Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 7/15 bl. 25-27
  • “Vissers van mense” in die Arktika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Vissers van mense” in die Arktika
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Van eiland tot eiland
  • ’n Hartlike reaksie in die ysige Arktika
  • ’n Verrykende ondervinding
  • Ons sit die reis voort
  • ’n Onvergeetlike reis
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 7/15 bl. 25-27

“Vissers van mense” in die Arktika

Elke noordelike somer doen baie van Jehovah se Getuies die predikingswerk in “ontoegekende gebiede”—afgeleë gebiede sonder gevestigde gemeentes. Baie van hulle is werkende mense en skoliere wat hulle vakansie op hierdie manier deurbring. Ander is voltydse pioniers wat hulle bediening uitbrei. Dit verskaf hulle vreugde om die goeie nuus aan afgesonderde mense te verkondig en om nader aan hulle gesin en geestelike broers te kom. Hierdie verslag is oor so ’n tog in die verre noorde.

DIE viskotter Skagstein het stadig van die kaai af beweeg. Dit was ’n aand in die voorsomer. ’n Ligte, oostelike bries het die see gerimpel en het verfrissende verligting ná die reuk van vis en haringolie gegee. Ons het op die dek gestaan en afskeid geneem van Båtsfjord, die grootste vissersdorp in Oos-Finmark, Noorweë.

’n Bemanning van agt was aan boord. Öivind en Åshild het 11 jaar vantevore na Båtsfjord gekom om met die predikingswerk in hierdie ontoegekende gebied te help. Nou, met hulle vertrek na ’n ander gebied, was daar ’n florerende gemeente van nagenoeg 40 Koninkryksverkondigers in die dorp. Die res van die bemanning het bestaan uit die kaptein, Jarle (’n beroepsvisser en “seisoenpionier”), twee pioniersusters, een graafmasjienoperateur, een fabriekswerker en een klerk van die Noorse Bethelhuis. Wat het hierdie groep bymekaargebring? En watter soort reis het hulle onderneem?

Van eiland tot eiland

Hierdie keer het Jarle nie kabeljou gesoek nie. Ons het beplan om met die Skagstein van eiland tot eiland en van buitepos tot buitepos te vaar—van Båtsfjord in die verre noorde tot Brönnöysund in die provinsie Nordland. Ons sou meer as die helfte van die Noorse kuslyn dek. Waarom? Wel, baie van hierdie plekke kan net deur private bote bereik word, en Jehovah se Getuies verkondig die Koninkryksboodskap net een maal elke paar jaar op hierdie plekke. Ons het besluit om in hierdie buiteposte “vissers van mense” te wees.—Mattheüs 4:18, 19.

Die boot het Båtsfjorden verlaat en heelnag weswaarts langs die kus gevaar. Dit was die eerste Julie. Die middernagson het met ’n gryserige, sagte lig agter ’n gladde wolkkombers geskyn. Ons het duisende seemeeue op die rotswande gesien. Na die kaptein se mening was die golwing en deining van die oop see doodreg. Maar vir party van ons landrotte was dit ’n bietjie onstuimig.

Die volgende oggend het ons aan die kaai by Honningsvåg vasgemeer. Hier sou ons “visvangs”—die predikingswerk—begin. Die inwoners van Noord-Noorweë is alom bekend as gasvrye mense. Nadat ons hulle kortliks van ons sendingwerk vertel het, het hulle ons gewoonlik ’n sitplek op ’n kombuisstoeltjie aangebied en vir ons koffie geskink. Dan moes ons ’n volledige verslag gee van wie ons is, waar ons vandaan kom, van ons beroep, die naam en grootte van ons boot, of ons al enige vis gevang het en van die res van ons reisplan. Eers daarna kon ons oor die eintlike doel van die besoek—die goeie nuus van God se Koninkryk—praat.

’n Hartlike reaksie in die ysige Arktika

Sou die boodskap ingang vind by hierdie mense op ’n eiland 480 kilometer noord van die Noordpoolsirkel? Waaroor is hulle werklik besorg? Oor presies dieselfde dinge as mense op alle ander plekke: maatskaplike ongeregtigheid, werkloosheid, geld, hulle gesinne en persoonlike probleme. Hulle is ook bekommerd oor die gespanne wêreldsituasie—betrekkinge tussen Noord en Suid en die konflik tussen Oos en Wes.

Dit was vir ons maklik om die aandag te vestig op die Bybel se oplossing—God se Koninkryk. En hoe lonend was dit tog om te sien hoe pessimisme en skeptisisme verdwyn en deur vreugde en hoop vervang word! Baie mense op hierdie afgeleë plekke bid al van kleins af om die Koninkryk, maar het nooit werklik die betekenis van so ’n gebed verstaan nie (Mattheüs 6:9-13). Ons het Bybellektuur by baie van die eilanders gelaat en gereël om met hulle te korrespondeer om hulle belangstelling lewendig te hou.

Hoewel dit somer was, was die temperatuur in Rolvsöy net sowat 2 grade Celsius, en ’n sterk wind het gewaai. Een van die broers het, bibberend en styf in sy jas toegewikkel, ’n man genader wat op die strand gestaan het.

“Kry jy koud?” het die man gevra.

“Mm . . . ”, het die broer geaarsel.

“Kom saam en eet en drink iets warms!”

Toe hulle in die huis kom, is die broer na die kombuis gelei, waar die man se vrou besig was.

“Het jy ’n bietjie koffie vir hierdie kêrel?” het die man gevra.

Warm koffie is saam met hompe brood, tuisgemaakte braamkonfyt en salm bedien. Na ’n aangename gesprek het die broer Bybellektuur daar gelaat en die volgende besoek gaan doen, warm en bemoedig. Dit was die soort ondervindinge wat ons gehad het terwyl ons vir die vriendelike en gasvrye mense in hierdie vergeleë, afgesonderde gebiede getuig het.

’n Verrykende ondervinding

Terwyl die Skagstein van eiland tot eiland deur die golwe geklief het, is die bemanning in talle opsigte bymekaargebring. Agt mense wat dae en weke lank op ’n 12 meter lange boot ten nouste saamlewe, leer gou mekaar se kenmerkende eienskappe ken. Ons het geleer om met mekaar oor die weg te kom en bedagsaam te wees. Die ruwe kante is afgeglad, en ons Christelike persoonlikheid is verfyn (Kolossense 3:9, 10, vgl. NW). Die ondervinding was derhalwe baie lonend.

Ons het die daaglikse Bybelteks saam bespreek en oor die dag se ondervindinge gepraat. Ons het hersien wat ons gesê en gedoen het en wat ons kon gesê en gedoen het. Dit het ons aangespoor om ons meer in te span om op bekwame wyse met die mense te praat. Die jongeres en nuwelinge het goeie raad en bemoediging ontvang om hulle bediening uit te brei.

“Vandat ek gedoop is, oorweeg ek al die voltydse bediening”, het 27-jarige Björn gesê. “Gedurende ons reis het my begeerte en moed om ‘Jehovah te beproef’ algaande gegroei. Ek het ervaar in watter groot mate ons op Jehovah kan vertrou. Die reis het dit vir my makliker gemaak om die pionierdiens te betree.”—Maleagi 3:10.

Die reis het ons ook gehelp om die dringendheid van die tye beter te besef. Baie van die gemeenskappe wat ons besoek het, is besig om te sterf. Visfabrieke maak toe. Poskantore en winkels maak toe. Mense is bekommerd omdat jongmense na afgeleë stede en dorpe verhuis om geleenthede aldaar te benut, en pragtige, nuwe huise en die tradisionele lewenswyse agterlaat. Miljoene mense dwarsoor die wêreld is dakloos en uitgehonger. Hier is leë huise en ’n oorvloed van voedsel uit die see. Tog wil betreklik min mense dit hê. Dit is alles ’n stilswyende bewys dat die wêreld uit die ewewig is.

Ons sit die reis voort

Ons het die tog voortgesit—verby die noordekant van Söröya na Kvænangen. By sommige van die plekke waar ons aangedoen het, moes ons met ’n roeiboot aan wal gaan. Maar op ander plekke kon die Skagstein reg langs die kaai vasmeer. Baie van die inwoners het saamgedrom om te sien wie hierdie vreemdelinge is, want ons het beslis nie vir hulle soos vissers gelyk nie. Wanneer hulle gehoor het dat ons Jehovah se Getuies is wat goeie nuus uit die Bybel bring, het ons gewoonlik lewendige gesprekke gehad.

Nadat ons hierdie gebied gedek het, het ons in die rigting van Tromsö gestuur, waar party van ons die “Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms sou bywoon. Hierdie deel van die reis was waarlik ’n besondere ondervinding. Dit was nag, maar die middernagson het net anderkant die horison helder geskyn. Na regs is donker eilande en eilandjies skerp gesilhoeëtteer. Na links het besneeude berge in die sonlig geglinster. Die weer was matig, en daar was net ’n effense rimpeling op die andersyds kalm see. Buiten die gelykmatige dreuning van die enjin en ’n bietjie strelende radiomusiek was alles rustig en stil. Wat ’n aangename atmosfeer!

Die bemanning is ná die byeenkoms in Tromsö effens verander. Toe het die tog voortgegaan, verby Senja en deur die Vesterålen-eilandgroep na Bodö en toe na Brönnöysund, ons bestemming. Op baie plekke langs die roete, soos Rödöy, het ons mense ontmoet wat nog nooit met Jehovah se Getuies gepraat het nie. Die predikingswerk is jare laas daar gedoen en ’n nuwe geslag het intussen grootgeword.

’n Onvergeetlike reis

Dit was reeds die einde van Augustus toe ons Brönnöysund bereik het. Toe ons teruggekyk het op die weke wat ons aan boord van die Skagstein deurgebring het, kon ons sê dat dit voorwaar ’n onvergeetlike reis was. Ons het gedurende hierdie tog altesaam 880 uur aan die verkondiging van die goeie nuus gewy, 126 boeke en 1 026 tydskrifte versprei en ook 12 intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! verkry. ’n Oorvloed van Koninkryksaad is in hierdie yl bevolkte gebiede gesaai.

“Dit was die heerlikste vakansie wat ek nog ooit gehad het!” het een van die jong verkondigers wat die reis meegemaak het, gesê. Ons wat bevoorreg was om hierdie reis te onderneem, het van harte saamgestem. In ons oë was dit nie net ’n heerlike vakansie nie, maar een van die geestelik voordeligste en lonendste ondervindinge wat ons nog ooit gehad het.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SWEDE

FINLAND

USSR

Brönnöysund

Rödöy

Bodö

NOORWEË

Senja

Tromsö

Kvænangen

Söröya

Rolvsöy

Honningsvåg

Båtsfjord

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel