Die Vloed—’n waarskuwing uit die verlede
IN DIE mens se lang geskiedenis was daar talle natuurrampe so groot of groter as die uitbarsting van die berg St. Helens. Maar nie een was so groot soos die ontsaglike Vloed van Noag se dag nie. Daardie sondvloed was so groot en so verwoestend dat dit wêreldwyd ’n onuitwisbare indruk op die mensdom gemaak het.
Daar is 150 Vloedlegendes uit talle dele van die aarde, onder meer Babilonië, Rome, Indië, Australië en die Amerikas. Hoewel hierdie legendes in besonderhede verskil, kom hulle ooreen wat betref ’n sedelike oorsaak van die Vloed, wêreldwye vernietiging van die mensdom en die oorlewing van ’n gesin in ’n ark of ’n boot. Slegs ’n ramp van wêreldwye omvang kon so ’n wydverspreide en blywende indruk gemaak het.
Een Bybelgeleerde het geskryf: “Die ooreenkoms tussen al hierdie verhale is ’n onbetwisbare waarborg dat die tradisie nie ’n ydele versinsel is nie; ’n verdigsel is individueel, nie universeel nie; daardie tradisie het derhalwe ’n geskiedkundige grondslag; dit is die gevolg van ’n gebeurtenis wat werklik in die kinderdae van die mensdom plaasgevind het.” Maar waarom is daardie ramp in die gryse verlede ’n waarskuwing vir die geslag wat nou lewe?
Dit is vir ons veral belangrik om te let op die omstandighede wat tot die Vloed gelei het. Hulle ooreenkoms met wêreldtoestande vandag maak die Vloed vir ons belangrik. Die geskiedkundige verslag in die Bybelboek Genesis beskryf daardie omstandighede soos volg: “Die HERE [het gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was . . . Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”—Genesis 6:5, 12.
Die mensdom het sedelik verval, en al die versinsels wat bedink is, was altyddeur net sleg. Gevolglik ‘was die aarde vol geweld’ (Genesis 6:11). Mense het hulle lewe volkome aan die najaging van materiële en geslagsbegeertes gewy. Jesus Christus het die aandag hierop gevestig toe hy gesê het: “Net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en [geen ag daarop geslaan] het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheüs 24:38, 39, vgl. NW). Al waarin hulle belanggestel het, was die bevrediging van vleeslike begeertes.
Noag het hulle baie jare lank gewaarsku, maar daardie geslag het geweier om dit te glo. Hulle het gewis nog nie so ’n vloed ervaar nie. Omdat dinge soos tevore voortgegaan het, het die waarskuwing dus op dowe ore geval. Hulle het “geen ag daarop geslaan” nie. Dit het nie vir hulle saak gemaak dat dit ’n waarskuwing van hulle Skepper was wat deur Noag gekom het nie.
Maar God het vir Noag gesê: “Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg” (Genesis 6:13). Toe die Vloed kom, is Noag en sy gesin bewaar omdat hulle op die waarskuwing ag geslaan en God se instruksies gevolg het. Maar waarom is al hierdie dinge vir ons van besondere belang?
Parallelle toestande
Soos in die antediluviaanse dae het geweld, veral sedert die Eerste Wêreldoorlog, ’n lewenswyse geword. Politieke geweld tussen lande het tot die vernietigendste en grusaamste oorloë in die mensegeskiedenis gelei. Die geweld het na stede, na die straat en na huise versprei; selfs reisigers word daardeur bedreig. Daarbenewens het die televisie, rolprente en romans oorwegend gewelddadige temas.
Nog ’n parallel is die moderne lewenswyse. Die bevrediging van geslags- en materialistiese begeertes is die alverterende belang van die huidige geslag. Ons sien wêreldwyd ’n sedelike verval wat gelei het tot seksueel oordraagbare siektes wat epidemiese afmetinge aangeneem het. Owerspel, hoerery en homoseksuele verhoudinge is algemeen. Soos die geslag voor die Vloed, is die huidige geslag liewer vir vleeslike genietinge en materiële besittings as vir God.
As die uiters slegte gedrag van die antediluviaanse mense vir God “smart” veroorsaak het, is dit tog redelik om aan te neem dat hy vandag dieselfde sou voel oor die slegte gedrag wat wêreldwyd algemeen is, nie waar nie? Moet sy optrede teen daardie wêreld van Noag se dag nie vir die huidige geslag ’n waarskuwing wees nie? Is dit nie redelik om te meen dat hy tot dieselfde gevolgtrekking sal kom waarvan ons in Genesis 6:5-7 lees nie? Toe God die boosheid van die mensdom gesien het, was daar “smart in sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg.” Deur geïnspireerde Bybelskrywers het God gesê dat hy ’n soortgelyke strafgerig sal voltrek aan die genotsugtige geslag wat vandag lewe. Dit nader die grootste ramp in die mensegeskiedenis.
Die laaste dae
Die geïnspireerde Bybelskrywer van die tweede brief aan Timotheüs beskryf die dekadensie wat ons nou wêreldwyd sien. In hoofstuk 3, vers 1 tot 4, sê hy: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.”
Jesus Christus het ook profesieë oor die laaste dae van hierdie stelsel geuiter. In sy profesie het hy gepraat van die ontsettende geweld wat ons sedert die Eerste Wêreldoorlog gesien het en gesê: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Mattheüs 24:7). Hy het ook gepraat van die wetteloosheid wat vandag hoogty vier en van die vrees wat mense vir die toekoms het. “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word”, het Jesus gesê, “sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). Hy het ook gesê dat “mense se harte [sal] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Lukas 21:26.
Die uitdrukking “laaste dae” beteken dieselfde vir die teenswoordige geslag as wat dit vir die antediluviaanse geslag beteken het—’n einde aan die oorheersende deel van daardie mensestelsel. In 2 Thessalonicense 1:8, 9 sê die geïnspireerde Bybelskrywer Paulus dat God deur Jesus Christus “wraak [sal] uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.”
Die oorlewendes van die Vloed het gevind dat die antediluviaanse geslag van die aarde afgevee is. Die mense en alles waarvoor hulle gelewe het, was weg. Dit sal dieselfde wees wanneer goddelike wraak ’n einde aan die huidige, gewelddadige geslag maak. “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.”—Psalm 37:10.
Oorlewing is moontlik
Die parallel tussen die antediluviaanse geslag en ons geslag hou nie op by die boosheid van die mense en hulle vernietiging nie. Net soos daar oorlewendes van die Vloed was, sal daar oorlewendes van die einde van die huidige stelsel wees. Die oorlewendes van die Vloed was sagmoedige mense wat nie soos die mense in die algemeen gelewe het nie. Hulle was liefhebbers van geregtigheid wat aan God gehoorsaam was en op sy waarskuwings ag geslaan het. Genesis 6:8, 9 sê vir ons: “Noag het genade gevind in die oë van die HERE. . . . Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote.” Met betrekking tot Noag en sy mede-oorlewendes, het die apostel Petrus geskryf dat God “die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het”.—2 Petrus 2:5.
Ons word deur God se profete verseker dat daar ’n groot menigte oorlewendes van die naderende goddelike vernietiging van die huidige stelsel sal wees. Hulle sal ook sagmoedige persone wees wat liefhebbers van geregtigheid is en wat net so gehoorsaam aan God se instruksies is as wat Noag was. Na hy die vernietiging van die goddelose voorspel het, sê die psalmis: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11; Openbaring 7:9, 13, 14.
Jesus het voorspel dat die goeie nuus van God se Koninkryk in die laaste dae wêreldwyd verkondig sou word. Dit is die middel waardeur die regskapenes op die aarde vir oorlewing versamel word. Jesus het dit in sy gelykenis oor die skeiding van die skape en die bokke toegelig. En hy het die gelykenis afgesluit deur te sê dat die “bokke”, die onregverdiges, “sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges [“die skape”] in die ewige lewe”.—Mattheüs 25:31-46.
Hoewel die Vloed in die verre verlede plaasgevind het, is dit duidelik vir ons ’n waarskuwing om nie agteloos te wees nie. Volgens die Bybel is die verslag daarvan “tot ons lering” geskrywe (Romeine 15:4). Dit is ’n waarskuwing om nie te lewe volgens die gewelddadige, wellustige en materialistiese lewenswyse van die wêreld waar daar nie op ons Skepper ag geslaan word nie. Hy verander nie. God het die antediluviaanse geslag weens die boosheid daarvan uitgewis. Hy sal die huidige geslag en die hele stelsel van politieke heerskappy, materialistiese kommersialisme en valse godsdiens wat daaraan behoort om dieselfde rede uitwis.
As ons die einde van hierdie stelsel wil oorleef, moet ons op die waarskuwing uit die verlede ag slaan. Ons moet, soos die agt oorlewendes van die Vloed, bewys dat ons liefhebbers van geregtigheid is. En as ons behoue wil bly, moet ons die raad in Sefanja 2:3 volg: “Soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”
[Prent op bladsy 7]
Soos Noag en sy gesin die sondvloed oorleef het, kan jy onder die gelukkige oorlewendes van hierdie stelsel se einde tel