Van slawe wat bakstene maak tot vryheid!
HERINNER die piramides van Giza (naby hedendaagse Kaïro) jou aan mishandelde slawe wat onder ’n warm son swoeg om groot klippe in posisie te sleep? En stel jy jou Hebreeuse slawe onder hulle voor?
Die Egiptiese piramides wat op die volgende bladsy gesien kan word, dateer in werklikheid uit die tyd voor die gesin van Josef se vader Jakob (of Israel) na Egipte getrek het. Maar die gebruik van bakstene, waarvan miljoene onder dieselfde skroeiende son gemaak is, was algemener as bouwerk met groot klippe.
God het die Hebreërs, wat gedurende Josef se tyd welkom was in Egipte, met vermeerdering geseën, en dit het die Egiptenare met vrees vervul. Ons lees: “Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle [die Hebreërs] aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het . . . voorraadstede . . . gebou . . . Die Egiptenaars [het] die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene.”—Exodus 1:7-14.
Regs kan jy sien dat bakstene steeds in Egipte gemaak word, en sommige word in oonde, soos dié op die foto’s, gebak. (Vergelyk Genesis 11:1-3; 19:28.) Maar die meeste bakstene van eertydse Egipte is klaarblyklik in die son gebak. Strooi word egter nog gebruik om stene te maak. Strooi is steeds sigbaar in bakstene wat in die opgegraafde ruïnes van eertydse Berseba gevind is (inlas).
Strooi wat bygevoeg is, het die stene versterk. Hulle is vervaardig deurdat klei, water en strooi stadig met die voete getrap, dan in vorms gepers en uiteindelik uitgehaal is om droog te word. Stel jou voor hoe dit moes wees om een lang dag na die ander met sulke werk te swoeg. ’n Mens kan waarlik verstaan waarom die Israeliete ‘vanweë die slawerny gesug en geweeklaag het, sodat hulle geroep om hulp tot God opgeklim het’.—Exodus 2:23.
Jehovah het hulle gehoor en het Moses na Farao gestuur om die Israeliete se vryheid te bewerkstellig. Hoogmoedige Farao het egter hulle las vermeerder. Hulle moes toe hulle eie strooi bymekaarmaak, en nog steeds hulle kwota bakstene soos voorheen handhaaf. Dit was soos ’n doodvonnis! God het gesê: “Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ’n sterke hand sal hy hulle laat trek.”—Exodus 5:1–6:1.
Jy ken waarskynlik die res. Jehovah het tirannieke Farao verslaan. Na die tiende plaag het God ‘die kinders van Israel uit Egipteland uitgelei’ (Exodus 12:37-51). Israel het die piramides, die bakstene en die strawwe slawerny agtergelaat en na die Beloofde Land getrek. Sulke historiese feite behoort ons te verseker van Jehovah God se vermoë om Christene ware vryheid in die komende nuwe wêreld met sy aardse paradys te gee.—Vergelyk Romeine 8:20, 21.
[Volbladillustrasie op bladsy 31]
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Foto’s, bladsye 30, 31: Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis)