Bewys van Christelike lojaliteit in Nieu-Caledonië
ALLES was nie pluis in die paradys nie. Teen die begin van 1985 het politieke onrus sowat 20 lewens geëis op Nieu-Caledonië, ’n eiland in die Stille Suidsee. Na aanleiding hiervan het die tydskrif Maclean’s die volgende kommentaar gelewer: “Die eiland begin reeds soos Noord-Ierland lyk—dit is in twee swaar gewapende en vyandelike kampe verdeel.”
Die situasie het in Januarie 1985 so ernstig geword dat president François Mitterrand van Frankryk in aller yl halfpad om die wêreld gereis het op ’n onbeplande Saterdagbesoek aan Noumea, die eiland se hoofstad. Die eilandbewoners, wat in hulle lojaliteit verdeeld is, wou graag gedurende sy besoek uiting gee aan hulle gevoelens. Die oorspronklike bewoners, wat deur godsdiensleiers aangepor is en ’n sterk lojaliteitsgevoel teenoor hulle Melanesiese afkoms het, het aangedring op die beëindiging van meer as 130 jaar van Franse bewind. Talle afstammelinge van Europese Polinesiërs en Asiatiese immigrante, en selfs Melanesiërs, het andersyds hulle lojaliteit teenoor die Franse regering betuig en het die voortsetting van die bewind voorgestaan.
Intussen het 1 567 van Jehovah se Getuies en hulle vriende op hierdie selfde Saterdag ook in Noumea bymekaargekom om hulle lojaliteit in die openbaar te bewys. Hulle lojaliteit was egter nie teenoor enige bepaalde etniese groep of ’n aardse regering nie; dit was lojaliteit teenoor God se opgerigte Koninkryk. Maar hoe het dit gebeur dat hulle op hierdie spesifieke dag in Noumea was? Trouens, hoe het dit gebeur dat hulle hoegenaamd in Nieu-Caledonië was?
Die begin van Christelike lojaliteit
Nieu-Caledonië het wat jy van ’n paradys in die Stille Suidsee sou verwag—’n behaaglike klimaat dwarsdeur die jaar, sappige vrugte om die smaak te streel, volop plantegroei om die oog te behaag en ’n kleurryke sameraapsel van meer as 150 000 Melanesiërs, Polinesiërs, Asiate en Europeërs.
Dit is in 1774 deur kaptein James Cook, die bekende Britse navigator en ontdekkingsreisiger, ontdek, maar het in 1853 ’n Franse kolonie geword. Op die hakke van die eerste ontdekkingsreisigers en handelaars het die Christendom se sendelinge gekom. Dit was duidelik dat die mense wat hulle daar aangetref het van sekere verkeerde gebruike bevry moes word. Die sendelinge het byvoorbeeld daarin geslaag om kannibalisme uit te roei. Hulle het die mense ook met die Bybel laat kennis maak en het dit selfs in vier plaaslike tale vertaal. Dit is prysenswaardig dat hulle God se naam ingesluit het, wat in die landstaal as Iehova of Jehova weergegee is. Maar meer was nodig.
In die dertigerjare het ’n groep van Jehovah se Getuies deur die Lojaliteitseilande gevaar en Bybellektuur versprei. In die middel-vyftigerjare het ’n paar Australiese Getuies na Nieu-Caledonië verhuis. Hoewel hulle later gedeporteer is, het die werk gefloreer en teen 1967 was daar meer as eenhonderd plaaslike Getuies. In 1976 het die Wagtoringgenootskap ’n takkantoor in Noumea gevestig en toesig gehou oor die oprigting van die eiland se eerste Koninkryksaal.a
Daar was veral sedert daardie tyd groot vooruitgang in die versameling van lojale onderdane van Jehovah se opgerigte Koninkryk uit al die land se verskillende etniese groepe. Sowat 17 000 mense van Wallis en Futuna—eilandjies noord van Fidji—woon byvoorbeeld in Nieu-Caledonië. Baie van hierdie bewoners van Wallis is Katolieke en is baie verknog aan hulle kerk. Maar hulle gesindheid verander namate al hoe meer van hulle na die Koninkryksboodskap begin luister. ’n Priester wat hieroor ontsteld was, het die vrou wat die kerk se geldsake behartig het, gestuur om “te voorkom dat die skape op ’n dwaalspoor raak”. Sy het egter ook geluister. Toe het haar dogter, wat in Rome gestudeer het om ’n sendeling te word, huis toe gekom en die Bybelwaarheid wat Jehovah se Getuies verkondig, aanvaar. Sy en haar moeder is nou albei toegewyde, lojale Getuies.
Vandag is die Getuies oral op hierdie eilande welbekend; in sommige gebiede is daar een Getuie vir elke 80 mense. Op die eiland Lifou het ’n jong timmerman by ’n Pinksterkerk aangesluit. Hy het van dorp tot dorp gegaan en aangekondig dat Christus se wederkoms sigbaar op die eiland sou plaasvind. Hy het sy oortuiging dat materiële besittings waardeloos is, beklemtoon deur sy klere en geld in die openbaar te verbrand. Maar sy belangstelling is geprikkel deur iets wat hy gelees het in ’n traktaat wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. ’n Gereelde Bybelstudie het hom gehelp om juiste kennis van God se Woord op te doen. Vandag is hy ’n ewewigtige Christen, ’n voltydse bedienaar.
Lojaliteit teenoor God se Koninkryk tydens beproewing
Die politieke onrus en wanordelike toestande wat in 1984 losgebars het, het vir baie Nieu-Caledoniërs, die Getuies inkluis, probleme geskep. Sommige Getuies is aangeval en geslaan terwyl hulle die predikingswerk gedoen het. Drie mans het in een Getuie se huis ingekom, die man se motorsleutels onder bedreiging met ’n vuurwapen gevra en toe sy motor gesteel. ’n Sendeling het gevind dat sy motor aan die brand gesteek is en uitgebrand het terwyl hy ’n Bybelstudie gehou het.
Terwyl die eilandbewoners in hulle lojaliteit verdeeld is, is die Getuies—ongeag van watter etniese groep—verenig in hulle neutraliteit. Die geestelikes, wat self by die politiek betrokke is, het die huidige toestand van onrus gebruik om haat teen die Getuies aan te stook. Getuies wat belangstellendes per motor vir ’n vergadering gaan haal het, is byvoorbeeld voorgekeer. Hulle reisende opsiener, wat hulle daardie week besoek het, is uit een van die twee motors getrek en geslaan, en sy bril is verbrysel. ’n Belangstellende is teen ’n muur vasgedruk en geslaan totdat sy kop bebloed was, terwyl sy swanger vrou gedwing is om toe te kyk.
Tog weet die Getuies dat hulle lojaliteit nie misplaas is nie. Hulle onthou Paulus se woorde: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”—2 Timotheüs 3:12; kyk ook Mattheüs 10:16.
Lojale uitbreiding ondanks onrus
In die middel van 1984 het die Getuies besef dat dit nodig is om ’n Byeenkomssaal te bou. ’n Gepaste stuk grond is gevind op ’n heuwel wat ’n uitsig op Noumea se hawe bied, en die werk is in September begin. Maar weens die politieke onrus het die owerheid in November ’n aandklokreël ingestel, en ’n noodtoestand is aangekondig. Ten spyte van hierdie hindernisse het Getuies van oor die hele eiland by die bouperseel kom help. Tot aanskouers se verbasing het tot 400 vrywilligers op ’n slag gekom. Aangesien die bouwerk gedurende ’n skoolvakansie gedoen is, het baie jongmense hand bygesit. Een jong meisie het gesê: “Dit was die aangenaamste vakansie wat ek nog gehad het.” En die gesig van ’n 60-jarige Getuievrou wat sement en gruis in ’n betonmenger skep, was genoeg om enige beroepsbouer te verbaas!
Die projek is in net vier maande voltooi. Planne is vir die toewyding getref, maar dit het geblyk dat dit die naweek van Mitterrand se onverwagte besoek is! Vanweë die moontlik ontplofbare politieke situasie het die owerheid die Getuies gevra om hulle program te kanselleer. Maar die man wat toesig gehad het oor die sekerheidsmaatreëls het vantevore ’n byeenkoms van die Getuies in Frankryk gesien en het vir hulle gesê: “Ek ken julle mense. Dit sal nie julle wees wat ons probleme veroorsaak nie. Tref net die nodige sekerheidsmaatreëls; ons sal ons nie met julle vergadering inmeng nie.”
Meer as 1 500 mense het die puik toewydingsprogram bygewoon, waarvan die hoogtepunt ’n toewydingstoespraak deur Lyman Swingle, ’n besoekende lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, was. Die opkoms by hierdie vergadering, ondanks burgerlike onrus, het bewys gelewer van lojaliteit teenoor Jehovah se Koninkryk, lojaliteit wat in Nieu-Caledonië vrugte afwerp. ’n Hoogtepunt van 889 Koninkryksverkondigers is bereik, en die vooruitsigte vir verdere vermeerdering is belowend. Dit blyk uit die 2 145 wat in 1986 die Herdenking van Christus se dood bygewoon het.
Die onlangse tydperk van politieke onrus toon duidelik dat die meeste Nieu-Caledoniërs op menseregerings vertrou om hulle probleme op te los. Dit is nie die geval onder diegene wat lojaal is teenoor God se Koninkryk en wat volkome op heerskappy deur God vertrou nie. Gedurende hierdie moeilikhede was daar ’n teken op die grootpad langs die ooskus wat gesê het: “Jehovah uit!” Maar Jehovah, wat deur sy opgerigte Koninkryk verteenwoordig word, is hier om te bly. Dit geld ook vir “sy troue dienaars”.—Psalm 37:28, NAV; kyk ook verse 9-11, 22, 29 en 34.
[Voetnoot]
a Kyk die 1984 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 243-249, vir ’n vollediger verslag oor die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Nieu-Caledonië.
[Kaarte op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
AUSTRALIË
[Kaart]
NIEU-CALEDONIË
Lifou
LOJALITEITS-EILANDE
Noumea