Wat kan ons uit God se skepping leer?
DUIWE oriënteer hulle deur middel van magnetiese kristalgroepe in hulle koppe en nekke. Party visse wek elektrisiteit op. Verskeie voëlsoorte verwyder oortollige sout uit die seewater wat hulle drink. Sommige skulpvisse het holtes wat gevul kan word met water om te duik of met gas om weer na die oppervlak te kom.
Ja, hetsy die mens dit besef of nie, wanneer hy ’n kompas gebruik, elektrisiteit opwek, ’n duikboot ontwerp of seewater ontsout, boots by eintlik net God se skepping na.
Trouens, God se skepping bevat soveel lesse vir die mens dat dit soms “die boek van die natuur” genoem word. Bionika is byvoorbeeld ’n tak van die wetenskap wat daarop gemik is om stelsels wat in die skepping gevind word prakties toe te pas. Daaronder is vliegtuigvlerke met kenmerke soos dié van voëlvlerke, duikbote waarvan die vorm ooreenstem met dié van dolfyne en betongeboue wat soos mensebeendere ontwerp is. Maar is tegniese kennis al wat die “boek van die natuur” kan aanbied?
Nee, dit verskaf soms ook praktiese lesse van ’n morele aard. Waar dit byvoorbeeld van die mier se instink vir arbeidsaamheid praat, vermaan die Bybelboek Spreuke: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.”—Spreuke 6:6-8.
Maar etologie, ’n wetenskap wat glo lesse trek uit dieregedrag, het sy beperkinge. Mensegedrag kan nie in presies dieselfde kategorie as dié van diere geplaas word nie. Opmerklike verskille, soos taal en ’n oneindig beter ontwikkelde denkproses in die mens, moet in aanmerking geneem word. Soos een wetenskaplike dit gestel het: “Ons is nie net slimmer ape nie.” Ons verstande “maak ons kwalitatief anders as alle ander lewensvorme”.
Verder is daar vrae wat nooit deur ’n noukeurige studie van die skepping alleen beantwoord kan word nie. Dit sluit in: Het die lewe ’n doel? Bestaan God, en indien wel, gee hy vir ons om? Kom ons kyk nou of sulke vrae beantwoord kan word.
[Venster/Prent op bladsy 3]
Die skepping het dit eerste gehad: Sonar
Vlermuise is toegerus met ’n stelsel wat in sekere mate met ’n sonar ooreenstem en wat hulle in staat stel om huile prooi op te spoor en sy bewegings te volg deur klankgolwe uit te stuur en die eggo’s te verwerk. Maar ’n sekere soort beermot (Arctiidae) het ’n steursein wat golwe soortgelyk aan dié van sy vyand uitstuur. Wanneer die vlermuis die sein ontvang, het hy nie genoeg tyd om vas te stel of dit ’n hindernis is of nie en vermy hy die mot stelselmatig.
Professor James Fullard van die Universiteit van Toronto, Kanada, het sy bewondering uitgespreek en gesê: “Die hoeveelheid informasieverwerking en diep neurologiese besluite wat die vlermuise en die motte met behulp van ’n uiters beperkte getal senuselle vermag, is verstommend. Hulle lê ’n mate van spaarsaamheid en gevorderdheid aan die dag wat deur lugkrygskundiges beny kan word.”
[Venster/Prent op bladsy 4]
Die skepping het dit eerste gehad: Die duikerklok
Leonardo da Vinci het glo omstreeks die begin van die 16de eeu ’n duiktoestel uitgevind. Maar ’n sekere spinnekop wat Argyroneta aquatica genoem word, het lankal reeds ’n volmaakte stelsel vir asemhaling onder die water gehad. Soos Andrée Tétry in haar boek Les outils chez les êtres vivants (Instrumente wat deur lewende wesens gebruik word) verduidelik, “gaan woon” hierdie spinnekop “in stadig bewegende strome tussen onderwaterplante en spin hy tussen hulle ’n fyn horisontale netwerk, wat deur ’n mag der menigte drade slap in posisie gehou word. Wanneer die spinnekop . . . na die oppervlak terugkeer, gryp hy, met ’n skielike rukbeweging, ’n lugborrel tussen sy waterwerende hare op sy agterlyf vas. . . . Dan gaan die spinnekop weer af en laat hy die lugborrel onder die netwerk van sydrade vry. Die borrel styg dan en vorm ’n effense ronding in die net.” Deur herhaaldelik op en af te gaan, versamel die spinnekop genoeg lug om die dag onder sy klok deur te bring, waar hy die prooi eet wat gedurende die nag gevang is. Wat dit betref, voeg Tétry by: “Die mens se duiktoestelle kom dus ooreen met die mees gespesialiseerde soorte wat in die natuur waargeneem word.”