Die Opperwese is uniek
DIE OPPERWESE. Glo jy aan hom? Ondanks wydverspreide kerkverlating in talle lande, glo miljoene nog aan ’n almagtige welwillende Wese tot wie hulle hulle kan wend, veral wanneer hulle in nood verkeer.
In Afrika is daar byvoorbeeld baie plaaslike tradisionele godsdienste wat grootliks van mekaar verskil en wat godhede met ’n menigte name aanbid. En tog glo die meeste mense vas aan ’n Opperwese wat “uniek” en “die absolute beheerder van die heelal” is.
Volgens dr. Peter Becker se boek Tribe to Township het ’n bejaarde Sotho-lekeprediker van Suid-Afrika gesê: “My ou vader en sy vader . . . het lank voor die koms van die sendelinge geweet van God, die Molimo, God die Opperwese wat alles geskep het . . . Maak dit saak dat ons [die Basoeto’s] God Molimo noem, die Zulu’s Nkulunkulu, die Xhosas Thixo . . . ?”
’n Menigte name is natuurlik verwarrend. Jy sal waarskynlik saamstem dat ’n universele God vir alle mense dieselfde behoort te wees en ’n universele naam behoort te hê. Die geïnspireerde versameling ou geskrifte, die Bybel, word rondom die aarde gerespekteer. Dit sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is” (Psalm 83:18, NW). Volgens die Bybel het die Opperwese derhalwe ’n unieke naam.
Watter soort Wese is hierdie enige God, soos hy deur die Bybel geopenbaar word? “Al sy weë is strafgerigte”; ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou”; “vol medelye en ontferming”; “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede”; “God is liefde”.—Deuteronomium 32:4; Exodus 34:6; Jakobus 5:11; 1 Korinthiërs 14:33; 1 Johannes 4:8.
Die Bybel openbaar ook dat Jehovah die enigste persoon is wat aanbid moet word. Ja, aangesien hy uniek is, vereis hy tereg uitsluitlike toewyding (Exodus 20:5, vgl. NW). Jesus Christus het gesê: “[Jehovah] jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”—Mattheüs 4:10.
Hoewel die meeste Afrikane beweer dat hulle aan ’n Opperwese glo, aanbid hulle nietemin talle godhede. Wek dit nie die indruk dat daar verwarring oor die identiteit of aard van God bestaan nie? Maar selfs in die meeste dele van die Christendom vervaag die duidelike, majestueuse persoon van God omdat hy as ’n Drie-enige God beskou word. Jy ken dit moontlik as die Heilige Drie-eenheid, ’n leerstelling wat ’n verborgenheid en moeilik verstaanbaar is. Die boekie The Blessed Trinity sê byvoorbeeld: “Die leerstelling van die Heilige Drie-eenheid . . . is ’n verborgenheid . . . Dit kan nie deur logika bewys word nie . . . Daar kan selfs nie bewys word dat dit moontlik is nie”.a (Hulle kursiveer.) Die boekie voeg by: “Die bewys van ’n verborgenheid lê derhalwe daarin dat daar getoon word dat dit vervat is in ’n openbaring, in die Heilige Skrif.”
Maar verkondig die Heilige Skrif werklik hierdie leerstelling? Is die Opperwese drie persone in een God?
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Catholic Truth Society van Londen.