Die uitdaging om in sy voetspore te volg
“Omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.”—1 PETRUS 2:21, NAV.
1, 2. (a) Wat kan ’n groot uitdaging wees, en waarom is dit vir Christene van belang? (b) Watter vrae word hier geopper?
HET jy al ooit op ’n sandstrand of deur ’n besneeude veld geloop en gevind dat die patroon van iemand se voetspore wat voor jou daar geloop het jou fassineer? Het jy miskien selfs ’n stel voetspore gekies en dit probeer volg deur jou eie treë so goed moontlik daarby aan te pas? Dan het jy uitgevind dat dit nie maklik was nie. Trouens, dit is ’n groot uitdaging om noukeurig in iemand anders se voetspore te volg—hetsy letterlik of figuurlik. En tog het ons, deur onsself Christene te noem, aangedui dat ons ’n begeerte het om juis dit te doen, om noukeurig in die voetspore van Christus te volg.
2 Is jy bereid om die nodige moeite te doen om hierdie uitdaging met welslae die hoof te bied? Is jy boonop vasbeslote om dit te doen, kom wat wil? Dan sal ’n duidelike begrip van die probleme wat daarby betrokke is om in letterlike voetspore te volg jou help om met groter welslae in Christus se figuurlike voetspore te volg.
Leer om jou aan te pas
3. Waarom lyk dit aanvanklik onnatuurlik om in iemand anders se voetspore te volg?
3 Elkeen het ’n kenmerkende manier van loop. Die treelengte verskil byvoorbeeld van persoon tot persoon, asook die hoek waarteen ’n persoon sy voete neersit. Sy tone kan reguit vorentoe wys, of hulle kan skuinsna binne of na buite wys, en moontlik word die een voet skuinser as die ander neergesit. Sien jy wat ’n uitdaging dit is? As jy noukeurig in iemand anders se voetspore wil volg, moet jy jou treelengte en voetposisie by syne aanpas. Dit sal aanvanklik onnatuurlik lyk, maar dit moet gedoen word. Daar is geen ander manier nie.
4. Waarom is dit ’n besondere uitdaging om in Jesus se voetspore te volg?
4 Christus se manier van loop was, figuurlik gesproke, uniek, want onder sy tydgenote was hy alleen ’n volmaakte man, iemand “wat geen sonde geken het nie” (2 Korinthiërs 5:21). Aangesien mense van nature onvolmaakte sondaars is, is dit nie hulle normale manier van loop om in Jesus se voetspore te wandel nie. Paulus het Christene in Korinthe hieraan herinner en gesê: “Julle [is] nog vleeslik . . . ; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” Neigings tot jaloersheid en tweedrag, “werke van die vlees”, is normaal vir onvolmaakte mense, maar Jesus het in die weg van die liefde gewandel, en “die liefde is nie jaloers nie; . . . word nie verbitterd nie”. Om in Christus se voetspore te wandel, bied dus ’n groter uitdaging as wanneer ons gevra sou word om bloot in die voetspore van ’n onvolmaakte mens te wandel.—1 Korinthiërs 3:3; 13:4, 5; Galasiërs 5:19, 20; kyk ook Efesiërs 5:2, 8.
5, 6. (a) Waarom het talle mense nie daarin geslaag om in Christus se voetspore te volg nie, en watter raad het dit Paulus laat gee? (b) Hoe word mense aangespoor om vandag in Christus se voetspore te wandel, en hoe strek dit hulle tot voordeel?
5 Benewens onvolmaaktheid kan onkunde aangaande God se wil ook voorkom dat ’n persoon in Christus se voetspore wandel. Paulus het die Christene in Efese dus gemaan om nie te “bly wandel soos ook die nasies wandel in die vrugteloosheid van hulle denke nie, terwyl hulle verduisterd is in hulle verstand en vervreemd is van die lewe wat aan God toebehoort, weens die onkunde wat in hulle is, weens die ongevoeligheid van hulle hart”.—Efesiërs 4:17, 18, NW.
6 Mense word vandag deur middel van die Koninkrykspredikingswerk aangespoor om op te hou om op hulle normale wyse te wandel, naamlik in onkunde aangaande God se voornemens, verstandelik verduisterd, beweeg deur ongevoelige harte wat vrugtelose doelwitte nastreef. Hulle word aangemoedig om hulle aan te pas by die volmaakte voorbeeld van Christus, “in eendrag met hom te wandel” en so “elke gedagte gevange [te neem] om dit aan Christus gehoorsaam te maak” (Kolossense 2:6, 7, NW; 2 Korinthiërs 10:5, NAV). Mense wat bereid is om hierdie uitdaging te aanvaar, word in hulle geloof bestendig. Namate hulle gewoond raak om soos Christus te wandel, raak dit gaandeweg vir hulle makliker.
7. Watter versekering het ons dat dit, hoewel dit dikwels ’n uitdaging is, moontlik is om in Jesus se voetsore te volg?
7 Dit is dikwels egter ’n uitdaging. Daar is ’n groot verskil tussen ’n volmaakte en ’n onvolmaakte wese. Onvolmaakte wesens moet derhalwe groot veranderinge aanbring ten einde ’n volmaakte voorbeeld te probeer volg. Party mense vind dit, moontlik weens oorerflikheid of hulle milieu, moeiliker as ander om hulle by ’n Christelike lewenswyse aan te pas. Maar Jehovah verseker ons dat elkeen wat bereid is om hom in te span dit kan doen. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”, het die apostel Paulus gesê. (Filippense 4:13, NAV; kyk ook 2 Korinthiërs 4:7; 12:9.) Dieselfde geld vir alle Christene.
Gee ag
8, 9. (a) Waarom is onverdeelde aandag en stipte konsentrasie nodig wanneer ’n mens in iemand se voetspore volg? (b) Gehoorsaamheid aan watter Bybelse raad sal voorkom dat ons van Jesus se voetspore wegdwaal?
8 Ons kan nie letterlike voetspore volg as ons nie noukeurig oplet waar ons trap nie. As ons oë dwaal—na dinge kyk wat om ons aangaan of na ander dinge—sal ons ongetwyfeld vroeër of later mistrap. Tensy ons onverdeelde aandag skenk en stip konsentreer, sal ons afdwaal van die voetspore wat ons moet volg. Dit is derhalwe altyd nodig om waaksaam te wees, veral wanneer skielike geluide of ander onverwagte dinge ons gedagtes kan aflei van die taak waarmee ons besig is.—Vergelyk Job 18:10, 11.
9 Dit geld ook in ’n figuurlike sin vir diegene wat in Jesus se voetspore volg. Jesus het sy volgelinge gewaarsku om noukeurige aandag aan hulleself te skenk sodat hulle harte nie “beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie” (Lukas 21:34). Satan gebruik hierdie daaglikse dinge wat ons aandag in beslag neem om ons ons oë van Jesus se voetspore te laat afwend. Hy laat nie op hom wag om ons onverhoeds te vang deur onverwagte omstandighede, soos teenstand, siekte of finansiële terugslae, te gebruik nie. Om te verseker dat “ons nie miskien wegdrywe nie”, moet ons “des te meer ag gee op wat ons gehoor het”, met ander woorde, ons oë stipter as tevore op Christus se voetspore vestig.—Hebreërs 2:1; kyk ook 1 Johannes 2:15-17.
Moenie afdwaal nie
10. (a) Watter gevaar bestaan wanneer verskeie stelle voetspore mekaar kruis? (b) Waarom is die gevolge ernstig wanneer die verkeerde voetspore in ’n geestelike sin gevolg word?
10 Daar kan verskeie stelle voetspore in die klam sand op ’n vol strand wees, en party voetspore kruis dalk dié wat ons volg. Talle stelle voetspore kan, ten minste op die oog af, eenders lyk. Dit is inderdaad noodsaaklik om seker te wees dat ons die regte voetspore volg! Anders kan ons mislei word om die verkeerde rigting in te slaan. In ’n geestelike sin kan dit ernstige gevolge hê. Die gevaar daarvan om voetspore te volg wat reg lyk, maar in werklikheid nie reg is nie, word getoon in die spreuk wat waarsku: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”—Spreuke 16:25.
11. Watter waarskuwing het Paulus die vroeë Christene gegee, en vir wie stel dit vandag ’n voorbeeld?
11 Weens hierdie uiters wesenlike gevaar het Paulus hom gedronge gevoel om sy broers in die vroeë Christengemeente te waarsku: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe . . . Daar [is] sommige mense . . . wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. . . . As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Galasiërs 1:6-9). In ooreenstemming met Paulus se voorbeeld waarsku die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ons vandag teen afvalliges en valse broers wat as ’t ware valse voetspore neerlê. Ware Christene wil nie afwyk van die pad wat Christus onder God se leiding vir hulle vasgestel het nie.—Psalm 44:19.
12. (a) Hoe kan 2 Timotheüs 1:13 ons help om nie mislei te word om valse voetspore te volg nie? (b) Wat kenmerk ander evangelievorme?
12 As ons noukeurig aandag skenk aan die kenmerke van Christus se voetspore voorkom ons dat ons mislei word. Juiste kennis van Jesus, van sy leerstellings en van die manier waarop die Christengemeente funksioneer, help ons om “die patroon van gesonde woorde” te identifiseer wat ons beskerm teen diegene wat “die evangelie van Christus . . . verdraai” (2 Timotheüs 1:13, NW). Ander sogenaamde evangelievorme—in werklikheid valse voetspore—pas nie in daardie patroon van die waarheid nie. Hulle verdraai dit en werp die prent uit fokus. In plaas van fundamentele Bybelwaarhede en -beginsels op te helder, weerspreek hulle dit. Pleks van ons tot groter bedrywigheid in Jehovah se diens aan te spoor, staan hulle ’n stadiger pas voor. Hulle boodskap is nie positief nie en verheerlik nie Jehovah se naam en organisasie nie; dit is negatief, vitterig en krities. Dit is beslis nie die voetspore wat ons wil volg nie.
Behou die regte pas
13. Watter rol speel ons pas wanneer ons in iemand se voetspore volg?
13 Wanneer ons loop, word die lengte van ons treë onder andere bepaal deur die snelheid waarteen ons loop. Hoe vinniger ons loop, hoe langer is ons treë gewoonlik; hoe stadiger ons loop, hoe korter is hulle. Dit sal dus vir ons makliker wees om in iemand se letterlike voetspore te volg as ons ons pas by syne aanpas. As ons met welslae in die figuurlike voetspore van ons Leier, Jesus Christus, wil wandel, moet ons eweneens sy pas handhaaf.
14. (a) In watter opsigte handhaaf ons dalk nie Jesus se pas nie? (b) Waarom is dit dwaas om vinniger as “die getroue en verstandige dienskneg” te probeer beweeg?
14 As ons nie Christus se pas handhaaf nie, kan dit een van twee dinge beteken. Ons probeer òf vinniger beweeg en loop “die getroue en verstandige dienskneg” wat deur Jesus gebruik word om Jehovah se voorneme uit te voer vooruit of ons sloer om daardie “dienskneg” se leiding te volg (Mattheüs 24:45-47). ’n Voorbeeld van eersgenoemde situasie is sommige Christene wat in die verlede ongeduldig geraak het oor leerstellige of organisatoriese veranderinge of verfyning wat volgens hulle nodig was en lankal aangebring moes geword het. Hulle het ontevrede geraak omdat hulle gemeen het dinge nie vinnig genoeg gebeur nie en het hulle aan Jehovah se volk onttrek. Hoe dwaas en hoe kortsigtig tog! Dikwels is die einste ding wat hulle ontstel het later verander—op Jehovah se bestemde tyd.—Spreuke 19:2; Prediker 7:8, 9.
15. Hoe was koning Dawid en Jesus goeie voorbeelde van persone wat die regte pas gehandhaaf het?
15 Die verstandige weg is om te wag dat Jehovah optree eerder as om te probeer voorskryf teen watter tempo dinge behoort te gebeur. Koning Dawid van die ou tyd het_ ’n goeie voorbeeld gestel. Hy het geweier om teen koning Saul saam te span in ’n poging om die koningskap oor te neem voor dit Jehovah se vasgestelde tyd was om dit vir hom te gee (1 Samuel 24:1-15). “Die Seun van Dawid”, Jesus, het eweneens besef dat hy sou moes wag voor hy sy hemelse koningskap ten volle kon ontvang. Hy was vertroud met die profetiese woorde wat op hom van toepassing was: “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” Toe ’n groep Jode hom dus “met geweld [wou] neem om Hom koning te maak”, het Jesus gou weggegaan (Mattheüs 21:9; Psalm 110:1; Johannes 6:15). Volgens Hebreërs 10:12, 13, het Jesus sowat 30 jaar later nog vir sy koningskap gewag. Trouens, by het feitlik 19 eeue gewag voor hy as regmatige Koning van God se Koninkryk by die oprigting daarvan in 1914 gekroon is.
16. (a) Lig toe hoe ons dalk stadiger beweeg as wat ons moet. (b) Wat is die doel van Jehovah se geduld, en hoe moet ons nie daardie geduld misbruik nie?
16 Versuim om die regte pas te handhaaf, kan egter ook beteken dat ons stadiger beweeg, agterraak. Tree ons gevolglik onverwyld op wanneer God se Woord toon dat ons veranderinge in ons lewe moet aanbring? Of redeneer ons dat, aangesien God geduldig is, ons sulke veranderinge tot later kan uitstel in die hoop dat dit dan makliker sal wees? Jehovah is wel geduldig. Maar dit is nie sodat ons laks kan wees om die nodige veranderinge aan te bring nie. Hy is eerder “geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9, 15, NAV). Hoeveel beter sal dit tog wees om die psalmis na te volg wat gesê het: “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.”—Psalm 119:60.
17. Hoe hou die handhawing van die regte pas met die Koninkrykspredikingswerk verband, en watter vraag moet ons ons dus afvra?
17 As ons agterraak, kan dit ook die Koninkrykspredikingswerk raak. Volgens Mattheüs 25 is Jesus tans besig om die mensdom te oordeel en “die skape” van “die bokke” te skei. Dit word hoofsaaklik deur middel van die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” gedoen (Mattheüs 24:14; 25:31-33; Openbaring 14:6, 7). Die tyd wat afgesonder is om hierdie skeidingswerk te volbring, is noodwendig beperk (Mattheüs 24:34). Namate die beskikbare tyd verstryk, kan ons verwag dat Jesus die werk sal bespoedig. Sodoende tree hy op as ’n werktuig van God wat belowe wanneer hy van die insamelingswerk praat: “Ekself, Jehovah, sal dit op sy tyd bespoedig” (Jesaja 60:22, NW). Bespoedig ons, as God se medewerkers wat noukeurig in die voetspore van sy Seun volg, ons pas van Koninkryksverkondiging in die mate wat ons fisiese situasie en Skriftuurlike verantwoordelikhede toelaat? Velddiensrapporte toon dat miljoene van Jehovah se Getuies dit doen!
Vermy oormoedigheid, bestry mismoedigheid
18. Waarom kan iemand oormoedig word, en hoe waarsku die Bybel teen hierdie gevaar?
18 Hoe langer ons daarin volhard om in iemand anders se voetspore te volg, des te meer sal sy manier van loop vir ons ’n gewoonte word. As ons egter oorgerus raak, sal ons vroeër of later mistrap. Wanneer ons in Jesus se figuurlike voetspore volg, moet ons derhalwe besef dat die gevaar bestaan dat ons oormoedig kan raak en op onverskillige wyse op ons eie krag en vermoëns kan staatmaak omdat ons meen dat ons sy volmaakte manier van loop bemeester het. Petrus se ondervinding wat in Lukas 22:54-62 opgeteken is, dien as ’n tydige waarskuwing. Dit beklemtoon ook die juistheid van 1 Korinthiërs 10:12 wat sê: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
19. (a) Wat gebeur van tyd tot tyd met elke Christen? (Jakobus 3:2). (b) Hoe moet ons Paulus se woorde in Romeine 7:19, 24 beskou?
19 As gevolg van onvolmaaktheid sal elke Christen van tyd tot tyd mistrap. Die afwyking kan klein, skaars waarneembaar vir ander wees. Of hy kan so duidelik te kort skiet dat almal dit sal sien. In albei gevalle is dit inderdaad vertroostend om Paulus se eerlike erkentenis te onthou: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Ek, ellendige mens!” (Romeine 7:19, 24). Hierdie woorde moet natuurlik nie beskou word as ’n verskoning om verkeerd te doen nie. Dit is eerder ’n aanmoediging vir toegewyde Christene wat met onvolmaakthede stry om hulle te help volhard in hulle poging om die uitdaging om in Jesus se volmaakte voetspore te wandel die hoof te bied.
20. (a) Hoe help Spreuke 24:16 ons in ons wedloop om die lewe? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
20 “Sewe maal val die regverdige en staan weer op”, sê Spreuke 24:16. In ons wedloop om die lewe moet niemand voel asof hy móét tou opgooi nie. Hierdie wedloop is soos ’n marathon, ’n uithouwedloop, nie ’n 100-meter-naelloop nie. Die geringste misstap sal ’n naelloper waarskynlik die wedloop kos. Maar die marathonloper het tyd om op te staan en die wedloop te voltooi selfs al struikel hy. Wanneer ’n persoonlike misstap jou dus laat uitroep: “Ek, ellendige mens!”, moet jy onthou dat jy steeds tyd het om op te staan. Jy het steeds ’n kans om weer met jou Leier, Jesus Christus, in die pas te kom. Daar is geen rede om te wanhoop nie! Geen rede om tou op te gooi nie! Wees vasbeslote om, met goddelike hulp, die uitdaging om ‘noukeurig in Jesus se voetspore te volg’ met welslae die hoof te bied.—1 Petrus 2:21.
Waarom moet Christene
◻ leer om hulle aan te pas?
◻ onverdeelde aandag skenk?
◻ die patroon van die waarheid in gedagte hou?
◻ die regte pas handhaaf?
◻ oormoedigheid vermy?
◻ mismoedigheid bestry?
[Prent op bladsy 15]
As hy sy oog op die doelwit gevestig hou, sal die regverdige beslis opstaan