Die Evangelies—feit of versinsel?
SOGENAAMDE hoër kritici val die Evangelieverslae van Jesus se lewe al lank op verskillende gebiede aan: Hulle beweer dat hierdie verslae vol weersprekings is en dat dit te lank ná die gebeure geskryf is om gegronde geskiedenis te wees. Hulle maak die wonderdadige elemente as blote versinsels af.
In sy boek Caesar and Christ het geskiedskrywer Will Durant probeer om die Evangelieverslae uit ’n suiwer objektiewe standpunt—as geskiedkundige dokumente—te ondersoek. Hy het erken dat daar oënskynlike weersprekings en probleme in die Evangelieverslae is, maar het nietemin tot die slotsom gekom: “Die weersprekings is in klein besonderhede, nie die kern nie; die sinoptiese evangelies stem in hooftrekke merkwaardig ooreen, en vorm ’n konsekwente beeld van Christus.”
Maar wat van die hoër kritici se bewerings dat die Evangelies nie aan die maatstaf vir ware geskiedenis voldoen nie? Durant het voorts gesê: “In die geesdrif van sy ontdekkings het die Hoër Kritiek sulke streng toetse van egtheid op die Nuwe Testament toegepas dat honderd eertydse waardige persone—bv. Hammoerabi, Dawid, Sokrates—daarvolgens in legendes sou vervaag. Ondanks die vooroordele en teologiese vooropgesette menings van die evangeliste teken hulle talle voorvalle aan wat blote versinners sou verberg het—die wedywer van die apostels om vername plekke in die Koninkryk, hulle vlug ná Jesus se inhegtenisname, Petrus se verloëning . . . Niemand wat hierdie tonele lees, kan twyfel aan die werklikheid van die figuur daaragter nie.”
Geskiedskrywer Durant het afgesluit: “Dat ’n paar eenvoudige manne in een geslag so ’n kragtige en innemende persoonlikheid, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende gesig van mensebroederskap sou versin, sou ’n baie ongeloofliker wonderwerk gewees het as enige wonderwerk wat in die Evangelies opgeteken is. Na twee eeue van Hoër Kritiek bly die hooftrekke van die lewe, karakter en leer van Christus redelik duidelik, en dit vorm die boeiendste aspek van die geskiedenis van die Westerse mens.”