Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 2/15 bl. 21-24
  • Megiddo—’n Ou slagveld met profetiese betekenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Megiddo—’n Ou slagveld met profetiese betekenis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kruispad van die ou tyd
  • ’n Beslissende slagveld
  • Megiddo​—terrein van die finale oorlog?
  • Nasies versamel by Megiddo
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die “Vredevors” gaan Armageddon tegemoet
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Armageddon—God se oorlog wat alle oorloë sal beëindig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 2/15 bl. 21-24

Megiddo​—’n Ou slagveld met profetiese betekenis

“SO MOET al u vyande, HERE, omkom!” Dit was die slot van ’n oorwinningslied wat meer as 32 eeue gelede gekomponeer is. Dit was ter viering van ’n militêre oorwinning naby die ou stad Megiddo.

Volgens die Bybelverslag is rigter Barak van Israel deur God beveel om 10 000 gewapende manne op die berg Tabor op te stel. ’n Indrukwekkende getal? Moontlik. Maar die 10 000 vrywilligers was heeltemal onvoldoende toegerus. ‘Geen skild of lans kon gesien word nie’ (Rigters 5:8, NW). Maar dit was nie met die teenstanders die geval nie. Die Kanaänitiese leër onder aanvoering van generaal Sisera was toegerus met die nuutste militêre tegnologie: “Negehonderd strydwaens met ystersense” (Rigters 4:3, NW). Dit het die Kanaäniete ’n voorsprong van spoed en beweeglikheid sowel as ’n groot sielkundige voorsprong gegee.

Oorwinning sou egter nie aan militêre vaardigheid en toerusting te danke wees nie. Sisera se meerderwaardige troepe is gelok na die stroomdal van Kison, wat toe droog was. Jehovah het Barak die teken gegee om af te kom. Stel jou voor hoe 10 000 manne van die berg af na die vallei stroom!

Maar toe het Jehovah onverwags ’n donderbui veroorsaak. Wind en reën het die vyand nou van voor getref. Die stroomdal van Kison het ’n sterk stroom geword wat Sisera se oorlogstrydwaens in ’n moddersee onbeweeglik gemaak het. Sisera se troepe is in die war gestuur, het verskrik gevlug en is agtervolg en doodgemaak. “Daar het selfs nie een oorgebly nie.”​—Rigters, hoofstukke 4 en 5.

Geen wonder dat hierdie verbasende oorwinning tot hierdie woorde aanleiding gegee het nie: “So moet al u vyande, HERE, omkom! Maar die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son in sy krag” (Rigters 5:31). Let egter op die woord “so”. Dit het aangedui dat die geveg profeties is en dat dit wys op ’n groter oorlog waarin al God se vyande sal omkom.

Maar die vyandige nasies om Israel het hierdie rampspoedige geveg gou vergeet. ’n Paar nasies het net 47 jaar later onder aanvoering van Midian “aanmekaargesluit en . . . in die laagte van Jisreël [die vallei wat aan Megiddo grens] laer opgeslaan” (Rigters 6:33). Die vyande in hierdie laer was “soos sprinkane in menigte”. Hierdie keer was die leër van Israel egter net ’n klein maar moedige groep van 300 man wat onder aanvoering van Gideon “rondom die laer” gestaan het. Toe ’n teken gegee is, het die 300 op horings geblaas, waterkruike luid gebreek, fakkels geswaai en ’n skrikwekkende strydkreet aangehef: “Die swaard van die HERE en van Gideon!” Die Midianiete het paniekbevange geraak! “Die HERE [het] die swaard van die een teen die ander gerig”, en Gideon se groepie het hulle totaal verslaan!​—Rigters, hoofstuk 7.

Ons kan dit vandag nie waag om die fout van die Midianiete te begaan of die betekenis van Megiddo te veronagsaam nie. Die Bybel praat sowat 12 keer van hierdie ou slagveld. Bybelprofesie dui ook verder daarop dat wat by Megiddo plaasgevind het ernstige implikasies vir ons dag het. Laat ons derhalwe kyk na wat die Bybel sowel as die argeologie oor hierdie geskiedkundige plek sê.

Kruispad van die ou tyd

Megiddo het vroeër, tesame met die stede Hasor en Geser, ’n belangrike militêre en handelsroete beheer wat Asië met Afrika verbind het. Megiddo was tussen die ander twee stede en derhalwe die mees strategies geleë. Natuurlike poorte, bergpasse en paaie het uit alle rigtings in hierdie vallei gekonvergeer. “Megiddo”, verduidelik The Geography of the Bible, “was by ’n kruispad geleë, in werklikheid by een van die groot kruispaaie van die ou wêreld.”

Megiddo het ’n groot vallei oorheers wat sowat 32 kilometer langs die noordoostelike kant van die Karmel-bergreeks strek. Gedurende die reënerige winter het die water van die omringende berge afgestroom en die nabygeleë Kisonrivier laat vol word. Die omgewing word derhalwe ook “die stroomdal van Kison” genoem (Rigters 4:13, NW). Die boek Geography of Israel sê dat die grond van die vallei “met die winterreën” “maklik diep modder kan word. . . . Die helling van die [K]ison is baie gering, en die uitloop . . . word maklik verstop; moerasse word dus hier gevorm.” Sisera en sy leërs het uitgevind hoe modderig hierdie vlakte kan word. Maar hierdie oop vlakte was in die somer ’n ideale plek waar strydwaens vir oorlog kon oefen. (Vergelyk Hooglied van Salomo 6:11, 12.) Militêre troepe kon ook gerieflik aldaar versamel.

Dit is dus geen wonder dat koning Salomo stappe gedoen het om Megiddo te versterk nie: “En dit was die saak van die dwangarbeiders wat koning Salomo laat opkom het om . . . die muur van Jerusalem en Hasor en Megiddo en Geser te bou” (1 Konings 9:15). ’n Grondhoop wat 21 meter hoog is en uitkyk oor ’n uitgestrekte, oop vallei dui nou die plek aan waar Megiddo eens gestaan het. Nuwe geboue is dikwels in die ou tyd bo-op die ruïnes van ou geboue opgerig. Elke konstruksievlak kan derhalwe ’n bepaalde tyd in die geskiedenis aandui. Die argeoloog begin van bo af en grawe deur opeenvolgende lae van die geskiedenis. Minstens 20 sulke lae is by Megiddo ontdek, wat aandui dat die stad herhaaldelik herbou is. En hoe het die Bybel hierdie geduldige delwers gehelp?

Die bou van stadspoorte was ongetwyfeld ’n belangrike deel van Salomo se projek om Megiddo, Hasor en Geser te versterk. Sulke poorte is ’n ruk gelede by Megiddo ontdek. Identiese poorte is kort daarna by Hasor gevind. Argeoloë het dus ’n leidraad uit die Bybel geneem en ook by Geser begin soek. Dit was nie verrassend toe poorte van dieselfde styl ook daar gevind is nie. Wat is die betekenis daarvan vir Bybelstudente? ’n Bekende argeoloog, professor Yohanan Aharoni, sê:

“Identiese poorte is tydens die opgrawings, wat op drie plekke gedoen is, in aardlae van die tiende eeu v.G.J. ontdek. . . . Poorte soos hierdie, met drie wagkamers en vier stelle steunpilare aan elke kant van die gang, is tot dusver net in twee ander plekke ontdek. . . . Daarom is geleerdes dit feitlik heeltemal eens dat die poorte van Hasor, Megiddo en Geser met hul drievoudige vertrekke uit Salomo se bewind dateer.”

Dr. Yigael Yadin sê eweneens: “Die ontdekking van Salomo se versterkings by Hasor, Megiddo en Geser is ’n leersame voorbeeld dat die Bybel ’n belangrike en praktiese gids vir argeoloë is.”

’n Beslissende slagveld

Dit is, met die oog op Megiddo se strategiese ligging, te begrype dat dit vroeg in die geskiedenis met die idee van ’n slagveld verbind is. Trouens, die ou Hebreeuse woord vir “Megiddo” beteken glo “samekoms, of, versameling van troepe”. Professor Aharoni het geskryf:

“Megiddo was ’n baie belangrike vestingstad, hoewel dit nie voor die vyftiende eeu v.C. in geskiedenisbronne genoem word nie. Dit verskyn op daardie tyd in die inskripsies van Toetmosis III. Die geskiedboeke van hierdie farao toon dat Megiddo ’n konfederasie van opstandige Kanaänitiese stede gelei het. . . . Die Egiptiese leër en die Kanaänitiese strydwaens het die beslissende geveg van hierdie opstand . . . naby Megiddo gevoer. Dit is die vroegste militêre geveg waarvan besonderhede behoue gebly het. Nadat Farao die Kanaänitiese mag totaal verslaan het, het hy ’n ryk buit, waaronder 924 strydwaens, weggevoer!”

Dr. Zev Vilnay, skrywer van The New Israel Atlas, sê verder dat die vallei “sedert die begin van die geskiedenis tot die Eerste Wêreldoorlog die toneel van beroemde gevegte was”.

Megiddo​—terrein van die finale oorlog?

Die laaste boek van die Bybel, Openbaring, bevat ’n gesig van “die konings van die hele wêreld” wat versamel word “vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige”, by “Armageddon” [“Berg van Megiddo”] (Openbaring 16:14, 16, NAV). Sommige het na aanleiding van die ooreenkoms van name die gevolgtrekking gemaak dat hierdie oorlog by die letterlike terrein van Megiddo sal plaasvind. Maar die grondhoop van Megiddo kan nouliks ’n “berg” genoem word. Dink ook hieraan: Is die vallei van Megiddo groot genoeg om die hele wêreld se heersers met hulle groot leërs en eindelose verskeidenheid militêre toerusting te bevat? “Dit is apokaliptiese taal”, sê die International Standard Bible Encyclopedia, “en dit is moontlik dat Armageddon nie gebruik word as ’n naam vir ’n spesifieke plek nie, maar as ’n simboliese term vir die finale, beslissende stryd.”

Wat is “Armageddon” dan? Dit is uiteraard figuurlik. Op grond van Megiddo se geskiedenis as die terrein van beslissende gevegte word dit in Openbaring gebruik om die naderende situasie af te beeld wanneer “al die nasies” se haat vir God se volk ’n hoogtepunt sal bereik (Mattheüs 24:9, 14). Omdat ware Christene voortgaan om God se Koninkryk getrou te ondersteun, sal aardse heersers verenig en, in werklikheid, “versamel” om hulle te vernietig. Maar Jehovah se Getuies sal nie terugveg nie (Jesaja 2:1-4). God het hulle Koning, die Here Jesus Christus, aangestel om vir hulle te veg. Hierdie hemelse Koning sal op die kritieke oomblik saam met “die leërs in die hemel” tussenbeide tree en “die konings van die aarde en hulle leërs” aanval. Hierdie aardwye geveg sal beslissend wees, net soos die wat by Megiddo gevoer is. Alle aardse vyande sal “omkom”, net soos die oorwinningslied van Debora en Barak voorspel het!​—Openbaring 19:11-21; Rigters 5:31.

Sal jy jou onder die liefhebbers van Jehovah​—of onder sy vyande—​bevind? Die Bybel stel dit duidelik dat diegene wat hulle nie by Jehovah God en sy volk skaar nie groot gevaar loop om hul lewe te verloor (Sefanja 2:3; 2 Thessalonicense 1:7-9). Daar is dus nie tyd om te versuim nie! “Kyk, Ek kom soos ’n dief”, waarsku die verheerlikte Jesus Christus wanneer hy in die besonder verwys na die klimaks van die “groot verdrukking” by Armageddon.​—Openbaring 16:15; Mattheüs 24:21.

“Die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” sal heerlike gevolge hê. Dit sal die weg baan vir God se Koninkryk om hierdie aarde in ’n paradys te omskep (Mattheüs 6:9,10; Openbaring 21:3-5). Maar bowenal sal dit die grootste naam in die heelal regverdig in ’n grootse vervulling van die ou profetiese gebed:

“Maak met hulle soos met Midian, soos met Sisera, soos met Jabin by die spruit Kison . . . vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind. Oordek hulle aangesig met skande, dat hulle u Naam kan soek, o [Jehovah]! Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom; sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.”​—Psalm 83:10, 16-19.

[Kaarte op bladsy 22]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Megiddo het ’n belangrike militêre en handelsroete beheer wat Asië met Afrika verbind het

Handelsroetes-------

Hasor

Megiddo

Geser

Jerusalem

[Kaart]

ASIË

AFRIKA

[Prent op bladsy 23]

Die aardwye oorlog van Armageddon sal beslissend wees, net soos gevegte wat by Megiddo gevoer is. Al God se aardse vyande sal omkom

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel