Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 11/1 bl. 26-31
  • Gesinsprobleme opgelos deur Bybelraad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gesinsprobleme opgelos deur Bybelraad
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Medelye’ onontbeerlik
  • Beskerm jou kind se hart
  • Toon “praktiese wysheid”
  • Vertrou op Jehovah
  • Toesig oor kinders—’n gebalanseerde beskouing
    Ontwaak!—1997
  • Toesig oor kinders—godsdiens en die wet
    Ontwaak!—1997
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
  • Hoe moet ek my ouer behandel wat die huis verlaat het?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 11/1 bl. 26-31

Gesinsprobleme opgelos deur Bybelraad

1, 2. (a) Wat is sommige van die oorsake van ontwrigte gesinne? (b) Waarom moet almal besorg wees oor die probleme van ontwrigte gesinne? (1 Korinthiërs 12:26).

“VROUE [verkies] om geskei te word, kinders om onterf te word, . . . eerder as om ontrou te wees aan Christus”, het Arnobius, ’n verklaarde Christen van die vierde eeu, geskryf.a Ja, selfs in daardie tyd het bittere godsdiensvervolging deur ongelowiges gesinne uitmekaar gedryf. Jesus het gesê dat die wat gesinslede ‘bo hom liefhet’ hom nie waardig is nie. Gevolglik sou daar ’n “swaard” wees wat verdeeldheid veroorsaak in sommige huisgesinne omdat die gelowige sy gesin, “ja, selfs ook sy eie lewe”, minder liefhet (Mattheüs 10:34-37; Lukas 14:26). Sulke verdeeldheid in gesinne kom tot vandag toe voor.

2 Hoewel die Christen alles in sy vermoë kan doen om die gesin bymekaar te hou, is sommige ongelowige huweliksmaats eenvoudig nie geneë om met die Christen saam te lewe nie, en dit lei tot ’n geregtelike skeiding of ’n egskeiding (1 Korinthiërs 7:12-16). Gesinne word ook ontwrig omdat mense se liefde vir God en sy wette, met inbegrip van sy wette oor die huwelik, gedurende “die voleinding van die wêreld” “verkoel” (Mattheüs 19:6, 9; 24:3, 12). In die Verenigde State het die egskeidingsyfer net tussen 1960 en 1980 met 236 persent gestyg! Omdat ongeveer drie uit vyf geskeide pare in die Verenigde State kinders het, het die lede van gebroke gesinne met ingewikkelde probleme te kampe. Gewoonlik verbeter mense se gesinslewe wanneer hulle die waarheid uit God se Woord leer, maar sommige was reeds geskei toe hulle getuies van Jehovah geword het. Soms loop selfs die huwelik van ’n Christen op egskeiding uit omdat hy nie tuis Bybelbeginsels streng toegepas het nie (Johannes 13:17). Wat kan Christenouers in hierdie omstandighede doen om hulle kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet?

‘Medelye’ onontbeerlik

3. Watter lyding word deur egskeiding veroorsaak?

3 In Maleagi se dag het sekere Israelitiese mans verraderlik van hulle vrouens geskei. Die “geween en versugting” van hierdie verworpe vroue terwyl hulle God om hulp geroep het, het as ’t ware ‘die altaar van Jehovah met trane bedek’ (Maleagi 2:13-16). Die ontbinding van ’n huwelik is vandag net so pynlik, al is daar vaste Skriftuurlike grond daarvoor. Hoewel die man en die vrou daaronder ly, ly die kinders dikwels meer.

4. (a) In watter opsigte ly kinders wanneer hulle ouers skei? (b) Hoe kan ’n ouer die kind help?

4 Al bring die egskeiding ook verligting van mishandeling, is dit soms asof die kind se hele wêreld inmekaartuimel. Daarom moet ’n gelowige ouer in hierdie omstandighede buitengewone liefde en begrip aan die dag lê. “Ek was altyd in die middel. Ek het verdeeld gevoel”, het ’n seun verduidelik wie se Christenvader ’n Skriftuurlike egskeiding verkry het toe die seun vyf was. “Ek het my ware gevoelens verberg. Dit het by tye neerslagtigheid veroorsaak.” ’n Ouer het ‘medelye’ en “ontferming” nodig om ’n kind te help om sulke intense emosies te verwerk (1 Petrus 3:8). Die kind swyg miskien omdat hy dink dat hy skuld het aan die egskeiding. ’n Ouer moet geduldig verduidelik dat hy die kind liefhet en dat die egskeiding nie die kind se skuld is nie.

5. Waarom moet ’n Christenouer probeer om vyandigheid met die gewese huweliksmaat te beëindig?

5 Groot bitterheid kan tussen ouers ontstaan, veral wanneer godsdiensgeskille by die saak betrokke is. Maar pleks van “kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde” te vergeld, moet die gelowige ouer aan die welsyn van die kind dink (1 Petrus 3:9). In haar boek Growing Up Divorced sê Linda Francke: “Ouers wat mekaar vyandig gesind is, maak hierdie kinders se probleme baie erger en selfs vernietigend. Uit vrees dat hy een van sy ouers sal vervreem, kan die kind hom weerhou van positiewe verhoudings met albei ouers.” Ja, “bittere afguns en selfsug” is nie net verkeerd nie, maar kan die kind selfs van jou vervreem (Jakobus 3:14, 16). Onbedagsame woorde-aanvalle op ’n ongelowige ouer kan ’n kind diep seermaak (Spreuke 12:18). As ’n ongelowige gewese huweliksmaat die rusie wil voortsit, moet jy as gelowige, ‘sover dit van jou afhang, in vrede met alle mense leef’.​—Romeine 12:18-21.

Beskerm jou kind se hart

6. Watter probleem kan sommige ouers hê nadat daar beslis is wie toesig oor die kinders sal hê?

6 Nadat beslis is wie toesig en beheer oor die kinders sal hê, kan daar nog probleme wees om op te los. “Een van die groot probleme”, sê ’n verslag van die Wagtoringgenootskap se tak in Australië, “is dat die ouer wat toesig oor die kind gekry het geneig is om te ontspan . . . Selfs ’n ouer in die waarheid kan die basiese rede waarom hy of sy toesig oor die kinders wil hê uit die oog verloor. Die hoofrede moet wees om hulle as ware aanbidders van Jehovah groot te maak.” En dit verg voortdurende inspanning.​—Efesiërs 6:4.

7. (a) Waarom moet ’n kind geleer word om die ongelowige ouer te respekteer? (b) Hoe kan jy met ’n kind redeneer as die ongelowige hom aan onchristelike gedrag skuldig maak?

7 ’n Geregshof staan natuurlik dikwels besoekregte toe aan die ouer wat nie meer toesig oor die kind het nie. Kan ’n mens hierdie reëling eerbiedig terwyl jy steeds die kind se hart beskerm? Ja, en die kind behoort die nodige respek teenoor ’n ongelowige ouer te toon. As die ongelowige ouer hom tydens die besoek aan onchristelike gedrag skuldig maak, kan die gelowige, pleks van haat te wek deur daardie ouer te veroordeel, aan die kind verduidelik dat God gedragstandaarde in die Bybel gestel het en dat “elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” omdat hy die groot Regter is (Romeine 14:12). Stel dit egter duidelik dat die kind nie sulke gedrag moet navolg nie. Verduidelik taktvol dat, hoewel sommige mense nie volgens hierdie standaarde lewe nie, baie van hulle later verander omdat hulle die Christelike voorbeeld van die kind en die gewese huweliksmaat sien. Sodoende kan die kind ’n mate van respek vir daardie ouer hê. ’n Geskeide paar se verskille oor godsdiens moet nie verhinder dat ’n ouer ’n positiewe invloed op die kind het nie. Die Christenouer sal ‘sy of haar redelikheid aan alle mense bekend laat word’ (Filippense 4:5, NW). Maar wat kan gedoen word as die ongelowige godvrugtige opleiding probeer ondermyn?

8. Hoe het twee ouers hulle kinders vir besoeke aan opponerende gewese huweliksmaats voorberei?

8 Voorbereiding vir die besoeke is die sleutel! Een Christenmoeder wie se gewese man afvallig geraak het, het berig: “Voor die besoek het ek met die kinders studie gehou oor hoe Jehovah hulle gedrag sal beskou. Ons het situasies gerepeteer. Ek het gevra: ‘Hoe sal julle antwoord as julle pa dit of dat sê?’” ’n Ander Christin wat geskei is omdat sy ’n Getuie geword het, voeg by: “Voor [my twee tienderjarige kinders] hulle vader oor ’n naweek gaan besoek, bid ons saam en vra ons dat Jehovah met hulle sal wees en hulle sal help om vir hulle pa te getuig, veral deur hulle goeie gedrag.”

9. Hoe kan Christenouers die voorbeeld van Moses se moeder navolg?

9 ’n Ongelowige ouer met besoekregte sal dalk probeer om die kind se guns te wen met rojale geskenke, duur vermaak en ander genietinge. Jogebed, die moeder van Moses, (en Amram as hy nog gelewe het) het geweet waarvoor Moses te staan sou kom nadat hy aan Farao se dogter oorhandig is. Sy het ongetwyfeld haar bes gedoen om sy waardebegrip te vorm terwyl hy nog by haar was (Exodus 2:1-10). Ondanks die versoeking wat die “skatte van Egipte” ingehou het, het Moses self besluit om volgens godvrugtige beginsels te lewe. Hy het sy geestelike voorregte “groter rykdom geag”! (Hebreërs 11:23-26). Christenouers moet hulle kinders eweneens help om sulke versoekings te weerstaan deur Skriftuurlike materiaal oor die waarde van geestelike skatte met hulle te bespreek.b Kinders onderskei dikwels die deurskynende motief van ’n ouer wat hulle liefde probeer koop.​—Spreuke 15:16, 17.

10. Watter faktore moet ’n ouer in ’n uiterste situasie in aanmerking neem?

10 In sekere uiterste gevalle kan sulke besoeke ’n ernstige bedreiging vir die kind inhou. ’n Ouer moet besluit wat hom in sulke omstandighede te doen staan. Hy moet die erns van die bedreiging, die geregtelike stappe wat moontlik is en die moontlike gevolge indien hy sou weier om besoekregte te eerbiedig, biddend oorweeg.c Vermy oorhaastige optrede wat twyfel kan wek oor jou geskiktheid as ouer.​—Galasiërs 6:5; Romeine 13:1; Handelinge 5:29; 1 Petrus 2:19, 20.

Toon “praktiese wysheid”

11. Wat moet ’n Christenouer besef indien hy of sy toesig oor die kinders verloor?

11 Gestel dit is die Christenouer wat slegs besoekregte het. Wat dan? As die kind nie meer in die Christenhuis is nie, het daardie ouer min geestelike beheer oor die kind (1 Korinthiërs 7:14). Die getroue aartsvader Abraham sou waarskynlik daarop aangedring het dat sy seun Ismael, soos Isak, met ’n medeaanbidder trou. Maar nadat Ismael, wat nog ’n tienderjarige was, en sy moeder Hagar uit die gesin weggestuur is, kon Abraham nie verhoed dat Hagar vir Ismael ’n huwelik reël met ’n Egiptiese vrou wat klaarblyklik nie ’n aanbidder van Jehovah was nie.​—Genesis 21:14, 21; 24:1-4.

12. (a) Watter positiewe optrede is moontlik vir ’n Christenouer wat nie toesig oor sy kinders het nie? (b) Lig toe hoe ’n Christenouer met welslae wysheid kan gebruik.

12 Ondanks beperkte geleenthede kan ’n Christenouer wat nie toesig oor sy kind het nie baie doen om innige liefde vir Jehovah by die kind in te skerp. Om dit te doen, moet die ouer ‘praktiese wysheid en denkvermoë beveilig’ (Spreuke 3:21, NW). Ja, meer as kragtige inspanning is nodig. “As die yster stomp geword het, en ’n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy die kragte meer inspan [en nogtans weinig bereik]; maar wysheid is voordelig om iets te laat beantwoord” (Prediker 10:10). Miskien maak die ongelowige soms verskonings om toegang tot die kind te verhinder. In plaas van dadelik ’n geskil daarvan te maak, sal ’n ouer dalk beter resultate behaal deur Spreuke 25:15 toe te pas: “Deur lankmoedigheid word ’n vors oorgehaal, en ’n sagte tong verbreek die gebeente.” Hoewel dit nie maklik is om geduld en sagmoedigheid te toon wanneer ’n mens met onbillike beperkings te doen het nie, kan hierdie eienskappe selfs iemand laat versag wat so hard soos been is in sy teenstand. (Vergelyk 2 Timotheüs 2:23-25.) Argumente kan dikwels vermy word deur stip op tyd te wees en die voorskrifte van die toesighoudende ouer oor die versorging van die kind te volg (mits dit nie in stryd met die Skrif is nie). As jy bekommerd is dat die ongelowige neerhalende aanmerkings oor jou teenoor die kind maak, kan jy 1 Petrus 2:15 (NAV) in gedagte hou: “Deur goed te doen, [sal julle] ’n einde . . . maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Indien jy ’n goeie voorbeeld stel, sal die kind sien wie reg het.​—Spreuke 20:7.

13. Hoe kan ’n gelowige ouer ’n besoek waarlik voordelig maak?

13 Gedurende die besoeke moet jy probeer om die Woord van God in die kind se hart in te skerp deur, waar moontlik, persoonlik geestelike materiaal met hom te bestudeer en hom na gemeentelike vergaderinge te neem. Selfs as daar streng regsbeperkings is, kan die ouer informeel van God se skeppingswerke melding maak en die kind op ander maniere help om God lief te hê (Romeine 1:19, 20; Mattheüs 6:28-30). Jesus het die beperkinge van sy toehoorders in aanmerking geneem. Hy het “die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan” (Markus 4:33, 34). Buiten die bespreking van ernstige, geestelike sake moet julle dus aan ander opbouende bedrywighede deelneem, soos om goeie vriende te besoek, waarvan sommige van die kind se ouderdom is (Spreuke 13:20). Geniet gesonde vermaak saam. Maak die besoek ’n kosbare geleentheid. Redelike dissipline toon liefde (Spreuke 13:24). Maar soms lyk die probleme oorweldigend. Daar is druk uit talle oorde. Hoe kan ’n mens dit alles verduur?

Vertrou op Jehovah

14. Watter versekering vind ons in Psalm 37:23, 24?

14 Dawid het die volgende geskryf oor die mens in wie se lewenswandel Jehovah “’n welbehae” het: “As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand” (Psalms 37:23, 24). Ja, ’n Christen wat gebuk gaan onder die las van ’n ontwrigte gesin kan soms “val” in die sin dat hy met frustrasies, teleurstellings en regs- of geldelike terugslae te kampe het, maar hy sal nie geestelik heeltemal ‘neerstort’ nie. Soos die Nuwe Afrikaanse Vertaling dit stel: “As so iemand val, bly hy nie lê nie.” Waarom nie? Omdat Jehovah sy hand uitsteek en hom deur middel van sy heilige gees en sy liefdevolle aanbidders ophelp.​—Jakobus 1:27.

15, 16. Hoe is sommige in ontwrigte gesinne onderskraag?

15 Nadat haar opponerende gewese man toesig oor haar twee jong kinders gekry het, het een Christin gesê: “Toe sake heeltemal uit my hande geneem is, het ek geleer om werklik op Jehovah te vertrou. Ek het geleer om te aanvaar wat hy toelaat en om nie eiesinnig op te tree nie. Ek leer nog steeds. Dit is ’n swaar les.” Maar sy maak ten volle gebruik van haar besoekregte en het vertroosting gekry van haar nuwe man, ’n getroue Christen- ouere man, asook van ander in die gemeente.

16 ’n Ander Christin wie se afvallige gewese man die kinders etlike maande by hom gehou het in weerwil van die hof se beslissing, het gesê: “Ek was so terneergedruk dat ek gedink het ek gaan ineenstort. Die een ding wat my gedurende daardie tydperk gehelp het om nie my verstand te verloor nie, was om besig te bly in die veldbediening.” Haar dogter, wat toe sewe was, het vasgestaan vir Jehovah hoewel sy verskeie kere deur haar vader geslaan is omdat sy nie sy afvallige lektuur wou lees nie. Toe sy na haar moeder teruggekeer het, was sy vasbeslote om selfs getrouer aan Jehovah te wees. Hierdie en ander getroue knegte het die vervulling van Psalm 54:4-9 gesien: “o God, hoor my gebed, . . . Kyk, God is my helper. Dit is die HERE wat my siel ondersteun . . . want [hy] het my uit alle benoudheid gered.” Ja, ons kan op Jehovah se ondersteuning reken!​—1 Korinthiërs 10:13.

17. Hoe kan ouers in ontwrigte gesinne hulle kinders help, met watter moontlike beloning?

17 As jy ’n ouer in ’n ontwrigte gesin is, moet jy dus sensitief wees vir jou kind se gevoelens. Versterk sy of haar hart met God se Woord. As jy net besoekregte het, moet jy “praktiese wysheid” aan die dag lê en jou besoeke ten volle benut. Stel vertroue in die krag van God se Woord wanneer dit in ’n ontvanklike hart geplant word (1 Thessalonicense 2:13). Al daardie inspanning word ryklik beloon wanneer jy sien hoe ’n kind Jehovah liefkry.

[Voetnote]

a Adversus Gentes, (Teen die heiden), Boek II, 5.

b Kyk “Die jeug se grootste geleentheid” in ons nommer van 15 Augustus 1985, sowel as “Hoe beskou jy materiële besittings?” in die boek Jou jeug​—Hoe om dit ten beste te benut, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

c Die Uniform Marriage and Divorce Act in die Verenigde State bepaal: “’n Ouer wat nie toesig oor die kind het nie, is geregtig op redelike besoekregte tensy die hof, nadat hy die saak aangehoor het, bevind dat besoeke gevaar inhou vir die kind se liggaamlike gesondheid of dat dit sy emosionele ontwikkeling ernstig sal belemmer.”

Onthou jy?

◻ Hoe kan die toesighoudende Christenouer die kind se hart beskerm?

◻ Hoe sal “praktiese wysheid” ’n gelowige ouer help wat net besoekregte het?

◻ Watter versekering word in Psalm 37:23, 24 gegee, en hoe vervul Jehovah hierdie belofte?

[Prent op bladsy 29]

Gebruik besoekregte om die waarheid in jou kind se hart in te skerp, maar kombineer dit met ander heilsame bedrywighede

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel