“Ywerig in goeie werke” in Kenia
“DIT is waarna ek nog my hele lewe lank soek!” het ’n man met ’n Hindoe-agtergrond uitgeroep nadat hy ’n onlangse byeenkoms van Jehovah se Getuies in Kenia, Afrika, bygewoon het. “Dis iets besonders.”
Wat het hom beweeg om dit te sê? “Mense van soveel kleure, stande en lande wat almal vryelik meng en opvallend lief is vir mekaar”, het hy gesê. Maar hoe was dit moontlik in ’n wêreld so vol onenigheid en rassevooroordeel? Wat het tot sulke eenheid en geestelike harmonie in Kenia gelei?
Vroeë pioniers baan die weg
In 1931 het Frank en Gray Smith met 40 kartonne vol boeke van Suid-Afrika na Mombasa geseil. Van daar het hulle ’n uitputtende en gevaarlike reis na Nairobi onderneem waar hulle hulle hele voorraad lektuur in ongeveer ’n maand versprei het. Albei het malaria opgedoen, en Frank het gesterf—getrou tot die einde. Later dieselfde jaar het Robert Nisbet en David Norman ’n soortgelyke veldtog onderneem en 200 kartonne publikasies in Oos-Afrika versprei. So is die eerste saadjies van waarheid in Kenia gesaai.
In 1935 het Gray Smith en sy vrou, asook Robert Nisbet en sy broer George, vertrek om die belangstelling wat gevind is verder aan te wakker. Hierdie keer het Robert ingewandskoors opgedoen. Die ander het malaria en swartwaterkoors gekry. Die ontberinge is vergroot deur teenstand en deportasiebevele van die koloniale regering. Maar ondanks al hierdie dinge het hierdie vroeë, ywerige pioniers ’n geweldige hoeveelheid lektuur versprei en ’n grondslag vir groei gelê. Ongeveer 30 jaar later was ’n Getuie wat in ’n afgeleë plattelandse gebied gepreek het byvoorbeeld verbaas om ’n man teë te kom wat ’n eksemplaar van die boek Reconciliation gehad het. Sy broer het dit in 1935 bekom. Hierdie man het vordering gemaak en is nou een van Jehovah se Getuies.
Verdere groei
Dit was eers in 1949 dat die eerste Getuie, Mary Whittington, in Nairobi, die hoofstad van Kenia, kom woon het. Sy is slegs een jaar tevore in Engeland gedoop. Min het sy besef watter afsondering, hindernisse en teenstand sy sou moes verduur. Sy het nietemin die vreugde gehad om te sien hoe ‘die kleinste ’n geslag word’ (Jesaja 60:22). Vandag, op die ouderdom van 73, dien sy nog steeds as ’n gewone pionier.
Bill en Muriel Nisbet, die eerste gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead wat na Kenia gestuur is, het in 1956 daar aangekom. Daar het destyds apartheid bestaan, en die koloniale administrasie het wette gehad wat die predikingswerk beperk het en die grootte van vergaderinge tot hoogstens nege mense beperk het. Die Nisbets se werk was dus tot die Blanke veld en informele gesprekke met die Swartmense beperk. Daar was nietemin groei.
In 1962 is die werk van Jehovah se Getuies wetlik erken. Kort daarna, in 1963, het die koloniale bewind geëindig en sodoende die weg vir verdere uitbreiding van ons Christenwerk gebaan. Publikasies kon nou in Swahili gedruk word, en ouere manne van Jehovah se Getuies is deur die regering gemagtig om huwelike te voltrek. Sedertdien het Jehovah se Getuies feitlik 2 000 pare gehelp om hulle huwelik wetlik te registreer.
Teen 1972 is ’n uitstekende nuwe takkantoorgebou, wat gerieflik in Nairobi geleë was, ingewy. (Dit is sedertdien vergroot.) Kenia was toe beter toegerus om toesig te hou oor die Koninkrykswerk in die tien lande in Oos-Afrika waarna hy moes omsien en om in die behoefte aan publikasies in die verskillende boorlingtale te voorsien.
Goeie voorbeelde van ywer
Die verkondigers van die goeie nuus in Kenia openbaar dieselfde ‘ywer vir goeie werke’ wat onder die eerste-eeuse Christene te sien was (Titus 2:14). Hulle laat nie toe dat ontberinge hulle verhinder om ander te help om juiste kennis van die Bybel te verkry nie.
In een geval is ’n Getuie deur die takkantoor versoek om ’n belangstellende, blinde man, wat 26 kilometer ver gewoon het, te besoek. Die Getuie het gereeld die rit per fiets onderneem om ’n Bybelstudie met hom te hou. Hoewel hierdie man stadiums beleef het waar hy baie negatief en terneergedruk was, is hy nou self ’n Getuie wat ywerig vir ander vertel van God se belofte van ’n herstelde Paradys wanneer selfs die oë van die blindes geopen sal word.—Jesaja 35:5.
In sommige gebiede doen mense baie moeite om Christenvergaderinge by te woon. ’n Sewentigjarige vrou loop gereeld ongeveer tien kilometer om by die weeklikse vergaderinge te kom. Op pad soontoe loop sy deur een van Kenia se grootste riviere al skuil daar krokodille daar naby. Soms is die stroom so sterk dat dit haar amper meesleep. Sy beskou die geestelike feesmaal nietemin dubbel en dwars die moeite werd. Wat ’n voortreflike voorbeeld van ywer!
Nog ’n goeie voorbeeld van ywer en waardering is gestel deur ’n Getuie wat nege uur lank geloop het om die kringbyeenkoms by te woon. Waarom het hy dit gedoen, selfs al het hy genoeg geld gehad om met die bus te ry? Uit liefde het hy sy geld aan sy Bybelstudent gegee sodat hy ook die byeenkomsprogram kon geniet! Ja, liefde en ‘ywer vir goeie werke’, gebaseer op juiste Bybelkennis, is duidelik in Kenia te sien.
Die pioniergees
Hierdie ywer word op opvallende wyse geopenbaar in die voltydse pionierbediening. Talle put vreugde uit hierdie diens ondanks moeilike omstandighede. Een jong gewone pionier dien in die warm en vogtige hawestad Mombasa. ’n Paar jaar gelede moes albei sy bene afgesit word as gevolg van ’n vragmotorongeluk. Terwyl hy in die hospitaal was, wou hy selfmoord pleeg en het hy die verpleegster gesoebat om hom ’n dodelike inspuiting te gee, wat sy geweier het om te doen. Na sy ontslag het hy die Getuies teëgekom en begin om die Bybel saam met hulle te bestudeer. Dit het tot sy doop en ’n nuwe lewe in die voltydse diens gelei. Hy loop oor van ywer en dankbaarheid.
Talle moeders met gesinsverantwoordelikhede het ook gewone pioniers geword. Onder hulle is daar een met drie kinders. Sy ly aan ernstige hoë bloeddruk en het ’n spraakgebrek. Sy moet voltyds werk en haar man is nie ’n Getuie nie. Sy is nietemin ’n gelukkige pionier. Dit is natuurlik nie net moeders wat in die gewone pionierdiens arbei nie; onlangs het ’n vader met agt kinders om te versorg en ’n betrekking waar hy skofte moet werk ook hierdie diensvoorreg aanvaar.
Baie wat nie gewone pioniers kan wees nie, straal die pioniergees uit. Hulle soek na geleenthede om as hulppioniers in die voltydse bediening te arbei deur elke maand 60 uur aan die predikingswerk te wy.
In April 1984, asook in 1985, was meer as ’n derde van al die verkondigers in Kenia in die een of ander vorm van die voltydse diens. In een gemeente het 73 verkondigers daardie maand as hulppioniers ingeskryf en saam met die vyf gewone pioniers gewerk. Die ander 28 lede van die gemeente het gemiddeld 64,6 uur gewerk al was baie van hulle nie gedoop nie. Die gevolg was dat altesaam 233 Bybelstudies gehou is!
Ouderdom is ook nie ’n hindernis nie. ’n Nege-en-negentigjarige grootmoeder het ’n hulppionier geword. Ondanks haar fisiese beperkings laat sy haar lig moedig onder jonk en oud skyn (Mattheüs 5:16). As gevolg van haar pogings is verskeie ander gehelp om Koninkryksverkondigers te word, en hulle onthou die toewyding en pioniergees van hierdie ouma maar alte goed. Ja, sulke ‘ywer vir goeie werke’ het baie die pioniergees laat kweek.
Lof—uit die mond van “kinders”
Hoewel hulle nog nie gedoop is nie, vergesel kinders hulle ouers blymoedig en gretig om die goeie nuus van die ware God aan ander mense te verkondig (Mattheüs 21:16). Tydens ’n spesiale kampanje het ’n dogtertjie van vier en ’n half saam met haar ouers in ’n afgesonderde gebied gewerk. Sy het daardie maand 160 uur in die veldbediening deurgebring, 27 boeke, 66 boekies en 47 tydskrifte versprei onder mense wat in die Bybel belangstel!
Hierdie ‘ywer vir goeie werke’ word ook by die skole openbaar. In ’n plattelandse gebied buite Nairobi het ’n laerskoolseun wie se moeder die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer het sy onderwyseres op die weg na die ewige lewe gehelp. Toe die onderwyseres die onderwerp van lewe na die dood in die klas te berde gebring het, het hierdie jong seun hoflik gemeld dat sy moeder, op grond van die Bybel, vir hom iets anders geleer het. Dit het die onderwyseres se nuuskierigheid gewek. Sy het met die seun se moeder in verbinding getree en dié het haar na ’n meer ervare Getuie verwys. Die onderwyseres verkondig nou self die Bybelwaarheid aan ander, danksy die moed van hierdie jong seun. Watter pragtige voorbeeld van ywer wat vandag onder Christenkinders voorkom!
Meer groei word verwag
Meer as die helfte van Kenia se bevolking moet nog die goeie nuus van die Koninkryk hoor. As gevolg van die groot afstande kan sommige afgesonderde gebiede slegs een keer per jaar gedek word. Wanneer die Getuies in sulke gebiede aankom, is dit algemeen om begroet te word met die woorde: “Waar was julle? Ons het julle gemis.” Nadat jy dan ’n paar dae of weke daar getuig het en die tyd aanbreek om te vertrek, word jy diep getref wanneer jy uitdrukkings hoor soos: “Gaan julle ons nou weer verlaat? Hoe gaan ons vordering maak?” Gelukkig is reëlings getref om die meeste van hierdie geestelik honger individue weer te besoek.
Daar is vandag 3 686 Koninkryksbedienaars in Kenia. By die Gedenkmaal van Christus se dood in 1986 was die opkoms 13 067. Dit is byna vier keer die getal Getuies! Voormalige alkoholiste, rusiemakers, bendeleiers, afpersers, spiritiste en ander het groot veranderinge in hulle lewe aangebring en bewandel nou die weg van die waarheid. Wat sê dit vir ons oor die toekoms?
Dit is duidelik dat ons meer groei kan verwag. Ja, die mense in Kenia reageer gunstig op die “evangelie van die koninkryk” (Mattheüs 24:14). Baie het aangesluit by die geledere van Jehovah se Getuies—’n volk “ywerig in goeie werke”. As gevolg van hierdie werke is hulle opvallend ’n unieke volk, vry van rasseskeidsmure en ander dinge wat ware eenheid teëwerk. Dit is voorwaar “iets besonders”.
[Kaart op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KENIA
Nairobi
Mombasa
[Prent op bladsy 23]
Duisende Swahili-sprekendes het ‘die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkoms in Desember 1985 bygewoon
[Prent op bladsy 24]
Bybeldramas wat in Swahili en Engels aangebied is, het die gehoor geestelik opgebou
[Prent op bladsy 25]
Die openbare doopplegtigheid het bewys van Jehovah se seën gelewer