Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 2/15 bl. 4-6
  • Apokalips—Wanneer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Apokalips—Wanneer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nader as wat baie dink
  • Die geslag van 1914
  • “’n Dief in die nag”
  • ’n Verandering in gebeure
  • Apokalips—Wat is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Is die einde van die wêreld naby? Wat is die Apokalips?
    Nog onderwerpe
  • Die Apokalips—Moet ons dit vrees of ons hoop daarop vestig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Waarom die vrees vir die Apokalips?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 2/15 bl. 4-6

Apokalips​—Wanneer?

DIT lees amper soos die jongste koerant​—oorloë, aardbewings, pes, siekte, hongersnood, misdadigheid en vrees! Al hierdie verwikkelinge en ander word in die Bybel voorspel. Hierdie dinge toon duidelik dat ons nou in “die laaste dae” lewe. Dit beteken die tydperk wat die nabye en beloofde apokalips voorafgaan. Hoe kan jy hiervan seker wees?

Jy sien vandag die vervulling van Bybelprofesieë. “Dit moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, . . . sonder liefde vir die goeie . . . en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie” (2 Timotheüs 3:1-5, NAV). Sien jy nie hierdie einste toestande om jou heen nie?

Baie wat vandag lewe, miskien ook jy, onthou tye toe toestande nie so sleg was soos nou nie. Mense was bedagsamer teenoor mekaar. Kinders het meer respek gehad vir hulle ouers en ouer persone. Mans, vrouens en kinders was nie bang om op straat te gaan nie, selfs in die aand. Maar tye is vinnig aan die verander. En al lyk dit asof sommige van hierdie toestande nie in jou omgewing heers nie, raak die moontlikheid van ’n kernoorlog​—weens die mens se hoogmoed en magsug—​immers elkeen van ons.

Ja, net soos God deur sy Woord, die Bybel, so duidelik “die laaste dae” voorspel het, so het hy ons ook ingelig omtrent die tyd van die apokalips, wanneer Jesus kom om oordeel te voltrek.

Nader as wat baie dink

“Ek kondig nuwe dinge aan”, sê God. “Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor” (Jesaja 42:9, NAV). Ja, hy het in die Bybel vir ons die vernaamste gebeurtenisse uiteengesit wat kort voor die apokalips sal plaasvind.

Jesus het byvoorbeeld gepraat van ’n boodskap wat wêreldwyd uitgebasuin sou word en dit met die apokalips verbind. Hy het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Daardie “einde” sluit die apokalips in. Vandag bestee Jehovah se Getuies elke jaar miljoene der miljoene ure aan die ywerige verkondiging van daardie Koninkryksboodskap van huis tot huis en deur elke ander moontlike middel, in meer as 200 lande rondom die aarde!

Jesus het tot nut van sy volgelinge ’n treffende parallel getrek tussen die tyd voor die apokalips en die tyd voor die Vloed van Noag se dag. In Noag se tyd was mense so druk besig om te eet en te drink en die lewe te geniet dat ‘hulle nie ag geslaan het’ op Noag se boodskap oor die naderende vernietiging nie. Hulle het hulle nie aan sy waarskuwings gesteur nie.​—Mattheüs 24:37-39, vgl. NW.

Watter noue ooreenkoms is daar tog tussen ons dag en die omstandighede voor die Vloed! Mense se aandag word so in beslag geneem deur hulle daaglikse roetine dat hulle nie ag slaan op waarskuwings en bewyse van die naderende apokalips nie.

Die apokalips is nogtans nader as wat baie dink. In verband met die teken van die laaste dae het Jesus gesê: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34). Watter geslag het Jesus bedoel?

Die geslag van 1914

Aangaande “die relatief vreedsame en voorspoedige Victoriaanse eeu van Groot-Brittanje” het voormalige Britse premier Harold Macmillan gesê dat hy ‘die wêreld waarin hy gebore is’, beskou het as ’n wêreld wat “beter en beter” sou word. Maar “alles het skielik, onverwags, een oggend in 1914 geëindig”. Macmillan het dit die einde van “100 jaar van vrede en vooruitgang” genoem en vertel hoe die Eerste Wêreldoorlog “die einde van ’n tydvak” en die “begin van die verwarring wat nog steeds heers”, ingelui het. Baie ander, veral die wat 1914 deurgemaak het en nog lewe, weet dat dit die waarheid is.

Ja, soos hierdie tydskrif deur die jare onder sy lesers se aandag gebring het, wys die getuienis op die geslag van 1914 as die geslag waarvan Jesus gepraat het.a Ja, “hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge [ook die apokalips] gebeur het nie”.

Ofskoon meer as 70 jaar sedert 1914 verloop het, is daar nog mense in ons midde wat daardie tyd beleef het. Volgens The American Legion Magazine vir Desember 1984 lewe daar in die Verenigde State nog sowat 272 000 veterane van die Eerste Wêreldoorlog. En dit is soortgelyk in ander lande. Die getal neem nietemin vinnig af. Hoe lank sal dit nog wees voor die laaste veteraan van die Eerste Wêreldoorlog van die toneel verdwyn?

Hoewel hierdie statistiek ons aandag vestig op die laaste ure van die geslag van 1914, is die vraag steeds: Hoe noukeurig kan ons die tyd van die apokalips bepaal?

“’n Dief in die nag”

Die Bybel waarsku: “Oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag” (1 Thessalonicense 5:1, 2). Sou jy redelikerwys verwag dat ’n dief ’n telegram moet stuur om aan te kondig wanneer hy van plan is om by jou huis in te breek?

Heel gepas dus gee Jesus ons die volgende raad oor die presiese uur: “Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie” (Markus 13:32-37). Ons het egter gesien dat Jesus verskillende gebeurtenisse beskryf het wat die geslag van 1914 aandui. En die Bybel beskryf toekomsgebeure wat sal toon dat die apokalips ophande is. Wat kan ons verwag?

’n Verandering in gebeure

Die apostel Paulus het gesê: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid​—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3). Terwyl ons die finale deel van die “laaste dae” betree, kan ons dus verwag dat besondere aandag geskenk sal word aan “vrede en veiligheid”, ter vervulling van Paulus se woorde. Wat dan?

Bybelprofesieë dui aan dat wêreldgodsdiens, bekend as “Babilon die Grote”, skielik deur aardse politieke magte aangeval sal word en onverwags sal ondergaan! (Openbaring 17:5,16; 18:10, 16). Dit sal die begin wees van ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het . . . nie” (Mattheüs 24:21). Maar hoe sal dit diegene raak wat ‘bly waak het’ en op die uitkyk was na die apokalips?

Ware Christene kan daarvan seker wees dat Jehovah hulle sal verlos (2 Petrus 2:9). Ja, solank hulle Jehovah God ken en hom onselfsugtig dien, sal hulle geen rede tot vrees hê wanneer God en Christus opruk om die oorlog van Armageddon te voer nie.​—Openbaring 11:17, 18; 16:14, 16.

Die apokalips sal vervolgens daartoe lei dat Satan die Duiwel en sy onsigbare magte van die mensdom afgeskei word (Openbaring 20:2, 3). Ja, die komende wraak sal nie net die aarde reinig van mense wat onwillig is om God te dien nie. Selfs bose geeste wat vandag die wêreld rondom ons beïnvloed, sal uit die weg geruim word (2 Thessalonicense 1:6-9). Dit sal ewige seëninge vir die oorlewendes van die apokalips beteken.

Apokalips​—voorspel tot die paradys

In verband met die bewoners van die aarde sê die boek Openbaring (Die Apokalips, Douay) dat God “al die trane van hulle oë [sal] afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). In plaas van ’n sombere nasleep van die apokalips toon die Bybel dat die mens vir ewig in ’n aardse paradys sal kan lewe.​—Psalm 37:9-11, 29.

Paradys? Ewige lewe op aarde? Stel jou voor: blakend gesonde, gelukkige mense van alle rasse wat die lewe ten volle geniet! ‘Hoe kan dit die gevolg van ’n apokalips wees?’ vra jy dalk. God het sy woord gegee. Dit sal wees soos in die geval van God se handelinge met Israel, naamlik: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE . . . gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom.”​—Josua 21:45.

Ofskoon niemand die presiese dag en uur van die apokalips weet nie, toon die getuienis dat ons in die tydperk van die apokalips lewe. Mag ons wakker en waaksaam wees wanneer dit kom. Want “die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.​—Markus 13:33, 37; 1 Johannes 2:17; Mattheüs 24:36.

[Voetnote]

a Vir nadere besonderhede oor 1914, kyk hoofstuk 14 van die boek “Let Your Kingdom Come”, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel