Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 9/15 bl. 10-15
  • Bekwame raadgewers—’n seën vir hulle broers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bekwame raadgewers—’n seën vir hulle broers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie moet raad gee?
  • Die oogmerke van Christelike raad
  • Paulus​—’n bekwame raadgewer
  • Sagmoedigheid en nederigheid
  • Die raad van die Fariseërs
  • Maak jou raad ander se “hart bly”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • “Skenk aandag aan die woorde van die wyses”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Raad wat “met sout besprinkel” is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Snap jy altyd waaroor dit gaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 9/15 bl. 10-15

Bekwame raadgewers​—’n seën vir hulle broers

“Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin.”​—JESAJA 1:26.

1, 2. (a) Hoe toon Spreuke 12:15 en 19:20 die waarde van raad? (b) Wat is nodig voor ons raad kan aanneem, en watter ondervinding lig dit toe?

TERRI is die dogter van Christenouers. Op skool het sy ’n vriendinnetjie gehad wat ook “in die waarheid” was. Terri het egter opgemerk dat haar vriendin hier teen die einde van hulle laerskooljare nie meer so geesdriftig oor haar geloof was as vroeër nie. Terwyl hulle saam deur die hoërskool gevorder het, het haar vriendin begin wegbly van Christelike vergaderinge en krities geword teenoor die Wagtoringgenootskap en die gemeente. Maar Terri het hard gebid vir haar vriendin en haar gedurig raad gegee om te probeer sterk bly as ’n Christen. Terri se pogings is op die ou end beloon. Toe hulle standerd agt bereik, het haar vriendin weer gereeld vergaderinge bygewoon en is sy eindelik gedoop. Wat ’n seën vir haar vriendinnetjie! En wat ’n beloning vir getroue Terri!

2 Kan enigiemand, in die lig van hierdie ondervinding, twyfel aan die nodigheid daarvan dat Christene mekaar van tyd tot tyd liefdevol raad gee? Die Bybel spoor ons aan: “Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees” (Spreuke 19:20; 12:15). Terri se vriendin het daardie advies gevolg. Maar wat sou gebeur het as Terri nie die liefde, volharding en moed gehad het om haar deur die jare aan te hou help nie? Ja, daar moet ’n raadgewer wees as enigeen van ons wil “luister na raad”. Wie moet dit wees?

Wie moet raad gee?

3. Wie is deur Jehovah voorsien om tydige raad in die Christengemeente te gee?

3 Jehovah God het belowe om sy volk in ons tyd van raadsmanne of raadgewers te voorsien. Hy het gesê: “Ek sal jou weer . . . raadsmanne [gee] soos in die begin” (Jesaja 1:26). Hierdie belofte word hoofsaaklik vervul in die aangestelde ouere manne in die Christengemeente. Raadgewing is ’n vorm van onderrigting, en veral ouere manne is “bekwaam om te onderrig” (1 Timotheüs 3:2). Miskien het die apostel Paulus hoofsaaklikdie ouere manne in gedagte gehad toe hy gesê het: “Selfs as iemand ’n misstap begaan voor hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike hoedanighede het so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp” (Galasiërs 6:1, NW). Maar is ouere manne die enigstes wat raad kan gee?

4, 5. (a) Meld Skriftuurlike voorbeelde wat toon dat ouere manne nie die enigstes is wat raad kan gee nie. (b) In watter tipiese omstandighede kan Christene wat nie ouere manne is nie vandag raad gee?

4 Nee. Terri was nie ’n ouere man nie, en tog het haar raad uiteindelik goeie vrugte afgewerp. Dink ook aan die Siriese leërowerste Naäman. Hy het gereageer op die goeie informasie wat van ’n Israelitiese dogtertjie afkomstig was, en daarna op die advies van sy dienaars. Dawid sou hom moontlik bloedskuld op die hals gehaal het as Abigail, die vrou van Nabal, hom nie tydige raad gegee het nie. En die jong man Elihu het wyse raad gehad vir Job en sy drie “troosters”.​—1 Samuel 25:23-35; 2 Konings 5:1-4, 13, 14; Job 32:1-6.

5 Vandag is raadgewing eweneens nie die uitsluitlike voorreg van ouere manne nie. Ouers gee gereeld aan hulle kinders raad. Jongmense soos Terri is dikwels suksesvol wanneer hulle aan hulle maats raad gee. En die Bybel moedig ryp susters uitdruklik aan om “leraresse van wat goed is” te wees, veral teenoor jonger vroue in die gemeente (Titus 2:3-5). Trouens, in ’n algemene sin het ons almal die verantwoordelikheid om mekaar op hierdie manier te help. Die apostel Paulus het gesê: “Bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”​—1 Thessalonicense 5:11.

Die oogmerke van Christelike raad

6. Wat is van die oogmerke van Christelike raad?

6 Wat is sommige oogmerke van Christelike raad? Dit is om iemand te help om vordering te maak en vol te hou op die regte weg, om probleme op te los, om moeilikhede te bowe te kom en miskien om ’n verkeerde handelwyse te korrigeer. Paulus het sommige vorme van raadgewing gemeld toe hy Timotheüs aangespoor het om ‘tereg te wys, te berispe, te vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns’ (2 Timotheüs 4:1, 2, NW). Dit is voorwaar ’n kuns om iemand op so ’n manier raad te gee dat hy kan verstaan sonder om gekrenk te voel.

7, 8. (a) In watter situasies in die Christengemeente is mense raad te wagte? (b) By watter geleenthede sou ’n Christen miskien nie raad verwag nie, maar dit tog nodig hê?

7 Wanneer moet ’n mens raad gee? Ouers kry gereeld die geleentheid om hulle kinders raad te gee, en kinders verwag dit min of meer (Spreuke 6:20; Efesiërs 6:4). In die gemeente verwag ’n student om raad te ontvang wanneer hy ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool gehou het. En ’n nuwe Koninkryksverkondiger verwag hulp en advies namate hy vooruitgang maak tot rypheid as ’n Christenbedienaar (1 Timotheüs 4:15). Daarbenewens nader individue soms die ouere manne of ander in die gemeente om hulp en raad te vra.

8 Van tyd tot tyd moet raad egter gegee word aan persone wat dit nie verwag of wil hê nie. Miskien is iemand besig om sy ywer in Jehovah se diens te verloor en ‘weg te drywe’, soos Terri se vriendin (Hebreërs 2:1). Iemand het moontlik ’n ernstige twis met ’n ander lid van die gemeente (Filippense 4:2). Of iemand het dalk hulp nodig in verband met behoorlike persoonsversorging of kleredrag, of wat sy keuse van vriende of musiek betref.​—1 Korinthiërs 15:33; 1 Timotheüs 2:9.

9, 10. (a) Waarom kan dit moed kos om Christelike raad te gee? (b) Waarom moet ’n Christen nietemin raad gee as dit nodig is?

9 Toe die profeet Hanani vir koning Asa van Juda raad gegee het, was Asa so gebelg daaroor dat hy “hom in die gevangenis gesit [het]”! (2 Kronieke 16:7-10). Dit het moed gekos om in daardie dae vir ’n koning raad te gee. Vandag moet raadgewers ook moed aan die dag lê, omdat raadgewing aanvanklik gebelgdheid kan veroorsaak. Een ervare Christen het nagelaat om ’n jonger metgesel van nodige raad te dien. Die rede? Hy het verduidelik: “Ons is op die oomblik goeie vriende, en ek wil dit so hou!” Maar in werklikheid is die weerhouding van hulp wanneer hulp nodig is nie die kenmerk van ’n goeie vriend nie.​—Spreuke 27:6; vergelyk Jakobus 4:17.

10 Om die waarheid te sê, die ondervinding het getoon dat gekrenktheid gewoonlik tot die minimum beperk kan word, en die raad dikwels aan die doel sal beantwoord, as die raadgewer op ’n bekwame manier raad gee. Maar wat verg dit om ’n bekwame raadgewer te wees? Ons kan op hierdie vraag antwoord deur na twee voorbeelde te kyk, ’n goeie en ’n slegte.

Paulus​—’n bekwame raadgewer

11. Waarom het die meeste van die Korinthiërs Paulus se raad aanvaar al het hy dikwels baie reguit gepraat?

11 Die apostel Paulus het baie geleenthede gehad om raad te gee, en soms het hy gewigtige dinge op die hart gehad (1 Korinthiërs 1:10-13; 3:1-4; Galasiërs 1:6; 3:1). Sy raad was nietemin doeltreffend omdat die ontvangers daarvan geweet het dat Paulus hulle liefhet. Soos hy vir die Korinthiërs gesê het: “Uit groot verdrukking en benoudheid van hart het ek aan julle geskrywe, onder baie trane, nie dat julle bedroef mag word nie, maar dat julle mag weet van die liefde wat ek oorvloedig vir julle het” (2 Korinthiërs 2:4). Die meeste van die Korinthiërs het Paulus se raad aanvaar omdat hulle geweet het dat hy dit sonder ’n selfsugtige motief gegee het, want “die liefde . . . soek nie sy eie belang nie”. Hulle was ook daarvan oortuig dat hy nie uit ergernis gepraat het nie, want “die liefde . . . word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie”.​—1 Korinthiërs 13:4, 5.

12. Watter eienskap sal dit vir ’n Christenraadgewer makliker maak om goeie resultate te behaal? Lig dit toe.

12 Ook vandag is dit baie makliker om selfs streng raad te aanvaar as ons weet dat die raadgewer ons liefhet, nie uit ergernis praat nie en nie ’n selfsugtige motief het nie. As ’n ouere man byvoorbeeld nooit met die tieners in die gemeente praat behalwe wanneer hy hulle kritiseer nie, kan die jongmense maklik die indruk kry dat hy op hulle pik. Maar gestel die ouere man het ’n goeie verhouding met die tieners. Gestel hy neem hulle in die velddiens uit, is genaakbaar by die Koninkryksaal en moedig hulle aan om met hom te praat oor hulle probleme, verwagtinge en twyfelinge, of nooi hulle selfs van tyd tot tyd na sy huis (met hulle ouers se toestemming). Dan sal die tieners meer ontvanklik wees wanneer hy hulle moet raad gee, omdat hulle weet dat die raad van ’n vriend kom.

Sagmoedigheid en nederigheid

13. (a) Waarop moet Christelike raad gegrond wees? (b) Wat moet diegene wat in die Christengemeente raad gee dus nie doen nie?

13 Daar is nog ’n rede waarom Paulus se raad geslaag was. Hy het op godvrugtige wysheid vertrou, nie op sy eie opinie nie. Soos hy die raadgewer Timotheüs herinner het: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.” (2 Timotheüs 3:16; vergelyk 1 Korinthiërs 2:1, 2.) Christenraadgewers baseer vandag eweneens hulle raad op die Skrif. In die gesin haal ouers weliswaar nie elke keer die Bybel aan wanneer hulle hulle kinders raad gee nie. Tog moet daar altyd ’n Skriftuurlike grondslag wees vir wat Christenouers sê, hetsy hulle gehoorsaamheid, sindelikheid, besorgdheid oor ander, stiptheid of wat ook al voorstaan (Efesiërs 6:1; 2 Korinthiërs 7:1; Mattheüs 7:12; Prediker 3:1-8). Binne die gemeente moet ons versigtig wees dat ons nie ons persoonlike sienswyse of smaak aan ander probeer opdwing nie. En ouere manne moet nie die Skrif verdraai sodat dit oënskynlik steun verleen aan die een of ander idee waaroor hulle sterk voel nie. (Vergelyk Mattheüs 4:5, 6.) Daar moet altyd ’n eg Bybelse rede wees vir die raad wat hulle gee.​—Psalm 119:105.

14, 15. (a) Meld nog ’n eienskap wat dit makliker maak om raad aan te neem. (b) Waarom is dit so belangrik dat ’n raadgewer hierdie eienskap aankweek?

14 Raad is ook doeltreffender wanneer dit met ’n sagmoedige gees gegee word. Paulus het dit geweet. Daarom het hy, toe hy gepraat het van iemand wat ’n misstap begaan voor hy daarvan bewus is, die bevoegde persone aangemoedig om ‘so een reg te help met die gees van sagmoedigheid’ (Galasiërs 6:1). Hy het Titus ook vermaan om ander daaraan te herinner “om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys”.​—Titus 3:1, 2; 1 Timotheüs 6:11.

15 Waarom is sagmoedigheid nodig? Omdat onbeheerste emosies aansteeklik is. Kwaai woorde lei tot nog kwaai woorde, en dit is moeilik om te redeneer wanneer humeure opgevlam het. Al vererg die ontvanger van die raad hom, is dit geen rede vir die raadgewer om hom te vererg nie. Inteendeel, die raadgewer se sagmoedige houding kan help om die kalmte te herstel. “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Dit is waar hetsy die raadgewer ’n ouer, ’n ouere man of wie ook al is.

16. Waarom moet ’n mens altyd eerbiedig wees wanneer jy raad gee?

16 Kyk ten slotte na wat Paulus vir die jonger ouere man Timotheüs gesê het: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” (1 Timotheüs 5:1, 2). Watter uitstekende advies! Stel jou voor hoe ’n bejaarde vrou sou voel as ’n jong ouere man, moontlik jonk genoeg om haar seun te wees, haar op ’n uiters kritiese of oneerbiedige manier raad sou gee. Dit sou baie beter wees as die raadgewer ’n oomblik nagedink het: ‘Wat sou die liefdevolste en beste manier wees om hierdie raad te gee, gedagtig aan die persoonlikheid en ouderdom van die persoon? Hoe sou ek genader wou word as ek in sy of haar skoene was?’​—Lukas 6:31; Kolossense 4:6.

Die raad van die Fariseërs

17, 18. Wat was een rede waarom die raad van die Fariseërs nutteloos was?

17 Laat ons nou, ná Paulus se goeie voorbeeld, ’n slegte voorbeeld beskou​—dié van die Joodse godsdiensleiers van Jesus se dag. Hulle het dikwels raad gegee, maar die volk het gewoonlik nie daarby baat gevind nie. Waarom nie?

18 Daar is talle redes. Dink maar aan die keer toe die Fariseërs Jesus bestraf het omdat sy dissipels nie hulle hande voor ’n maaltyd gewas het nie. Die meeste moeders vermaan natuurlik hulle kinders om hulle hande voor ete te was, en om higiëniese redes is dit beslis raadsaam. Maar die Fariseërs was nie hoofsaaklik oor higiëne bekommerd nie. Vir hulle was dit ’n tradisie om hande te was, en dit het hulle ontstel dat Jesus se dissipels nie hierdie tradisie gevolg het nie. Maar Jesus het hulle toe daarop gewys dat daar baie groter probleme in Israel is waaraan hulle aandag behoort te skenk. Sommige het byvoorbeeld Fariseïese tradisie gebruik om die vyfde van die Tien Gebooie, “Eer jou vader en jou moeder”, te omseil (Exodus 20:12; Mattheüs 15:1-11). Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle ongelukkig so blind gestaar op besonderhede dat hulle “die gewigtiger sake van die Wet, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid, veronagsaam het”.​—Mattheüs 23:23, NW.

19. Hoe kan hedendaagse Christene seker maak dat hulle nie uit eiebelang handel nie?

19 Vandag moet raadgewers daarteen waak dat hulle dieselfde fout begaan. Hulle moet nooit uit eiebelang handel en so behep raak met besonderhede dat hulle “die gewigtiger sake” vergeet nie. Ons word aangespoor om mekaar in liefde te “verdra”, selfs in klein dingetjies (Kolossense 3:12, 13). Die vermoë om te onderskei wanneer ’n mens nie ’n geskil van iets moet maak nie en wanneer raad werklik nodig is, is ’n aanduiding dat iemand “geestelike hoedanighede” besit.​—Galasiërs 6:1, NW.

20. Waarom is eie voorbeeld so belangrik by raadgewing?

20 Daar is nog iets wat die raad van daardie eerste-eeuse godsdiensraadgewers kragteloos gemaak het. Hulle het ’n beleid gehad van “maak soos ek sê, nie soos ek maak nie”. Jesus het van hulle gesê: “Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie” (Lukas 11:46). Hoe liefdeloos tog! Vandag moet ouers, ouere manne of ander wat raad gee baie seker wees dat hulle self doen wat hulle ander aanse om te doen. Hoe kan ons ander aanmoedig om ywerig te wees in die veldbediening as ons nie ’n gepaste voorbeeld stel nie? Of hoe kan ons teen materialisme waarsku as materiële dinge ons eie lewe oorheers?​—Romeine 2:21, 22; Hebreërs 13:7.

21. (a) Hoe het die Fariseërs die mense geïntimideer? (b) Watter waarskuwing moet die Fariseërs se taktiek vir Christenraadgewers inhou?

21 Die Joodse leiers het ook as raadgewers gefaal omdat hulle van intimidasie gebruik gemaak het. Eenkeer het hulle manne uitgestuur om Jesus in hegtenis te neem. Hierdie manne was so beïndruk deur die manier waarop Jesus onderrig het dat hulle sonder hom teruggekom het. Die Fariseërs het hulle bestraf en gesê: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!” (Johannes 7:45-49). Was dit ’n goeie grondslag vir bestraffing​—gesagstirannie en beswaddering? Mag Christenraadgewers hulle nooit aan sulke raadgewing skuldig maak nie! Hulle moet sorg dat hulle nooit ander oordonder of die indruk wek van: ‘Jy moet na my luister, want ek is ’n ouere man!’ nie. Of wanneer hulle met ’n suster praat, moet hulle nie impliseer nie: ‘Jy moet na my luister omdat ek ’n broer is.’

22. (a) Hoe en waarom moet Christene raad gee? (b) Watter verdere vraag moet nog behandel word?

22 Ja, raadgewing is ’n liefdedaad wat ons almal​—veral die aangestelde ouere manne—​van tyd tot tyd aan ons mede-Christene verskuldig is. Ons moet nie sommer enige voorwendsel gebruik om raad te gee nie. Maar ons moet dit moedig gee wanneer dit nodig is. Dit moet ’n Skriftuurlike grondslag hê en met ’n gees van sagmoedigheid gegee word. En dit is baie makliker om raad te aanvaar as ons weet dat die raadgewer ons liefhet. Maar soms is dit baie moeilik om te weet wat om te se wanneer jy raad gee. Hoe kan ons dan op ’n doeltreffende manier raad gee? Dit word in die volgende artikel behandel.

Kan jy verduidelik?

◻ Wie het die voorreg en verantwoordelikheid om Christelike raad te gee?

◻ Waarom kan dit moed kos om raad te gee?

◻ Waarom het Paulus se liefde vir die Korinthiese Christene dit vir hulle makliker gemaak om sy raad te aanvaar?

◻ Waarom moet ’n Christenraadgewer sagmoedig sowel as nederig wees?

◻ Hoe kan ’n Christen seker maak dat sy raad nie oordonderend is nie?

[Prent op bladsy 13]

Paulus het Titus aangespoor om ander daaraan te herinner om “vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel