Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 2/15 bl. 27-30
  • ’n Nuwe lied langs die “Rivier van die Voëls”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe lied langs die “Rivier van die Voëls”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Die koms van die “nuwe lied”
  • Sendelinge wakker die groei aan
  • Groei en uitbreiding
  • Die tak word vergroot
  • Wat die toekoms inhou
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 2/15 bl. 27-30

’n Nuwe lied langs die “Rivier van die Voëls”

DIE Indiane het dit die Rivier van die Voëls genoem. Tot vandag toe hoor ’n mens langs die oewers van hierdie rivier die pragtige lied van die lewerik, die gekoer van die duif, die vyfnootmelodie van die mossieagtige Chincol, en die parafrases van die Benteveo met sy geel pens. Maar mettertyd het die land ten ooste van die rivier ook bekend geword onder die naam Rivier van die Voëls, of soos dit in die dialek van die Tupí-Indiane lui, URUGUAY.

“’n Nuwe lied” word egter nou in die Rivier van die Voëls gesing. Jesaja het dit lank gelede voorspel met die woorde: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af​—julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan” (Jesaja 42:10). Hoe het hierdie “nuwe lied” oor die oprigting van God se Koninkryk Uruguay bereik?

Die koms van die “nuwe lied”

Die kragtige Koninkryksboodskap is in 1923 vir die eerste keer vaagweg in Uruguay gehoor. In daardie jaar het een van Jehovah se Getuies deur die land gereis en eenhonderd boekies versprei. In September 1924 het Juan Muñiz in die land aangekom. Hy was ’n voormalige Katolieke priester van Spanje wat deur sy godsdiens ontnugter is en dit verlaat het. Toe hy in 1916 na die Verenigde State verhuis het, is sy liefde vir die Bybel opnuut aangewakker deur die Koninkryksboodskap wat hy gehoor het van die mense wat nou as Jehovah se Getuies bekend is. Muñiz het na Spanje teruggekeer om vir ander te vertel wat hy geleer het. Maar hy het sulke hewige teenstand teëgekom dat hy, op aanbeveling van die Wagtoringgenootskap se President, na Suid-Amerika getrek het. Juan Muñiz is verantwoordelik gemaak vir die Koninkrykspredikingswerk in Argentinië, Paraguay en Uruguay.

Broer Muñiz was ’n besonder bekwame spreker. Daar word gesê dat hy ’n gehoor ure lank kon boei, terwyl hy net die Bybel gebruik het, sonder aantekeninge of ’n skets. Toe hy sien dat die mense van Uruguay heelwat belangstelling toon, het Juan Muñiz die Genootskap gevra om nog hulp te stuur.

Die gevolg was dat Carlos Ott in 1925 uit Duitsland weg is en ’n ruk later in Uruguay aangekom het. Daar het hy die volgende agt jaar lank gearbei. Omdat hy soveel mense moontlik wou bereik, het broer Ott die radio goed benut. Een stasie het selfs ingestem om grammofoontoesprake kosteloos uit te saai. Van hierdie klein begin af het die werk na al 19 departemente (provinsies) van Uruguay uitgebrei.

Saadjies van waarheid het ook onder immigrante geval. In noordelike Uruguay was daar byvoorbeeld ’n klompie Russiese gesinne wat hulle geboorteland tydens die vuur van die Eerste Wêreldoorlog verlaat het. Een van hulle, Nikifor Tkachenco, het die boekie Waar is die dode? ontvang en die helder klank van die waarheid herken. Hy het sonder aarseling sy nuutgevonde geloof met ander Russe gedeel. Heelparty van hulle het die waarheid aangeneem en die hoekstene van gemeentes in Salto en Paysandú, twee ander groot stede, geword.

In 1939 is ses Duitse pioniers na Uruguay gestuur. Hulle het egter eers ses jaar later in hulle toegewese gebied aangekom; Nazi-vervolgers het hulle die skyf van ’n lang mensejag deur Europa gemaak. Toe hulle uiteindelik in Uruguay kom, het hulle dadelik aan die werk gespring. Eers het hulle Duitse gesinne probeer opspoor en vir hulle getuig. Daarna, terwyl hulle die landstaal geleer het, het hulle ’n Spaanse “getuieniskaart” byderhand gehad om die doel van hulle besoek te verduidelik.

Hierdie groepie het die hele land ywerig op fietse deurkruis. Hulle het lektuur vir kos verruil en in tentjies langs die pad geslaap wanneer niemand hulle herberg gegee het nie. Hulle fietse was gelaai met genoeg klere vir die seisoen, ’n paraffienstofie, kombuisgerei en ’n grammofoon met opnames van Bybeltoesprake. Hulle het koue, hitte, wind en oorstromings getrotseer. Maar op hierdie manier is saadjies van waarheid deur die hele land gesaai. Eerlank het ander hulle stemme gevoeg by die koor wat die “nuwe lied” gesing het.

Sendelinge wakker die groei aan

In Maart 1945 het N. H. Knorr en F. W. Franz, ampsdraers van die Wagtoringgenootskap, Uruguay vir die eerste keer besoek. Buiten opbouende raad het hulle Uruguay sy eerste Gileadgegradueerde gegee, Russell S. Cornelius. Hoewel hy aanvanklik net ’n paar woorde in Spaans kon sê, was hy na net ’n maand en ’n half in staat om ’n openbare toespraak te hou. Hy het verdere vordering gemaak en was van groot hulp in die bestuur van die Koninkrykswerk. Kort daarna het nog jong sendelinge aangekom, totdat daar op die ou end 27 was​—byna soveel sendelinge as verkondigers—​wat in ’n stampvol gehuurde sendinghuis gewoon het. Die teenwoordigheid van buitelandse sendelingmeisies het natuurlik heelwat opskudding veroorsaak in die gemeenskap. Een koerant het selfs skertsend gesê dat “blonde engele” Montevideo ingeneem het!

Mabel Jones was een van hulle. Terwyl sy in 1950 ’n byeenkoms in Salto bygewoon het, het sy die Koninkrykshoop met Carola Beltramelli en Catalina Pomponi, twee vriendelike buurvrouens, gedeel. Albei het na daardie byeenkoms gekom en ’n maand later 500 kilometer afgelê om ’n ander byeenkoms in Montevideo by te woon. Hulle het vinnig geestelike vordering gemaak. Carola se seuns het ook die waarheid aangeneem. Een van die seuns, Delfos, het die voltydse diens betree en in 1965 uit Gilead gegradueer. Hy dien tans as die koördineerder van die Takkomitee. Die jonger seun, Luis, is ’n gemeentelike ouere man. Suster Pomponi het in 1953 ’n pionier geword en het al meer as 80 mense gehelp om hulle lewens aan Jehovah toe te wy.

Altesaam 82 Gileadgegradueerdes het al in Uruguay gedien. Hoewel sommige weens omstandighede verplig was om terug te keer huis toe, het hulle ’n verslag van vrugbare aktiwiteit agtergelaat. Tot vandag toe sal jy van die bejaarde Uruguaanse broers hoor sê: “My kinders was jonger as wat my kleinkinders nou is toe Mary Batko vir my die Bybel kom leer het”, of “Ek was nog in die laerskool toe Jack en Jane Powers my op Sondae in die predikingswerk uitgeneem het.”

Groei en uitbreiding

Die “nuwe lied” het talle horende ore bereik. In 1949 is Gerardo Escribano, ’n jong ateïs, na ’n Bybelvergadering genooi. Hy het die uitnodiging aanvaar op voorwaarde dat as daar beelde was of as hy godsdiensgebede moes opsê, hy nooit weer sal gaan nie. Hy was beïndruk deur wat hy gehoor het, is uiteindelik gedoop en dien nou as ’n streekopsiener en lid van die takkomitee.

Die rolprent The New World Society in Action, wat in 1956 gemaak is, is na byna al die stede en dorpe geneem. Broer Liber Berrueta het die rolprent honderde kere in Koninkryksale, woonhuise, openbare parke en tydelike sale vertoon. Hy het ook ’n groot aandeel daarin gehad om die Genootskap se wetlike korporasie in Uruguay te stig, en hy was tot met sy dood die eerste President daarvan.

Aan die einde van 1961, toe daar 1 570 Getuies in die land was, was daar ’n belangrike voorwaartse stap in die werk toe ’n nuwe Bethelhuis toegewy is. Nadat dit voltooi is, het die argitek, Justino Apolo, sy toewyding aan God deur doop gesimboliseer. Hy het later ’n ouere man geword en het ruimhartig gehelp met die bou van nagenoeg 40 Koninkryksale in Uruguay.

’n Soortgelyke geval was dié van Avelino Filipponi, ’n baasbouer, wat ná die bouprojek die voltydse diens saam met sy vrou betree het. Hy is nou ’n kringopsiener. Hy het ook baie gehelp met talle Koninkryksale. Hy het onlangs gehelp om toesig te hou oor die oprigting van ’n aanbousel by die Uruguaanse Bethel.

Die tak word vergroot

Die aanbousel is ’n tweeverdiepinggebou met ’n ruim kelder. Met meer as 790 vierkante meter vloerruimte is dit in werklikheid groter as die oorspronklike gebou. In die anneks is daar ’n drukkery, die versendings- en tydskrifafdeling, bergplek vir lektuur, ’n garage en ’n pragtige Koninkryksaal. Baie van die boumateriaal is deur die broers geskenk, en al die werk is deur ongeveer 500 vrywilligers gedoen. Getuies wat vaardig is in messelwerk, metaalwerk, houtwerk en baie ander ambagte het hulle tyd en vaardigheid bygedra om die hele gebou te ontwerp, op te rig, te versier en te meubileer.

Op 4 Februarie 1985 het die toewyding van die anneks begin met Grant Miller, ’n lid van die Takkomitee, wat ’n kort opsomming gegee het van die geskiedenis van Uruguay en die ontwikkeling van die Koninkrykswerk in die land van die Rivier van die Voëls. Dit is gevolg deur interessante ondervindinge en besonderhede oor die nuwe gebou. Ten slotte het die gehoor van 250 met waardering geluister na die toewydingsrede, “’n Gelukkige volk met ’n doel”, gehou deur Delfos Beltramelli. Dit was inderdaad ’n heuglike dag!

Wat die toekoms inhou

Maar wat hou die toekoms in vir die werk in Uruguay? Kyk na die snelle groei wat ons geniet het. In 1964 het ons 2 000 Getuies gehad. Teen 1974 het die getal verdubbel. Gedurende 1985 het ons ’n hoogtepunt van 5 329 bereik. Dat daar verdere potensiaal vir groei is, blyk uit die feit dat 15 243​—een uit elke 190 mense in die land—​in 1985 die Gedenkmaal van Christus se dood bygewoon het.

Maar selfs verblydender is die gehalte van Christelikheid wat ons broers in Uruguay openbaar. Die broers moes byvoorbeeld etlike jare lank na Brasilië reis vir hulle jaarlikse byeenkomste omdat die Uruguaanse regering nie aan hulle verlof wou toestaan om byeenkomste te hou nie. In 1982 het die regering aangekondig dat alle burgers en inwoners wat die land verlaat ’n belasting moet betaal. Dit het ’n swaar finansiële las op baie broers geplaas. Maar broers wat beter daaraan toe is, het arm gesinne gehelp. Een groep het selfs gedurende hulle vrye tyd herstelwerk aan huise gedoen sodat hulle ander met hulle onkoste kon help. Op hierdie manier was sowat 3 500 Uruguane in staat om na die Byeenkoms in Brasilië te gaan!

Toe was daar ’n verrassende verandering. Die broers het toestemming ontvang om ’n byeenkoms in Montevideo te hou die week voor die toewyding van die takanneks. AI die reëlings moes binne net twintig dae getref word, met inbegrip van die toewysing van programdele, die organisering van die afdelings en die herstel en skoonmaak van die ongebruikte en verwaarloosde Hippodroom. Maar wat ’n vreugde was dit vir die 6 245 om byeen te kom!

Ons kan dus vol vertroue wees dat Jehovah sal aanhou om die werk van ons broers te seën terwyl hulle eendragtig die wonderlike boodskap van God se Koninkryk sing langs die Rivier van die Voëls​—Uruguay!

[Kaarte/Prent op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

URUGUAY

Salto

Paysandú

Montevideo

[Kaart]

Suid-Amerika

[Prent op bladsy 29]

Die Koninkryksaal in die nuwe aanbousel by die tak in Uruguay

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel