Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 8/15 bl. 26-29
  • Guadeloupe—“Die eiland van skone waters”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Guadeloupe—“Die eiland van skone waters”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Waters van waarheid begin vloei
  • Die stroom word groter
  • ’n Uitdaging word aanvaar
  • Waters van waarheid vloei immer sterker
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 8/15 bl. 26-29

Guadeloupe​—“Die eiland van skone waters”

GUADELOUPE, ongeveer 480 kilometer suidoos van Porto Rico geleë, is ’n groep eilande min of meer in die middel van die Klein Antille-eilandreeks. Op die kaart lyk die twee hoofeilande amper soos ’n skoenlapper met uitgestrekte vlerke. Die bergagtige Basse-Terre, met sy rustende vulkaan Soufriére, is aan die westekant, en die laagliggende Grande Terre is aan die oostekant. Die twee eilande word van mekaar geskei deur die nou kanaal van Rivière Salée. Vyf ander kleiner eilande en ’n paar eilandjies maak deel uit van hierdie Franse oorsese département, of administratiewe Streek.

Voordat Christopherus Columbus dit in 1493 ontdek en dit die huidige naam Guadeloupe gegee het, het die boorling-Karibes dit “Karukera”​—Eiland van skone waters—​genoem. Hulle het ongetwyfeld gedink aan die talryke riviere, strome en watervalle op die eilande. Vandag is daardie naam selfs meer gepas vanweë die oorvloedige waters van waarheid wat na die 328 000 inwoners vloei. Alhoewel hulle hoofsaaklik Katoliek is, is baie van hierdie hoflike en gasvrye mense besig om die suiwer waters van waarheid uit God se Woord, die Bybel, gretig in te drink.

Waters van waarheid begin vloei

Die eerste sypeling van waarheidswater het in 1938 in Guadeloupe begin vloei, net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Cyril Winston en sy gesin het van die naburige eiland Dominica gekom en begin om die goeie nuus aan die eilandbewoners te verkondig. Spoedig het 5 mense gereeld bymekaar begin kom, en teen Junie 1940 is die eerste gemeente gestig, met omtrent 15 mense wat die weeklikse Wagtoringstudie in Frans bygewoon het.

Die Tweede Wêreldoorlog het egter sterk druk van die Duits-beheerde regering in Frankryk gebring. Gedurende daardie tydperk is ’n hele besending lektuur vanaf Brooklyn by aankoms in die hawe verbrand, en bande met die hoofkantoor in Brooklyn is verbreek. Broer Winston het ernstig siek geword en moes terugkeer na Dominica, waar hy drie maande later gesterf het. Die vloei van waters van waarheid het ’n laagtepunt bereik; dit was ’n moeilike tyd vir die klein groepie Christene.

Na die oorlog het die broers hulle werk na hulle beste vermoë hervat. Om soveel mense moontlik te bereik, het hulle probeer om saans Bybeltoesprake in openbare plekke aan te bied. Die spreker het op iets hoogs gaan staan en sy toespraak gehou, met die mense wat in ’n kring rondom hom vergader het. ’n Ander broer het die lig voorsien deur ’n tuisgemaakte flitslig omhoog te hou. Op die soel, tropiese aande het verbygangers en bure dit geniet om na ’n bespreking van God se Woord in die buitelug te luister.

Maar gedurende een so ’n toespraak het ’n bende Katolieke Padvinders skielik verskyn. Hulle het die spreker omsingel en op hulle beuels begin blaas en op ’n paar groot ketels geslaan om die spreker onhoorbaar te maak. Die spreker het besef wat besig was om te gebeur en het kalm voortgegaan met sy toespraak deur slegs gebare te maak en sy lippe te beweeg. Die Padvinders het gou uitasem geraak en vertrek. En die broer het met sy toespraak voortgegaan soos beplan is.

Die stroom word groter

Met verloop van die jare is ’n aantal sendelinge na Guadeloupe gestuur om die klein groepie ywerige, plaaslike verkondigers te help. Aanvanklik was hulle beperk in wat hulle kon doen omdat hulle nie die taal kon praat nie. In die middelvyftigerjare het Franssprekende sendelinge egter aangekom, en die werk het vooruitgegaan.

As gevolg van sterk godsdiensteenstand moes baie wat die Bybelse waarheid aanvaar het egter met buitengewone vasbeslotenheid standpunt inneem. Dit was die geval met een vrou wat vyfuur in die oggend, onder die sluier van die nag, in die see gedoop moes word. Hierdie vrou en haar man het die Bybel saam begin studeer. Maar toe bure druk op hulle begin uitoefen het, het die man die studie opgegee uit vrees dat hy hulle as klante by sy kruidenierswinkeltjie sou verloor. Die vrou het aangehou en goeie vordering gemaak. Die druk het egter gou so sterk geword dat haar man gedreig het om haar dood te maak.

Een aand het sy ’n mes gevind wat onder haar man se kussing weggesteek was, en sy houding het by haar geen twyfel gelaat oor sy planne nie. Sy het besef dat haar lewe in gevaar is en te voet 16 kilometer ver deur tropiese woude en piesangplantasies na die huis van ’n Getuiegesin gevlug. Terwyl sy vir haar man weggekruip het, het sy gevra om gedoop te word. Sy het gesê: “As ek dan moet sterf ter wille van my geloof, wil ek onder Jehovah se volk getel word!” Later het hierdie getroue suster die voltydse diens betree, en sy is al die afgelope 24 jaar ’n spesiale pionier. Hoewel sy haar vleeslike gesin weens haar geloof verloor het, het sy ’n groot geestelike gesin bygekry, soos Jesus in Mattheüs 19:29 belowe het. Sy het ongeveer 35 mense gehelp tot die punt van toewyding en doop.

Die waters van waarheid versprei op onverwagte maniere. Twee Katolieke mans in ’n afgeleë dorpie in die noorde het ’n Bybel gekry. Hulle het dit daagliks begin lees en het na iemand gesoek om hulle te help om dit te verstaan. ’n Buurman het vir hulle gesê dat hy in aanraking kan kom met ’n neef, ’n “Jehovah”, wat hulle graag sal help. Dit was die eerste keer dat hulle ooit van God se naam gehoor het.

Die neef het vir hulle ’n paar nommers van Ontwaak! gestuur, wat hulle nie net geniet het om self te lees nie, maar ook onder ander in die dorpie versprei het. Toe hulle hoor dat ’n byeenkoms naby Pointe-à-Pitre gehou word, het hulle daarheen gegaan en aan die kringopsiener gesê: “Ons het na hierdie byeenkoms gekom en ons sal graag gedoop wil word.” Hulle is natuurlik hartlik verwelkom, maar hulle is ook gehelp om te verstaan dat hulle sekere stappe moes doen en veranderinge moes aanbring voordat hulle aan die vereistes vir doop kon voldoen. Reëlings is dus getref om hulle te help, en hulle is by die volgende byeenkoms gedoop.

Ondervindinge soos hierdie het groot vreugde en bemoediging vir die broers verskaf. Die waters van waarheid het aangehou vloei, en teen 1960 was daar altesaam 251 Koninkryksverkondigers in Guadeloupe.

’n Uitdaging word aanvaar

’n Groot probleem op hierdie klein eilandjie was om geriewe te vind wat groot genoeg is vir byeenkomste. Daar was lank slegs twee byeenkomsplekke beskikbaar. Die broers het ’n sterk begeerte gehad om byeenkomste in alle dele van die eiland te hou sodat die waters van waarheid meer mense kan bereik.

Die broers het uiteindelik besluit om hulle eie “saal” te bou. Hulle het genoeg geld bygedra en ’n verplaasbare struktuur van staalpype en plaatmetaal ontwerp wat groot genoeg was om sitplek aan 700 mense te verskaf. Toe hulle hulle eie “byeenkomssaal” vir die eerste keer in Januarie 1966 in Basse-Terre gebruik het, het ’n geesdriftige skare van 907 gekom. Die “saal” was van die begin af te klein!

Met hierdie nuwe voorsiening het dit moontlik geword om byeenkomste op selfs die afgeleë eilande te hou. Dit het die verspreiding van waters van waarheid in baie gebiede ’n groot stoot gegee. Stel jou die reaksie voor van die mense in Grand Bourg, ’n klein dorpie met ongeveer 6 000 inwoners op die eiland Marie Galante, toe hulle “binnegeval” is deur drie bote wat omtrent eenduisend byeenkomsgangers met hulle bagasie en ander gereedskap gebring het. Dit was ’n gesig wat nooit voorheen gesien is nie​—’n lang tou mense wat van die kaai af deur die dorp na die byeenkomsterrein stap. Dit het ’n goeie getuienis aan die eilandbewoners gegee, en vandag is daar drie ywerige gemeentes op hierdie eiland.

Met verloop van jare is die “saal“ baie kere vergroot. Uiteindelik het dit ’n struktuur van 27 metrieke ton geword wat ongeveer 3 000 vierkante meter beslaan het, met sitplek vir 5 000 mense. Dit was vanselfsprekend ’n reusetaak om al die toerusting te vervoer, op te rig en af te breek elke keer as ’n byeenkoms gehou is. Om sake te kompliseer, het dit moeiliker geword om ’n geskikte plek te vind waar die verplaasbare “saal” opgerig kon word, daar oop grond vinnig deur bouprojekte opgeneem is. Die enigste oplossing was skynbaar om ’n permanente plek vir die “saal” te vind.

Weer eens het Jehovah in die behoeftes van die broers voorsien. ’n Sentraal geleë stuk grond van meer as 50 000 vierkante meter het beskikbaar geword. Met oorvloedige bydraes van al die gemeentes op die eilande is die perseel in 1979 gekoop. Dit het ’n permanente sentrum van ware aanbidding vir Guadeloupe geword.

Waters van waarheid vloei immer sterker

Toe die tak in Guadeloupe in 1954 gestig is, was daar 128 Koninkryksverkondigers. Nou het daardie getal toegeneem tot meer as 4 500. Dit beteken dat een uit elke 72 mense in Guadeloupe ’n getuie van Jehovah is. En in Pointe-à-Pitre, die hoofstad, is die syfer een uit elke 29​—ongetwyfeld een van die beste verhoudings in die wêreld!

Hierdie getroues is druk besig om die waters van die waarheid uit te deel, en hulle hou meer as 7 300 tuisbybelstudies met belangstellendes dwarsdeur die gebied. Hulle pogings is geseën toe 12 553 in 1986 vergader het om die dood van die Here Jesus Christus te herdenk. Die broers in Guadeloupe voel waarlik dat Jehovah hulle eilande “laat bewe” om “die skatte van al die nasies” te versamel.​—Haggai 2:7.

Die “eiland van skone waters” word, in geestelike sin, immer mooier. Daar is baie wat gehoor gee aan die uitnodiging: “Kom!” en wat ‘die water van die lewe verniet neem’.​—Openbaring 22:17.

[Kaarte op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GUADELOUPE

GRANDE TERRE

Pointe-à-Pitre

Soufrière

Rivière Salée

BASSE-TERRE

MARIE GALANTE

Grand Bourg

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel