Ontheiliging van God se naam—Deur dit nie te gebruik nie
TER wille van sy naam was Jehovah genadig teenoor die volk Israel sodat daardie naam nie onder die nasies ontheilig sou word nie (Esegiël 20:9,13,14, 22). Die Israeliete het egter mettertyd nagelaat om God se naam te gebruik sodat die uitspraak daarvan uiteindelik verlore gegaan het. Hierdie versuim om God se naam te gebruik, het op ontheiliging daarvan neergekom.
R. Laird Harris het hieromtrent gesê: “Dit is ’n uiters merkwaardige feit dat die ou uitspraak van die naam van die God van Israel heeltemal verlore gegaan het. Israel se geloof was die enigste waardige geloof in die Oudheid. Dit was die wêreld se eerste monoteïsme en is die enigste ou geloof wat waarlik ’n wêreldgodsdiens geword het. Dit was uniek daarin dat dit volkome geestelik en sonder ’n stoflike voorstelling van die godheid was. Dit was ook ongelukkig uniek in sy verlies van die uitspraak van die godheid se naam. Die situasie is inderdaad vreemd, en daardie vroom manne wat gemeen het dat hulle nie die onuitspreeklike naam durf uitspreek nie uit vrees dat hulle dit sou ontheilig, sou dit nouliks kon voorsien het. Dit wil voorkom asof dit in werklikheid tot ’n ander soort ontheiliging gelei het. Die versuim om die naam van God te gebruik, ontheilig dit skynbaar net soos die growwe gebruik van die Naam dit sou ontheilig het. Maar die feite is duidelik. Die eertydse Hebreërs het natuurlik die naam van God uitgespreek en geskryf.”—The Law and the Prophets, geredigeer deur John H. Skilton, Nutley, New Jersey, 1974, bladsy 215.
Die Israeliete het geweet dat as hulle Jehovah se naam sou vergeet, God self dit sou “naspeur” (Psalm 44:21, 22). Toe dit gebeur het, het hy gevolglik “sy aandag op die nasies gerig om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Handelinge 15:14, NW). Hoewel ons vandag nie weet presies hoe om die goddelike naam in Hebreeus uit te spreek nie, is ’n geskikte en toereikende weergawe van die Tetragrammaton (die vier Hebreeuse medeklinkers wat die naam voorstel) in Afrikaans Jehovah. Vandag staan meer as driemiljoen mense bekend as Jehovah se Getuies, en hulle is bly om die naam van hulle God te dra en daarmee geïdentifiseer te word.