaan is.” Die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5, 10). As iemand sterf, is daar die wonderlike hoop op die opstanding, omdat God die dooies in sy geheue laat voortleef.—Johannes 5:28, 29, NW.

Talle ander wat die Bybel bestudeer, het eweneens gevind dat die dinge wat hulle geleer het hulle lewe ’n ware sin en hoop gegee het. Dit is een rede waarom die Bybel geskryf is, naamlik dat “ons . . . hoop kan hê” (Romeine 15:4). Boeddhisme leer niks aangaande ’n Skepper of God nie. Na bewering het boosheid en lyding altyd bestaan en sal dit deur die eindelose kringlope van herlewing altyd voortduur. Die meeste Westerse godsdienste leer dat die goeies hemel toe sal gaan, ’n onbepaalde plek, maar hulle is nie alte seker wat hulle daar gaan doen nie. In teenstelling met hierdie godsdiensfilosofieë wat baie min hoop of sin aan hulle lewe gee, leer die Bybel dat die mens gemaak is om die lewe vir ewig op die aarde te geniet as die oppasser daarvan (Genesis 2:15-17; Jesaja 45:18). Dit kan ons dus tot die besef bring dat ons nie net moet leef om besittings bymekaar te maak of onsself te dien nie, maar om God en ander op ’n onbaatsugtige manier te dien.—Prediker 12:13; Mattheüs 22:37-39.

Vind die waarheid en ware vriende

Sommige word genoodsaak om weens ander redes van godsdiens te verander. Een daarvan is ’n begeerte om godsdienswaarheid te probeer vind. Talle mense meen natuurlik dat daar nie so iets soos absolute waarheid is nie, en soos die Bybel sê, ‘stel hulle geen ondersoek in nie’.—Psalm 10:4, NW.

Maar daar is diegene wat wel so ’n ondersoek doen. Sakae, wat in Sentraal-Japan woon, het 25 jaar lank van een Boeddhistesekte na die ander gegaan om die waarheid te vind. Sy was nooit tevrede nie. Telkens as sy verantwoordelike posisies in elke organisasie bereik het, het sy dinge gesien wat haar gehinder het, soos kommersialisme, onsedelikheid en uitbuiting. Sy het selfs na Indië gereis om die oorsprong van Boeddhisme na te speur op die historiese plekke waar Boeddha geleef en onderrig het. Sy was diep teleurgesteld toe sy in daardie Hindoeland baie min belangstelling in die Boeddhisme gevind het. Later is sy tydens haar gesprekke met Jehovah se Getuies meegedeel dat nie alle godsdienste uit God is nie, maar uit sy vyand, Satan die Duiwel.—1 Korinthiërs 10:20.

Dit het Sakae geskok, maar haar ook tot nadenke gestem en ondersoek laat instel. Sy het die boek Wat het godsdiens uir die mensdom gedoen?a en ander Bybelpublikasies gelees. Sy het begin sien dat Boeddhisme, soos dit in Japan beoefen word, enersyds deur die jare heen talle veranderinge ondergaan het, maar dat die Bybel andersyds duisende jare lank onveranderd gebly het. Haar ondersoek het uiteindelik vrugte afgewerp. Sy het die waarheid gevind waarna sy gesoek het. Haar blydskap was soos die blydskap van die man in Jesus se gelykenis wat ’n verborge skat in ’n saailand gevind het: “Uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.”—Mattheüs 13:44.

Diegene wat godsdienswaarheid gevind het, toon ‘medelye’ met ander wat daarna soek (1 Petrus 3:8). Trouens, dit is hulle hartlikheid en opregte liefde wat talle aanvanklik beweeg om die Bybel te bestudeer. “Almal [sal] weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”, het Jesus gesê (Johannes 13:35). Waar kan ons vandag so ’n liefdevolle atmosfeer vind? Kazoehiko Nagoja het in sy rubriek in Tokio se Daily Yomiuri kommentaar gelewer op die hartlike manier waarop hy behandel is toe hy ’n vergaderplek van Jehovah se Getuies besoek het. “Die manier waarop hulle geglimlag het”, het Nagoja gese, “het dit laat lyk asof hulle my van ’n vorige ontmoeting herken het en bly was om my weer te sien.” Maar dit was nie die geval nie. “Ek het hulle gesigte goed bekyk en gesien dat hulle volslae vreemdelinge was.” Toe twee ander ook geglimlag het, “het ek baie gelukkig gevoel”, onthou Nagoja. “Dít is hoe daardie mense vir ’n vreemdeling glimlag wanneer hulle hom by enige van hulle vergaderinge raaksien.”

Hartlikheid en liefde ontstaan nie weens die feit dat mense mekaar goed ken omdat hulle gereeld plaaslik vergader nie. Dit is eerder die gevolg van ’n gereelde Bybelstudie en die toepassing van Bybelbeginsels in hulle lewe. Talle mense wat genooi was om 1985-1986 se “Handhawers van onkreukbaarheid”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in ander lande by te woon, was diep getref deur die liefde en gasvryheid wat hulle gashere aan hulle betoon het. Een jong paartjie uit Japan wat die byeenkoms in die Filippyne bygewoon het, het gesê: “Toe ons almal die slotlied saam gesing het, elkeen in sy eie taal, was ons diep aangedaan. Ons het vir die eerste keer besef wat dit beteken om aan ’n waarlik internasionale broederskap te behoort.”

Ten slotte sal talle jou vertel van die groot veranderinge wat hulle in hul lewe aangebring het weens die feit dat hulle die Bybel bestudeer en toegepas het. Mense wie se persoonlikhede voorheen so verskil het soos wat skape van wolwe verskil, kom nou vreedsaam oor die weg in die Christengemeenskap (Jesaja 11:6). Sommige was buierig en onvriendelik, kort van draad en selfs vreesagtig. Ander het aan neerslagtigheid gely. Nog ander was introverte en egosentries. Talle moes slegte gewoontes oorkom. Maar inspanning, gepaard met die begeerte om God te behaag, het hulle in staat gestel om drastiese veranderinge aan te bring.

Wat van jou? Vind enige van die bogenoemde redes om veranderinge aan te bring byval by jou? Indien wel, spoor ons jou aan om ’n deeglike studie van die Bybel te maak. Die Bybel toon dat alle valse godsdienste op ’n botsing met die God van die Bybel afstuur. Soos die vlieënier wat in die vorige artikel gemeld is, sal jy dalk drastiese stappe moet doen om jou lewe en die lewens van jou dierbares te red. “Wyd is die pad wat na die verderf lei”, het Jesus gese, “en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei” (Mattheüs 7:13, 14). Ja, as jy op daardie ‘wye’ pad is, is daar ’n goeie rede om van godsdiens te verander!

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

[Prent op bladsy 5]

My streng Boeddhisties-Sjintoïstiese opvoeding het my aan God laat dink as iemand wat skrikwekkend is

[Prent op bladsy 7]

‘Smal is die pad wat na die lewe lei’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel