Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 6/15 bl. 26-28
  • Koninkryksvermeerdering in die land van die keisers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Koninkryksvermeerdering in die land van die keisers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • ’n Tweede groot wêreldkrisis
  • Onlangse vermeerdering
  • ’n Demonstrasie van internasionale eenheid
  • Koninkryksvermeerdering duur voort
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 6/15 bl. 26-28

Koninkryksvermeerdering in die land van die keisers

AS JY na ’n kaart van Sentraal-Europa kyk, sal jy die landjie Oostenryk, wat ’n gebied van slegs 83 850 vierkante kilometer beslaan, aan die voet van die Alpe sien. Dit was Johann Strauss, die koning van die wals, se vaderland. Mense kom hierheen om hulle te verwonder oor die danse van die Lippizaner-perde. En die setel van die groot Oostenryks-Hongaarse Ryk, wat oor Boheme en Morawië, dele van Italië, Pole, Roemenië en Joego-Slawie geheers het, was eens op ’n tyd hier.

Daardie ryk is vandag ’n blote herinnering, maar dit het nog in 1911 bestaan toe Charles Taze Russell, die eerste President van die Wagtoringgenootskap, Wenen besoek het en die plaaslike pers groot publisiteit aan sy toespraak gegee het. Dit het nog drie jaar later bestaan toe iemand anders die goeie nuus daarheen geneem het.

Max Freschel was ’n Jood wat later die naam Maxwell Friend aangeneem het. Hy skryf: ‘Toe J. F. Rutherford, wat later die tweede president van die Wagtoringgenootskap geword het, ons besoek het, het hy my gevra of ek na Oostenryk-Hongarye gestuur wil word om die goeie nuus van die Messiaanse Koninkryk te versprei onder die talle Jode wat daar woon. Ek het die uitnodiging gretig aangeneem en aan die begin van 1914 na Praag gegaan. Daarna is ek Wenen toe. Daar was slegs vier intekenaars op Die Wagtoring in Wenen. Ek het hulle herhaaldelik besoek om hulle belangstelling in God se Woord aan te wakker.’

Later daardie jaar is die Oostenrykse kroonprins egter vermoor en is Europa in die Eerste Wêreldoorlog gedompel. Die Sentrale Magte, onder meer Oostenryk-Hongarye, het die oorlog verloor en die groot Oostenryks-Hongaarse Ryk is verpletter. Die klein Duitssprekende Republiek van Oostenryk het uit die puin te voorskyn gekom.

Volgens Bybelprofesie sou ’n ander “nasie” egter op daardie tydstip gebore word, ’n geestelike nasie wat lede dwarsoor die wêreld sou hê (Jesaja 66:8). Namate hierdie “nasie” die goeie nuus van God se tans opgerigte Koninkryk onder al die nasies begin versprei het, is die invloed daarvan weldra in Oostenryk gevoel.

Joseph Ehm, ’n musiekonderwyser in Deutsch-Wagram, naby Wenen, het die boodskap gehoor en die melodie van Bybelwaarheid herken. Dit was nie lank voordat hy die goeie nuus met ander begin deel het nie. Gedurende die volgende jaar, 1921, het ’n ander belangstellende in Oostenryk, Franz Ganster, ’n boekhouer in Klagenfurt, lektuur uit Switserland ontvang. Terselfdertyd het ’n boer in Opper-Oostenryk, Simon Riedler, ’n boekie van ’n vriend in Lienz gekry. So is ’n klein begin gemaak. Die eerste takkantoor van die Wagtoring-Bybel- en Traktaatgenootskap in Oostenryk is in 1923 in Wenen geopen. Die waarheidsaad het op vrugbare grond geval en begin groei. Teen 1937 was daar 549 werkers wat die goeie nuus versprei het.

’n Tweede groot wêreldkrisis

Gedurende hierdie tydperk is ander kragte egter aan die gang gesit wat ’n rampspoedige uitwerking sou hê en Oostenryk weer eens die middelpunt van wêreldgebeure sou maak. Volksonrus en politieke mededinging het in 1938 die kanselier van Duitsland, Adolf Hitler, ’n Oostenryker van geboorte, in staat gestel om sy geboorteland by die nuwe Duitse Ryk in te lyf. Dit is deur ’n nasionale plebissiet goedgekeur en is deur die plaaslike Katolieke hiërargie ondersteun. Maar dit het onmiddellik probleme vir Jehovah se Getuies in Oostenryk veroorsaak.

Talle Oostenrykse Getuies is toe weens hulle neutraliteit in konsentrasiekampe gesit. Die Geschichte des Konzentrationslagers Mauthausen (Die geskiedenis van Mauthausen-konsentrasiekamp), wat ’n voorrede bevat deur Franz Jonas, voormalige president van die Oostenrykse Bondsrepubliek, sê: “Daar was ’n groep mense in Mauthausen-konsentrasiekamp wat bloot om godsdiensredes vervolg is: lidmate van die sekte ‘Ernstige Bybelstudente’ of ‘Getuies van Jehovah’ . . . Hulle verwerping van die eed van getrouheid aan Hitler en hulle weiering om militêre diens van enige aard te verrig​—’n politieke gevolg van hulle geloof—​was die rede vir hulle vervolging.”

Onlangse vermeerdering

Hitler se “1 000-jarige” Ryk het slegs ’n paar jaar geduur, en toe dit val, het hierdie getroue kudde lojale knegte van God hulle vryheid teruggekry. Vier-en-tagtigjarige Alois Moser, wat jare in konsentrasiekampe deurgebring het, vertel van die dag in 1945 toe hy vrygelaat is: “Dit was in die woude naby Schwerin, Mecklenburg, dat 230 Getuies van tien nasies bymekaargekom het. Ons het deur ’n resolusie uiting gegee aan ons dankbare vreugde: ‘Ons almal as getuies van Jehovah stuur ons innigste groete aan Jehovah se getroue verbondsvolk en hulle metgeselle in die hele wêreld . . . Ons neem ons plegtig voor dat ons slegs een wens het nadat ons die eindelose reeks bewyse van wonderlike beskerming en verlossing uit al die duisende konflikte en beproewinge gedurende ons verblyf in die leeukuil ervaar het​—naamlik om Jehovah en sy Koning Jesus Christus uit diepe waardering met ’n gewillige en vreugdevolle hart tot in ewigheid te dien.’”

Een jaar later het 730 lowers van Jehovah hulle werk gerapporteer. Twee jaar daarna was daar 1 551, en die vermeerdering het sedertdien onverpoos voortgeduur. Die predikingswerk onder die etlike duisende buitelandse werkers het ook resultate opgelewer. Oostenryk het nou groepe Christene wat Hongaars, Engels, Pools, Roemeens, Spaans, Turks en Arabies praat, asook 229 Duitssprekende en ses Serbo-Kroatiese gemeentes. Jehovah se Getuies tel tans meer as 15 000, maar talle ander mense word deur die krag van die goeie nuus aangetrek. Altesaam 27 502 het dus in 1985 vir die jaarlikse herdenking van Jesus Christus se dood vergader. Waarlik, ‘die kleine het duisend geword’.​—Jesaja 60:22, NW.

’n Demonstrasie van internasionale eenheid

Oostenryk se ligging het dit vir Getuies uit Griekeland, Joego-Slawië, Pole, Hongarye en Turkye moontlik gemaak om gedurende onlangse jare vir vreugdevolle assosiasie hierheen te kom. In 1981 was dit ’n roerende gesig toe Oostenrykse Getuies by die “Koninkrykslojaliteit”-Streekbyeenkoms saam met hulle broers uit Joego-Slawië, Pole en Hongarye opgestaan het om die byeenkoms met ’n vreugdevolle loflied tot Jehovah af te sluit.

In 1982 was die Getuies in Oostenryk weer eens by ’n byeenkoms in Wenen gashere vir hulle broers uit Hongarye. ’n Voormalige Weense atleet het die vergaderde Getuies vertel dat hy vir sy wedlope geoefen het in die einste stadion waar die byeenkoms gehou is, en dat hy by die laaste byeenkoms waaraan hy deelgeneem het teen ’n Hongaarse span meegeding het. Later het ’n Getuie van Hongarye na die byeenkomskantoor gekom en vertel dat hy ook voorheen ’n atleet was. Sy laaste atletiekbyeenkoms was teen ’n Oostenrykse span. Nou wedywer hierdie twee Christene nie meer met mekaar nie. Hulle hardloop saam in die Christenwedloop om die ewige lewe.​—Hebreërs 12:1.

Koninkryksvermeerdering duur voort

Mense van uiteenlopende herkoms, asook met verskillende politieke en godsdiensbeskouings, het tot die besef gekom dat geen monargie of diktatorskap of demokrasie ’n blywende oplossing vir die mensdom se probleme kan bewerkstellig nie. Hierdie besef het gelei tot immer toenemende groei in die geledere van diegene wat erken dat God se Koninkryk ’n werklikheid is en wat hulle heelhartig as getroue onderdane aan hierdie Koninkryk onderwerp. Jehovah se Getuies in Oostenryk sal voortgaan met hulle ywerige pogings om die goeie nuus van die Koninkryk na allerhande mense te neem. Die hele tyd gee hulle self, in hierdie land van die keisers, die voorkeur aan daardie regering waarvan die voordelige heerskappy “van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde” sal strek.​—Psalm 72:8.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

WES-DUITSLAND

TSJEGGO-SLOWAKYE

OOSTENRYK

HONGARYE

JOEGO-SLAWIË

ITALIË

DIE ALPE

SWITSERLAND

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel