Maak vrede met God deur toewyding en doop
“En die HERE sê vir hom: . . . Maar raak aan niemand op wie die teken is nie.”—ESEGIËL 9:4, 6.
1, 2. (a) Waarom verkeer mense oor die algemeen nie in vrede met God nie? (b) Waarom is dit vir almal noodsaaklik om sulke vrede te maak?
MAAK vrede met God? Maar waarom? Min mense dink dat hulle in konflik met God is. Maar is dit moontlik om ’n vyand van God te wees sonder om dit te weet? Die apostel Paulus het aan eerste-eeuse Christene verduidelik: “Ons almal [het] ook vroeër gewandel . . . in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.”—Efesiërs 2:3.
2 Hoewel jy God moontlik wil behaag, beïnvloed die sonde wat ons van Adam geërf het eweneens vandag jou uitkyk en kan dit jou “die wil van die vlees” laat najaag. Al bestudeer jy die Bybel saam met Jehovah se Getuies of is jy ’n ongedoopte jeugdige wie se ouers Getuies is, kan ’n egosentriese ek-doen-wat-ek-wil-gesindheid jou lewe in ’n groot mate kenmerk en jou steeds van God vervreem. Iemand wat op so ’n weg volhard, ‘vergader vir hom toorn’ (Romeine 2:5; Kolossense 1:21; 3:5-8). God gaan gedurende die vinnig naderende “dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God” ten volle uiting gee aan sy toorn (Romeine 1:28–2:6). Hoe kan jy vrede met God maak en hierdie “dag van die toorn” oorleef?
Die grondslag vir vrede
3. Hoe het God die grondslag vir versoening voorsien?
3 Jehovah het die inisiatief geneem om te help. “Hy [het] ons liefgehad . . . en sy Seun gestuur . . . as ’n versoening vir ons sondes” (1 Johannes 4:10). Jesus se offerdood doen versoening, dit wil sê, dit bevredig Jehovah se geregtigheid. Dit voorsien ’n wettige grondslag vir die vergifnis van sondes en uiteindelik vir die algehele verwydering van die vyandskap tussen God en die mens. Ja, dit is moontlik om “met God versoen [te word] deur die dood van sy Seun”, soos die apostel Paulus geskryf het.—Romeine 5:8-10.
4. Watter relevante gesig is aan Esegiël gegee, en waarom is dit vir ons van belang?
4 Maar as ons persoonlik by Christus se offer wil baat vind, moet ons sekere stappe doen. Hulle word aangedui in ’n dramatiese gesig wat aan die profeet Esegiël gegee is, ’n gesig wat vervul word in ons dag wanneer God se “dag van die toorn” ophande is. God se teregstellingsmagte word in die gesig deur ses gewapende manne voorgestel. Voor hulle God se toorn voltrek, word ’n sewende man, wat ’n skrywer se inkpot by hom het, aangesê: “Trek dwarsdeur die stad, . . . en maak ’n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word. Maar aan [die ses gewapende manne] sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan . . . maar raak aan niemand op wie die teken is nie.”—Esegiël 9:1-6.
5. Wat lei tot berou?
5 Die manier waarop mense, wat beweer het dat hulle die ware God aanbid, “die land met geweld gevul” het, hulle aan geslagsonsedelikheid, afgodediens en allerhande ander wangedrag skuldig gemaak het, het hierdie persone wat vir beskerming ’n “teken” ontvang het, gewalg (Esegiël 8:5-18; Jeremia 7:9). Diegene wat die “teken” wil ontvang, moet vandag eweneens eers deur ’n studie van die Bybel leer om God se standaarde te waardeer en hartgrondig gegrief te voel, ja, te “sug en steun”, oor leerstellings en gebruike wat hom onteer. Party het miskien uit onkunde verkeerde dinge gedoen of daarmee saamgegaan deur dit te ondersteun. Maar nou begin hulle om sulke bedrywighede te beskou net soos God dit beskou—as walglik! (Romeine 1:24-32; Jesaja 2:4; Openbaring 18:4; Johannes 15:19). Hierdie groter waardering lei tot een van die eerste stappe om vrede met God te maak: berou. Die apostel Petrus vermaan: “Toon dan berou en bekeer julle, sodat julle sonde uitgewis kan word, sodat tye van verkwikking [pleks van toorn] mag kom van die persoon van Jehovah” (Handelinge 3:19, NW). Hoe verkwikkend is sulke vergifnis tog!
Die “teken”
6. Om watter redes het party mense in die ou tyd ’n teken ontvang?
6 Om God se toorn vry te spring, moes diegene wat ‘gesug en gesteun’ het ’n teken op die voorhoof ontvang (Esegiël 9:4). In die ou tyd het slawe dikwels ’n teken op die voorhoof ontvang om duidelik geïdentifiseer te word. ’n Kenteken op die voorhoof en ander plekke kon ook toon dat ’n persoon ’n sekere godheid dien.a (Vergelyk Jesaja 44:5, NAV.) Wat is die lewensreddende kenteken wat die draers daarvan duidelik as aanbidders en knegte van Jehovah identifiseer dan in ons dag?
7. Wat is die simboliese teken?
7 Die simboliese teken is die bewys, asof op jou onbedekte voorhoof vertoon, (1) dat jy ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus is en (2) dat jy jou met die Christelike nuwe persoonlikheid beklee het (Efesiërs 4:20-24). Aangesien diegene wat so ‘geteken’ word hulle eers moet toewy, moet ons weet wat dit behels. Jesus verduidelik: “Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”—Markus 8:34.
8, 9. (a) Wat beteken dit om ‘jouself te verloën’? (b) Hoe kan die betekenis van toewyding toegelig word?
8 Die Griekse woord wat met “verloën” vertaal is, beteken “om heeltemal te versaak” of “te verwerp”. Om ‘jouself te verloën’, beteken derhalwe meer as om jou nou en dan sekere vermaak of genot te ontsê. Dit beteken eerder dat jy nie toelaat dat persoonlike begeertes en ambisies jou lewe oorheers nie. Dit help ons om die omvang van Jesus se woorde te begryp as ons kyk hoe hierdie begrip in verskillende tale vertaal word: “Om op te hou doen wat jou hart wil” (Tzeltal, Mexiko), “om nie meer aan jouself te behoort nie” (K’anjobal, Guatemala), en “om homself die rug toe te keer” (Javaans, Indonesië). Ja, dit beteken uitsluitlike toewyding, nie net ’n verbintenis wat met ’n aantal dinge aangegaan kan word nie.
9 ’n Christin genaamd Susan, wat voorheen baie onafhanklik was, verduidelik wat toewyding vir haar beteken het: “Ek het my heeltemal aan iemand anders oorgegee. Jehovah bepaal nou my weg, sê vir my wat om te doen en stel my prioriteite.” Is jy bereid om jou net so uitsluitlik aan Jehovah God toe te wy? Onthou, die simboliese teken identifiseer jou as iemand wat aan God “behoort”, as ’n gelukkige dienskneg van sy Heer.—Vergelyk Exodus 21:5, 6; Romeine 14:8.
10. Watter aangeleenthede moet jy oorweeg voor jy jou toewy?
10 “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?” het Jesus gevra (Lukas 14:28). Is jy dus bereid om: Christenvergaderinge gereeld by te woon? (Hebreërs 10:25). Die hoë sedelike standaard te handhaaf wat God vir sy knegte vasgestel het? (1 Thessalonicense 4:3, 4, 7). Soveel moontlik in die Koninkrykspredikingswerk te doen? God se wil eerste te stel wanneer jy ’n loopbaan kies of lewensdoelwitte stel? (Mattheüs 6:33; Prediker 12:1). Jou gesinsverantwoordelikhede na te kom? (Efesiërs 5:22–6:4; 1 Timotheüs 5:8). Wanneer jy jou in gebed toegewy het, stel ’n verdere stap ander amptelik hiervan in kennis.
Doop—Vir wie?
11. Wat word deur doop gesimboliseer, en wat word daardeur bereik?
11 Jesus het beveel dat sy volgelinge gedoop word (Mattheüs 28:19). Hulle moes heeltemal onder die water gedompel en daaruit gelig word. Net soos ’n begrafnis en ’n opstanding beeld dit gepas uit dat ’n persoon ’n egosentriese lewenswyse afsterf en lewend gemaak word om God se wil te doen. Deur doop identifiseer jy jou as een van Jehovah se Getuies in samewerking met God se wêreldwye gemeente.b Doop bekragtig ’n plegtige ooreenkoms wat met God aangegaan is. (Vergelyk Exodus 19:3-8.) Jou lewe moet in ooreenstemming met sy wette wees (Psalm 15; 1 Korinthiërs 6:9-11). Doop, wat jou as ’n bedienaar van God orden, weerspieël ook dat jy “’n bede tot God om ’n goeie gewete” gedoen het omdat jy weet dat jy in vrede met God verkeer.—1 Petrus 3:21.
12. Wanneer word kinders deur hulle ouer se “teken” beskerm?
12 Moet selfs jongmense doop oorweeg? Wel, onthou dat Jehovah vir die ses gewapende manne in die gesig gesê het: “Slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters, en kinders en vroue tot vernietiging toe” (Esegiël 9:6). Kinders wat te jonk is om hulle toe te wy, sal natuurlik beskerm word deur ’n ouer se “teken” mits daardie ouer probeer om die kinders groot te maak om Jehovah lief te hê en mits hulle gehoorsaam daarop reageer (1 Korinthiërs 7:14). Maar as ’n kind intelligent genoeg is om ’n persoonlike besluit te neem en die stadium bereik het waar hy “weet om goed te doen”, moet daar nie veronderstel word dat hy vir ’n onbepaalde tyd onder die verdienste van sy ouer se “teken” sal bly nie.—Jakobus 4:17.
13. Wat moet in ag geneem word om vas te stel of ’n jeugdige gereed is vir doop?
13 Voor ’n jeugdige hom toewy, moet hy genoeg kennis hê om te besef wat dit behels en moet hy ’n persoonlike verhouding met God nastreef. Hy moet Bybelbeginsels verstaan en dit gehoorsaam, wetende dat hy aanspreeklik gehou sal word vir enige oortreding daarvan. Hy moet ook genoeg ondervinding daarin hê om sy geloof met ander te deel en weet dat dit ’n noodsaaklike deel van ware aanbidding is; hy moet God waarlik wil dien. Daar sal natuurlik nie van hom verwag word om net so volwasse soos ’n grootmens te wees nie, maar sy geestelike vooruitgang moet bestendig wees.
14. Waarom het een jeugdige sy doop as ’n beskerming beskou?
14 As jy ‘die koste bereken het’, gee dit jou nie ’n agterstand as jy jou as jeugdige toewy nie. Feitlik alle nuwe Christene se waardering verdiep na doop. “Dit was vir my ’n beskerming om as jeugdige gedoop te word”, het David verduidelik. “Namate ek ouer geword het, het ek gesien hoe party ongedoopte tieners in die gemeente voel dat hulle vry van die gesag van die ouere manne is en hulle gevolglik aan wangedrag skuldig gemaak het. Maar ek het altyd onthou dat ek my lewe aan God toegewy het. My lewe is nie meer myne nie, en daarom kon ek sulke tieners nie naloop nie.”
15. (a) Hoe weet ons dat jeugdiges ’n ernstige beskouing van ware aanbidding kan hê? (b) Hoe kan ouers hulle die beste help?
15 ‘Maar gestel my seun of dogter word jonk gedoop en koel dan af. Wat dan?’ wonder party ouers. ’n Jeugdige moet beslis nie gedoop word net om ’n ouer te behaag of omdat sommige vriende dit doen nie. En tog het Josef, Samuel, koning Josia en Jesus as tieners die aanbidding van God ernstig opgeneem en daaraan vasgekleef (Genesis 37:2; 39:1-3; 1 Samuel 1:24-28; 2:18-21; 2 Kronieke 34:3; Lukas 2:42-49). In ons dag is ’n Christin met die naam Jean gedoop toe sy maar net tien was. Toe sy jare later gevra is of sy die stap verstaan het, het Jean geantwoord: “Ek het geweet dat ek Jehovah liefhet, ek het waardeer wat Jesus vir ons gedoen het en ek wou Jehovah dien.” Sy dien al ongeveer 40 jaar getrou sedert haar doop. Elke jeugdige is ’n individu; niemand kan ’n ouderdomsbeperking stel nie. Ouers moet probeer om hulle kind se hart te raak en om hom of haar te help om godsvrug te kweek.c Hulle moet nie net die voorreg van toewyding en doop aan hulle kinders voorhou nie, maar hulle ook versterk om standvastige aanbidders te wees.
Kom hindernisse te bowe
16. Waarom is meer as blote kennis nodig?
16 Hoewel Bybelkennis noodsaaklik is, behels die “teken” meer as blote kennis. In die gesig wat aan Esegiël gegee is, het die oudstes wat tereggestel is omdat hulle wierook vir valse gode laat opgaan het waarskynlik ’n uitgebreide kennis van Jehovah se geskrewe Woord gehad. Maar hulle gedrag agter geslote deure het getoon dat hulle nie ware aanbidders was nie (Esegiël 8:7-12; 9:6). Om vir oorlewing ‘geteken’ te word, vereis derhalwe dat ’n persoon hom “met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid”.—Efesiërs 4:22-24.
17. (a) Watter hindernis weerhou party van doop? (b) Hoe kan die raad in Jakobus 4:8 toegepas word?
17 Die invloed van jou sondige vlees is ’n gedugte hindernis (Romeine 8:7, 8). Party huiwer selfs om gedoop te word omdat hulle nie ’n ernstige vleeslike swakheid kan beheers nie, of omdat hulle ongeoorloofde wêreldse vermaak wil geniet (Jakobus 4:1, 4). Sulke persone mis ’n kosbare verhouding. God se Woord vermaan: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges” (Jakobus 4:8). Besliste optrede is nodig. Een man wat die Bybel begin bestudeer het, het byvoorbeeld 16 jaar straf gedrink en dwelms gebruik, en hy was dodelik siek as gevolg hiervan. Danksy vasbeslotenheid het hy hierdie slegte gewoontes te bowe gekom. “Maar net toe ek my wou toewy, het ’n vrou my gesmeek om ’n verhouding met haar te hê. Dit was ’n groot versoeking”, het hy erken. “Hoewel die vrou gedink het dat ek mal is, het ek vir haar gesê: ‘Ek studeer die Bybel saam met Jehovah se Getuies en ek kan nie.’” Wat het hom so laat antwoord? “Ek het gesien wat Jehovah vir my gedoen het deur my te help om alkohol te laat staan. Hy het my ook op ander maniere gehelp. Dit het my steeds nader aan hom gebring. Ek kon hom nie teleurstel nie.” Hierdie man het na aan God gekom.
18. Wat is ’n sleutel om hindernisse te bowe te kom?
18 Dit is nie hoeveel jy weet wat tel nie, maar hoe lief jy die dinge het wat jy weet. Psalm 119:165 sê: “Die wat u wet liefhet [nie net ken nie], het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.” Die sleutel is om God se wet lief te hê, en die waarde daarvan in jou lewe innig te waardeer.—Jesaja 48:17, 18.
19, 20. (a) Watter hindernisse moet te bowe gekom word, en watter versekering het ons? (b) Waartoe sal dit lei as alle hindernisse met welslae te bowe gekom word?
19 Ander hindernisse of struikelblokke kan natuurlik ontstaan. “Vir my was mensevrees die grootste struikelblok”, het die bogemelde broer gesê. “Ek het wêreldse ‘vriende’ gehad saam met wie ek gedrink het. Dit was vir my die moeilikste om vir hulle te sê dat ek my vriendskap met hulle beëindig omdat ek my lewe aan God gaan toewy” (Spreuke 29:25). Ander moes die hoon van familielede verduur. Een pasgedoopte Getuie wat haar man se teenstand te bowe gekom het, het gesê: “Pleks van een groot probleem, was daar ’n klomp kleintjies wat ek een op ’n slag te bowe moes kom.” Dit sal jou hart versterk as jy elke hindernis getrou te bowe kom wanneer dit opduik. Jy kan daarvan seker wees dat daar geen hindernis is wat nie deur liefhebbers van God se wet te bowe gekom kan word nie!—Lukas 16:10.
20 Namate jy elke struikelblok te bowe kom, sal jy “groot vrede” hê (Psalm 119:165). Ja, “dan sal jy veilig jou weg bewandel en . . . dan sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir ’n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees.”—Spreuke 3:23-26.
[Voetnote]
a Omstreeks 150 jaar na Esegiël se gesig het die Griekse geskiedskrywer Herodotus daarop gewys dat die tekens op aanbidders van die god Hercules hulle beskerming gebied het, en hy het geskryf: “As enigiemand se slaaf skuiling [in Hercules se tempel] soek en heilige tekens op hom laat aanbring, en hy hom so aan die god toewy, is dit nie geoorloof om die hande aan hom te slaan nie.”
b Die twee vrae wat aan doopkandidate gestel word, is onlangs vereenvoudig sodat kandidate kan antwoord met volle begrip van wat daarby betrokke is om ’n intieme verhouding met God en sy aardse organisasie te hê.
c Kyk “Leer jou kind om godsvrug te kweek” in ons nommer van 15 Augustus 1985.
Gedagtes ter hersiening
◻ Hoe help God ons om vrede met hom te maak?
◻ Wat is die simboliese lewensreddende teken?
◻ Wat beteken toewyding en doop?
◻ Voor watter hindernisse kan ons te staan kom, en hoe kan hulle te bowe gekom word?
[Venster op bladsy 13]
Onderdompeling of besprinkeling?
Die verslag van Jesus se doop sê dat hy ‘uit die water opgeklim het’ (Markus 1:10). Die feit dat Jesus ondergedompel is, is in ooreenstemming met die betekenis van die Griekse woord vir doop (baʹpti·sma). Dit kom van die woord ba·ptiʹzo, wat “indompel, onderdompel” beteken. Dit is soms gebruik om die sinking van ’n skip te beskryf. Die tweede-eeuse skrywer Lucian het ’n verwante woord gebruik om te beskryf hoe een persoon ’n ander verdrink: “Hy druk hom so diep onder [ba·ptiʹzon·ta] dat hy nie weer kan opkom nie.” The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Ondanks teenoorgestelde bewerings, blyk dit dat baptizo, in Joodse sowel as Christelike konteks, gewoonlik ‘onderdompel’ beteken het, en dat dit, selfs toe dit ’n tegniese uitdrukking vir doop geword het, die gedagte van onderdompeling behou het.”