Die wêreldmagstryd—Wie gaan wen?
“DIE Russe se hoofdoel is om ons te dwing om die S.D.I. [Strategiese Verdedigingsinisiatief (“Star Wars”)] te laat vaar. Ek dink . . . mnr. Gorbatsjof besef dat ons geensins van plan is om dit te doen nie.” So het president Reagan van die V.S.A. ná die Geneefse beraad in November 1985 gesê.
Soos jy weet, het die wedywer tussen hierdie supermoondhede voortgeduur in die jaar wat sedertdien verloop het. Maar daar is baie nasies wat hulle tot hierdie moondhede verbind het of hulle simpatiek gesind is; hierdie nasies maak die Ooste (hoofsaaklik kommunistiese groep) en die Weste (merendeels kapitalistiese groep) uit. Dit maak dit ’n wêreldmagstryd. Jy is dus daarby betrokke. Bowendien hou die wapenwedloop die bedreiging van ’n superoorlog wesenlik, en dit bedreig weer jou toekoms—al woon jy ook in ’n onverbonde land.
Jy behoort dus belang te stel in die uitslag van die magstryd. Sal daar ’n vreedsame oplossing wees? Indien nie, wie gaan wen? As jy dit weet, kan dit jou toekoms raak.
Hoe dit begin het
Baie boeke oor die moderne geskiedenis beweer dat die hedendaagse wedywer tussen die Ooste en die Weste kort na die Tweede Wêreldoorlog begin het. Bybelgeskiedenis toon egter dat dit die voortsetting is van ’n stryd om wêreldheerskappy wat byna 2 300 jaar gelede begin het.
As jy die geskiedenis van antieke Griekeland gelees het, weet jy dat Alexander die Grote daardie volk tot ’n ryk uitgebou het. Dit is deur die Bybelprofeet Daniël voorspel. Getrou aan die profesie is die ryk uiteindelik, na die dood van daardie “dapper koning” in 323 v.G.J., “na die vier windstreke van die hemel verdeel”—onder vier van sy generaals (Daniël 11:2-4). Onder hulle het Seleucus I Nicator beheer verkry oor Sirië en Mesopotamië—gebiede noord en oos van Daniël se vaderland, Juda. Ptolemaeus Lagos, ’n ander Griekse generaal, het Egipte en Palestina oorgeneem, wat hom suid en wes van Seleucus Nicator se gebied geplaas het. Hulle liggings het hulle onderskeidelik “koning van die Noorde” en “koning van die Suide” gemaak.—Daniël 11:5, 6.
“Noorde” en “Suide” het simbolies geword van magtige nasies wat bepaalde profetiese rolle vervul het.a Verskillende nasies het deur die eeue heen die rolle van beide “konings” vervul; maar hierdie nasies het altyd by die profetiese beskrywing gepas. Hulle kon nog altyd geëien word aan hulle wedywer, terwyl hulle gewoonlik gebiede beheer het wat min of meer noord en suid van mekaar lê.
Vandag kom daardie rolle ooreen met die aanduidings “Ooste” en “Weste”. Dit is ook simboliese benamings, aangesien die gebiede mekaar oorvleuel. Die Bybelse aanduidings “Noorde” en “Suide” is ewe gepaste simbole ondanks soortgelyke oorvleueling.
Die god van “die koning van die Noorde”
In ’n profesie oor “die tyd van die einde” het Daniël gesê dat “die koning van die Noorde” hom sal “groot hou bo enige god” en dat hy nie “op die gode van sy vaders sal . . . ag slaan nie”. Hy sal eerder “die god van die vestings vereer . . . met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede” voor hy “aan sy einde [sal] kom”.—Daniël 11:35-39, 45.
Omdat die hedendaagse “koning van die Noorde” hoofsaaklik ateïsties is, loën hy die bestaan van God en onderdruk hy dikwels godsdiens. Hy maak meer staat op wapens en militarisme as op ander maniere om sy internasionale invloed te laat geld. Daarom gebruik hy baie van sy geldmiddele om “die god van die vestings [te] vereer”. Ofskoon die hedendaagse “koning van die Suide” ook wapens en militarisme verheerlik, erken hy daarenteen ander gode, en baie van sy mense het sterk bande met godsdiens.
Die hedendaagse magstryd
Met betrekking tot gebeure in ons dag sê die profesie: “In die tyd van die einde sal die koning van die Suide met [die koning van die Noorde] in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met [militêre toerusting], en [die koning van die Noorde] sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei.”—Daniël 11:40.
Jy weet moontlik dat die “koning van die Noorde” sedert die Tweede Wêreldoorlog sy ideologie en beheer oor groot gebiede uitgebrei het, ondanks oorloë wat gevoer is om dit te verhoed. Die tyd sal leer in watter mate hy ‘in die lande sal inkom en instroom en dit sal oorvloei’; maar die hedendaagse “koning van die Suide” het probeer om sy indringing in die sogenaamde vrye wêreld te keer. So is hierdie antagoniste betrokke by ’n “botsing” wat nou ontaard het in die versnelde wapen- en ruimtewedloop. Intussen beskuldig elk die ander dat hy die wêreld wil oorheers.
Daniel sê voorts: “Hy [die koning van die Noorde] sal mag hê oor die skatte . . . en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Libiërs en die Kusiete [Ethiopiërs] sy voetstappe volg” (Daniël 11: 43). Dit het moontlik op natuurlike hulpbronne betrekking; en die hedendaagse “koning van die Noorde” beheer inderdaad gebiede wat ryk is aan minerale hulpbronne, waaronder olie. Hy het ook sterk invloed in gebiede buite sy domein wat ryk natuurlike hulpbronne het. Ons het almal rede om met belangstelling te kyk of hy groter beheer oor hierdie hulpbronne gaan verkry en hoe ver sy ekonomiese invloed gaan uitbrei.
Wie gaan wen?
Maar wat weerhou hierdie “konings” van ’n volskaalse, finale oorlog? Een groot faktor is dat hulle die wedersydse vernietigingskrag van hulle kernwapens vrees. Hulle verkies om ooreenkomste te sluit, hoewel hulle dit selde gestand doen. Soos Daniël voorspel het: “Aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.”—Daniël 11:27.
Jy wil seker graag weet wat uiteindelik gaan gebeur. Sal hulle op die ou end blywende vrede beding? Of sal die een die ander verslaan? Volgens die profesie in God se Woord is die antwoord op albei vrae Nee! Hoe so? Omdat ’n derde koning hulle sal verslaan en beheer oor die wêreld sal oorneem. Daar sal dus ’n verandering van heerskappy wees—binnekort!
[Voetnote]
a Die uitdrukking “in sy plek sal iemand optree” dui byvoorbeeld op ’n oorname van die rol van “die koning van die Noorde”.—Daniël 11:20, 21.
[Prent op bladsy 4]
MILITÊRE MAG VAN GROOT NASIES EN BLOKKE
Kernwapens
50 000
Militêre personeel
11 913 000
Oorlogskepe
1 350
Bomwerpers en vegvliegtuie
20 100
Tenks
95 800