Uit die mond van ’n kind
DIE OUERS van Mia, ’n driejarige dogtertjie, was lidmate van die Nederduits Gereformeerde Kerk. Hulle het na iemand gesoek om Mia op te pas terwyl hulle by die werk is. ’n Getuie was gewillig, maar sy het vir die ouers gesê dat sy elke dag haar eie kinders uit die Bybel leer. Die ouers het ingestem dat Mia hierby ingesluit kon word. Mia het van Jehovah se beloofde Paradys geleer en het gehou van wat sy geleer het. Toe sy vier was, het sy geweier om ’n kerktroue by te woon en gesê: “Pappa, dis Babilon die Grote.”
Toe sy ses was, het die predikant haar gevra aan watter kerk sy behoort. Sy het gesê: “Jehovah se Getuies.” “En jou ouers?” “Hulle is nog NG, maar hulle sal een van die dae Jehovah se Getuies word.” Die predikant het driftig geantwoord: “Jy moet my mense uitlos!”
Mia is vandag sewe jaar oud en is bly dat sy op driejarige leeftyd in die waarheid gekom het. Haar ouers het die begeerte uitgespreek om gedoop te word.