Vrae van lesers
◼ Waarom het Jesus gesê dat ’n bekeerling van die Fariseërs “’n voorwerp vir Gehenna, twee maal erger” as die Fariseërs was?
Klaarblyklik was nie-Jode wat tot die Fariseïese sekte van Judaïsme bekeer is baie afkeurenswaardig. God het sommige van hulle dalk voorheen afgekeur, maar toe hulle Fariseërs geword het, was sy afkeuring van hulle dubbel so sterk, en het hulle beslis op vernietiging in Gehenna afgestuur.
Die dal Hinnom was suidsuidwes van Jerusalem se mure geleë. Dit is by tye vir afgodediens en mense-offers gebruik (2 Kronieke 28:1-3; 33:1-6; Jeremia 32:35). Dit het derhalwe ’n vullishoop geword, waar onder meer die lyke van misdadigers gegooi is wat beskou is as ongeskik om met die vooruitsig op ’n opstanding begrawe te word.—Vergelyk Mattheüs 5:22, NW.
The New Bible Dictionary (geredigeer deur J. D. Douglas, 1962) sê dat die ‘dal Hinnom buite Jerusalem geleë was, waar kinders in die vuur aan Molog geoffer is. Dit het ’n profetiese simbool van die oordeel en later van finale straf geword.’ Jesuïet John L. McKenzie voeg in sy Dictionary of the Bible (1965) by: “Vanweë hierdie [kultiese altaar vir menseoffers] het Jeremia die plek vervloek en voorspel dat dit ’n plek van die dood en bederf sou wees (7:32; 19:6). Hierdie dal word, nie by name in Jes[aja] 66:24 nie, genoem as ’n plek waar die lyke van die rebelle teen Jahweh sal lê . . . In rabbynse letterkunde is die ewige vuur egter ongetwyfeld nie ewige straf nie . . . [Gehenna] is ’n plek waar die goddelose in liggaam en siel vernietig word, wat moontlik die gedagte van vernietiging herhaal (Matt. 10:28).”
Wanneer ons verslae soos Mattheüs 15:1-8; Johannes 8:12-19, 31-41; 9:13-34; 11:45-53 lees, kan ons verstaan waarom Jesus gesê het dat die Fariseërs vernietiging, wat deur Gehenna afgebeeld is, verdien. Sommige sou hulle weliswaar dalk bekeer en God se goedkeuring verkry, maar as ’n klas het hulle ewige vernietiging verdien. Christus het gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle deurkruis die see en die droë land om één bekeerling te maak, en wanneer hy een word, maak julle hom tot ’n voorwerp vir Gehenna, twee maal erger as julleself.”—Mattheüs 23:15, NW.
Dit het vir die Joodse Fariseërs gegeld. Maar hoe sou diegene wat bekeerlinge geword het ‘voorwerpe vir Gehenna twee maal erger’ as die Fariseërs wees? Hierdie bekeerlinge was nie nie-Jode wat die Jode bloot simpatiek gesind was of selfs diegene wat hulle bekeer het en besny is nie (Lukas 7:2-10; Markus 7:24-30; Handelinge 8:26-34; 10:1, 2). Nee, Jesus het nie van bekeerlinge tot Judaïsme gepraat nie maar van bekeerlinge tot huigelagtige Fariseïsme. In watter toestand het hulle hulle nou bevind?
Sommige van hierdie persone was dalk voorheen growwe sondaars of fanatieke aanbidders van demongode en is gevolglik ernstig deur God afgekeur. Sommige het dalk selfs in aanmerking gekom vir Gehenna omdat hulle op die een of ander manier teen God se gees gesondig het (Mattheüs 12:32). As hulle situasie voor Jehovah nog nie daardie stadium bereik het nie, het hulle dit nou vererger. Hulle het hulle bekeer om die ekstremisme van die Fariseërs te volg. Hierdie bekeerlinge het opgegaan in huigelagtige ritueel en ekstremistiese beskouings wat enige morele goedheid en waarheid wat ander bekeerlinge tot Judaïsme moontlik verkry het kragteloos gemaak het. Klaarblyklik het hierdie bekeerlinge tot Fariseïsme meer ekstremisties as hulle veroordeelde leraars geword. As die Joodse Fariseërs dus ‘voorwerpe vir Gehenna’ was, was hierdie bekeerlinge dit des te meer of, soos Jesus dit gestel het, twee maal erger.
[Kaart/Prent op bladsy 31]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KAART VAN ERSTE-EEUSE JERUSALEM
TEMPEL- GEBIED
DAL HINNOM
(GEHENNA)
[Prent]
’n Deel van die dal Hinnom vandag
[Erkenning]
Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis)