God se wysheid—Kan jy dit sien?
SIEN in jou verbeelding die hof van ’n eertydse koning. In sy koningsgewaad sit die vors op sy luisterryke troon. Hy is nie alleen beroemd vir sy rykdom nie, maar ook vir sy wysheid. Sy hofdienaars is volmaak georganiseer. Die skouspel is asemrowend. Siedaar: Koning Salomo!—1 Konings 10:1-9, 18-20.
Luister nou na die man wat erken word as die Groot Onderwyser, Jesus Christus: “Wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.”—Mattheüs 6:28, 29.
Wat het Jesus daarmee bedoel? Hy het ongetwyfeld gemaan teen materialisme. Maar kon sy woorde oor Salomo letterlik waar wees? Onthou, Jesus het lewensgetroue illustrasies gebruik. Al was Salomo se ontwerpers en vakmanne baie bekwaam, kon hulle nogtans nie die ontwerp, kleurvermenging of simmetrie van “die lelies van die veld” in hulle natuurlike omgewing ewenaar nie.
Jehovah se wysheid geopenbaar
Selfs ’n oppervlakkige ondersoek van blomme kan jou beweeg om Jesus se woorde te beaam. Ons weet nie presies watter soort lelie Jesus in gedagte gehad het nie, maar blomme is in die meeste wêrelddele volop. Kyk versigtig na enige blom: ’n lelie, ’n roos of ’n orgidee. Let op die fyn kleurskakerings en die ingewikkelde patroontjies, hoe die kelkblare, kroonblare en ander dele van die blom saamsmelt. Sien jy die stille dog kragtige bewys dat ’n Groot Ontwerper met oneindige wysheid en verbeelding vir hierdie pragtige handewerk verantwoordelik is? Die blomme se skoonheid is nie net ’n lus vir die oë nie, maar ons neuse neem ook hulle aangename geure in.
Die apostel Paulus het opgemerk dat Jehovah God se ‘onsigbare hoedanighede van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien kan word’ (Romeine 1:20, vgl. NW). Maar God het meer as net blomme geskep om die aarde te tooi; hy het tallose struike en bome gemaak wat tesame ’n praktiese, maar tog pragtige, groen ryk vorm. As jy die Humboldt- Nasionale Bos in Kalifornië, VSA, besoek, sal jy ’n reusagtige rooihoutboom vind wat vermoedelik die hoogste boom in die wêreld is. Sal jy nie, as jy aan sy voet staan en na sy hoogte van ongeveer 110 meter opstaar, die Een wat geweet het hoe om so ’n boom te maak stilweg loof nie?
Die instinktiewe wysheid van diere
Op die land en in die see is daar diere, groot en klein, wat ons onder die indruk bring van God se wysheid. Elkeen van hulle beantwoord blykbaar aan die een of ander doel van die Skepper. Die wyse koning Salomo het vermaan: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!” (Spreuke 6:6). Diegene wat die mier dopgehou het, verwonder hulle oor die mier se organisasievermoë. Miere is nie alleenlopers nie; hulle leef in gemeenskappe. Party is boere en samel sade in. In die trope sien jy party miere besig om stukkies blare af te knip en na hulle neste te dra. Hoe weet hulle dat hulle dit moet doen? Agur, een van die skrywers van die boek Spreuke, antwoord dat die mier “instinktief wys” is. Wie het dit so gemaak? Jehovah, die Ontwerper van hemel en aarde.—Spreuke 30:24, 25, NW.
Ja, die diereskepping het instinktiewe wysheid. Dit blyk baie duidelik uit die migrasie van voëls. Jy het dalk al gehoor van die migrasie van die Capistrano-swaeltjies. Op ’n sekere tyd elke jaar vlieg hulle duisende kilometers van hulle oorwinteringsgebied in Suid-Amerika na ’n sendingstasie by San Juan Capistrano, Kalifornië, VSA. Instinktief en feilloos kom hulle na dieselfde plek op dieselfde tyd in Maart.
Oor die uitgestrekte see sê die psalmis: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ’n gewemel sonder getal” (Psalm 104:24, 25). Van die klein witvissies tot die reusagtige walvisse is goddelike wysheid in hul vorm en funksie te bespeur.
Die hoogtepunt van God se aardse skepping was die mens self. Hier was ’n skepsel wat nie slegs op inherente, of instinktiewe, wysheid gereageer het nie. Hy het die vermoë gehad om in baie opsigte soos God te wees. Hoe waar tog dat hy “op ’n vreesinboesemende wyse” wonderlik gemaak is! Al is ons nie mediese wetenskaplikes nie, kan ons hulle bevindings lees en tot dieselfde slotsom as die geïnspireerde skrywer kom. Die Skepper se werke soos in die menslike liggaam geopenbaar, is wonderlik.—Psalm 139:14, NW.
Jehovah se hemelse wysheid
Psalm 19:2 sê dat die hemele die eer van God vertel. Hoe waar tog! Die psalmis Dawid het nie teleskope of elektroniese instrumente gehad nie, maar hy het ’n eerbiedige waardering gehad vir wat hy kon sien. Vandag weet die gewone mens veel meer as Dawid van ons sonnestelsel en groot Melkweg. Hy weet ook dat daar tallose ander sterrestelsels in die onmeetlike ruimte is. Hoe voel jy as jy die wysheid van die groot en weergalose Ontwerper betrag? Kan jy met eerbied sê: ‘Jehovah, u doen “groot, ondeurgrondelike dinge en wonders sonder getal”’? Jy behoort dit te kan sê.—Job 9:10.
In die gryse verlede het Jehovah begin skep, eers sy eersgebore Seun en daarna al die ander geesskepsele. Die stoflike heelal het gevolg. Alles was kalm en ordelik. Die geesseuns van God het selfs uiting aan hulle waardering gegee deur te juig toe die aarde gegrond is! (Job 38:4-7). Die man en die vrou is geskape en in ’n volmaakte tuin gesit, maar toe het iets skokkends gebeur. ’n Stem uit die onsigbare ryk, wat deur middel van ’n slang gepraat het, het die Groot Skepper belaster. Dit het die aantyging gemaak dat Jehovah sy oppermag misbruik; dit het God ’n leuenaar genoem. Die een aan wie die stem behoort het, het gevolglik afstootlike name gekry wat hom identifiseer, soos Duiwel, Slang en Satan. Wat sou die Alwetende nou doen? Wat kon hy doen? ’n Nuwe dimensie van wysheid sou nodig wees, wysheid selfs voortrefliker as die ontwerpe wat reeds Salomo se heerlikheid oortref het.—Genesis 3:1-5.
[Lokteks op bladsy 4]
Van klein witvissies tot reusagtige walvisse is goddelike wysheid in hulle vorm en funksie te bespeur