Jongmense wat Jehovah se hart verbly
“Verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”—SPREUKE 27:11.
1. Hoe word ons ouers en ons Skepper geraak deur die manier waarop ons ons lewe lei?
H TSY jy dit besef of nie, dit maak ’n verskil hoe jy jou lewe lei. Dit maak byvoorbeeld ’n verskil vir jou ouers. “’n Wyse seun verbly die vader”, verduidelik die Bybel, “maar ’n dwase seun is ’n bekommernis vir sy moeder” (Spreuke 10:1; 23:24, 25). Maar nog belangriker, die manier waarop jy jou lewe lei, kan ons Skepper, Jehovah God, òf gelukkig òf ongelukkig maak. “Wees wys, my seun,” vermaan Jehovah, “en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”—Spreuke 27:11.
2. Watter belangrike geskil het Satan geopper, en hoe is ons daarby betrokke?
2 Die persoon wat Jehovah smaad, is natuurlik Satan die Duiwel. In die tuin van Eden het Satan ’n belangrike geskil geopper wat ’n antwoord van God vereis het. Toe die Duiwel, oënskynlik sonder moeite, daarin geslaag het om Eva, en daarna Adam, God se wet te laat oortree, het hy Jehovah blykbaar uitgedaag. Satan het in der waarheid beweer: ‘Gee my net die kans en ek sal enigiemand van u afvallig kan maak’ (Job 1:6-12). Vandaar Jehovah se hartverblydende versoek dat sy seun Hom van ’n “antwoord” moet voorsien sodat Hy Satan se uitdaging kan weerlê.
3. Waarom geld Jehovah se versoek veral vir Jesus, en wie anders moet ook God se hart verbly?
3 Maar op wie in die besonder het Jehovah hierdie beroep gedoen? Wie word hier as “my seun“ aangespreek? Jesus Christus is op unieke wyse God se seun, sy eniggebore Seun (Johannes 1:14). Daarbenewens is Jesus, buiten Adam, wat sy Skepper in die steek gelaat het, die enigste volmaakte man wat ooit op aarde was en derhalwe die enigste man wat in ’n volkome sin kon bewys dat ’n mens aan God getrou kan bly (1 Korinthiërs 15:45). Jehovah se versoek geld dus veral vir Jesus. En Jesus het nie sy Vader teleurgestel nie. Deur sy getrouheid het Jesus God ’n antwoord gegee op Satan se grootpraterige uitdaging dat mense Hom nie onder beproewing getrou sou dien nie (Hebreërs 2:14; 12:2). Almal wat saam met Christus in die hemel gaan regeer, sal ook Jehovah se hart moet verbly deur selfs tot die dood toe aan God getrou te bly.—Openbaring 2:10.
4. Watter belangrike saak moet jy oordink wanneer jy besluit wat om met jou lewe te doen?
4 Maar wat van ons vandag, met inbegrip van die jongmense? Is julle betrokke by hierdie geskil, naamlik of mense aan God getrou sal wees of nie? Julle is inderdaad! (Psalm 147:11; 148:12, 13). Jy besef dit miskien nie, maar jou lewenswyse steun òf God se kant van die geskil òf Satan s’n. Dit maak òf Jehovah òf Satan gelukkig. Ja, daar kan gesê word dat Jehovah se uitnodiging of versoek ook aan jou persoonlik gerig is: “Wees wys, my seun [of dogter], en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Is die verblyding van jou Skepper se hart nie ’n bevredigende doelwit nie?
Waarom dit wys is
5. Waarom is dit wys om Jehovah se hart te verbly?
5 Let daarop dat Jehovah ons aanspoor: “Wees wys.” Waarom is ons wys wanneer ons Jehovah se hart verbly? Dit is omdat Jehovah ’n liefdevolle Vader is wat net die beste vir ons wil hê, en alles wat hy ons vra om te doen is vir ons beswil. Soos Jesaja 48:17, 18, (NAV) sê: “Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan. As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was, sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het, so onkeerbaar soos ’n rivier, soos die golwe van die see.”
6. (a) Wat toon dat Jehovah wil hê dat jy die lewe moet geniet? (b) Watter gevolge kan jy nie vryspring nie?
6 As liefdevolle ouer wil Jehovah hê dat jy sy kosbare gawe, die lewe, ten volle moet geniet. Daarom sê hy: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë.” Hierdie is natuurlik nie ’n uitnodiging om te doen net wat jy begeer nie. Dit blyk uit die daaropvolgende waarskuwing: “Maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (Prediker 11:9). Ja, jy kan nie die gevolge van jou dade vryspring nie; God sal jou aanspreeklik hou vir wat jy doen. Die reël is onontkombaar: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.
7, 8. (a) Hoe kan jy verdriet uit jou hart weer en ellende weghou? (b) Wanneer is die jeug en die jonkheid nietigheid?
7 Om hierdie rede voeg Jehovah by: “Weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid” (Prediker 11:10). Dit is gewis wys om dinge te vermy wat jou later verdriet en probleme kan besorg. Daar sal natuurlik diegene wees wat sê jy mis iets—dat jy nog nie ‘regtig gelewe het’ tensy jy al dronk geword het, onsedelik was of iets anders gedoen het wat “waaghalsig” is nie. Maar hoe dwaas is hulle tog! “Dit was beslis nie die moeite werd nie”, het ’n betraande jong skolier gesê nadat sy hoerery gepleeg het. “Ek was sedertdien nog heeltyd bekommerd.”
8 Jongmense, gee dus wyslik ag op God se raad en weer uit julle hart alle rede tot kommer of verdriet, soos ondervind word deur jongmense wat ’n roekelose of selfsugtige lewe lei. ’n Sewentiende-eeuse essayis het opgemerk: “Die grootste deel van die mensdom gebruik hulle eerste jare om hulle laastes ellendig te maak.” Dit is waar, maar hoe jammer tog! Wanneer ’n jong persoon sy energie en vermoëns gebruik op ’n manier wat later sy volwasse lewe moeiliker maak, is sy jeug en jonkheid inderdaad nietigheid! (Spreuke 22:3). Wees dus wys! Slaan ag op die verdere vermaning: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.”—Prediker 12:1.
9. Watter voordele sal jy geniet as jy in jou jonkheid aan Jehovah dink?
9 Dit is werklik tot jou beswil om in jou jonkheid aan Jehovah te dink. Nie alleen sal jy verdriet en rampspoedige probleme vermy nie, maar jy sal ook nou reeds ’n gelukkige, lonende lewe lei in die diens van jou groot Skepper. Bowendien sal jy wyslik vir jou skatte bymekaarmaak in die hemel wat tot jou ewige beswil sal wees (Mattheüs 6:19-21). As jy nou aan Jehovah dink deur sy wil te doen, sal hy aan jou dink en jou beloon met “die begeertes van jou hart”, ja, ’n gelukkige, vol lewe tot in ewigheid in die Paradys!—Psalm 37:4; 133:3; Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:3, 4.
Hoe voel jy oor Jehovah?
10. (a) Waarom kan jou besluit om God te dien nie bloot ’n kille berekening wees van wat wys is nie? (b) Watter verdere beroep doen Jehovah op jou?
10 Jou besluit om Jehovah te dien kan egter nie bloot ’n kille berekening wees van wat wys is nie. Satan is so ’n geslepe vyand dat, indien jy net aan jou eie voordeel dink, hy uiteindelik die een of ander selfsugtige neiging sal uitbuit om jou van Jehovah afvallig te maak. Daarom vra Jehovah jou nie bloot om wys te wees nie. Nee, hy doen ook ’n beroep op jou om jou persoonlik aan hom toe te wy. Jesus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart” (Mattheüs 22:37). Weet jy wat dit beteken om Jehovah met ’n volkome hart lief te hê?
11. (a) Wat beteken dit om jou hart aan Jehovah te gee? (b) Hoe lig die ondervinding van Josef toe dat die regte hartsmotief ons kan beweeg om God se wil te doen?
11 Jou hart is jou diepste self, jou beweegredes, jou gesindhede en jou diep emosies, tesame met jou denkvermoëns. Om Jehovah met jou hele hart lief te hê, beteken dus dat jy hom innig liefhet en dat dit bo alle ander dinge in die lewe jou weloorwoë keuse is om sy hart te verbly deur hom ’n antwoord te gee op Satan se smadelike uitdaging. Hierdie innerlike onderskeidingsvermoë en opregte liefde vir en belangstelling in God sal jou sterkste beweegrede wees om sy wil te doen, selfs wanneer dit so aanloklik lyk om anders te handel. Jong Josef het sulke liefde vir Jehovah gehad, want toe ’n vooraanstaande vrou hom genooi het: “Kom slaap by my”, het Josef geantwoord: “Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!”—Genesis 39:7-9, NAV.
12. (a) Hoe toon jy dat jy jou hart aan Jehovah gegee het? (b) Watter vrae moet jy jou afvra as jy nog nie jou hart aan Jehovah gegee het nie?
12 Jy toon dat jy Jehovah met jou hele hart liefhet wanneer jy in gebed tot hom gaan en vir hom sê dat jy aan hom wil behoort, dat jy hom vir ewig wil dien. So wy jy jou aan Jehovah toe. Het jy dit gedoen? Indien nie, waarom nie? Wat keer jou? Is jy oud genoeg om die groot geskil tussen Jehovah en Satan te verstaan? En wil jy Jehovah se hart verbly? Satan wil beslis nie hê dat jy Jehovah met jou hele hart moet liefhê nie. Hy wil hê dat jy selfsugtig moet wees deur te maak soos jy wil, jouself te behaag. Wie gaan jy verbly, Jehovah of Satan? Dink ernstig daaroor na.
13. Watter vrae moet jy jou afvra as jy toegewy en gedoop is?
13 Gestel jy het jou aan God toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. Toon jou lewenswyse dat jou hart werklik aan God behoort? Waar lê jou belangstelling? Waarop het jy jou hart gesit? Op ’n nuwe motor? Op maniere om geld te maak om klere of ander persoonlike goed te koop? Wie se belange kom eerste—joune of Jehovah s’n? Het jy werklik gereageer op Jehovah se versoek dat jy jou hart aan hom gee?
14. (a) Watter kosbare bate besit jongmense? (b) Waarom is dit jammer wanneer ’n jong persoon nie aan sy Skepper dink nie?
14 Hoewel ouer persone meer ondervinding en gewoonlik meer wysheid het, het jongmense ’n waardevolle bate wat hulle kan gebruik om God te behaag. “Die sieraad van die jongmanne is hulle krag”, sê die Bybel (Spreuke 20:29). Gebruik daardie krag nou. Dink aan jou Skepper “voordat die ongelukkige dae kom”, die ouderdom, wanneer die liggaam verswak en die organe begin ingee. Hoe jammer is dit tog wanneer iemand versuim het om in sy jonkheid aan sy Skepper te dink sodat hy in sy oudag niks het om hom by God aan te beveel nie! “Dit is alles tevergeefs” (Prediker 12:1-8). Dink dus wyslik aan jou Skepper terwyl jy krag en energie het. Bou ’n reputasie van getroue diens aan God, en hy sal aan jou dink met ’n gunstige oordeel, ja, die ewige lewe.—Hebreërs 6:10-12; Prediker 12:13, 14.
Hulle het God se hart verbly
15. Watter Bybelse voorbeelde is daar van jongmense wat hulle krag in God se diens gebruik het?
15 Die Bybel is vol voorbeelde van jongmense wat hulle “sieraad”—hulle krag—in God se diens gebruik het. Dit was rats en lenige “jongmanne” wat die Beloofde Land verken het (Josua 6:22, 23; 2:15, 16, 23). Terwyl Dawid self nog maar in die twintig was, het hy “tien jongmanne” uitgestuur om ’n guns van Nabal te vra (1 Samuel 25:4, 5). Wie het die gevaarlike, harde werk gedoen toe die Jode onder goewerneur Nehemia die mure van Jerusalem herbou het terwyl die vyand gedreig het om hulle aan te val? “Die helfte van my jongmanne [was] met die werk besig”, het Nehemia verduidelik, “en die helfte van hulle het die lanse, die skilde en die boë en die pantsers vasgehou” (Nehemia 4:16, NW). En toe God Ananias en sy vrou Saffira tereggestel het omdat hulle gelieg het, het die “jongmanne” hulle uitgedra en begrawe.—Handelinge 5:5, 6, 10.
16. Aan watter geestelike bedrywighede het jongmense in die verlede deelgeneem?
16 Dit verbly voorwaar Jehovah se hart wanneer jongmense hulself beskikbaar stel vir watter diens ook al verlang word. Maar jongmense het ook aan geestelike bedrywighede deelgeneem wat meer as fisieke krag en stamina geverg het. “Ek is jonk”, het Elihu erken. Tog het Jehovah hom gebruik om Job tereg te wys (Job 32:4-6). Samuel was nog maar ’n “seun” toe hy by Jehovah se tabernakel in Silo begin dien het (1 Samuel 2:18). Dit was “’n klein dogtertjie” wat, hoewel sy ’n slavin in Naäman se huis was, onbevrees vertel het wat Jehovah se profeet kan doen (2 Konings 5:2-4). Toe Jehovah Jeremia as profeet aangestel het, het Jeremia gesê: “Ek is jonk” (Jeremia 1:5, 6). “En hierdie vier jong seuns”—Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle—was uitsonderlike knegte van Jehovah terwyl hulle in Babiloniese ballingskap was! (Daniël, hoofstukke 1 en 3). Paulus se susterskind, ’n “jongman”, het moedig vir sy oom in die bres getree (Handelinge 23:16-22). Dan was daar die jongman Timotheüs, wat van kleins af die heilige Skrifte geken en sy jeug in Jehovah se diens gebruik het.—2 Timotheüs 3:15; Filippense 2:19-23; 1 Korinthiërs 4:17.
Verbly Jehovah se hart vandag
17. Waarom kan ons verwag om vandag jongmense te vind wat Jehovah behaag, en is dit die geval?
17 En dit is nie net jongmense van die verlede wat God se hart deur hulle getroue diens verbly het nie. “In die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien” (Handelinge 2:17; Joël 2:28). Ons kan dus tereg verwag om in hierdie laaste dae talle jong Christene te vind wat Jehovah behaag. En ons vind hulle ook! Hoewel jong Getuies net so onvolmaak is soos die res van ons, is baie van hulle uiters voorbeeldige Christene. Hulle stel daarin belang om Jehovah se hart te verbly.—Spreuke 27:11; 3:1, 2.
18, 19. Watter werk moet vandag gedoen word, en waarom is jongmense baie geskik daarvoor?
18 In hierdie laaste dae is dit Jehovah se wil dat ’n groot, wêreldwye getuienis oor sy Koninkryk gelewer moet word, ’n taak wat groot inspanning verg (Mattheüs 24: 14). Koninkryksale vir aanbidding moet opgerig word, sowel as groter geboue vir kringbyeenkomste. In baie lande is meer fabrieksruimte nodig vir die vervaardiging van Bybellektuur, sowel as bykomende woongeriewe in Bethelhuise. Dit kos moeisame bouwerk om hierdie nuwe geriewe te voorsien, en soos met die muurbouery in Nehemia se dag doen jongmense met krag en uithouvermoë baie van die werk.
19 Sulke jongmense verrig ook die grootste deel van die swaar hande-arbeid wat nodig is om elke jaar duisende tonne Bybellektuur te druk, te bind en te versend. Trouens, by die New Yorkse hoofkwartier van Jehovah se Getuies, met inbegrip van Watchtower Farms, is daar meer as 1 400 jongmense wat 25 jaar oud of jonger is. En hulle diens is nie beperk tot die fisies veeleisende werk wat hulle gedurende die week doen nie; gedurende die naweke neem hulle ook nog deel aan die predikingswerk van huis tot huis en aan Christelike vergaderinge saam met die plaaslike gemeentes. Hoe verbly dit Jehovah se hart tog nie!
20. (a) Watter aandeel het jongmense in die pionierbediening? (b) Watter vrae moet jongmense wat nie in die voltydse bediening staan nie hulle afvra?
20 In die Verenigde State is daar meer as 12 700 ander jongmense van dieselfde ouderdomsgroep wat as gewone pionierbedienaars dien en skouer aan skouer saam met eersgenoemde groep jongmense werk. In ander wêrelddele is daar nog derduisende jongelinge wat ook pioniers is. Is jy ’n jong persoon wat nog nie die voltydse bediening betree het nie? Kan jy vir jou doelwitte stel wat Jehovah die eerste plek in jou lewe sal gee, in plaas van bloot ’n goed betaalde sekulêre werk te kry, dan te trou en ’n gesin te hê? Verstaan jy die groot universele geskil? Begeer jy werklik om te sien dat die naam van onse groot Skepper van alle smaad gesuiwer word? Is dit dan nie gepas dat jy jou uiterste bes doen in Jehovah se diens nie? En sou dit nie, vir ten minste baie meer van julle, beteken dat julle aanbied om by Bethelhuise te dien of om pioniers te word nie?
21. (a) Op watter uitnodiging van Jehovah moet jy reageer, en hoe? (b) Waarom kan ons vol vertroue wees dat nog baie jongmense op Jehovah se uitnodiging sal reageer soos Jesaja gereageer het?
21 Luister! Jehovah nooi jou, ja, doen ’n beroep op jou, om hom van ’n antwoord te voorsien op Satan se bose beledigings. Kan jy, soos Jesaja, Jehovah hoor vra: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Wees wys en antwoord soos Jesaja: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Ons is vol vertroue dat nog baie van julle jonges op hierdie oproep sal reageer, want God se Woord beloof: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u strydkrag. . . . U [het] u geselskap van jongmanne [en -meisies] net soos doudruppels” (Psalm 110:3, NW; 148:12, 13). En wanneer jy wel reageer, kan jy die vreugde smaak om te weet dat Jehovah dit sien en goedkeur—dat jy inderdaad sy hart verbly!
TER HERSIENING
◻ Waarom is dit vir Jehovah belangrik hoe ons ons lewe lei?
◻ Waarom is dit wys om Jehovah se hart te verbly?
◻ Hoe kan ons toon dat ons ons hart aan Jehovah gegee het?
◻ Wie het in die verlede Jehovah se hart verbly, en hoe?
◻ Wie maak vandag Jehovah se hart bly, en hoe?
[Lokteks op bladsy 17]
Wanneer jongmense God se wette oortree, maai hulle later bittere gevolge
[Prent op bladsy 18]
Jongmense het God se hart verbly deur te help om die mure van Jerusalem te herbou