Deel 5—Griekeland—die vyfde groot wêreldmoondheid
Soos ’n vinnige, gevleuelde luiperd het Alexander vanuit Griekeland gekom om Klein-Asië (hedendaagse Turkye), Palestina, Egipte en die Medo-Persiese ryk tot aan die grens van Indië te verower. Wil jy graag meer weet oor hierdie uitsonderlike veroweraar en wat die Bybel oor hom gesê het?
DIE jong Alexander het op slegs 20-jarige ouderdom die Macedoniese troon bestyg. Twee jaar later het Alexander sy vader Philippus se plan deurgevoer en begin met ’n oorlog van wraak teen die magtige Perse, wie se ryk ooswaarts geleë was. Voordat hy aan sy einde gekom het, het Alexander die wêreld van sy tyd verower.
Hierdie voortvarende jong militêre strateeg het Klein-Asië, Sirië, Palestina, Egipte, Babilonië en die hele Medo-Persiese ryk tot aan die drumpel van eertydse Indië verower! Hy word beskou as waarskynlik die grootste generaal van antieke tye, en staan vandag bekend as Alexander die Grote.
Griekeland het in ’n verbasend kort tydjie die vyfde van die wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis geword—groter as enigeen wat voorheen bestaan het. Hoe het so iets gebeur? Hoe hou dit met God se Woord verband? Wat beteken dit vir jou?
Dit is in Bybelprofesie voorspel
Tweehonderd jaar voor Alexander se tyd, toe Babilon geheers het en die Meders en die Perse nog nie die wêreldmoondheid geword het nie, het Jehovah se profeet Daniël twee groot profetiese gesigte ontvang wat toekomstige wêreldgeskiedenis geskets het. Toe, na Babilon se val, het hy ’n derde profesie ontvang oor dinge wat lank na sy tyd sou gebeur. Daniël het dit neergeskryf. Hierdie profesieë, wat eers ongeveer twee eeue daarna in vervulling gegaan het, bevat spesifieke inligting oor dinge wat met Alexander en sy koninkryk sou gebeur.
Wat is aan Daniël geopenbaar? Jy kan die profesieë vind in die Bybelboek Daniël, wat omstreeks 536 v.G.J. geskryf is. Hier volg kortliks die dinge wat hy gesien het soos hulle met die vyfde wêreldmoondheid, Griekeland, verband gehou het:
In die eerste profetiese gesig is Griekeland afgebeeld as ’n luiperd wat vir vinnige beweging toegerus is. “Dit het vier vlerke van ’n voël op sy rug gehad. . . . En aan hom is heerskappy gegee.”—Daniël 7:6.
In die tweede profetiese gesig het hy gesien dat “daar uit die weste ’n bokram [aankom] wat so vinnig oor die aarde beweeg dat hy nie grond raak nie” (NAV). Dit het na die ram met die twee horings aangekom wat volgens die engel “die konings van die Meders en die Perse” is. Die bokram het ‘die ram gestoot en sy twee horings verbreek’. Daar is vir Daniël gesê: “Die harige bok is die koning van Griekeland.”—Daniël 8:5-8, 20, 21.
In die derde geval is daar vir Daniël gesê dat ’n koning van “die Perse . . . alles in beweging [sal] bring teen die koninkryk van Griekeland. Dan sal ’n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil.”—Daniël 11:2, 3.
Wat het hierdie simboliek beteken? Het hierdie dinge presies gebeur soos Daniël meegedeel is? Kom ons kyk.
Die vervulling van die profesieë
In die noordelike lente van die jaar 334 v.G.J. het Alexander Asië by die Dardanelle (die eertydse Hellespont) met ongeveer 30 000 voetsoldate en 5 000 berede soldate binnegeval. Hy het, met die snelheid van ’n luiperd met vier vlerke of ’n bok wat gelyk het asof dit nie die grond raak nie, die grondgebiede van die Persiese ryk verower—50 keer groter as sy eie koninkryk! Sou hy ‘groot heerskappy hê en maak net soos hy wil’? Die geskiedenis antwoord.
By die Granikos-rivier in die noordwestelike hoek van Klein-Asië (hedendaagse Turkye) het Alexander sy eerste geveg teen die Perse gewen. Daardie winter het hy westelike Klein-Asië verower. Die daaropvolgende herfs het hy by Issus in die suidoostelike hoek van Klein-Asië ’n Persiese leër van nagenoeg ’n halfmiljoen man verpletter, en die grote koning, Darius III van Persië, het gevlug en sy gesin in Alexander se hande agtergelaat.
Pleks van die vlugtende Perse agterna te sit, het Alexander suidwaarts al langs die kus van die Middellandse See opgeruk en die basisse verower wat deur die kragtige Persiese vloot gebruik is. Die eilandstad Tirus het sewe maande lank weerstand gebied. Alexander het uiteindelik die puin geneem van die ou vastelandstad wat Nebukadnesar laat vernietig het en ’n verhoogde pad na die eilandstad gebou. Ruïnes van daardie verhoogde pad is vandag sigbaar, wat die vervulling van Esegiël se profesie bevestig dat die puin van Tirus in die see geslinger sou word.—Esegiël 26:4, 12.
Alexander, wat Jerusalem gespaar het omdat hulle hul aan hom oorgegee het, het suidwaarts opgeruk en Gasa verower en sy “groot heerskappy” uitgebrei en in Egipte, waar hy as ’n bevryder begroet is, gemaak “net soos hy wil”. Hy het by Memphis offerandes aan die Apisbul geoffer en sodoende die Egiptiese priesters se guns verkry. Hy het ook die stad Alexandrië gestig, ’n stad wat vandag nog sy naam dra, en wat later met Athene meegeding het as ’n opvoedkundige sentrum.
Al die oogmerke van Philippus se plan is bereik en oortref, maar Alexander was nog lank nie klaar nie. Soos ’n vinnig bewegende bokram het hy teruggedraai in ’n noordoostelike rigting, deur Palestina en verder op in die rigting van die Tigrisrivier. Daar het hy, in die jaar 331 v.G.J., die Perse aangeval by Gaugamela, nie ver van die vervalle ruïnes van die voormalige Assiriese hoofstad, Nineve, nie. Alexander se 47 000 man het ’n gereorganiseerde Persiese leër van 1 000 000 man oorweldig. Darius III het gevlug en is later deur sy eie mense vermoor.
Alexander het in die roes van die oorwinning suidwaarts gedraai en die Persiese winterhoofstad, Babilon, verower. Hy het ook die hoofstede by Susa en Persepolis beset, die ontsaglike Persiese skatkamer buitgemaak en die groot paleis van Xerxes afgebrand. Die hoofstad Ekbatana is uiteindelik deur hom verower. Hierdie vinnige veroweraar het toe die res van die Persiese gebied onderwerp en ooswaarts so ver as die Indusrivier in hedendaagse Pakistan gegaan. Griekeland het ongetwyfeld die vyfde van die groot wêreldmoondhede in Bybelgeskiedenis geword.
Alexander se verowering het ook die Griekse taal en kultuur dwarsdeur hierdie uitgestrekte ryk versprei. As gevolg van die Griekse kolonies wat in verowerde lande gevestig is, het die gewone Koine-Grieks die internasionale taal van daardie tyd geword. Dit was die taal wat later gebruik is om die Christelike Griekse Skrifte van die Bybel op te taken.
Alexander se koninkryk word verdeel
Alexander wou Babilon as die hoofstad van sy ryk herbou. Maar dit sou nie gebeur nie. Die profesie het beskryf dat die harige bokram een groot horing sou hê, waaroor Daniël meegedeel is:
“Die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die vier windstreke van die hemel. . . . Die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.”—Daniël 8:8, 21, 22.
“As hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie—want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.”—Daniël 11:4.
Soos die Bybel voorspel hat, was Alexander se genieting van wêreldheerskappy kort van duur. Alexander se gewetenlose verowerings het aan die toppunt van sy seëvierende loopbaan, op slegs 32-jarige ouderdom, tot ’n einde gekom. Hoewel hy siek was met malariakoors het hy steeds dronkpartye gehou en skielik in 323 v.G.J. in Babilon gesterf. Sy liggaam is na Egipte geneem en in Alexandrië begrawe. “Die groot horing” wat ‘die eerste koning’ is, is afgebreek. Wat het toe met sy ryk gebeur?
Die profesie het gesê dat sy koninkryk verdeel sou word, maar “nie aan sy nakomelinge” nie. Alexander se onbevoegde broer Philippus Arrhidaeus het ’n kort tydjie regeer, maar is vermoor. Dit was ook die geval met Alexander se wettige seun Alexander (Allou) en sy buite-egtelike seun Herakles (Herkules). Die geslagslyn van Alexander die Grote, die groot bloedvergieter, het gevolglik uitgesterf.
Daar is ook voorspel dat ‘vier koninkryke uit sy volk sal ontstaan, maar nie met sy krag nie’ en dat sy koninkryk “na die vier windstreke van die hemel verdeel [sal] word . . . en nie [sal] wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie”. Het dit gebeur?
Alexander se uitgestrekte ryk is mettertyd onder vier van sy generaals verdeel: (1) Generaal Cassander—Macedonië en Griekeland. (2) Generaal Lusimachos—Klein-Asië en Europese Thrasië. (3) Generaal Seleukos Nikator—Babilonië, Medië, Sirië, Persië en die oostelike provinsies aan die Indusrivier. (4) Generaal Ptolemeus Lagus—Egipte, Libië en Palestina. Soos voorspel is, het vier Helleense, of Griekse, koninkryke uit Alexander se een groot koninkryk ontstaan.a
Die Ptolemeïese koninkryk in Egipte het die langste geduur. Dit is in 30 v.G.J. deur Rome verower, waarna Rome Griekeland vervang en die sesde van die groot wêreldmoondhede geword het.
Rooskleuriger vooruitsigte vir die mensdom
Sou onderdrukkende wêreldmoondhede ’n onbepaalde tyd lank op mekaar volg? Nee, want die Bybel sê vir ons dat ons naby die einde van die laaste een lewe.—Openbaring 17:10.
Nadat Daniël hierdie dieragtige regerings aanskou het, het hy iets anders gesien. Hy het ’n buitengewone gesig van in die hemele self ontvang, waar hy gesien het hoe “die Oue van dae”, God self, die Koninkryk gee, nie aan ’n toekomstig hebsugtige menseheerser nie, maar aan “Een . . . soos die Seun van ’n mens”—aan die verrese Jesus Christus!—Daniël 7:9, 10, 13.
Wat ’n teenstelling! Hoe anders as die heerskappy van die aarde se voormalige, oorlogvoerende mensekonings sou daardie hemelse koninkryk en sy heerskappy tog wees! Daniël het van hierdie verheerlikte hemelse “Seun van ’n mens” gesê: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Daniël 7:14). Dit sou ’n Koninkryk van vrede en geregtigheid wees.—Jesaja 9:5, 6.
Hoe gelukkig kan ons tog wees, wanneer ons die hebsug en geweld van menseheerskappy aanskou, om te weet dat hierdie hemelse Koninkryk reeds opgerig is en dat sy regverdige, aardwye heerskappy naby is!—Openbaring 12:10, 12.
“Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Habakuk 2:3.
[Voetnoot]
a Die onstuimige gebeure wat op die verdeling van Alexander se ryk gevolg het, is in die profesie van “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” voorspel. Hierdie profesie wat in Daniël hoofstuk 11 opgeteken is, word breedvoerig bespreek op bladsye 229-248 van die boek “Laat u wil geskied op aarde” wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word.
[Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Omvang van Alexander se gebied
Pella
Sardis
Issus
Damaskus
Tirus
Jerusalem
Alexandrië
Memphis
Thebe
Eufraatrivier
Tigrisrivier
Gaugamela
Babilon
Ekbatana
Susan
Persepolis
Alexandrië
Taxila
Indusrivier
[Kaart op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Verbrokkeling van Alexander se ryk
Groot See
CASSANDER
Pella
LUSIMACHOS
Lusimachië
PTOLEMEUS LAGUS
Alexandrië
SELEUKOS NIKATOR
Antiochië
Selucië
[Prent op bladsy 24]
Kuslyn naby hedendaagse Alexandrië
[Erkenning]
Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis)