Die versorging van afgesonderde “skape” in die Caprivi
DIE roomkleurige Land-Rover was swaar gelaai met voorrade, onderdele en Bybellektuur. Dit het noord gery vanaf Windhoek, die hoofstad van Suidwes-Afrika (Namibië). Wanneer was dit? Mei 1981. Terwyl hulle deur die plat, droë landskap gery het, het die vier passasiers tyd gehad om te dink oor die opwindende reis wat vir hulle voorgelê het.
Die bestuurder, Chris du Plessis, en sy metgesel was getuies van Jehovah en gewone pioniers, dit wil sê, voltydse predikers van die Koninkryksboodskap. Hulle het pas tevore ’n paar genotvolle weke in Katatura, die groot swart woonbuurt naby Windhoek, deurgebring. Hulle albei het dit verfrissend gevind om die goeie nuus van God se Koninkryk van huis tot huis te verkondig onder die swartmense met hulle vriendelike houding en goeie reaksie op die boodskap. Die twee jongmanne is gevra om vervoer te voorsien vir die kringopsiener, Schalk Coetzee, en sy vrou na afgesonderde groepe Getuies bo in die noorde, waar party paaie onbegaanbaar is vir gewone voertuie. Met die Land-Rover kon hulle op enige plek kampeer—die Coetzees het in die voertuig geslaap en die twee jongmanne in ’n tent bo-op die dak!
Nadat hulle omtrent 370 kilometer gery het, het die groep die “doodsdriehoek” bereik—so genoem omdat baie mense hulle lewens daar verloor het weens hewige guerrilla-bedrywighede deur invallers uit Angola. Verder noord het hulle verskeie verwoeste motors gesien, maar hulle het geen moeilikheid gehad nie.
Hulle eerste besoek was aan Ondangwa, ’n militêre pos nie ver van Angola af nie. Spesiale pioniers het na die gemeentetjie daar omgesien. Christo Els en sy vrou Elizabeth het die plaaslike taal, Ndonga, geleer—’n ware uitdaging. Maar die mense het goed geluister en het groot respek vir die Bybel gehad. Partykeer moes Christo die ploeëry met donkies oorneem of sy vrou moes die land skoffel sodat die huisbewoners tyd gehad het om na die Koninkryksboodskap te luister!
Aangesien dit ’n oorlogsgebied was, het reisigers op grondpaaie hulle aan landmyne blootgestel. Daarom het Christo en Elizabeth dikwels op bospaadjies gery, en die mense wat hulle teëgekom het, was baie verbaas dat hulle geen wapens gedra het nie.
Dit was vir hulle ’n ware vreugde om die Ovahimba-volk, wat primitief lewe in ’n afgeleë gebied, te besoek. Hierdie mense dra velle en smeer hulle liggame met geel klei. Die pioniers het ’n brosjure gebruik wat hulle gehelp vertaal het. Hoe opwindend was dit tog om te sien hoe hierdie mense waardering vir die Koninkryksboodskap toon!
Gedurende die weeklange besoek van broer Coetzee en sy groep is ’n byeenkoms van een dag gehou. Omdat die gebied yl bewoon is, was die bywoning klein. Maar almal in hierdie afgeleë buitepos was in ekstase oor die program en goeie omgang.
Die Caprivi-strook
Nadat hulle ’n rukkie in Rundu vertoef het om permitte te kry, het die geselskap die Caprivi-strook binnegegaan. Soos die kaart toon, is dit ’n smal landstrook wat vanaf noordoostelike Namibië tot diep in die hart van Suider-Afrika strek. Dit is 480 kilometer lank en 80 kilometer wyd by sy breedste punt, en deel grense met Angola, Zambië en Botswana. Hoewel dit ook ’n militêr beheerde gebied is, is dit vreedsamer as die gebied aan die westekant.
