Bou vir ’n ewige toekoms
“Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”—HEBREËRS 3:4.
1, 2. (a) Wie het die ark ontwerp, en hoe gedetailleerd was die instruksies wat gegee is? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat ons gehoorsaam is, net soos Noag was?
NAGENOEG 4 400 jaar het verloop sedert Jehovah Noag beveel het om die ark vir die behoud van lewe te bou. Maar God het dit nie aan Noag oorgelaat om sommer enigiets te bou wat sou dryf nie. Hy het eerder spesifieke instruksies gegee oor materiaal, ontwerp, lengte, breedte, hoogte, ventilasie en die binne- en buite-afwerking. “En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”—Genesis 6:13-16, 22.
2 Watter puik voorbeeld vir hedendaagse getuies van Jehovah! Net soos Noag is ’n lewensreddende werk aan ons opgedra, maar hierdie keer behels dit die redding van ‘miljoene wat nou lewe en nooit sal sterf nie’. Hoe belangrik tog dat ons gehoorsaam is, net soos Noag was! Hoe noodsaaklik dat ons die patroon volg van die Een wat groter as Noag is, Jesus Christus, en dat ons ‘predikers van geregtigheid’ is!—2 Petrus 2:5.
’n Geestelike bouwerk
3. (a) Wat sal die gevolg wees as ’n mens op Jesus se woorde bou? (b) Waarom het Jesus se prediking geloof gebou?
3 Dit is nou 1 956 jaar sedert Jesus die Galilese platteland verbaas het met sy verklaring: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Hy het elkeen wat sy woorde gehoorsaam en daarop gebou het, vergelyk met “’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het”. Daardie man se geloof is vas, onwankelbaar, onbeweeglik. Dit sal nie onder druk ineenstort nie. Jesus se prediking het geloof gebou. Dit het mense se harte bereik omdat dit so anders was as die skynvroom praatjies van die Joodse godsdiensleiers. Die gewone mense was verbaas oor Jesus se manier van onderrig. Selfs soldate wat gestuur is om hom in hegtenis te neem, het onverrigter sake teruggekeer en gesê: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.”—Mattheüs 4:17; 7:24, 25, 28; Johannes 7:46.
4. (a) Hoe het Jesus vir die toekoms gebou? (b) Watter groot bou-ontwikkeling het op Pinkster van 33 G.J. plaasgevind?
4 Jesus het vir die toekoms gebou. Hy het medewerkers bymekaargemaak, soos Petrus, ook genaamd Cefas, wat “’n klip” beteken. Vir hierdie dissipel het Jesus gesê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou.” Petrus het mettertyd een van baie “lewende stene” geword wat op Jesus, die gemeente se “hoeksteen”, gebou is. Daardie gemeente is op Pinkster van 33 G.J. in aansyn geroep toe die verrese Jesus, aan God se regterhand in die hemel, heilige gees op die wagtende dissipels uitgestort het.—Mattheüs 16:18; 1 Petrus 2:4-6; Handelinge 2:2-4, 32, 33.
5. By watter hedendaagse ontwikkelinge is die Christengemeente diep betrokke?
5 Die Christengemeente is vandag diep betrokke by die ontplooiing van Jehovah se voornemens. Dit is die tyd van die “apokalips”, of “onthulling”, wanneer die dinge “wat gou moet gebeur” aan God se “diensknegte” op aarde geopenbaar word (Openbaring 1:1-3, voetnoot in NW-naslaanbybel). Dit is die tyd wanneer hierdie diensknegte ‘die evangelie van God se Koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis moet verkondig’ voordat hy oordeel aan Satan se goddelose stelsel voltrek. Dit is die tyd vir die Koning, Jesus Christus, wat nou in die hemele op die troon geplaas is, om sagmoedige, skaapagtige mense te skei van hardnekkige, bokagtige mense wat nie daardie Koninkryk wil hê nie, en om hierdie “skape” na sy gemeente van geestelike “broeders” te bring voordat die “groot verdrukking” uitbreek.—Mattheüs 24:14, 21; 25:31-40.
6. Wat is vandag die “ark”, en hoe kan ons behoue bly?
6 Wat is die hedendaagse ark van oorlewing? Dit is die geestelike toestand waarin Jehovah se Getuies hulle sedert 1919 bevind, ’n geestelike paradys. Net soos Noag se gesinslede moet die oorblyfsel van gesalfde Christene en hulle metgeselle binne die grense daarvan bly en gehoorsaam en heelhartig werk om die groot geestelike projek wat ’n deel van Jehovah se voorneme is te voltooi. Hierdie projek is “om alle dinge . . . in die hemele [die gesalfdes met ’n hemelse bestemming wat vanaf 33 G.J. verenig is] sowel as . . . op die aarde [die internasionale “groot menigte” wat vir ewig op die aarde gaan lewe en veral sedert 1935 verenig is] . . . , onder een hoof in Christus te verenig.”—Efesiërs 1:10; Openbaring 7:9, 14.
‘Bouery en plantery’
7. Watter tweeledige werk word nou gedoen, en hoe kan ons net soos Noag en Jeremia geluk smaak?
7 Jehovah het die oorblywende gesalfde Christene op aarde net soos die profeet Jeremia aangestel “oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant”. ’n Tweeledige werk word dus nou gedoen:
(1) die bekendmaking van Jehovah se oordeel teen Satan se goddelose wêreldstelsel en (2) die bou en totstandbrenging van ’n gemeenskap van God se volk vir behoud (Jeremia 1:10; 24:6, 7; Jesaja 26:20, 21). Hoe gelukkig is die oorblyfsel gesalfdes en die toenemende menigte van hulle metgeselle wanneer hulle vandag aan hierdie werk deelneem! Dit is die soort geluk wat vlytige Noag en sy gesin in hulle dag moes gesmaak het.
8. (a) Watter verkondigervermeerdering was daar die afgelope 22 jaar? (b) Watter lande het, volgens die tabel op bladsye 20-33, gedurende 1985 besondere vermeerderinge gehad?
8 Sal miljoene die dag van Jehovah se toorn oorleef? Die vooruitsigte daarvoor lyk goed, soos die rapport van Jehovah se Getuies vir 1985-diensjaar toon. Besonderhede van hierdie rapport verskyn op bladsye 20-23. Dit is baie aangrypend om die pragtige vermeerdering in die verkondigerhoogtepunt te sien. Dit het nou toegeneem tot 3 024 131 Koninkrykspredikers. Die 1 000 000-kerf is die eerste keer in 1963 oorskry, die 2 000 000-kerf in 1974, en nou was daar meer as 3 000 000 in 1985. In daardie 22 jaar was daar ’n vermeerdering van 200 persent. Hoe dankbaar is ons Jehovah tog, wat dinge deur sy gees laat groei!—Sagaria 4:6; 1 Korinthiërs 3:6.
9. (a) Waarom is die vermeerdering in die getal pioniers selfs merkwaardiger? (b) Wat word aanbeveel by almal wat dit kan doen, en waarom?
9 Iets wat gedurende daardie jare selfs meer besonders was, was die vermeerdering in die getal voltydse Koninkryksverkondigers. Ondanks die verslegtende ekonomiese toestande dwarsoor die wêreld het die getal van hierdie moedige groep “pioniers” van ’n maandelikse gemiddelde van 38 573 in 1963 opgeskiet tot 322 821 in 1985—’n vermeerdering van 737 persent! Wat toon dit? Dit toon dat ’n pragtige gees van selfopoffering onder God se volk bestaan, in ooreenstemming met Jesus se woorde in Lukas 9:23. Versigtige beplanning en selfverloëning is gewoonlik nodig om ’n sukses van die pionierdiens te maak. Maar die beloninge is groot.—Romeine 12:1, 2; Maleagi 3:10.
10. (a) Waarvoor moet die gemeentelike verkondigers geprys word? (b) Watter drie nuwe hoogtepunte word hier gemeld, en wat dui dit aan?
10 Die miljoene gemeentelike verkondigers het ook te kampe met die druk wat Satan en sy wêreld op hulle uitoefen. Maar hulle bring ook aan God hulle “lofoffer” (Hebreërs 13:15; Romeine 10:9, 10). Daardie ure, hetsy baie of min, wat julle getroue verkondigers elke maand gerapporteer het, het ’n deel geword van die nuwe hoogtepunt van 590 540 205 ure velddiens vir 1985. Dit is ’n vermeerdering van 16,8 persent vergeleke met 1984! Nuwe hoogtepunte van 224 725 918 herbesoeke en van 2 379 146 tuisbybelstudies met belangstellendes toon dat Koninkryksverkondigers oral daarna streef om goeie onderrigters sowel as ywerige predikers te wees.—Mattheüs 28:19, 20.
Daar word vir ware vrede en veiligheid gebou
11. Hoe word die ware hoop op vrede en veiligheid bekend gemaak, en in watter mate?
11 Laat in 1985 het die Verenigde Volke 1986 tot Internasionale Vredesjaar uitgeroep. Die afgelope ruk het die VV baie oor vrede en veiligheid gesê. Maar ’n belangriker aankondiging, naamlik dié van die Skriftuurlike hoop op vrede en veiligheid, het gedurende 1985 groter stukrag gekry namate Jehovah se Getuies 38 805 561 Bybels, boeke en boekies, sowel as 300 545 609 tydskrifte in die wêreldveld versprei het en 1 719 930 intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! gekry het. In druk en mondeling het die opgerigte Koninkryk van die ware “Vredevors” sy grootste getuienis tot op hede ontvang. Dit lei inderdaad “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde”.—Jesaja 9:5, 6.
12. Watter groot behoefte is deur uitbreiding geskep, en hoe werk Jehovah se volk saam om in daardie behoefte te voorsien?
12 Die geweldige uitbreiding in die veld verg uitbreiding in stut-organisasie. Gedurende 1985 het die getal gemeentes van Jehovah se Getuies dwarsoor die wêreld toegeneem van 47 869 tot 49 716. Dit het honderde nuwe vergaderplekke geverg. Hoe goed is dit tog dat die Getuies in baie lande geseën is in hulle pogings om Koninkryksale te finansier! Wanneer daar ’n behoefte bestaan het, het individue en gemeentes mekaar se bouprogramme onselfsugtig gesteun sodat daar “gelykheid” onder die wêreldwye broederskap was.—2 Korinthiërs 8:14, 15.
13. Hoe kan individue tot Koninkryksaalbouprojekte bydra?
13 In lande waar die omstandighede gunstig was, het die takkantore van die Wagtoringgenootskap ook Koninkryksaalprojekte gesteun. In die Verenigde State en Kanada dra baie individue by tot ’n spesiale Koninkryksaalfonds, wat lenings moontlik gemaak het vir meer Koninkryksaalkonstruksie. Ander het hulle krag en talente bygedra sodat selfs kits-Koninkryksale in net een naweek opgerig word. Deur “van harte soos vir die Here” aan sulke projekte te werk, kan sy Getuies dinge bereik wat wêreldse mense as onmoontlik beskou.—Kolossense 3:23.
14. Hoe is daar in die behoefte aan Byeenkomssale voorsien?
14 In verskeie lande het ’n gebrek aan fasiliteite wat vir die halfjaarlikse kringbyeenkomste van Jehovah se Getuies geskik is ’n groot probleem geskep. Die Getuies het weer eens die uitdaging vreugdevol die hoof gebied deur middel van bouprogramme, en dit gedoen in dieselfde gees as wat in vervloë tye deur God se knegte geopenbaar is. Toe dit byvoorbeeld nodig geword het om materiaal vir die bou van die tabernakel te vind, het die vergadering van Israel eendragtig ag geslaan op God se bevel: “Neem van julle besittings ’n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE.” Daardie vergadering het baie meer gegee as wat nodig was, en die werk is gou voltooi.—Exodus 35:5-19; 36:7.
15. (a) Watter uitbreiding vind plaas by die takke van die Wagtoringgenootskap? (b) Hoe word die werk gedoen?
15 Namate die behoefte aan Bybels en Bybellektuur toeneem, moes baie van die 94 Wagtoringtakke dwarsoor die wêreld hulle fasiliteite vergroot. Die drukkery in Brooklyn en Watchtower Farms is steeds verreweg die grootste, maar 36 takke van die Genootskap druk nou self hulle tydskrifte, en 6 takke is ook toegerus om boeke te druk en te bind. Onder laasgenoemdes druk Duitsland, Italië en Japan ook Bybels. Die nuwe fabriek by Selters, Duitsland, werk op volle krag. By Ebina, Japan, word daar gebou aan ’n sesverdieping-aanbousel tot die drukkery en ’n Bethel-huisanneks van agt verdiepings om nog 280 werkers te huisves. Net soos Jehovah se volk die bou van Salomo se tempel “met ’n volkome hart” ondersteun het, gee God se volk vandag in verskeie lande “vrywillig aan die HERE”, en hy gee sy seën sodat die werk gedaan kom.—1 Kronieke 22:14, 15; 29:7, 9; kyk die voetnote in die NW-naslaanbybel.
16. Waarom was hierdie bykomende bouwerk en organisering nodig?
16 Is al hierdie bouwerk en organisering werklik nodig? Dit is, as “die getroue en verstandige dienskneg” moet voortgaan om geestelike “voedsel op tyd” te gee. Sulke voedsel is lewensnoodsaaklik vir die groei van die “huisgenote van God” en vir die wêreldwye predikingswerk in meer as 200 tale (Mattheüs 24:45; Efesiërs 2:19; 4:15, 16). Jehovah se volk het hulle talente bygedra om ’n veeltalige elektroniese fotosetstelsel (MEPS) te ontwikkel, wat nou aan 26 Wagtoringtakke voorsien is. Dit het ’n verenigde, globale vlakdrukoperasie moontlik gemaak en gehelp om die Koninkryksboodskap gelyktydig in talle dele van die aarde te publiseer.—Vergelyk Jesaja 52:7-9.
17. Watter behoefte bestaan by die hoofkwartier in Brooklyn, en wat word daaromtrent gedoen?
17 Daar is skynbaar geen einde aan die hedendaagse uitbreiding van Jehovah se organisasie nie. Die Bethelgesin by die hoofkwartier van die Genootskap in Brooklyn, New York, het nou so toegeneem dat al die beskikbare akkommodasie vol is. Indien dit Jehovah se wil is, sal ’n hoë gebou wat huisvesting aan nog duisend Bethelwerkers verskaf op die Genootskap se eiendom te Columbia Heights opgerig word. Maar as dit nie gebeur nie, sal ons op Jehovah se verdere leiding in die saak wag. Die gebede en lojale ondersteuning van die wêreldwye broederskap vir al hierdie uitbreiding word inderdaad op prys gestel—Vergelyk Handelinge 21:14; 2 Thessalonicense 3:1.
18. Waarom is daar vandag soveel bouprojekte, ondanks die feit dat Armageddon so naby is?
18 ‘Maar waarom’, sal iemand dalk vra, ‘is daar soveel uitbreidingsprojekte wanneer Armageddon voor die deur is?’ Die antwoord is dat Jehovah se organisasie nie ‘toemaak’ omdat Armageddon nader kom nie. Dit is net vir Satan se organisasie ‘toemaaktyd’. Jehovah se organisasie bou vir ’n ewige toekoms. Of mensgemaakte geboue die storm van Armageddon nou gaan deurstaan of nie, ons weet dat God se organisasie lewenskragtig daaruit sal kom en dat Jehovah dit sowel as diegene wat dit lojaal ondersteun, sal gebruik en ewige vrede en veiligheid in die heerlike, aardse Paradys wat God beloof het tot stand sal bring.—Openbaring 7:9, 14-17; 21:1, 4, 5.
Bou met ’n doel
19. Watter uitdaging is te bespeur in die Gedenkmaalrapport vir 1985?
19 Noag het met ’n doel voor oë gebou, en ons moet ook. Een aspek van die rapport vir die 1985-diensjaar bied veel stof tot nadenke. Dit is die pragtige opkoms van 7 792 109 by die Herdenking van Jesus se dood op 4 April 1985—’n vermeerdering van 375 135 vergeleke met die totaal vir 1984. Dit is inderdaad wonderlik! Maar daardie syfer bied ’n uitdaging. Met ’n hoogtepunt van 3 024 131 verkondigers wat aan die Koninkryksdiens deelneem, is daar baie meer as 4 000 000 ander wat, ten minste in ’n mate, met ons assosieer wat nog vir die toekoms moet bou deur aan die Christenbediening deel te neem. Hoe kan ons hulle help?
