Is ’n droewe toekoms die bejaardes se lot?
“EK WAS jonk”, het koning Dawid gesê. “Ook het ek oud geword” (Psalm 37:25). Bejaardes was in Bybelse tye ’n hooggeagte minderheid. Maar as huidige tendense voortduur, sal die bejaardes moontlik binnekort nòg ’n minderheid nòg hooggeag wees.
In die Verenigde State alleen is daar na raming 26 miljoen mense ouer as 65 jaar. Teen die jaar 2040 kan daar drie maal soveel wees! Volgens die tydskrif Asiaweek verwag sommige Asiatiese lande “dat die getal bejaardes aldaar in die komende dekade sal verdubbel”. Die moontlikheid dat daar meer bejaardes as jongmense kan wees, hou egter niks goeds vir die bejaardes in nie. ’n Onrusbarende aantal is reeds behoeftig en haweloos. Ander word in hospitale of verpleeginrigtings gelaat om weg te kwyn—alleen, sonder besoekers en verwaarloos. Berigte oor skokkende gevalle van verwaarlosing en mishandeling kom selfs uit lande waar ouers nog altyd geëer is.
G. M. Ssenkoloto het in die tydskrif World Health geskryf: “In die meeste Afrikalande, trouens, in die grootste deel van die Derde Wêreld, het elke gesin volgens tradisie vir sy bejaarde vroue gesorg. ’n Vrou met geen kinders om vir haar te sorg nie, is deur bure of deur die hele dorpie versorg.” Hy sê egter: “Eeue-oue waardes is aan die verander. Die ongunstige ekonomie, die wanbesteding van middele, die hunkering na materiële dinge, die stryd om selfrespek en status—al hierdie faktore begin die tradisionele, positiewe waardes ten opsigte van die versorging van die bejaardes oorskadu.”
Die woorde van die Bybelskrywer Agur word dus op groot skaal bewaarheid: “Daar is ’n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie” (Spreuke 30:11). Ja, die bejaardes word verdring uit die posisie van eer wat hulle voorheen beklee het. Baie beskou hulle as maatskaplike laste in plaas van bates. Hulle vooruitsigte lyk merendeels droewig.
Maar hoe beskou ware Christene die bejaardes? Behou hulle die “tradisionele, positiewe waardes” ten opsigte van die bejaardes?