Die bevolking van die Caprivi is ongeveer 40 000 en bestaan hoofsaaklik uit swartmense, alhoewel Boesmans dikwels die westelike deel binnegaan in hulle omswerwinge. Baie inwoners praat Engels en kan lees en skryf. Terwyl die geselskap ooswaarts gery het, het hulle dikwels stilgehou om met mense te praat, en hulle het ook die natuurskoon geniet—bome en wild, waaronder olifante en wildsbokke. Namate hulle Katima Mulilo, die enigste “dorp”, genader het, het hulle al hoe meer statte met netjiese grasdakhutte gesien. Die pioniers was so gefassineer met die plek dat toe Schalk Coetzee hulle gevra het of hulle gewillig sal wees om in hierdie afgeleë plek te dien, hulle die voorreg met genoeë aanvaar het.
Na ’n kort verblyf in Katima Mulilo het die vier weer vertrek om die afgesonderde groep in Kasane in noordelike Botswana te besoek. Hulle het deur die Chobe-Wildreservaat gery, soms langs groot buffel- en olifanttroppe. Wanneer hulle saans gekampeer het, het hulle leeus naby hoor brul.
In Kasane het hulle van hut tot hut gepreek, met plaaslike pioniers wat vir hulle getolk het. Die nadering is stadig en waardig. Die besoeker staan buite die hut en roep uit om aandag te trek. Iemand antwoord en nooi hom om binne te kom en te sit. Gewoonlik word die hele gesin byeengeroep om te luister. Dan volg ’n lang groetery oor en weer, met navrae oor gesondheid en herkoms. Eers daarna begin die Getuie ’n Bybelonderwerp bespreek.
Die plaaslike Getuies was baie bly en dankbaar dat die groep so ver gekom het om hulle te besoek. Vergaderinge moes in ’n kleihut gehou word. Schalk Coetzee het hulle dus aangemoedig om hulle eie Koninkryksaal te bou.
By hulle terugkeer na Katima Mulilo het die reisigers ’n weeklange besoek by die plaaslike Getuies geniet. In die nag het hulle naby die Zambezi-rivier gekampeer en die stilte waardeer, ’n stilte wat slegs deur die geklop van tromme in die verte—die “hartklop” van Afrika—onderbreek is. Hulle het gevind dat die plaaslike groep ywerig is maar baie leiding nodig het oor hoe om vergaderinge te hou, hoe om van hut tot hut te getuig, hoe om huwelike behoorlik te wettig, ensovoorts.
Die besoekers het die predikingswerk regtig geniet! Een het gesê: “Toe die mense hoor dat ons Bybelboeke in Silozi, hulle taal, het, het hulle ons amper oorval en nie net boeke gevra nie, maar ook iemand om hulle te leer. Dit was ongelooflik!”
Die groep het hulle nuwe vriende in Katima Mulilo teësinnig verlaat en die terugtog aangepak. Hulle het ’n week saam met die gemeente in Rundu in noordelike Namibië deurgebring. Die meeste van die broers aldaar was vlugtelinge uit Angola wat Portugees gepraat het. Nog ’n taalprobleem! Na ’n reis van ongeveer 4 000 kilometer het hulle Windhoek bereik, moeg maar gelukkig en baie dankbaar teenoor Jehovah vir die baie voorregte wat hulle geniet het.
Terug na Katima Mulilo
Die twee pioniers het na Katima Mulilo teruggekeer, hierdie keer om te bly en Jehovah se “skape” te help. Hiervoor het hulle huisvesting en deeltydse werk nodig gehad. Met die eerste probeerslag het hulle werk gekry. Hulle het ook toestemming gekry om ’n woonwa te gebruik wat aan die Wagtoringgenootskap behoort het. En hulle het Jehovah gedank dat hy so in hulle behoeftes voorsien het.
Die pioniers was spoedig besig om die plaaslike Getuies op verskillende maniere te help. Dit het die bou van ’n Koninkryksaal ingesluit. Hulle het lang gras vir die dak gesny, spesiale klei wat baie hard word uit miershope bymekaargemaak en geleer om ’n dak te dek. Met afgewitte mure het die saal netjies en aantreklik gelyk. Omdat hulle nie stoele kon bekostig nie, is banke of stompe vir sitplek gebruik. Dit was primitief, maar dit was hulle eie Koninkryksaal!
Daar was geen behoorlik georganiseerde vergaderinge nie. Die pioniers het dus die vyf weeklikse vergaderinge voorberei wat wêreldwyd deur Jehovah se Getuies gehou word. Dit het baie werk beteken, maar vir hulle en die plaaslike Getuies was dit geestelik opbouend. Die pioniers moes ook Silozi, die plaaslike taal, aanleer.
Eerlank is ’n gemeente gestig. Mettertyd kon vier van die plaaslike broers openbare toesprake hou en al die vergaderinge behartig, en een is as ’n bedieningskneg aangestel. Intussen het die pioniers die predikingswerk van hut tot hut baie geniet. So baie mense wou die Bybel bestudeer dat hulle nie al die versoeke kon behartig nie. Sal jy daarvan hou om in sulke gebied te dien? Kan jy?
Nog ’n besoek aan Kasane
Die kringopsiener het die pioniers gevra om die groep in Kasane in Botswana van tyd tot tyd te besoek. By een geleentheid het hulle ernstige probleme ondervind. Soldate van Botswana het hulle naby die grens voorgekeer.
“Julle is spioene!” het die leier gesê.
“Nee, ons is evangeliedienaars, Jehovah se Getuies, wat vir mense die Bybel leer.”
“Ek glo nie julle is Christene nie. Julle is Suid-Afrikaanse soldate.”
Dit was ’n moeilike situasie. Maar toe die soldate die voorrade Bybellektuur sien en geen gewere nie, het hulle die broers laat gaan.
Die gespanne militêre situasie in die gebied het ook kontak met Zambië baie bemoeilik. Slegs die Zambezi-rivier skei Katima Mulilo van Zambië waar Jehovah se Getuies talryk is en groot voorrade Silozi-lektuur het. Maar met troepe wat wag staan, durf die inwoners dit nie waag om die rivier in hulle mokolo’s, of uitgeholde kano’s, oor te steek nie. Een of twee keer was daar ’n skietery oor die rivier heen.
Die versorging van afgesonderde “skape”
Dit alles het die pioniers egter nie daarvan weerhou om na die “skape” in die Caprivi-strook om te sien nie, waarvan party baie afgesonderd was. Hulle het by voorbeeld gehoor dat Andrew, ’n bejaarde man in ’n stat ongeveer 70 kilometer van Katima af, opreg in die Bybel belangstel. Toe hulle hom gekry het, was hy besig om die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe te lees. Hy was byna oorstelp van vreugde oor die besoek! Hy het jare lank op sy eie gestudeer, en hy is grootliks bemoedig deur die hulp wat die pioniers hom gegee het.
Frank Mwemba is ook baie afgesonderd. Hy woon in ’n stat omtrent honderd kilometer van Katima af. Sy huis kan slegs met ’n vierwielaangedrewe voertuig bereik word, en selfs dan net sekere tye van die jaar, aangesien ’n groot gedeelte van die Caprivi moerasagtig en van tyd tot tyd onder water is. Frank het die waarheid in Zambië aanvaar, is daar gedoop en het toe na sy geboortestat in die Caprivi teruggekeer. Hy het baie jare lank op sy eie voortgegaan. Het hy aangehou preek in daardie afgesonderde plek? Het hy plaaslike gebruike soos towery en veelwywery teëgestaan? Was sy huwelik wetlik geregistreer? Ja! Frank onderhou sy vrou—slegs een—en kinders deur vis te vang en te boer, en hy staan dae daaraan af om afgesonderde statte in sy mokolo of te voet te besoek om die goeie nuus te verkondig. Hy studeer gereeld met sy gesin, vermy toordokters en het met trots sy huweliksertifikaat vir die besoekers gewys!
By ’n ander geleentheid het Chris ’n vaart in ’n vragskuit langs die Zambezi-rivier af onderneem na die plat, moerasagtige streek Nantungu. Hy het gehoor dat daar belangstellendes daar is. ‘Wat gaan ek hier vind?’ het Chris gewonder toe hy met sy rugsak van die vragskuit na die wal gespring het. Tot sy vreugde het hy ’n groepie gevind wat probeer het om volgens die Bybel te lewe, aangesien hulle deur Zambiese Getuies onderrig is. Hulle was verheug om die Silozi-publikasies te sien wat Chris saamgebring het, waaronder die jongste nommers van Die Wagtoring. Chris het die volgende drie dae Bybelbesprekings gehou en nabygeleë statte besoek om belangstellendes te ontmoet. Voor sy vertrek het hy reëlings getref vir gereelde vergaderinge en Koninkryksprediking.
Nuwe pioniermaat
Weens gesondheidsprobleme moes Chris se pioniermaat vroeg in 1982 die Caprivi verlaat. Later het ’n tweede pioniermaat, Melt Marais, by Chris aangesluit, en hy het byna ’n jaar lank ywerig in die Caprivi gedien. In Mei 1983 is Chris met Magda, ’n jong pioniersuster, getroud, en sy het sy derde pioniermaat in die Caprivi geword. Hulle troutoespraak is in die Koninkryksaaltjie gehou wat Chris gehelp bou het.
Dit het Magda ’n rukkie geneem om gewoond te raak aan die lewe in die Caprivi. Die woonwa is verskuif na ’n plek buite die dorp waar daar geen elektrisiteit of lopende water was nie. Daar is hulle dikwels in die nag deur olifante lastig geval. Om ’n flitslig deur ’n woonwavenster te laat skyn en die logge liggaam van ’n olifant sowat twee meter van jou af te sien, was in die begin taamlik skrikwekkend vir Magda! Maar sy het haar gou by die nuwe lewe aangepas en dit baie geniet. Haar voorbeeld het die gemeentetjie in Katima aangemoedig.
Dit was ook vir die Caprivi-broers baie bemoedigend om kringbyeenkomste in Francistown, Botswana (650 kilometer daarvandaan), by te woon. Hulle was veral bly om ’n streekbyeenkoms naby Johannesburg (ongeveer 1 400 kilometer ver) by te woon. Hulle was verbaas om die groot menigte Getuies en die seepgladde organisasie te sien en om die vriendelikheid van die wit broers en susters te ondervind—alles bewyse van Jehovah se gees in aksie.
Maar dit was die getroue, liefdevolle bediening van die jong pioniers wat die opbouendste was vir die “skape” in die Caprivi wat so dringend hulp nodig gehad het. En die verlening van daardie hulp was weer ’n bron van groot vreugde vir die pioniers, wat gewillig was om te dien waar hulp so nodig was.
In September 1983 moes Chris en Magda egter die Caprivi verlaat. Waarom? Hy verduidelik: “Ons is uitgenooi om by die Suid-Afrikaanse tak van die Wagtoringgenootskap te dien. Ons was jammer om tot siens te sê vir die 13 Caprivi-verkondigers en baie belangstellendes in die gemeentetjie en drie groepe wat ons agtergelaat het. Ons gebede is dat Jehovah meer arbeiders sal stuur om te werk in hierdie veld wat ryp is vir die oes.”—Mattheüs 9:37, 38.
Daar is baie ander plekke waar hulp nodig is. Is jy in staat en gewillig om op hierdie manier te dien, om opofferings te maak om Jehovah se skape te versorg? Indien wel, wag daar ryk beloninge op jou. Soos Jesus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
[Kaarte/Prent op bladsy 21]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NAMIBIË
ANGOLA
OVAMBOLAND
Ondangwa
Rundu
Tsumeb
Otavi
Grootfontein
Die “doodsdriehoek”
Windhoek
CAPRIVI-STROOK
Zambezirivier
Katima Mulilo
Kasane
BOTSWANA
ATLANTIESE OSEAAN
[Prent op bladsy 23]
Die kamp langs die Zambezirivier in Katima Mulilo. Schalk Coetzee stel sy weeklikse verslag as kringopsiener op. Let op die tent bo-op die Land-Rover
[Prent op bladsy 24]
Koninkryksprediking in Kasane, noordelike Botswana