Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 7/15 bl. 4-7
  • Bou geloof om berge te versit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bou geloof om berge te versit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bou geloof
  • “Stene” om geloof te bou
  • Ander “stene” om geloof te bou
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Geloof – ’n Eienskap wat ons help om sterk te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Gee ons meer geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 7/15 bl. 4-7

Bou geloof om berge te versit

“EK HET geloof; ag, help my om meer geloof te hê!” Dit was die woorde van die radelose vader van die seun met vallende siekte wat in die vorige artikel gemeld is (Markus 9:24, The Living Bible). Miskien weerspieël hierdie stelling ook jou gevoelens. Wees dan verseker dat jy nie alleen is nie. Wêreldtoestande vandag is geneig om geloof in God en sy Woord te verswak. Ateïstiese filosofieë, materialisme, krisisse in die kerke en die verskriklike toename in geweld is alles dinge wat geneig is om ware geloof te ondermyn. Jesus Christus se vraag was dus baie gepas: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”—Lukas 18:8.

By een geleentheid het selfs Jesus se apostels gepleit: “Gee ons meer geloof.” Maar in plaas van hulle op wonderdadige wyse meer geloof te gee, het hy gesê: “As julle geloof gehad het soos ’n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant—en hy sou julle gehoorsaam wees” (Lukas 17:5, 6). Hoe kan ons dan meer geloof verkry?

Bou geloof

Die apostel Paulus het geskryf: “Hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? . . . Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus” (Romeine 10:14-17, NAV). Daaruit volg dan dat ons moet hoor en kennis van die Skrif moet inneem as ons meer geloof wil hê. Dit is wat die voorgemelde kwadrupleeg gedoen het. Jehovah se Getuies het die Bybel saam met hom bestudeer, hy het geloof verkry en toe in sy daaglikse lewe toegepas wat hy geleer het. So het hy geloof gevind om die bergagtige hindernis in sy lewe te verwyder.

Dit vereis tyd om die oortuigende bewys as die grondslag vir geloof te versamel (Hebreërs 11:1). En dit vereis inspanning. Is jy bereid om gereeld tyd te bestee en jou in te span om die bewys te versamel wat nodig is om geloof te bou?

“Stene” om geloof te bou

Die proses om geloof te bou, kan vergelyk word met die oprigting van ’n gebou. Selfs die grootste geboue bestaan uit individuele boustene. Elke steen word saam met honderde ander stene op die regte plek geplaas om die gebou die stabiliteit te gee sodat dit ondanks kwaai storms en die tand van die tyd staande kan bly. Geloof word eweneens gebaseer op individuele ‘bewysstene’ wat noukeurig met betrekking tot ander gerangskik word. Elke “steen” sal die bewys versterk dat God bestaan, dat hy die Skepper van alles is en dat hy ’n voorneme met sy menseskepping het. Wat presies is hierdie ‘boustene’?

Eerstens, kyk na jou liggaam. Sien jy nie byvoorbeeld oortuigende bewys van ’n Skepper in jou wonderlike brein nie—’n orgaan wat die wetenskap nie eens aan kan dink om na te maak nie? Kan jy soos die psalmis sê: “U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep”? (Psalm 139:14, NAV). As jy kan, het jy een “steen” waarmee jy jou geloof kan bou.

Sien jy verdere bewys van ’n liefdevolle Skepper in die oneindige verskeidenheid en prag van bome, plante en blomme? Kan jy sulke bewys in die diere, voëls en seediere en in hulle afhanklikheid van mekaar sowel as hulle belangrikheid vir die mens sien? As ons bereid is om te luister, kan ons hulle almal “hoor” sê: ‘God bestaan!’—Romeine 1:20.

Geloof in die bestaan van die Skepper is nietemin nie genoeg nie. Om vrae oor hom en sy voornemens te beantwoord, het ons ’n openbaring van hierdie onsigbare, alwyse God nodig. En ons het dit! Waar? In die Bybel. Maar volgens talle is hierdie inligtingsbron nie so betroubaar soos die sigbare skepping om ons nie.

Daar is egter oorvloedige bewys, oortuigende bewys, dat die Bybel ’n boek is wat deur God geïnspireer is. Die harmonie onder die skrywers daarvan—altesaam sowat 40 wat oor ’n tydperk van 16 eeue geskryf het—is byvoorbeeld bewys van een Outeur, Jehovah God. Die ontdekkings van die wetenskap en argeologie het ook keer op keer bewys dat die Bybel eg en betroubaar is. Sterrekundige Robert Jastrow het byvoorbeeld geskryf: “Die besonderhede verskil, maar die wesenlike elemente in die astronomiese weergawe en die Bybel se Genesisverhaal is dieselfde: die reeks gebeure wat gelei het tot die mens het skielik en onverwags op ’n bepaalde oomblik in tyd, in ’n lig- en energieflits, begin.”

Beskou net een voorbeeld van hoe argeologie die Bybelverslag bevestig het. In 2 Konings 18:13-15 lees ons: “In die veertiende jaar van koning Hiskia het Sanherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.” Toe het “die koning van Assirië . . . aan Hiskia, die koning van Juda, driehonderd talente silwer en dertig talente goud opgelê”. Ter bevestiging hiervan het argeoloog A. H. Layard in die 19de eeu die sogenoemde Prisma van koning Sanherib gevind. Die wigskrif daarop lui: “Wat betref Hiskia die Jood, wat hom nie aan my juk onderwerp het nie, 46 van sy sterk, ommuurde stede . . . het ek beleër en ingeneem. . . . Ek het by die vorige skatting bygevoeg en ’n jaarlikse paaiement, ’n belasting, aan hom opgelê . . . 30 talente goud en 800 talente silwer.” ’n Merkwaardige bevestiging van die Bybelverslag wat slegs in die hoeveelheid silwerbelasting verskil!

Ander “stene” om geloof te bou

Van die uitsonderlikste ‘boustene’ is dié wat deur die vervulling van Bybelprofesieë verskaf word. ’n Profesie is ’n voorspelling van ’n toekomstige gebeurtenis. Wanneer daardie gebeurtenis plaasvind, bevestig dit dat die voorspelling waar is. Sulke profesieë is bo die mens se vermoë, en die Bybel sê tereg: “Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Dit is beslis geloofversterkend om na ’n paar sulke Bybelprofesieë te kyk.

Omstreeks 732 v.G.J. het Jesaja die val van Babilon voor die Meders en Perse voorspel en selfs die naam van die veroweraar, Kores, genoem. Dit is opmerkenswaardig dat hierdie profesie sowat 200 jaar voor Kores se inname van Babilon uitgespreek is! Die profesie praat ten dele van Jehovah “wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog”. Daar is voorspel dat God ‘die deure voor Kores sou oopmaak en dat poorte nie gesluit sou bly nie’. “Koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan”, het Jehovah gesê, “en Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is” (Jesaja 44:24–45:3). Hoe is hierdie profesie vervul?

Dit het gebeur op ’n nag toe Babilon en sy vorste gefuif het. Ongemerk en onder die sluier van die nag het die leër van Kores naarstig gewerk om die water van die Eufraatrivier, wat deur die middel van die stad geloop het, weg te keer. Dit het die soldate in staat gestel om Babilon met die rivierbedding langs binne te gaan. Die rivierpoorte is nalatig oopgelaat tydens die feesviering. Dit was derhalwe nie moeilik vir die Meders en Perse om Babilon en al sy skatte te verower nie. Jesaja se profesie is in al sy besonderhede vervul.

Jehovah God het dit ook goedgedink om Jesus Christus die brandpunt te maak van talle profesieë wat besonderhede oor sy geboorte, lewe, bediening en dood voorspel het, en party daarvan is eeue voor die tyd geskryf. Daar is byvoorbeeld voorspel dat hy in die stam van Juda uit die geslag van Dawid (Genesis 49:10; Jesaja 11:1, 2), en in die stad Betlehem (Miga 5:1) gebore sou word. Een intieme metgesel sou ontrou wees en hom vir 30 sikkels silwer verraai (Psalm 41:10; Sagaria 11:12). Die lot sou oor sy klere gewerp word (Psalm 22:19). Hy sou deurboor word, maar nie een van sy beendere sou gebreek word nie (Sagaria 12:10; Psalm 34:21). Daniël 9:24-27 het voorspel dat Jesus na 69 weekjare, ’n tydperk van 483 jaar wat van 455 v.G.J. tot Jesus se doop in 29 G.J. gestrek het, as die Messias, of Christus, sou kom. ’n Halwe “week” (3 1/2 jaar) later, in 33 G.J., is Jesus “uitgeroei” of gedood, soos voorspel is. Ander besonderhede van die profesie is ook vervul.

Dit is maar ’n paar “stene” wat gebruik kan word om die geloof te bou wat berge kan versit. Om hulle almal bymekaar te maak en hulle op hul plek te plaas, verg tyd, inspanning en volharding. Maar dit is al gedoen. John, wat in Santos, Brasilië, woon, kan getuig dat dit gedoen kan word. ’n Paar jaar gelede het godsdiens hom koud gelaat en het hy geen geloof in die Bybel gehad nie, hoewel hy geglo het dat God bestaan. John het ingestem dat een van Jehovah se Getuies hom besoek. Weeklikse besprekings het John uiteindelik daarvan oortuig dat die Bybel nie ’n gewone boek is nie, en hy het dit uiteindelik “aangeneem . . . nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Thessalonicense 2:13). Dit het tyd gekos, maar verdere Bybelstudies het John gehelp om God se voorneme met die mensdom te verstaan. In 1970 is hy uiteindelik as een van Jehovah se Getuies gedoop. Nou help hy, as ’n aangestelde gemeentelike ouere man, ander om hulle geloof te bou en te behou.

Verlang jy hulp om jou geloof te bou? Onthou dan: “Geloof volg op dit wat gehoor is. En dit wat gehoor is, is op sy beurt deur middel van die woord oor Christus” (Romeine 10:17, NW). Meer as 3 000 000 van Jehovah se Getuies versprei ywerig “die woord oor Christus” en God se Koninkryk in meer as 200 lande. Hulle sal jou met graagte help om deur middel van gratis Bybelbesprekings meer omtrent God se Woord te leer.

Wees daarvan verseker dat die tyd wat jy daaraan bestee om te luister na “dit wat gehoor is” tyd sal wees wat goed bestee is. Dit kan jou help om geloof te bou wat berge versit. Dit kan weer tot die ewige lewe lei, “want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.

[Venster/Prent op bladsy 7]

“STENE” om geloof te bou

Waardeer die dinge wat Jehovah gemaak het

Aanvaar die Bybel as God se Woord

Let op hoe argeologie en die geskiedenis die Bybelverslag bevestig

Ondersoek die vervulling van Bybelprofesieë

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel