Toon waardering vir die twee grootste liefdeblyke
“Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”—1 JOHANNES 4:19.
1. Watter voorbeeld het Jesus vir ons gestel?
WAT is die beste manier waarop ons ons waardering kan toon vir die groot liefde wat Jehovah God en Jesus Christus aan ons bewys het? ’n Belangrike manier is deur Jesus, wat onvermoeid van sy Vader se naam en Koninkryk getuig het, na te volg (1 Petrus 2:21). Hy het dit in huise, in sinagoges, in die tempel, teen berghange en op die seestrand gedoen. Kom ons bespreek nege maniere waarop ons dit kan doen.
Die huis-tot-huiswerk
2. Hoe kan jy in die huis-tot-huiswerk volhard?
2 Die eerste, en moontlik die vernaamste, manier waarop ons ons liefde en waardering kan toon, is deur met die goeie nuus van God se Koninkryk van huis tot huis te gaan. Dit verg groot vrymoedigheid, aangesien dit voortdurend regstreekse konfrontasies met ander behels, waarvan talle ons as ’n oorlas sal beskou. Dit verg opregte liefde vir God en vir ons naaste om aan te hou om van huis tot huis te gaan, hoewel ons onverskilligheid, ergerlikheid, minagting of regstreekse teenkanting teëkom.—Vergelyk Esegiël 3:7-9.
3. Watter Skriftuurlike grondslag is daar vir die huis-tot-huiswerk?
3 Die Evangelieverslag van Jesus se instruksies aan sy 12 apostels, en later aan die 70 evangeliste, toon duidelik dat hulle van huis tot huis moes gaan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Mattheüs 10:5-14; Lukas 10:1-7). In Handelinge 20:20 (NW) vertel Paulus hoe hy van huis tot huis gegaan het. Daar is al aangevoer dat hierdie woorde op sy herdersbesoeke slaan, maar Han 20 vers 21 laat geen twyfel oor die werk wat bedoel word nie, want Paulus voeg by: “Terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke”—nie by Christenbroers en -susters nie—“aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.” Wanneer ’n ouere man herdersbesoeke doen, lê hy gewoonlik nie nadruk op ‘die bekering tot God en die geloof in Jesus’ nie. Hy spoor mede-Christene eerder aan om groter waardering vir vergaderinge of die bediening te hê of hy help hulle met persoonlike probleme.
4. Wat spoor ons aan om aan die predikingswerk van huis tot huis deel te neem?
4 Daar is nie net ’n vaste Skriftuurlike grondslag vir ons werk van huis tot huis nie, maar die vrugte van daardie werk toon dat Jehovah dit seën. Ja, “die wysheid is geregverdig deur sy kinders”, of werke (Mattheüs 11:19). Diegene wat van huis tot huis gaan, het dikwels bewys gesien dat engele hulle na diegene lei wat honger en dors na geregtigheid. Die huisbewoner het gesê dat hy of sy om hulp gebid het en dat die Getuie se besoek ’n antwoord op daardie gebed is.
5. Watter uitstekende hulp het ons in ons huis-tot-huisbediening, en hoe kan dit ons help?
5 Wat ’n groot hulp vir die velddiens het ons tog nie in die boek Redenering uit die Skrif nie! Dit bevat talle interessante inleidings tot Bybelbesprekings asook nuttige inligting oor baie Skriftuurlike of godsdiensonderwerpe. Ons moet dit derhalwe nie net byderhand hê nie, maar voortdurend daarvan gebruik maak. Die pioniers in die besonder het groot waardering vir hierdie waardevolle velddienshulp uitgespreek. Kan jy jou waardering vir God se liefde toon deur hierdie boek in groter mate en op bekwamer wyse te gebruik?
6. Hoe trek ons persoonlik voordeel daaruit wanneer ons die Koninkryksboodskap van huis tot huis verkondig?
6 Ons moet nie oor die hoof sien dat ons self grootliks daarby baat kan vind as ons aan die bediening van huis tot huis deelneem nie. Wanneer ons as Christene ooreenkomstig ons geloof handel, word daardie geloof sterker; as ons met oortuiging spreek, versterk dit ons oortuiging. Ons kan nie vir ander van ons hoop vertel sonder dat óns hoop helderder word nie. Gereelde deelname aan die bediening van huis tot huis is die allerbeste manier om die vrugte van die gees, wat in Galasiërs 5:22 gemeld word, aan te kweek. Dit moet eenvoudig so wees, want die Bybel verseker ons: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.”—Spreuke 11:25.
Herbesoeke
7, 8. Om watter logiese en praktiese redes moet ons herbesoeke doen?
7 ’n Tweede manier waarop ons kan reageer op die liefde wat God en Christus aan ons betoon het, is deur herbesoeke te doen by persone wat belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het. Paulus en Barnabas was besorg oor diegene vir wie hulle gepreek het (Handelinge 15:36). Trouens, as ons konsekwent wil wees, moet ons herbesoeke doen. Terwyl ons van huis tot huis, informeel of op straat getuig, soek ons diegene wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” (Mattheüs 5:3, NW). Dit is hoegenaamd nie genoeg om hulle as’t ware een glas geestelike water of een stuk geestelike brood te gee nie. Hulle het verdere hulp nodig om die weg tot die lewe te betree.
8 Ons eerste pogings kan vergelyk word met die planting van waarheidsaad. Maar soos die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 3:6, 7 getoon het, is meer nodig. Dit was nie genoeg dat hy geplant het nie. Die saad het ook water nodig gehad, soos deur Apollos verskaf is. Dan kan daar verwag word dat God dit sal laat groei. Party skeep hierdie aspek van die werk af, en tog beskou baie dit eintlik as die maklikste aspek van die Christelike bediening. Waarom? Omdat die mense wat ons besoek, reeds belangstelling getoon het.
Tuisbybelstudies
9. Waarom moet dit jou doelwit wees om ’n tuisbybelstudie te hou?
9 Wanneer daar gereeld herbesoeke gedoen word by persone wat belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het, lei dit dikwels tot ’n tuisbybelstudie—’n derde manier waarop ons ons waardering kan toon. Dit kan werklik die aangenaamste en lonendste aspek van ons bediening wees. Waarom? Wel, watter vreugde verskaf dit tog om te sien hoe mense se kennis van en waardering vir Bybelwaarhede toeneem, om te sien hoe hulle veranderinge in hulle lewe aanbring en om hulle te help totdat hulle hulle toewy om God se wil te doen en gedoop word! Sulke persone kan werklik as ons geestelike kinders beskou word, en ons as hulle geestelike ouers.—Vergelyk 1 Korinthiërs 4:14, 15; 1 Petrus 5:13.
10. Watter tipiese voorbeeld toon die waarde van tuisbybelstudies?
10 Beskou ’n tipiese voorbeeld. ’n Sendeling wat op ’n Karibiese eiland van huis tot huis gegaan het, het ’n hippiepaar ontmoet wie se huis onnet en deurmekaar was. En tog het hulle belangstelling getoon. ’n Bybelstudiehulp is daar gelaat en ’n tuisbybelstudie is met die paar begin. Hulle was nie getroud nie, hoewel hulle etlike kinders gehad het. Namate die studie gevorder het, het die huis sowel as die paar en hulle kinders netjieser geword. Kort voor lank het die paar die sendeling gevra om hulle in die huwelik te bevestig sodat hulle gedoop kan word. Op ’n dag het die nuwe broer sy rybewys met groot vreugde getoon, die eerste een wat hy gekry het. Ja, voor hy een van Jehovah se Getuies geword het, het hy nie gedink dat dit nodig is om ’n huwelikslisensie of ’n rybewys te hê nie, maar nou het hy God se wette sowel as dié van die keiser gehoorsaam.
Getuieniswerk op straat
11, 12. (a) Watter Skriftuurlike aansporing het ons om aan die getuieniswerk op straat deel te neem? (b) Om watter redes doen ons dit?
11 ’n Vierde manier waarop ons ons waardering kan toon vir wat God en Christus gedoen het, is deur op straat te getuig. Wanneer ons dit doen, help ons om Spreuke 1:20, 21 op ’n enigsins letterlike manier te vervul: “Die wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, op die hoek van die rumoerige strate roep sy.”
12 Daar is talle goeie redes waarom ons gereeld aan hierdie aspek van die Koninkrykspredikingswerk moet deelneem. In party gebiede raak dit al hoe moeiliker om mense tuis te vind. Hulle is besig met die een of ander vorm van ontspanning, doen inkopies of werk. Baie mense woon ook in eksklusiewe woonstelgeboue, om nie te praat van die wat in hotelle bly nie. Maar daar is gewoonlik mense op straat.
13. Watter resultate kan getuieniswerk op straat hê? Lig dit toe.
13 ’n Ouere man in die Verenigde State hou tans vier tuisbybelstudies met persone wat hy aanvanklik in getuieniswerk op straat teëgekom het. Hy staan natuurlik nie net stil sonder om ’n woord te sê nie (hoewel dit al is wat die wet in sommige lande toelaat). Nee, hy nader mense wat staan, vir ’n bus wag of tydsaam stap eerder met ’n vriendelike glimlag en ’n opgewekte stem. Sy ‘woorde is aangenaam, met sout besprinkel’, en hy nader elkeen op oordeelkundige wyse (Kolossense 4:5, 6; 1 Petrus 3:15). Hy het nie net tuisbybelstudies deur sulke getuieniswerk op straat gekry nie, maar hy versprei ook baie lektuur. Ja, as jy netjies geklee is en ’n vriendelike glimlag sowel as vrymoedigheid het, kan jy groot welslae in die getuieniswerk op straat hê. Trouens, vyf Getuies het onlangs meer as 30 eksemplare van die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? in winkelsentrums versprei. Baie van die boeke is geneem deur mense wat in hulle motors gesit het.
Informele getuieniswerk
14. Waaruit blyk die waarde van informele getuieniswerk?
14 ’n Vyfde manier waarop ons waardering kan toon vir die groot liefde wat God en Christus aan ons betoon het, is deur informele getuieniswerk. Dit is dikwels baie doeltreffend, enersyds om persone te vind wat honger en dors na geregtigheid en andersyds om lektuur te versprei! Dit is beslis een manier waarop ons kan ag slaan op die raad in Efesiërs 5:15, 16, naamlik ‘om die tyd uit te koop’. ’n Sendeling het ’n gesprek met ’n medepassasier in ’n taxi aangeknoop. Die man het belangstelling getoon. Herbesoeke is gedoen en ’n Bybelstudie is begin. Daardie man is vandag ’n Christen- ouere man. Elders het ’n ouere man ’n gesprek met ’n vrou aangeknoop wat blykbaar besig was om haar godsdiens te verander om met ’n Jood te trou. Sy wou weet wie eerste gelewe het, Moses, Noag, Dawid, ensovoorts. Hy het vir haar gesê dat sy die Bybelverhale-boek nodig het, wat Bybelgebeure in chronologiese volgorde bespreek. Hoewel sy hom glad nie geken het nie, het sy haar naam, adres en die nodige bydrae geredelik vir hom gegee sodat hy die boek vir haar kon pos.
15. Wat sal ons help om wakker te wees vir geleenthede om informeel te getuig?
15 Soms huiwer ons dalk om ’n gesprek met ’n medereisiger aan te knoop omdat ons bang is ons word afgejak. Maar hoe dikwels word ons tog ryklik beloon as ons die moed bymekaarskraap om dit te doen! As ons God se goedheid waardeer en mense se behoefte besef, sal dit ons help om die nodige moed aan die dag te lê. Ja, onthou dat God “ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee [het] nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”.—2 Timotheüs 1:7.
Verwelkom vreemdelinge
16. Waarom moet ons op die uitkyk wees na vreemdelinge wat ons Koninkryksaal besoek?
16 ’n Sesde manier waarop ons ons dankbaarheid teenoor God en Christus kan toon, is deur vreemdelinge wat na ons Koninkryksaal kom te verwelkom. Naasteliefde sal ons beweeg om op die uitkyk te wees na enige vreemdeling wat ons plek van aanbidding besoek. Ons moet probeer om hom tuis te laat voel, om te voel dat hy tussen vriende is wat opreg in sy geestelike welsyn belangstel. Hy het heel waarskynlik nie net uit blote nuuskierigheid soontoe gekom nie. Hy honger en dors dalk werklik na geregtigheid. Ons opregte besorgdheid oor hom kan daartoe lei dat ons ’n tuis bybelstudie begin en hom help om die weg tot die lewe te betree (Mattheüs 5:3, 6; 7:13, 14). Trouens, dit is presies wat dikwels gebeur. ’n Sendeling van die eerste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het gesê dat sy twee belowendste Bybelstudente persone was wat hy by die Koninkryksaal ontmoet het.
Getuienis per brief
17. Watter resultate kan getuieniswerk per brief hê?
17 ’n Sewende manier waarop ons kan getuig, uit waardering vir die liefde wat God en Christus aan ons betoon het, is om briewe te skryf. Diegene wat op hierdie manier getuig, ontvang dikwels uiters waarderende briewe in antwoord op hulle s’n. Hierdie metode word gebruik deur party voltydse bedienaars wat miskien weens liggaamlike ongesteldheid ’n ruk lank nie van huis tot huis kan gaan nie. Daar was byvoorbeeld ’n gesin met 12 kinders. Eendag het die vader tuisgekom en gevind dat ’n jong man wat by een van sy dogters gekuier het vyf van die kinders koelbloedig geskiet het. Hy het tevergeefs vertroosting by die Christendom se geestelikes gesoek. Toe het hy eendag ’n brief en ’n Waarheid-boek van ’n vreemdeling ontvang, ’n Getuie wat in die koerant van sy tragedie gelees het en hom wou vertroos. Dit was presies waarna die man gesoek het. Hy is vandag ook ’n ywerige Getuie.a
Telefoonoproepe
18, 19. Watter ander metode het party doeltreffend gevind om die goeie nuus te verkondig, en waarom?
18 ’n Agtste getuienismetode wat gemeld kan word, is die geleentheid om die goeie nuus van die Koninkryk per telefoon te verkondig. Dit blyk al hoe meer ’n aangename en doeltreffende manier te wees om te getuig. Meer en meer Getuies raak bekwaam in hierdie aspek van die bediening, waarmee veel bereik word. Daardeur kom ons in aanraking met party mense wat ons nie in die huis-tot-huiswerk kan bereik nie. Party het gevind dat, wanneer getuieniswerk per telefoon op ’n oordeelkundige, vriendelike en taktvolle wyse gedoen word, die reaksie selfs gunstiger is as wanneer sulke persone by hulle huise besoek word.
19 ’n Japannese gemeente in ’n Engelssprekende land gebruik die telefoonboek as deel van hulle gebied. Die verkondigers bel mense met Japannese name en tref reëlings om hulle persoonlik te besoek as hulle belangstelling toon. Hulle het letterlik tientalle studies op hierdie manier begin.
Getuienis deur goeie gedrag
20, 21. Watter goeie uitwerking kan ons gedrag hê? Lig dit toe.
20 ’n Negende manier waarop ons God kan verheerlik, is deur ons goeie gedrag. ’n Russiese joernalis het eenkeer gesê dat ons goeie gedrag ons beste preek is. Trouens, die pers lewer herhaaldelik kommentaar oor die hoë sedelike gedrag van Jehovah se Getuies. Een berig het gelui: “Jehovah se Getuies is kenlik die eerlikste mense in die Bondsrepubliek van Duitsland.” ’n Getuiemeisie het aan die begin van die skoolkwartaal die Skool-brosjure vir haar onderwyser geneem. Hy het dit botweg geweier en gesê dat hy niks met die Getuies te doen wil hê nie. Maar haar goeie gedrag het daartoe gelei dat hy haar later groot lof toegeswaai het en sy gesindheid teenoor die Getuies heeltemal verander het. Ewe veelseggend is die brief wat Getuie-ouers van hulle kinders se onderwyser ontvang het: “Julle kinders is die onbetwisbare bewys van die sukses van julle opvattinge.”
21 Wanneer mense in die wêreld iets goeds oor Jehovah se Getuies sê, strek dit God en Christus uiteraard tot eer. Dit is hoe dit moet wees. Het Jesus nie gesê dat ons ons lig moet laat skyn sodat mense ons goeie werke kan sien en ons hemelse Vader kan verheerlik nie? (Mattheüs 5:16). Ons kan voorwaar die waarheid versier deur ons goeie gedrag (Titus 2:10). Die feit dat ons goeie gedrag God en Christus tot eer strek en ander help om die weg tot die lewe te betree, is gewis vir ons ’n kragtige rede om uiters gesteld daarop te wees dat ons gedrag te alle tye onberispelik is.
22. Op watter maniere gaan jy jou daarop toelê om waardering te toon, en waarom?
22 Soos ons gesien het, is daar talle maniere waarop ons ons waardering kan toon vir alles wat Jehovah en Jesus Christus vir ons gedoen het, veral wat hulle groot liefdeblyke betref. Terselfdertyd kan ons ons naasteliefde bewys.—Markus 12:30, 31.
23. Hoe nog kan jy jou waardering teenoor God en Jesus toon?
23 Laat ons ten slotte daarop wys dat ons ons waardering vir die twee grootste liefdeblyke kan toon deur die Here se Aandmaal te vier. Op sy laaste aand as mens op die aarde het Jesus ’n jaarlikse gedenkmaal van brood en wyn, wat sy vlees en sy bloed afbeeld, ingestel. Hy het beveel dat hierdie gedenkmaal ter gedagtenis aan hom gehou moet word (1 Korinthiërs 11:23-26). Die Here se Aandmaal val vanjaar op Sondag, 12 April, na sononder. Jehovah se Getuies sal dwarsoor die aarde bymekaarkom in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag. Moet dit nie misloop nie!
[Voetnoot]
a Kyk Ontwaak! van 22 Oktober 1986, bladsye 12-16, vir besonderhede.
Vrae ter hersiening
◻ Hoe en waar het Jesus getuig?
◻ Op watter maniere kan ons Jesus navolg om waardering te toon vir God se groot liefde?