Hulle het gehoor gegee aan die oproep van die Mikronesiese eilande
NAME soos Truk, Jap, Ponape, Guam en Saipan klink moontlik vir jou effens bekend. Maar wat van Belau, Rota, Kosrae, Nauru of Kiribati? Hierdie en ander is almal deel van die meer as 2 000 eilande en atolle wat oor ongeveer 7,8 miljoen vierkante kilometer van die Stille Wessee versprei is en gesamentlik as Mikronesië, of eilandjies, bekend staan.
Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van die Koninkryk in hierdie wyd uitgestrekte gebied, wat naastenby so groot soos Australië of die vasteland van die Verenigde State is (Markus 13:10). Hierdie werk word tans deur sowat 740 Koninkryksverkondigers in 13 gemeentes gedoen. Daar is inderdaad ’n groot behoefte aan meer werkers om die oes in hierdie afgeleë eilande van die see in te samel.—Vergelyk Jeremia 31:10.
Oor die afgelope 20 jaar of wat het persone uit Hawaii, die Filippyne, Kanada, die Verenigde State en Australië gehoor gegee aan die oproep en sendingdiens in die Mikronesiese eilande aanvaar. Toe die eerstes in 1965 daar aangekom het, was daar net 76 Koninkryksverkondigers in hierdie hele uitgestrekte gebied. Maar in 1987 het altesaam 4 510 mense die herdenking van Jesus Christus se dood bygewoon. Dit is duidelik dat Christelike liefdedade oor die jare heen ryklik geseën is.
Daar is vandag 49 sendelinge wat dien vanuit 14 sendinghuise wat oor die eilande versprei is, en almal werk onder toesig van die Wagtoringgenootskap se tak in Guam. Hulle liefde vir Jehovah en vir hulle Mikronesiese bure het hulle beweeg om die oproep om sendingwerk te aanvaar. Watter ondervindinge het hulle gehad terwyl hulle in hierdie afgeleë eilande gedien het? Watter uitdagings moes hulle te bowe kom wat nuwe tale en gewoontes betref? En wat het hulle gehelp om in hulle toewysings te bly? Kom ons hoor wat sommige van hulle oor hulle werk in hierdie eilande sê.
Die uitdaging van nuwe tale
Daar is agt of nege hooftale in Mikronesië. Maar omdat hulle nie as skryftale beskou word nie, is dit vir die nuwe sendelinge moeilik om boeke te vind waaruit hulle die tale kan leer. Nogtans lê hulle hulle daarop toe. Een effektiewe metode is, so het hulle verneem, om wat hulle geleer het onmiddellik in die predikingswerk te probeer gebruik. Wel, hulle onthou nog die vele snaakse—en verwarrende—situasies wat ontstaan het toe hulle probeer het om dit te doen.
Roger, ’n boorling van Hawaii, onthou so ’n situasie toe hy 13 jaar gelede vir die eerste keer na Belau gekom het. “Toe een huisbewoner gesê het: ‘Ek’s ’n Katoliek’, was ‘Waarom?’ die enigste Palause woord wat ek geken het om haar mee te antwoord.” Die huisbewoner het toe ’n lang verduideliking gegee. “Ek het nie ’n woord verstaan van wat sy gesê het nie. Toe sy klaar was, het ek die enigste ander woord wat ek geken het, ‘Dankie’, gesê en vertrek!”
Salvador, wat tien jaar gelede saam met sy vrou, Helen, na Truk gekom het, onthou toe hy probeer het om ’n Trukese dame te vra of sy gelukkig (pwapwa) wil wees. Hy het egter gevra of sy swanger (pwopwo) wil wees. En Zenette wat saam met haar man, David, van Kanada gekom het, onthou die keer toe sy probeer het om “Dankie” (kilisou) te sê, maar geëindig het deur “Perdevlieg.” (kiliso) te sê. Dit is onnodig om te sê dat hulle daardie woorde nou goed ken.
Toe James na die eiland Kosrae toegewys is, nadat hy vier jaar in Ponape gedien het, moes hy opnuut begin. Hy onthou veral toe hy probeer het om met een huisbewoner vriende te maak. Pleks van te vra: “Hoe gaan dit?”, het hy egter vir hom gesê: “Jy is eksentries”! Nou, na tien jaar, erken hy: “Dit was eers moeilik om party van die Kosraeaanse woorde te sê, omdat hulle in Engels net soos vloekwoorde geklink het.”
Maar sulke ondervindinge het hierdie sendelinge nooit ontmoedig om met hulle taalstudies deur te druk nie. “Daar is min wat ’n mens kan doen om die mense te help as jy nie die taal leer nie”, het een sendeling gesê. “Dit is ’n ware aansporing om ywerig te studeer.”
Gewoontes en bygelowe
Vir die nuwe intrekkers was baie van die plaaslike gewoontes amusant. David het byvoorbeeld ’n man ontmoet wat sy drie seuns Sardine, Tuna en Spam genoem het. Hy is later voorgestel aan drie mans met die name Desire, Sin en Repent. Zenette het dit vreemd gevind dat mense hulle grootouers Pappa en Mamma en hulle ouers by hulle name noem. Toe Sheri vir die eerste keer van Hawaii gekom het, het sy gedink dat dit baie amusant is dat mense hulle neuse gebruik om rigting aan te dui. En dit het ’n rukkie geneem om aan hierdie gewoonte gewoond te raak: Wanneer ’n vrou ’n openbare vergadering binnegaan, “loop” sy op haar knieë na haar “sitplek” op die vloer om respek vir die mans te betoon.
Daar is ook talle bygelowe. In die Marshall-eilande sal die gesin van iemand wat gesterf het byvoorbeeld kos, sigarette en blomme op die graf vir die afgestorwene sit. Of wanneer ’n voël al tjirpende om die huis vlieg, word daar aanvaar dat dit gevaar en die naderende dood van iemand in die gesin beteken.
Party mense op die eilande is ook diep by spiritisme betrokke. Jon was een van hulle. Hy kon eens, as ouderling in ’n Protestantse kerk, demone uitdryf deur gebede en die gebruik van toorgoed wat van klapperolie gemaak is.
“Eendag het ’n afstootlike gesig van ’n demon so wyd soos ’n deur by die ingang van my kamer verskyn”, het Jon vertel. Jon het eers gedink dat hy droom, maar het gou besef dat hy wawyd wakker is.
“Die demon het vir my vertel dat hy die bron van my towerkragte is. Dit het my geskok en my laat wonder waarom die demone deur my, ’n diaken in die kerk, sou werk en waarom die predikant self my demoniese dienste aangevra het.” Die Getuie-sendelinge het spoedig met Jon in aanraking gekom, en hy het die Bybel begin bestudeer.
“Dit het my groot vreugde verskaf om die waarheid oor die demone te leer en oor hoe die ware godsdiens uitgeken kan word”, het Jon gesê. Hy het sy kerk verlaat en sy demoniese gebruike laat vaar. Vandag waarsku hy ander om alle demoniese gebruike te vermy.—Deuteronomium 18:9-13; Openbaring 21:8.
Hoe die kleiner eilande bereik word
Dit is ’n ware uitdaging om die goeie nuus na mense op die buitenste eilandjies te neem. Die enigste manier om hulle te bereik, is dikwels om passasie op ’n kopraskip te bespreek. Terwyl die skip ’n paar uur of dae lank by elke eilandjie vertoef om vrag op te laai, is die sendelinge en ander Koninkryksverkondigers besig om vir die eilandbewoners te getuig. Weeklikse radio-uitsendings is nog ’n manier waarop die goeie nuus na hulle gebring word.
Bewoners van die buitenste eilande reis dikwels na die hoof-eilandsentrums vir voedsel, mediese behandeling en onderwys. Terwyl hulle daar is, is daar ’n kans dat hulle deur Jehovah se Getuies genader word en Bybellektuur ontvang. Herbesoeke word by belangstellendes gedoen deur briewe of wanneer verkondigers hulle eiland besoek. Een egpaar is op hierdie manier in Majuro in die Marshall-eilande genader en het toe na hulle tuiseiland Ailuk, 400 kilometer daarvandaan, teruggekeer. Hulle insig in die Bybel het vermeerder. Hulle het spoedig bande met hulle kerk verbreek, hulle huwelik gewettig en hulle laat doop. Nou is albei ywerige verkondigers op hulle afgesonderde eiland, en hulle dien dikwels as hulppioniers.
Sendelinge in Ponape, Truk en Belau gebruik hulle eie bote om op die eilande te getuig. Aangesien daar geen vasmeerfasiliteite by die meeste plekke is nie, moet hulle dikwels kniediep in modder aan wal loop. Die meeste inwoners is vriendelik en verwelkom die besoekers deur gevlegte vloermatte vir hulle oop te sprei en vir hulle koel klapperwater te skink. Die hele gesin word ontbied en sal aandagtig luister. Omdat baie nie geld het nie, is dit nie ongewoon om na twee of drie dae verkondigers te sien terugkeer met bote vol vrugte wat hulle in ruil vir Bybellektuur ontvang het nie.
Opofferings en belonings
Die lewe op die eilande is vir die sendelinge nie wat dit by die huis was nie. Hulle moet aan voortdurende kragonderbrekings en watertekorte gewoond raak en is afhanklik van reënwater vir hulle voorraad. Op sommige eilande is daar geen krag-, water- of rioolstelsels, geen teerpaaie en motors nie. Maar die sendelinge het geleer om aanpasbaar te wees. “Wanneer ek sien hoe die plaaslike broers in huise woon wat uit afvaltimmerhout en -vloerplanke gemaak is, voel ons empatie vir hulle, en dit help ons om ’n gebalanseerde beskouing van ons behoeftes en begeertes te behou”, sê Julian, wat al 17 jaar lank getrou in Guam en die Marshall-eilande dien.
Rodney en Sheri het van Hawaii na Truk gekom. Hy erken: “Ek het, om die waarheid te sê, ’n kultuurskok belewe.” Nou, tien jaar later, skryf hy: “Ons werk hier is baie bevredigend. Ons het ons voor- en teenspoed; soms voel ons ontmoedig en eensaam. Maar ons wil voortgaan om ons lewensdoel hier in die sendingwerk na te streef.” En Sheri voeg vrolik by: “Selfopofferende mense is gelukkige mense.”
Hulle opofferings word inderdaad ryklik beloon. Clemente en sy vrou, Eunice, wat tien jaar gelede na die Marshall-eilande gekom het, hou nou 34 weeklikse tuisbybelstudies. “Veertien van die studente het hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer”, sê hy, “en ander is besig om hulle vir doop te bekwaam. Sulke lewensreddende werk het groot waarde in ons oë.” James, wat meer as tien jaar al ’n sendeling is, sê: “Dit is ’n ware seën om die volharding van ons Kosraeaanse broers jaar na jaar te sien.” Oorkant in Belau sê Roger: “Ons is met ’n nuwe Koninkryksaal en ’n lojale groep verkondigers geseën.” En Placido wat aan die afgelope jare terugdink, sê: “Jehovah se leiding en heilige gees was duidelik in ons lewens. Dit het ons gehelp om ’n intieme verhouding met hom aan te kweek.”
Sulke ondervindinge het die sendelinge aangespoor om in hulle toewysings te bly. Baie van hulle kan terugkyk en die stigting van die eerste gemeente in hulle gebied onthou. Soos die apostel Paulus het hulle die unieke vreugde om “nie op die fondament van ’n ander te bou nie” (Romeine 15:20). Hulle gesindheid word goed geopenbaar deur hierdie opmerking: “Daar is nog baie werk om te doen. Ek glo dat Jehovah nog baie geleenthede sal bied om meer regskapenes op die eilande in te bring, en ons is bevoorreg om daarin te deel.”
Die Bybel sê in Spreuke 10:22: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie”. Diegene wat die sendinguitnodiging van die Mikronesiese eilande aanvaar het, het waarlik hierdie seën asook die blydskap en tevredenheid wat diens aan Jehovah verskaf, ondervind.