20. Hoekom is dit uiters belangrik om daardie uitdaging te aanvaar, en hoe kan ons dit op ’n praktiese wyse doen?
20 Ons ken die meeste van hierdie belangstellendes persoonlik. Hulle is moontlik familielede, mense met wie ons Bybelstudies hou, intekenaars op ons tydskrifte, of ander. Sommige het dalk selfs sedert die vorige Gedenkmaal begin belangstelling toon. Kan ons nou spesiale pogings aanwend om hulle te voed en hulle deur ’n Bybelstudie op te bou sodat hulle in Jehovah se reëling kan skuil “totdat die onheil verbygegaan het”? (Psalm 57:2). Die “groot verdrukking” sal Jehovah se regverdigingsdaad wees, selfs sinvoller en oortuigender as die Vloed van Noag se dag. Ons wil hierdie belangstellendes opbou met lewegewende waarhede sodat hulle ‘die naam van Jehovah aanroep’ en nie weggevee word nie (Mattheüs 24:21, 22, 39; Sefanja 2:3; 3:8, 9). Laat ons God se Woord saam met hulle bestudeer deur die leerboek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe of ander geloofversterkende Bybellektuur te gebruik.
21. Hoe kan ons geloof soos die van Noag in onsself en ander opbou?
21 Jehovah God is die Baasbouer en Groot Voorsiener vir die mensdom (Psalm 127:1; 145:16; Prediker 3:10-13). Dit was hy wat vir Noag instruksies oor die ontwerp en bou van die ark gegee het. Met die gewillige samewerking van die Grotere Noag, Jesus Christus, het hy reëlings getref om gehoorsame mense van sonde en die dood los te koop. Deur hierdie Seun het hy ook die hedendaagse “ark” gebou, die florerende geestelike paradys waarin manne en vroue met geloof bewaar kan word, met die ewige lewe in die vooruitsig (Mattheüs 20:26-28; Johannes 3:16; 17:3). Mag ons baie ander help om hulle geloof te versterk en ’n band van intiemheid met Jehovah en sy Seun te smee. Mag ons hulle help om geregtigheid lief te hê en ongeregtigheid te haat (Hebreërs 1:9). Met geloof soos dié van Noag kan ons dus aanhou om saam vir ’n ewige toekoms te bou.—1 Timotheüs 4:15, 16.
ENKELE HERSIENINGSVRAE—
◻ Hoe het Jesus vir die toekoms gebou?
◻ Wat in die rapport vir 1985 het jou opgeval?
◻ Waarom is teokratiese bouprogramme nodig?
◻ Hoe kan ons almal met ’n doel bou?
[Venster op bladsy 24]
’n Gemeente in ’n Afrikaland waar Jehovah se werk verbied is, het 95 verkondigers, wat almal elke maand aan die diens deelneem. Die opkoms by hulle vergaderinge is gemiddeld 130, maar 160 by hulle openbare vergaderinge. Hulle het drie gewone pioniers en het onlangs agt hulppioniers gehad. In net ses maande het 21 nuwe verkondigers velddiens begin doen.
[Venster/Prente op bladsy 16, 17]
WÊRELDWYE BOUWERK DEUR JEHOVAH SE GETUIES
Dwarsoor die wêreld het daar elke maand 322 821 pioniers gerapporteer (’n vermeerdering van 24,7 persent)
Dwarsoor die wêreld het die verkondigers tot 3 024 131 toegeneem (’n vermeerdering van 6,4 persent)
Herbesoeke by belangstellendes, 224 725 918 (’n vermeerdering van 14,8 persent)
Tuisbybelstudies gehou, 2 379 146 (’n vermeerdering van 16,2 persent)
[Prente]
Pioniers op pad om aan die huis-tot-huisbediening deel te neem, Brooklyn, New York
’n Veertientalige byeenkoms, Montreal, Qeubec, Kanada
Getuieniswerk, Castle Comb, Wiltshire, Engeland
’n Studiegroep in Yap, Mikronesië
Enkele geboue wat gebruik word in die wêreldwye geestelike bouwerk.
In Brooklyn word die verskeping van Bybels en Bybellektuur in hierdie gebou van 93 000 vierkante meter te Furmanstraat 360 behartig
Hierdie Koninkryksaal (Downpatrick, Noord-Ierland) is in 31 uur gebou
Hierdie Byeenkomssaal in Rome is een van die talle sodanige sale wat rondom die aarde gebruik word
Hierdie aanbousel tot Japan se Bethelhuis word nou opgerig
[Tabel op bladsye 20-23]
1985 WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1985-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Tabel op bladsy 25]
In 1985 het agt lande ’n hoogtepunt van meer as 100 000 verkondigers berig
V.S.A. 723 220
Brasilië 177 904
Mexiko 173 037
Italië 127 526
Nigerië 121 729
Duitsland 115 604
Brittanje 103 522
Japan 103 117