’n Profetiese reus—Wat sal sy val beteken?
WAT het Nebukadnesar, die magtige Babiloniese heerser, meer as 2 500 jaar gelede in sy slaap gesien? Sou hy, as hy kon onthou nadat hy wakker geword het, geweet het dat hy in ’n enkele beeld ’n samevatting van die wêreld se toekoms gesien het?
Toe hy wakker word, het koning Nebukadnesar van die Babiloniese Ryk sy waarsêers en wyse manne laat roep. Hy wou hê dat hulle hom aan sy droom herinner en dit uitlê.
Maar wie kan iets uitlê wat hy nie weet nie? Die wyse manne was uit die veld geslaan. Maar Jehovah het die Joodse banneling Daniël in staat gestel om die droom te herroep en uit te lê en die koning sodoende van toekomstige gebeure te verwittig. Kom ons ondersoek Daniël se uitlegging van hierdie droom, aangesien dit ons tyd raak.
’n Geheimsinnige beeld
Daniël begin deur ’n yslike beeld met ’n hoof van goud, bors en arms van silwer, buik en lendene van koper, bene van yster en voete van yster en klei te beskryf. ’n Klip tref die voete van die beeld en vernietig dan die hele beeld. Daarna groei die klip tot ’n rots wat die hele aarde vul (Daniël 2:31-35). Dit was die koning se vergete droom! Wat het dit alles beteken?
Daniël vertel die koning dat die dele van die beeld opeenvolgende wêreldmagte afbeeld. Talle godsdiensgeleerdes is dit eens met een Bybelensiklopedie, wat sê: “Die sentrale waarheid van (Daniël hoofstuk 2) is dat die koninkryk van God eendag alle menseryke sal vervang.” Wanneer sal daardie dag aanbreek? Daniël se profesie bevat belangrike informasie in verband met daardie vraag.
Die hoof en die liggaam
“U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, . . . ú is die hoof van goud.” Die hoof was dus koning Nebukadnesar en die koningslyn wat met hom begin het.—Daniël 2:37, 38.
“Ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers” (Daniël 2:39). Na Babilon het die Medo-Persiese Ryk die oorheersende wêreldmag in Bybelgeskiedenis geword. Dit is gevolg deur die Griekse Ryk, wat onder Alexander die Grote sy oorheersing uitgebrei het oor ’n veel groter gebied as dié van enige vorige wêreldryk.
“Die vierde koninkryk”—sleutel tot die geheim
Die eerste drie koninkryke het as groot wêreldmagte verskyn en toe van die toneel verdwyn, net soos Daniël onder goddelike inspirasie voorspel het. Maar vir ons is dit belangriker om “die vierde koninkryk” te identifiseer. Waarom? Omdat dit gedurende die tyd van hierdie koninkryk is dat die droombeeld moet val, en ons moet weet wat sy val beteken. Luister terwyl Daniël verdere inligting verstrek.
“Die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis” (Daniël 2:40). Stel hierdie vierde koninkryk net die Romeinse Ryk voor, wat Griekeland as die oorheersende wêreldmag opgevolg het? Nee, om verskeie redes.
Die boek Daniël self gee ons die tydsbestek van hierdie beeld, want daar is gesê: “[God] het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur” (Daniël 2:28). Hierdie woorde dui aan dat die finale vervulling van die gesig in die verre toekoms sou plaasvind, ná die tyd van die Griekse en die Romeinse ryk.
Die apostel Johannes, ’n ander Bybelskrywer, het ook van “konings”, of wêreldmagte, melding gemaak. Aangaande hulle het hy geskryf: “Hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie.” Voordat God se Koninkryk ingryp, moes daar nog een wêreldmag kom (ná die Romeinse Ryk, wat in Johannes se dag ‘was’). Daardie wêreldmag sou ook in “die vierde koninkryk” van Daniël se profesie ingesluit wees (Openbaring 17:10-14; Daniël 2:40). Wat leer die geskiedenis ons in hierdie verband?
Die Romeinse Wêreldmag, wat deur militêre oorwinnings tot stand gekom het, het nie geëindig toe die laaste keiser in Rome in 476 G. J. deur die Germaanse leier Odoaker onttroon is nie. Rome het nog eeue lank politieke, en veral godsdienstige, heerskappy oor Europa uitgeoefen as gevolg van die feodale stelsel wat almal onderhorig gemaak het eers aan hul heer, dan aan die koning en uiteindelik aan die pous. Die pous het inderdaad as die hof van laaste instansie oor belangrike sake beslis, en hy kon konings aan sy wil onderwerp deur ekskommunikasie en deur interdik.a Soos The Columbia History of the World sê: “Die kerk was Europa se grootste regering.”
In 1534 het koning Hendrik VIII van Engeland homself tot hoof van die Anglikaanse Kerk uitgeroep, onafhanklik van Rome. So het hy hierdie oorheersing verbreek. Maar hy het ook begin om die belangrikste militêre instrument van die Britse ryk te smee, soos Eric Delderfield in sy boek Kings and Queens of England sê: “Hendrik het sy vader se werk voortgesit om ’n doeltreffende Vloot op te bou. . . . Gedurende sy lewe het Hendrik sowat tagtig skepe by die Vloot gevoeg en so begin om Spanje se oppermag ter see uit te daag.”
In die loop van die eeue het die Britse mag ’n ontsaglike ryk geword wat deur Daniël Webster, ’n beroemde 19de-eeuse Amerikaanse politikus, beskryf is as “’n mag waarmee, wat buitelandse verowering en onderwerping betref, Rome op die kruin van sy glorie nie vergelyk kan word nie,—’n mag wat sy besittings en militêre poste oor die lengte en breedte van die aarde uitgebrei het”. Die Britse Ryk het weldra noue politieke en militêre bande met sy voormalige kolonies in Noord-Amerika gehad. So het die sewende koning van Openbaring 17:10 verskyn, die Anglo-Amerikaanse Tweeledige Wêreldmag.
Volgens die beskrywing van die droombeeld sou “die nageslag van die mense”, of die gewone mense, gedurende die tyd van hierdie laaste “koning” ’n groter rol in staatsbestuur speel (Daniël 2:42, 43, vgl. NW). Eietydse geskiedenis bevestig dat dit inderdaad gebeur het, met demokrasieë of ‘volksregerings’ wat baie konings, koninginne en ander outokratiese magte vervang het. Onder die hedendaagse regerings, wat deur die tien tone van die beeld voorgestel word, is sommige soos yster, dit wil sê, outoritêr of tiranniek. Maar ander is sosialistiese of demokratiese heerskappye en derhalwe smeebaarder, soos klei.
Die val
Soos Daniël se profesie aandui, sal die einde van die groot beeld naby wees wanneer die regerings wat deur die voete voorgestel word aan die bewind is—en dit beteken in ons tyd. Dit sal val, nie weens die swakheid van die voete van yster gemeng met klei nie, maar omdat dit deur ’n simboliese klip getref en vergruis word. Wat word deur daardie “klip” voorgestel? Die Messiaanse Koninkryk wat ‘al daardie koninkryke sal verbrysel en daar ’n einde aan sal maak’ en ‘’n groot rots sal word wat die hele aarde vul’.—Daniël 2:34, 35, 44.b
“Die droom is waar en sy uitlegging betroubaar”, het Daniël gesê (Daniël 2:45). Die eerste vervullings van hierdie twee profesieë—een oor die vernietiging van Babilon en die ander oor die opeenvolging van wêreldmagte—verseker ons dat die oorblywende profesieë op tyd vervul sal word. Dit sal die vernietiging van die profetiese droombeeld deur die ingryping van God se Koninkryk insluit.
Ander Bybelboeke bevat lewensbelangrike profesieë oor God se voornemens. Die Wagtoring bespreek, nommer vir nommer, talle van hierdie profesieë en verduidelik hulle betekenis vir ons tyd. Ons spoor jou dus aan om ’n gereelde leser van hierdie blad te word, indien jy dit nog nie is nie. So kan jy meer leer van Jehovah God, die Een “wat geheime openbaar”, en van die tallose seëninge wat sy Koninkryk spoedig vir die aarde sal bring.—Daniël 2:28.
[Voetnote]
a Wanneer ’n interdik toegepas is, mag daar geen Misse, geen huwelike en selfs geen kerklike begrafnisse in die betrokke gebied gewees het nie.
b Die drie voorgaande nommers van Die Wagtoring het ingegaan op ander bewyse dat ons aan “die einde van die dae” lewe wanneer die droombeeld vernietig gaan word.
[Prent op bladsy 7]