Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/15 bl. 21-23
  • Hoe kan ons Jehovah ‘volkome behaag’?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ons Jehovah ‘volkome behaag’?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat van ons gedagtes?
  • Wat van ons woorde?
  • Hoe om Jehovah deur ons gedrag en dade “volkome te behaag”
  • Doen jy wat God vereis?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Is jy ’n voltydse Getuie?
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Behaag Jehovah as ’n gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Stel doelwitte wat sal help om jou geloof sterk te hou
    Ons Koninkryksbediening—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/15 bl. 21-23

Hoe kan ons Jehovah ‘volkome behaag’?

HOE min mense is daar tog vandag wat omgee of hulle gedagtes, woorde en dade God behaag! Selfs diegene wat sê dat hulle omgee, bewys God skynbaar grotendeels lippediens. Trouens, van die oorgrote meerderheid kan daar gesê word: ‘Hulle behaag God nie.’​—1 Thessalonicense 2:15.

Sommige voorgewende Christene meen dat hulle God behaag solank hulle net nie die Tien Gebooie breek nie. Maar dit is nie die geval nie! Ons Voorbeeld, Jesus Christus, het van God gesê: “Ek [doen] altyd . . . wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:29). Ja, hy het sy Vader behaag deur sekere dinge te doen. Optrede is nodig, soos gesien kan word uit die apostel Paulus se gebed ten behoewe van sy medegelowiges in Kolosse. Hy het gebid dat hulle “waardiglik voor die Here mag wandel om Hom [volkome] te behaag en . . . in elke goeie werk vrug mag dra”.​—Kolossense 1:9, 10, vgl. NW.

Maar is dit werklik moontlik om Jehovah “volkome te behaag”? Wel, omdat Christene onvolmaak is, kan hulle God nooit volmaak behaag nie. Hulle kan hulle egter ywerig daarop toelê met die doel om hom “volkome te behaag”. Aangesien Paulus gepraat het van ‘vrug dra in elke goeie werk’ is positiewe werke daarby betrokke. Ons kan natuurlik nie al sodanige bedrywighede hier noem nie. Maar ons kan stof tot nadenke verskaf. As hierdie gedagtes toon dat daar sekere lewensterreine is waar jy veranderinge moet aanbring, kan jy seker wees dat Jehovah jou pogings om hom te behaag, sal seën. Die feit is dat as ons Jehovah ‘volkome wil behaag’, ons op ons gedagtes, woorde en dade moet let.

Wat van ons gedagtes?

God se Woord sê vir ons: “Daar is geen [skepping] onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:13, vgl. NAV). Nie mense of demone kan ons gedagtes lees nie, maar God kan. In daardie geval wil ons hê dat selfs ons gedagtes hom moet behaag. Ons kan ons dus gerus afvra: Waaraan dink ek wanneer ek nie hoef te konsentreer op wat ek doen nie? Na watter pool swaai die naald van my verstand se kompas as ’t ware vanself?

Ons kan ook vra: Hou ek daarvan om lugkastele te bou en te droom oor rykdom, roem of eer weens my prestasies? Is my gedagtes negatief, soos om altyd oor griewe te tob? Is ek geneig om feitlik voortdurend aan die genot van seks te dink? Of is ek altyd besig om aan planne en maniere te dink om geld te maak?

Dink nou: Kan ons Jehovah ‘volkome behaag’ deur ons verstande met sulke gedagtes te vul? Natuurlik nie! Deur ernstige gebed en met God se hulp moet ons hulle dus verdryf deur die verstand te vul met goeie, positiewe, heilsame, rein en liefdevolle gedagtes (Filippense 4:8). Hoeveel beter is dit tog vir ons om ons verstande te dissiplineer om aan dinge te dink wat met ons aanbidding van Jehovah verband hou! Dink aan God se Koninkryk wat so naby is. Dink aan punte wat onlangs uit God se Woord geleer is. Peins oor die inligting wat by komende gemeentevergaderinge gedek sal word, en veral oor dele wat jy dalk op die program het. Dink na oor hoe jy jou veldbediening kan verbeter. Onthou dat jy allereers ’n Christenbedienaar is.

Party is gehelp deur na te dink oor tekste wat hulle gememoriseer het, asook deur Koninkryksliedere te neurie. Een Christenbedienaar het dit nuttig gevind om hierdie rympie as ’n herinnering uit te dink en te onthou:

“O God, dit wil ek altyd doen,

My nederig met u wil versoen.

O mag ek nimmer rebelleer,

Want u doen alles tot u eer.”

Ja, bid voortdurend soos koning Dawid van die ou tyd: “Laat die . . . oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE.”​—Psalm 19:15.

Wat van ons woorde?

Dawid het ook gebid: “Laat die woorde van my mond . . . welbehaaglik wees voor u aangesig, o Here” (Psalm 19:15). Soos ons in Jakobus 3:2-12 leer, kan slegs ’n volmaakte man die tong ten volle in toom hou. Maar ons moet daarna streef om dit te beheers as ons Jehovah ‘volkome wil behaag’.

Ons uiter elke dag talle woorde en ons kan natuurlik nie alles wat ons sê tot skriftuurlike onderwerpe beperk nie. Maar ongeag waaroor ons praat, ons moet onthou dat ons Jehovah wil behaag. Ons weet byvoorbeeld dat vloektaal, onwelvoeglikhede of growwe en plat taal nooit ons hemelse Vader kan behaag nie. Ons moet dus sulke taal vermy.​—Efesiërs 5:3, 4.

En as ons ons Skepper volkome wil behaag met ons spraak moet ons ook oppas dat ons nie lasterlike, neerhalende dinge van ander sê nie. Daar moet van ons gesê kan word: “[Hy wat] nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie.” Al word ons onreg aangedoen, moet ons sorg dat ons “niemand . . . belaster nie”.​—Psalm 15:3, NAV; Titus 3:2.

Watter geleenthede het ons tog nie om Jehovah “volkome te behaag” met ons gesprekke gedurende maaltye nie! Dit is natuurlik nie die tyd vir kwaai of ontstellende woorde nie. Daar is so baie goeie dinge om te bespreek! Ons moet veral op die uitkyk wees na sulke geleenthede wanneer ons gaste is of het. Dit is dikwels die spraaksaamste eerder as die ryp Christene wat die gesprek oorheers. Gaan jy ’n Christen met baie jare van ondervinding in die voltydse bediening as gas hê? Is hy goed vertroud met God se Woord? Gebruik dan onderskeidingsvermoë om hom aan die praat te kry. “Raad in die hart van ’n man is soos diepe waters, maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep” tot voordeel van alle aanwesiges.​—Spreuke 20:5, NW.

Om Jehovah “volkome te behaag” in ons spraak moet ons daarbenewens wakker wees vir geleenthede vir informele getuienis vir God se naam en Koninkryk. Trouens, ’n Christenbedienaar kan soms baie deur sulke informele getuienis bereik. Maar die vernaamste manier om Jehovah deur ons spraak te behaag, en wat ander terselfdertyd tot seën strek, is deur met die Koninkryksboodskap van huis tot huis te gaan.​—Handelinge 20:20.

As ons wil hê ons woorde moet Jehovah “volkome behaag” wanneer ons aan die Christelike veldbediening deelneem, moet ons daarna streef om ons aanbieding van die Koninkryksboodskap te verbeter. Aangesien die “goeie nuus” aan ons toevertrou is, wil ons, soos die apostel Paulus, spreek “nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef”. En ons moenie die verpligting oor die hoof sien om ons lippe te gebruik om openbare belydenis van ons geloof by Christenvergaderinge te doen waar ons ander tot liefde en goeie werke kan aanspoor nie.​—1 Thessalonicense 2:4; Hebreërs 10:23-25.

Hoe om Jehovah deur ons gedrag en dade “volkome te behaag”

As ons Jehovah ‘volkome wil behaag’, moet ons ook let op ons daaglikse gedrag, met inbegrip van ons ontspanning. Ja, selfs wanneer ons wil ontspan, kan ons nie bekostig om God buite rekening te laat nie. Lyk dit onredelik? Glad nie, want Paulus het gesê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” Ons moet die waarskuwing onthou dat ‘die wat in ooreenstemming met die vlees is, God nie kan behaag nie’. Ons ontspanning in die besonder moet dus heilsaam wees.​—1 Korinthiërs 10:31; Romeine 8:8, vgl. NW.

Ons kan ook nie matigheid en tydsberekening oor die hoof sien nie. Om Jehovah “volkome te behaag”, moet ons ontspanning op sy plek hou, as iets bykomstigs en nie van die allergrootste belang nie. Ons moet nooit ontspanning, hetsy dit is om na ’n TV-program te kyk of ’n sportgeleentheid by te woon, so nastreef dat dit inbreuk maak op ons bywoning van Christenvergaderinge of deelname aan die veldbediening nie.​—Mattheüs 6:33.

Om Jehovah “volkome te behaag”, behels ook dat ons goed doen aan ons Christenbroers, wanneer die geleentheid hom voordoen en na gelang van die behoefte. Ons lees in hierdie verband: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.” Die apostel Paulus het gesê dat die goedheid wat die Filippensiese Christene aan hom betoon het “’n welgevallige offer, welbehaaglik by God” was.​—Hebreërs 13:16; Filippense 4:18.

Hoe kan kinders Jehovah deur hulle gedrag ‘volkome behaag’? Paulus het getoon dat ’n baie belangrike manier is deur hulle ouers “in die Here” gehoorsaam te wees. Hy sê ook: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.”​—Efesiërs 6:1-3; Kolossense 3:20.

Alle toegewyde knegte van God het soveel goedertierenheid van Jehovah en sy aardse kanaal ontvang dat dit uit loutere liefde en waardering altyd vir ons ’n saak van erns moet wees om hom “volkome te behaag”. Liefdevolle waardering vereis beslis dat ons nie “die onverdiende goedheid van God aanvaar en dan die doel daarvan mis nie” (2 Korinthiërs 6:1, NW). Dit is ook die regverdige, regte ding om daaroor besorg te wees om Jehovah “volkome te behaag”, aangesien hy die Universele Soewerein is. Die strewe om Jehovah “volkome te behaag”, is daarbenewens ook die verstandigste weg, want as ons dit doen, is dit nou vir ons nuttig en hou dit die belofte van die toekomstige lewe in.​—1 Timotheüs 4:8.

Ja, ons wil ons gedagtes, ons woorde en ons gedrag en dade bewaak. Met Jehovah se hulp sal ons dit doen sodat ons hom immer in groter mate kan behaag. En laat ons nie ophou om dit te doen nie. Laat ons eerder altyd ag slaan op die apostel Paulus se raad aan Christene in Thessalonika: “Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees.”​—1 Thessalonicense 4:1.

[Prent op bladsy 23]

Moenie dat ontspanning op Christelike bedrywigheid inbreuk maak nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel