Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 5/15 bl. 4-7
  • Watter ander weldade kom van God?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Watter ander weldade kom van God?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Bron van lig en hoop
  • Waarom is die mensdom in ’n verknorsing?
  • ’n Heerlike toekoms
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
  • Die enigste weg wat na die ewige lewe lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Waarom God sommige “weer gebore” laat word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Lewe anderkant die graf—Dit is moontlik!
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 5/15 bl. 4-7

Watter ander weldade kom van God?

GENIET jy pragtige blomme, die geur van rose, die sang van voëls? Was jy verheug oor jou baba se eerste glimlag? Waardeer jy aangename geure? En wie bewonder nie ’n reënboog, ’n pragtige sonsondergang of die sterre op ’n helder nag nie? God se wonderlike voorsienings is eindeloos, nie waar nie?

En tog is daar soveel ellende. Ondanks die aarde se vermoë om oorgenoeg vir almal op te lewer, is miljoene ondervoed. Miljoene ander word deur besoedeling vergiftig. En duisendmiljoene word vandag geraak deur misdadigheid, hebsug, selfsug en vrees vir wat die toekoms inhou.

Waarom is daar soveel ongelukkigheid, aangesien die Skepper so vrygewig is? Hierdie planeet is ’n wonderlike plek wat gemaak is sodat ons dit kan geniet. Maar die wêreld—die mensdom—is in ’n jammerlike toestand. Vir die meeste van die aarde se bewoners is die vooruitsig donker, skrikwekkend. Waarom? Wat het verkeerd geloop? Het God die mens gemaak en hom toe verlaat? Is daar enige lig op hierdie verwarrende situasie? Het ons enige hoop vir die toekoms?

’n Bron van lig en hoop

Nagenoeg 2 000 jaar gelede is ’n unieke babaseuntjie gebore—uniek omdat sy moeder, Maria, ’n mens was, en sy vader God self was! ‘Onmoontlik!’ sê party? Nee, nie vir die Bron van bevrugting, die Maker van al die ingewikkelde lewensvorme nie. Daardie seuntjie het grootgeword en die volmaakte “mens Christus Jesus” geword.—1 Timotheüs 2:5; Mattheüs 1:18-25.

Dit was ’n tydvakskeppende geboorte. Trouens, die meeste nasies erken dit deur geskiedkundige gebeure voor sy dag as v.C—voor Christus—te dateer. En tog het hy sy vroeë jare stil as ’n assistent-timmerman by sy pleegvader se huis in Nasaret deurgebring. Dertig jaar het verstryk. Toe het Jesus homself by die Jordaanrivier aangebied om God se wil te doen en is hy gedoop, en Jehovah God se heilige gees het op hom neergedaal (Mattheüs 3:13-17). Jesus het toe ’n dinamiese predikings- en onderrigtingsveldtog begin. Soos Jesaja voorspel het, het “die volk wat in duisternis sit . . . ’n groot lig gesien”.—Mattheüs 4:14-17; Jesaja 9:1.

Jesus het die beroemdste en mees gerespekteerde Onderrigter van alle tye geword. Geen ander menseonderrigter het so ’n kragtige invloed op die mensdom uitgeoefen of soveel geestelike lig en hoop voorsien nie. Wat was sy leerboek? Die Bybel, soos dit toe was—die Hebreeuse Skrifte, of die “Ou Testament”. Jesus het dit lewend gemaak. Talle ou profesieë is in hom vervul. (Vergelyk Miga 5:1 met Mattheüs 2:3-6.) Hy het die Genesisverslag oor die mens se oorsprong bevestig (Genesis 2:24; Mattheüs 19:3-6). Jesus het uitgewei oor die hooftema van die Bybel—die regverdiging van Jehovah deur middel van die Koninkryk van God—en dit wyd en syd verkondig (Mattheüs 4:23; 6:10). Daarbenewens maak verslae van Jesus Christus se lewe en werke belangrike dele van die Christelike Griekse Skrifte, of die “Nuwe Testament”, uit. Ja, die Bybel is ’n wonderlike gawe van God, ’n glansende lig in ’n donker, droewige wêreld.—Psalm 119:105.

Waarom is die mensdom in ’n verknorsing?

Beantwoord die Bybel daardie vraag? Ja. Dit toon dat dit nie ’n geval was van God wat die mens verlaat het nie, maar van die mens wat God verlaat het. Die fundamentele beginsel van wilsvryheid was ook daarby betrokke. Mense is nie geskep as robotte wat geprogrammeer is om gehoorsaam te wees nie. Ons kan kies om gehoorsaam of ongehoorsaam te wees.

Hoe gelukkig en sorgvry moes die eerste mensepaar tog nie gewees het toe God hulle in die pragtige Paradys van Eden geskep het nie! Geen siekte, geen vrees, geen sorge nie. Daar was bekoorlike voëls en diere, en ’n oorvloed heerlike voedsel (Genesis 1:26; 2:7-9). Later het ’n onsigbare vyand egter op die toneel verskyn. ’n Magtige geesskepsel het ambisieus geword en begeer om beheer oor die toekomstige mensefamilie uit te oefen. Deur die eerste leuen te vertel, het hy Eva verlei, en Adam is oorgehaal om ongehoorsaam te wees aan God se bevel om nie van die verbode vrug te eet nie (Genesis 3:1-7). Soos so baie vandag het die eerste mense gedink dat hulle ‘hulle eie kop sou volg’. Maar daardeur het hulle hulself in werklikheid onder die beheer van Satan, die god van die huidige goddelose stelsel, geplaas.—2 Korinthiërs 4:4.

Dit het ’n ontsaglike en lewensbelangrike geskil laat ontstaan: Kon die mens homself met welslae sonder God regeer? Dit sou lank duur om hierdie kwessie bevredigend te beslis. Intussen moes Adam en Eva die straf ondergaan wat God vasgestel het—die dood. En aangesien hulle dekadente sondaars geword het, het nie hulle of hulle nakomelinge enige vooruitsig gehad om onafhanklik van God vir ewig te lewe nie.—Romeine 5:12; 1 Korinthiërs 15:21, 22.

’n Heerlike toekoms

Sedert Adam se dag het talle geslagte gekom en gegaan. En op die immer veranderende toneel van menseaangeleenthede is baie soorte menseregerings op die proef gestel—outokrasie, demokrasie, sosialisme, kommunisme en ander. Maar almal het gefaal. Politieke, maatskaplike en internasionale probleme vermenigvuldig; dieselfde geld vir afgryslike wapens van massavernietiging wat die bedreiging van wêreldselfmoord inhou. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Westerse politici belowe dat oorwinning vryheid van armoede en vrees sou teweegbring, maar albei neem toe.

Wat is die oplossing? ’n Enorme probleem verg ’n kolossale oplossing—niks minder as ’n wêreldwye opruiming en die totstandbrenging van ’n nuwe wêreld nie. Wie kan dit doen? Beslis nie die Verenigde Volke of enige ander kombinasie van politieke magte wat dikwels vredesooreenkomste verbreek feitlik voordat die handtekeninge droog is nie! Hulle is bloot hulpelose pionne in die greep van Sataniese mag (1 Johannes 5:19). Slegs Jehovah, die Almagtige, kan van Satan en sy demone ontslae raak, ’n einde aan die huidige verdorwe wêreld maak en ’n heerlike nuwe wêreld onder die hemelse Koninkryk met sy Seun, Jesus Christus, as die Koning van die konings bewerkstellig.—Mattheüs 6:9, 10; Daniël 2:44; Openbaring 20:1-3.

Wat sal hierdie Koninkryk doen? Wie sal die vernietigende, wêreldwye opruiming, of Armageddon, oorlewe? ’n Baie interessante feit wat al hoe meer mense begin besef, is dat hierdie hemelse regering reeds in werking is en mense voorberei om Armageddon te oorlewe! (Openbaring 16:14-16). Watter soort mense moet hulle wees? Jesus Christus het gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Hy het daardeur hierdie ou profesie bevestig: “Voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:2, 3.

Die sagmoediges sal nie net Armageddon oorleef nie, maar as hulle getrou aan God bly, sal hulle ook die ewige lewe beërwe. Hoe? Soos reeds gemeld, het Adam se ontsaglike familie nakomelinge as gevolg van sy sondige ongehoorsaamheid die vooruitsig op die ewige lewe verloor. Deur Adam het die dood oor die hele mensdom gekom. Aangesien hy ’n volmaakte man was, was nog ’n volmaakte man nodig om terug te koop wat Adam verloor het. Jesus Christus het aan daardie vereiste voldoen en het sy lewe gegee “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.

Hierdie losprysvoorsiening is God se grootste gawe aan die mens. Dit sal nie net van toepassing wees op diegene wat behoue bly om die nuwe wêreld binne te gaan nie, maar ook op diegene wat uit die dood terugkom. Klink dit te wonderlik? Jesus het gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” Hoe opwindend tog! Watter vreugde sal dit tog vir die Armageddon-oorlewendes wees, wat hulle dierbares uit die dood sal kan verwelkom!—Johannes 5:28, 29.

Wat ’n glorieryke vooruitsig en hoop! En dit alles word deur ’n liefdevolle Skepper, Jehovah, deur sy geliefde Seun, Jesus, voorsien. Hoewel die vooruitsig vandag so donker en onrusbarend is, is die toekoms vol lig en hoop vir diegene wat die Bybel bestudeer en ag slaan op die bemoedigende boodskap daarin. Ons lewe in opwindende tye. Die Koninkryk van God is ophande (Mattheüs 24:33, 34). Loof Jehovah, die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe”!—Jakobus 1:17.

Namate jy peins oor die talle maniere waarop ons by God se voorsienings en voornemens baat vind, is jy moontlik diep dankbaar en wil jy dit graag op die een of ander manier toon. Maar as jy net begin om die ware hoop vir die toekoms te verstaan en te aanvaar, besef jy dalk dat jy ’n bietjie dieper moet delf. Ons spoor jou aan om juis dit te doen. Gaan voort om God se Woord te bestudeer met behulp van publikasies soos hierdie een wat jou kan help om jou kennis van en waardering vir God se heerlike voornemens te vermeerder.

Diegene wat reeds heeltemal daarvan oortuig is dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die mensdom se weë is, voel moontlik soos die geïnspireerde psalmis wat gesê het: “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my?” (Psalm 116:12). Sulke individue sal vind dat dit hulle diepe bevrediging en groot vreugde verskaf om ander te vertel van wat God vir ons gedoen het en van die heerlike toekoms wat hy voorhou aan diegene wat hom liefhet en hom dien. Waarom? Omdat dit, soos Jesus gesê het, ‘saliger is om te gee as om te ontvang’.—Handelinge 20:35.

[Venster op bladsy 5]

JESUS CHRISTUS—

◆ Het talle ou profesieë vervul, byvoorbeeld Miga 5:1; Mattheüs 2:3-6

◆ Het die Genesisverslag van die mens se oorsprong bevestig—Mattheüs 19:3-6

◆ Het uitgewei oor die Bybel se hooftema, naamlik Jehovah se regverdiging deur middel van die Koninkryk, en het dit verkondig—Mattheüs 4:23; 6:9, 10; Lukas 8:1

◆ Het terugbetaal wat Adam verloor het, dit wil sê, ’n volmaakte menselewe, en het sodoende diegene wat in Hom glo in staat gestel om die ewige lewe te verkry—Johannes 3:16

[Prent op bladsy 7]

‘Wat sal jy Jehovah vergeld vir al sy weldade?’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel