Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 3/1 bl. 15-20
  • ‘Ry ter wille van waarheid’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Ry ter wille van waarheid’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe die waarheidslied uitgebrei word
  • ‘Ry vir waarheid’
  • Het jy hierdie wenke op die proef gestel?
  • Hoe kan jy ’n tydskrifroete begin?
  • ‘Bly geroer deur ’n goeie saak’
  • Hoe ons ons tydskrifte ten beste kan benut
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Gebruik tydskrifte in jou bediening
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Sit tyd vir tydskrifwerk opsy
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Smaak vreugde deur meer tydskrifte te versprei
    Ons Koninkryksbediening—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 3/1 bl. 15-20

‘Ry ter wille van waarheid’

“Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!”—PSALM 45:5.

1, 2. (a) Watter boodskap het die psalmis opgewonde gemaak? (b) Waarom behoort daardie selfde boodskap ons te roer?

DIE digter-sanger kon nie wag om met sy lied te begin nie. Die afwagting van die koms van ’n goeie regering in die hande van ’n onverderflike, regverdige heerser was te groot. Hy kon nie stilbly nie. Omdat hy dit nie meer kon inhou nie, het hierdie woorde oor die psalmis se lippe geborrel: “My hart word bewoë [“geroer”, NW] deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ’n Koning; my tong is die pen van ’n vaardige skrywer” (Psalm 45:2). Die oorspronklike digter-sanger is lankal oorlede. Maar sy profetiese lied bestaan voort, en dit was nog nooit kragtiger as nou nie.—Vergelyk Kolossense 3:16.

2 Wat was die “goeie woorde” wat die psalmis se hart geroer het? Dit staan in verband met die goeie nuus van God se Koninkryk! Die Koninkryksboodskap is so ‘goed’ dat dit verdien om “verkondig [te] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” voordat “die einde” van hierdie nasies aanbreek (Mattheüs 24:14). Het die “goeie” tema van God se Messiaanse Koninkryk vandag jou hart geroer? Dit behoort. Waarom? Omdat die Hebreeuse werkwoord wat vertaal word met “word geroer” (ra·kasjʹ) lewendige beweging, soos van ’n borrelende, kokende vloeistof, aandui. Die werkwoord het ook die bybetekenis van volheid. En onthou, ons Leier, Jesus Christus, het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek sy mond” (Lukas 6:45). Het jy, soos die psalmis, dus ’n hart wat oorloop van die “goeie woorde”? Dan sal niks kan verhinder dat jy hierdie oortreffende waarheid uitsing nie: Jesus Christus heers in God se Koninkryk!

Hoe die waarheidslied uitgebrei word

3. Watter twee hoofmetodes word gebruik om die goeie nuus van die Koninkryk vandag te verkondig?

3 Hoe kan hierdie koninklike lied uitgedra word? Deur middel van die heilige gees het die psalmis se tong soos ’n “pen” in die hande van Jehovah geword. (Vergelyk 2 Samuel 23:2.) Sy geskrewe lirieke is gesing sodat al Jehovah se eertydse aanbidders dit kon hoor. Ons kan vandag die waarheid oor God se Koninkryk op twee soortgelyke maniere voorstaan. Eerstens, deur ons woorde wat in openbare prediking gehoor word en, tweedens, deur ons woorde wat in ons lektuur gelees word. Wanneer ons Bybelse lektuur versprei, vertel ons gevolglik wat die tong van geïnspireerde, heilige manne reeds gesê het (2 Timotheüs 3:16; 2 Petrus 1:20, 21). En vandag word die gedrukte Koninkryksboodskap versprei in getalle en tale en teen ’n tempo wat die verbeelding van die psalmis te bowe sou gaan. Het jy ’n gereelde aandeel in die verspreiding daarvan, veral deur die verspreiding van Die Wagtoring en Ontwaak!?

4. (a) Hoe het Christus Jesus “veel skoner as die mensekinders” geword? (b) Hoe volg die gesalfde wagterklas die ‘bekoring van Christus se lippe’ na?

4 Die verskyning van Jehovah se Koning beweeg die psalmis om te skryf: “U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig” (Psalm 45:3). Van die dag af dat hy met God se gees gesalf is, het Jesus se lippe aangehou om die Koninkryk te verkondig totdat die menseagente van Satan hom tydelik die swye opgelê het. As gevolg van Jesus se lojaliteit het Jehovah hom toe vir ewig geseën deur hom uit die dood op te wek en hom bo alle ander skepsele te verhef (Filippense 2:8-11). Sedert Jesus se hemelse verheerliking, toe hy ‘die afdruksel van God se wese’ geword het, is hy mooier as die mees verhewe heerser, hetsy mens of engel (Hebreërs 1:3, 4). Nou, as Koning op die troon, stel Jesus die lippe van die gesalfde wagterklas en hulle metgeselle in staat om die goeie nuus van die Koninkryk vrymoedig uit te sing. Dit is egter ook ’n strydlied.

5, 6. (a) Wat impliseer die feit dat Christus ‘ter wille van waarheid ry’? (b) Hoe gebruik die wagterklas Die Wagtoring en Ontwaak!?

5 Die psalmis roep vervolgens tot die heersende Koning: “Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid; ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtighed; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!” (Psalm 45:4, 5). Sedert 1914 ry Christus op ’n strydros, gereed om op te tree (Openbaring 6:1, 2). Hy het ’n swaard aangegord—die simbool van oorlog en ook van gesag en mag van God af om vyandelike nasies tereg te stel. Christus het reeds teen Satan en sy demone oorlog gevoer en hulle uit die hemel neergewerp en tot die omgewing van die aarde beperk.—Openbaring 12:1-13.

6 Maar voordat die vrede herstel word, sal vreesliker dinge deur die Koning se regterhand gedoen word wanneer hy by Armageddon ‘ter wille van waarheid ry’ om al God se vyande op aarde te vernietig (Psalm 45:5; Openbaring 16:14, 16; 19:17, 18). Christus het die gesalfde wagterklas die moed gegee om ook hierdie waarskuwing uit te sing. Wat gebruik die “wagter” om sy stem te versterk? Hoofsaaklik die bladsye van Die Wagtoring—die tydskrif wat by uitnemendheid Jehovah se opgerigte Koninkryk aankondig. Die “wagter”-klas, wat soos ’n leër stekende skerpioensprinkane is, is vervul met dieselfde gees wat Christus aandryf om ‘ter wille van waarheid te ry’ (Openbaring 9:7-11). Hulle gebruik die tydskrifte wat onder toesig van die “wagter” voorberei word—Die Wagtoring en Ontwaak!—bedrewe “ter wille van waarheid”.—Mattheüs 24:45; vergelyk Openbaring 9:16-19.

‘Ry vir waarheid’

7. Op watter aggressiewe wyse bevorder Die Wagtoring en Ontwaak! Bybelwaarheid?

7 Die Wagtoring staan ‘die saak van Koninkrykswaarheid’ al meer as honderd jaar voor. Dit gebruik God se Woord bedrewe as ’n swaard om die dwalings wat in lae om valse godsdiensleer stellings gedraai is af te skil. (Vergelyk Efesiërs 6:17; Hebreërs 4:12). Die tydskrif Ontwaak! verdedig ook die saak van waarheid. Waar dit by aktuele gebeure kom, sny Ontwaak! deur die sluier wat Bybel-onterende wetenskaplike teorieë en gevaarlike maatskaplike en morele tendense omhul. Wat kan ons doen om hierdie tydskrifte in die hande van meer mense te kry sodat hulle die lewensreddende Koninkryksboodskap kan hoor?

8, 9. Hoe kan die toepassing van die beginsel in Efesiërs 5:16 op die lees van Die Wagtoring en Ontwaak! jou help om ‘geroer te word’ om tydskrifwerk te doen? Verstrek voorbeelde.

8 Almal wat waarheid liefhet, moet “geroer” word deur die boodskap wat Die Wagtoring en Ontwaak! bevat (Psalm 45:1, NW). Hoe? Lees hulle gerus sodra jy hulle ontvang. ‘Ek gaan nie ’n wêreldse tydskrif of boek lees voordat ek nie ons tydskrifte deurgelees het nie’, het Lillian tien jaar gelede vir haarself gesê. Sy is nog steeds getrou aan daardie besluit (Mattheüs 6:33). Wat kan jy doen nadat jy hulle gelees het? Praat met ander—familielede en ander lede van die gemeente—oor hulle inhoud. Dit behoort jou ook met ywer te vul om met die tydskrifte te getuig sodat jy vir jou medemens kan vertel van die goeie dinge wat jy gelees het. Jy het ongetwyfeld die begeerte om elke week tydskrifwerk te doen deur hulle na jou bure se huise te neem. Dit kan vergelyk word met die manier waarop die apostel Paulus “kragtig” getuig het.—Handelinge 20:20, 21.

9 Peter en sy vrou Petra is die afgelope vier jaar al sendelinge in ’n Afrikaland. Die Wagtoring en Ontwaak! is een van hulle vernaamste bronne van geestelike uithouvermoë. “Die Wagtoring help ons om geestelik wakker te bly in ons gebied”, sê Petra. “Ons put bemoediging en krag uit elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak!”, voeg Peter by, “en elke keer wanneer die tydskrif kom, voel dit vir ons asof ons ’n brief van die huis af ontvang.” (Vergelyk Psalm 46:2.) Het jy dieselfde innige waardering vir ons tydskrifte en is jy net so gretig om hulle te lees as Peter en Petra? Daardie soort gees sal jou beweeg om die tydskrifte ook gereeld vir ander aan te bied.

10. Watter gesindheid is nodig vir doeltreffende tydskrifwerk, en watter voordele kan dit inhou?

10 Koninkryksverkondigers moet ’n positiewe gesindheid teenoor tydskrifwerk hê. Mense wat opreg godsdienstig is, verwelkom steeds die Bybelse informasie wat ons tydskrifte bevat. (Vergelyk Handelinge 10:15, 30-33.) Waarom? Omdat hulle dit uit geen ander bron kan kry nie. Meer as 45 jaar gelede in Swede het Lars ’n hoop Wagtoring-tydskrifte by ’n werknemer gekry. “Dit het sin”, het hy vir sy vrou gesê nadat hy hulle gelees het. “Die Wagtoring sê wat die Bybel sê.” Die dinge wat Lars gelees het, het hom beweeg om hom te laat doop—in Maart 1940. Beskou nog ’n voorbeeld. Twee pionierbedienaars uit die suidelike Verenigde State het gesê:

“Ons het ’n vrou in die tydskrifwerk teëgekom. Sy is die penningmeesteres van ’n groot Baptistekerk en boonop ’n baie ernstige Bybelstudent. Toe sy die reeks met Armageddon as tema in Die Wagtoring se nommers van 1 Januarie tot 15 Februarie 1985 gelees het, was sy verheug. Sy het vroeër ure aan navorsing oor daardie onderwerp gewy en op niks meer as die teks in Openbaring 16:16 afgekom nie. Sy het vir haar predikant gevra: ‘Wat is Armageddon? Kan jy dit verduidelik?’ Hy het na haar gekyk en gesê: ‘Dis ’n diep onderwerp’, en toe weggeloop. Sy het gesê dat Die Wagtoring andersyds al haar vrae beantwoord het en dat dit die enigste bron was wat sy gevind het met die nodige tekste oor Armageddon.”

11. (a) Waarom moet ’n mens ’n vaste tyd vir tydskrifwerk inruim, en hoe dikwels? (b) Kan tydskrifwerk ’n hulp in die Bybelstudiewerk wees? Verduidelik. (c) Hoe kan jy Die Wagtoring en Ontwaak! versprei? Kyk die venstertjie.

11 Kan jy ten minste een dag per week vir tydskrifwerk opsysit en dit ’n deel van jou geestelike roetine maak? (Vergelyk Filippense 3:16, NW.) “Die verkondigers, en ook die pioniers, wy nie genoeg tyd aan tydskrifwerk nie”, sê die Wagtoringgenootskap se tak in Nigerië. Maar moet getuieniswerk met tydskrifte nou die dissipelmaakwerk oorskadu? Inteendeel, berigte van die Genootskap se takke in Australië en Brasilië toon dat die verspreiding van tydskrifte die eerste stap kan wees om baie Bybelstudies te begin. “Deur aanvanklik tydskrifte te versprei, het ek drie studies begin”, sê ’n suster in Australië. Hoe kan jy tydskrifte versprei wat tot ’n Bybelstudie kan lei? Kyk die venstertjie met die titel “Tydskrifverspreiding” vir wenke.

Het jy hierdie wenke op die proef gestel?

12. Watter wenke het een verkondiger gehelp?

12 Ons Koninkryksbediening vir Mei 1984 het ’n byvoegsel van vier bladsye oor getuieniswerk met tydskrifte gehad. Het jy die wenke daarin op die proef gestel? Koninkryksverkondigers kan gerus weer daardie byvoegsel lees en die raad daarin in die velddiens toepas. Een suster in die Verenigde State het dit gedoen; sy is aangenaam verras deur die resultate. Sy skryf:

“Ek het die gedagtes in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Maart 1984 [Mei in Suid-Afrika] oor tydskrifverspreiding toegepas, en dit werk! Teen die einde van 1983 het ek net 36 tydskrifte vir die hele jaar versprei! Ek was ongelukkig, nie soseer vanweë die syfers op die rapport nie, maar omdat ek nie daarin geslaag het om hierdie lewegewende informasie by die mense te kry wat dit nodig het nie. Ek het tot Jehovah gebid oor die saak en my voorgeneem om my kragtiger in te span om Die Wagtoring en Ontwaak! te versprei. Ek het die wenke oor ’n persoonlike doelwit vir tydskrifte, ’n kort aanbieding wat slegs een tydskrif beklemtoon, gereelde deelname aan die velddiens op die tydskrifdag en ’n positiewe gesindheid toegepas. Wanneer die huisbewoner nou die gewone aanbod van die hand wys, sê ek: ‘Wel, in daardie geval wil ek graag die jongste nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! by u laat vir 40 sent.’ Hierdie gedagtes is werklik prakties. Gedurende die afgelope vier maande het ek gemiddeld 14 tydskrifte per maand versprei!”

13. Watter raad wat in 1888 gepubliseer is, is vandag nog prakties?

13 In Zion’s Watch Tower se nommer vir Desember 1888 is die volgende raad gegee onder die opskrif “’n Wenk vir die maaiers”: “Die grootste probleem vir baie is skynbaar dat hulle harte so vol van die goeie tyding is dat hulle in die versoeking kom om ’n bietjie te veel van God se Plan te vertel.” Is daardie raad steeds toepaslik? Toe daar vir een kringopsiener in Frankryk gevra is wat verkondigers kan doen om meer tydskrifte te versprei, het hy geantwoord: “Wees kort. Wees saaklik.”

14, 15. Hoe kan die prente in Die Wagtoring en Ontwaak! in die getuieniswerk gebruik word? Verstrek voorbeelde.

14 In baie van die tale waarin die tydskrifte verskyn, het pragtige illustrasies in vier kleure die Koninkryksboodskap nog aantrekliker gemaak waar dit verskillende soorte mense bereik. Sedert die nommer van 8 Januarie word Ontwaak!, net soos Die Wagtoring, in die meeste groot tale in vier kleure gedruk. Het jy die illustrasies en prente in die tydskrifte as geselspunte gebruik? Baie het, met goeie resultate. Theresa, wat sedert 1976 ’n sendeling in die Verre Ooste is, het. Sy versprei 260 tydskrifte per maand. “Ek gebruik die prente om die hoofgedagte van my aanbieding sterk te laat uitkom”, sê sy. “Ek toon baiemaal net die voorblad vir die huisbewoner en meld die onderwerp, en dan plaas die tydskrif homself feitlik.”

15 Kay, ’n sendeling in Suriname, het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Sy en haar man is al tien jaar daar, en hulle vind dat die prente baie doeltreffend is wanneer hulle getuig, veral vir lede van die Hindoegeloof. Waarom? Kay verduidelik:

“Die Hindoe-geloof is ’n prentgeloof. By een deur het ek vir ’n vrou gevra: ‘Vertel asseblief vir my wat die name van jou gode in jou prente is.’

“‘Hierdie een is Sjiwa’, het sy geantwoord.

“‘Watter een is die hoofgod?’ het ek vervolgens gevra. Geen antwoord nie. ‘Kom ons lees Jeremia 10:10-12. Watter God kan daarop aanspraak maak dat hy die Skepper is? Net Jehovah. Ons weet dat jy lief is vir prente. Is hierdie prente in Die Wagtoring en Ontwaak! nie pragtig en interessant nie? Sou jy graag wou uitvind wat hulle beteken?’”

Probeer gerus om die prente in jou gesprek in te vleg wanneer jy weer tydskrifwerk doen.

16. Watter wenke van ’n verkondiger in Hongkong kan vir jou nuttig wees?

16 Terwyl Gene in Hongkong gedien het, het hy gemiddeld meer as 300 tydskrifte per maand versprei. Hoe het hy dit gedoen? Hy verduidelik:

“Ten eerste, bid vir Jehovah se seën op jou tydskrifwerk. Ten tweede, wees positief, glimlaggend en vriendelik. Ten derde, wees buigsaam en inskiklik en soek na iets wat jy met die huisbewoner gemeen het. Ten vierde, bestel genoeg tydskrifte vir die hele maand. Ek het ’n groot bestelling, en dit is vir my ’n groot aansporing. Ten vyfde, sit een aand per week vir tydskrifwerk opsy, aangesien daar dan meer mense tuis is en hulle ontspanne is. Ten sesde, begin ’n tydskrifroete, selfs al is dit klein.”

Hoe kan jy ’n tydskrifroete begin?

17. (a) Op watter aspek van ons tydskrifwerk kan die beginsel in Handelinge 15:36 toegepas word? (b) Wat is een manier waarop die verkondigers tydskrifte kan versprei in lande met ’n swak posdiens?

17 “Een manier om tydskrifverspreiding te vergroot, is om ’n akkurate verslag te hou van waar tydskrifte gelaat is en dan gereeld terug te gaan” sê Ollie, wat in die Afrikaland Burkina Faso dien. “Ek het al tot 15 mense op my tydskrifroete gehad. Aangesien Burkina Faso nie ’n tak met ’n drukkery het nie en pos ongereeld afgelewer word, ontvang die Getuies dikwels hulle tydskrifte vir verspreiding in hope, moontlik vier of vyf nommers tegelyk.” Is dit ook die geval in julle land? Wat kan dan gedoen word om hierdie uitdaging vir tydskrifverspreiding die hoof te bied? “Jy kan eksemplare van elke nommer in jou hande hou, die tydskrifte soos ’n waaier uitsprei, en dan die belangstellende nooi om die een te kies wat hy graag wil lees”, stel Ollie voor. “Hy sal gewoonlik almal neem.”

‘Bly geroer deur ’n goeie saak’

18. Watter aspekte van onlangse velddiensrapporte is besonder prysenswaardig, en waaraan kan ons meer aandag skenk?

18 Julle Koninkryksverkondigers het gehelp om die aantal intekeninge op albei tydskrifte dramaties te laat toeneem. Julle moet geprys word vir julle ywer om die goeie nuus op hierdie wyse te verkondig. Die toename in die getal tydskrifte wat versprei is, is ook prysenswaardig. Maar moontlik kan ons meer aandag skenk aan ons individuele verspreiding van die tydskrifte. Omdat gebied deegliker gedek word, het die getal tydskrifte per verkondiger afgeneem. Kan ons, aangesien ons diep in die tyd van die einde lewe, selfs meer ‘geroer raak deur die goeie saak’ van die Koninkryk deur middel van tydskrifwerk?—Psalm 45:1, NW; 1 Petrus 4:7.

19. Op watter twee maniere kan ons Koninkrykswaarheid voorstaan?

19 In Koninkryksprag ry Christus voorspoedig om sy Vader se heilige naam te regverdig en Sy universele soewereiniteit te verdedig (Openbaring 6:2). Laat ons ons tonge en die gedrukte woord gebruik om sy koms aan te kondig. Mag ons ons stemme lojaal saam met dié van die gesalfde wagterklas verhef wanneer hulle saam met Christus die waarheid oor God se opgerigte Messiaanse Koninkryk voorstaan. Ja, laat ons Die Wagtoring en Ontwaak!—tydskrifte wat ’n noodsaaklike rol vervul terwyl ons Koning ‘ter wille van waarheid ry’—wyd en syd versprei.—Psalm 45:5.

Onthou jy?

◻ Wat is die “goeie woorde” wat jou hart behoort te roer?

◻ Watter gevolge het Christus se ‘rit ter wille van waarheid’?

◻ Hoe dien Die Wagtoring en Ontwaak! “ter wille van waarheid”?

◻ Hoe kan ons meer aandag aan tydskrifwerk skenk?

[Venster/Prent op bladsy 18]

TYDSKRIFVERSPREIDING

Het jy die volgende probeer?—

◆ Getuieniswerk van huis tot huis

◆ Getuieniswerk op straat

◆ Getuieniswerk van winkel tot winkel

◆ Getuieniswerk op tydskrifroetes

◆ Getuieniswerk in die aand

◆ Wanneer die boekaanbod van die hand gewys word

◆ Tydens herbesoeke

◆ Wanneer voormalige Bybelstudente besoek word

◆ Terwyl jy reis of inkopies doen

◆ Wanneer jy met familielede, medewerknemers, bure, skoolmaats of onderwysers gesels

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel