Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 11/1 bl. 21-23
  • Godsdiensvryheid word gehandhaaf in Indië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiensvryheid word gehandhaaf in Indië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Hoe die geskil ontstaan het
  • Kinders versus die staat
  • ’n Bedreiging vir nasionale eenheid?
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 11/1 bl. 21-23

Godsdiensvryheid word gehandhaaf in Indië

DIE beslissing wat die Hooggeregshof in Nieu-Delhi op 11 Augustus 1986 gegee het, het miljoene verras. Op ’n tydstip toe nasionalisme hoog geloop het, het min verwag dat die godsdiensvryheid van ’n redelik onbekende godsdiensminderheid gerespekteer sou word. Maar by nadere ondersoek van die feite het die hoogste hof in Indië bepaal dat die kinders van Jehovah se Getuies nie gedwing kan word om die volkslied te sing nie. In ’n keerpuntbeslissing het die hof gesê:

“Ons is, in die onderhawige geval, daarvan oortuig dat die drie kinders se fundamentele reg op ‘gewetensvryheid en die vryelike belyding, beoefening en bevordering van godsdiens’ geskend is toe hulle uit die skool gesit is omrede hulle weens hulle gewetensgetroue godsdiensopvattinge nie meegedoen het aan die sing van die volkslied nie, ofskoon hulle wel eerbiedig opgestaan het wanneer die volkslied gesing is.”

Regter O. Chinnappa Reddy en regter M. M. Dutt van die Hooggeregshof van Indië was die regters wat die beroemde volksliedsaak van Jehovah se Getuies verhoor het.

Hoe die geskil ontstaan het

Byna die helfte van die 8 000 Jehovah se Getuies in Indië word in die staatjie Kerala in die suidelikste deel van hierdie enorme nasie aangetref. In die meeste skole aldaar word die volkslied daagliks gesing. By die betrokke skool was dit gebruiklik dat al die leerlinge die volkslied saam sing. Die kinders van Jehovah se Getuies het egter net gestaan terwyl die ander gesing het. Soos die uitspraak van die Hooggeregshof gesê het: “Dit het niemand gepla nie. Niemand is ontstig nie. Niemand het gedink dat dit oneerbiedig of onpatrioties is nie. Die kinders is met rus gelaat om hulle oortuigings uit te leef.” Dit was jare lank die geval.

Toe kom Julie 1985. ’n Lid van die Wetgewende Vergadering van die Staat het die beswaar geopper dat dit syns insiens onpatrioties is van enigiemand om te weier om die volkslied te sing. ’n Debat het gevolg, en wat bespreek is, is in talle vooraanstaande koerante in die land gepubliseer.

Die meeste skoolowerhede in Kerala, wat die kinders van Jehovah se Getuies tot op daardie tydstip goedgesind was, het bang geword weens die beswaar in die Wetgewende Vergadering en die negatiewe publisiteit. Gevolglik is die kinders van Jehovah se Getuies uit die een skool na die ander gesit.

Kinders versus die staat

V. J. Emmanuel, wie se drie minderjarige kinders, Bijoe, Binu Mol en Bindu, uit die skool gesit is, het regshulp ingewin. Mnr. Emmanuel was vas oortuig daarvan dat die wet aan sy kant was. Hy het geweet dat, volgens Artikel 25 (1) van die Grondwet van Indië, “alle mense ewe geregtig is op gewetensvryheid en die reg om godsdiens vryelik te bely, te beoefen en te bevorder”.

Eindelik het ’n afdeling van die Hoër hof van Kerala die saak verhoor, maar dit het V. J. Emmanuel se appèl van die hand gewys. Dit was ’n groot skok, want die Grondwet van Indië sê nie dat die volkslied gesing moet word om respek daarvoor te toon nie. Dit sê slegs dat burgers hulle “aan die Grondwet moet hou en die ideale en instellinge daarvan, die Landsvlag en die Volkslied moet respekteer”. Daar is ook geen ander wet wat alle burgers van Indië verplig om die volkslied te sing nie.

Die saak is na die Hooggeregshof van Indië geappelleer. Die Hooggeregshof se uitspraak het dié van die Hoër hof van Kerala verwerp en gesê: “Die Hoër hof het ’n dwaling begaan en heeltemal afgewyk. Hulle het elke woord en gedagte van die Volkslied in die fynste besonderhede ondersoek en tot die slotsom gekom dat daar geen woord of gedagte in die Volkslied is wat enigiemand se godsdiensgevoeligheid kan kwets nie.” Maar soos die Hooggeregshof tereg opgemerk het, was “dit hoegenaamd nie die kwessie nie”.

Die kwessie is ’n godsdienstige, naamlik, die reg van individue om hulle godsdiensvryheid uit te oefen. Feit is dat Jehovah se Getuies nie die volkslied van enige land sing nie. Sulke liedere is in werklikheid gesange of gebede wat getoonset is, en Jehovah se Getuies het gewetensbesware teen die sing daarvan. “Hulle onthou hulle daarvan om te sing”, het die Indiese Hooggeregshof se beslissing met begrip verduidelik, “weens hulle opregte opvatting en oortuiging dat hulle godsdiens hulle nie toelaat om aan enige ritusse behalwe in hulle gebede tot Jehovah hulle God deel te neem nie.”

Dit is beduidend dat die Grondwet van Indië “die vrye woord en meningsuiting” waarborg, wat die reg om stil te bly insluit. Dit was wat die kinders gedoen het toe die volkslied gedurende die oggendbyeenkoms by die skool gesing is—hulle het stilgebly. Tog het die onderwysowerhede van Kerala in werklikheid ’n verbod op stilte geplaas. Die vraag is dus geopper of so ’n verbod gestrook het met die regte wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Die Hooggeregshof het hierdie saak so afgesluit: “Ons kan sonder aarseling sê dat daar geen bepaling van die wet is wat enigiemand verplig om die Volkslied te sing nie, en ook dink ons dat dit nie oneerbiedig teenoor die Volkslied is as iemand wat eerbiedig opstaan wanneer die Volkslied gesing word nie aan die sang deelneem nie.”

Soos voorheen genoem is, is dit volgens die Grondwet die plig van elke burger om ‘die Volkslied te respekteer’. Die Wet op die Voorkoming van Volks-eerskending van 1971 sê aangaande sulke respek: “Wie ook al die sing van die Volkslied opsetlik verhinder of enige byeenkoms steur wat aan sodanige sang deelneem, sal met tronkstraf van tot drie jaar, of met boetes, of met beide gestraf word.” Die kinders van Jehovah se Getuies het egter nooit enigiemand verhinder om die volkslied te sing nie. Hulle het nooit enige groep wat die volkslied gesing het, gesteur nie.

’n Bedreiging vir nasionale eenheid?

Een van die staat se redenasies was dat die sing van die volkslied noodsaaklik is vir die eenheid en integriteit van die land. Maar dra dit werklik tot ’n land se eenheid of tot die integriteit van sy burgers by as mense gedwing word om die volkslied te sing?

Dit is opmerklik dat die Indiese volkslied net in die taal van een staat verwoord is en die meeste Indiërs wat dit sing dit dus nie verstaan nie. Vir die meeste beteken dit dus waarskynlik nie veel as hulle die volkslied sing nie en is dit dus, in wese, ’n leë ritus. Jehovah se Getuies neem nie aan sulke ritusse deel nie. Hulle bid alleenlik tot hulle God, Jehovah.

Daar is ook aangevoer dat die veiligheid van die land bedreig kan word indien die uitspraak van die Hooggeregshof Jehovah se Getuies begunstig. Maar in Indië is Jehovah se Getuies ’n klein minderheid wat maar ongeveer 8 000 tel. Sal so ’n groepie ’n bedreiging inhou vir ’n nasie van meer as 800 miljoen mense? Jehovah se Getuies is boonop wêreldwyd bekend vir hulle eerlikheid en gehoorsaamheid aan die wette van die regerings waaronder hulle leef.

In Nigerië het ’n regsgeleerde gesê: ‘Getuies is belastingbetalende en wetsgehoorsame burgers. Enige Getuie wat so eerlik kan wees met sy godsdiens dat hy daaraan gehoorsaam sal wees al loop hy gevaar om sekere voorregte te verbeur, sal in die meeste ander dinge net so eerlik wees. Die rede waarom hy weier om staatsgeld te steel terwyl sy ander kollegas die volkslied sing en nogtans geld verduister, is omdat sy Bybel wat hom vra om nie die volkslied te sing nie ook sê dat hy nie mag steel nie.’

Die laaste sin van die Hooggeregshof se keerpuntbeslissing is opmerkenswaardig. Dit het gesê: “Ons wil net byvoeg: ons tradisie leer verdraagsaamheid; ons filosofie leer verdraagsaamheid; ons grondwet pas verdraagsaamheid toe; laat ons dit nie afwater nie.” Sal die regering en die leiers hierdie goeie gedagte waardeer? Sal die Hooggeregshof se beslissing onbestrede bly? Net die tyd sal leer.

[Prente op bladsy 23]

Die drie kinders wat eerbiedig geweier het om aan ’n patriotiese plegtigheid deel te neem

Die toegewyde gesin van die drie kinders

Hierdie gesin het van die hofsaak gelees, die Bybel bestudeer en is gedoop

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel