Rassehaat vergete
MARIE het by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Cicero, Illinois, langs die dooppoel gestaan en wag dat haar niggie gedoop moet word. Skielik het ’n stem langs haar uitgeroep: “Ken ek jou nie dalk nie?” Sy het omgedraai en ’n vergete, dog bekende, gesig gesien—dié van ’n vrou met die naam Agerthia.
Marie se gedagtes het ver teruggegaan na die dae toe sy nog nie een van Jehovah se Getuies was nie, tot by hulle hoërskool se gange waar hulle in rasse-onluste geveg het—maar aan teenoorgestelde kante. Agerthia se groep Swart skoolmeisies en Marie se bende Wit meisies het mekaar uitgeskel. Dan het hulle handgemeen geraak, met ernstige beserings aan albei kante. Marie het onthou hoe Agerthia een meisie selfs in die hospitaal laat beland het! Albei groepe meisies is uit die skool geskors, maar sodra hulle weer toegelaat is, het die geswets en bakleiery weer begin.
Nou, sowat 13 jaar later, het hulle mekaar weer langs ’n dooppoel teëgekom—maar hierdie keer was daar geen vyandigheid teenoor mekaar nie. Hulle is nie meer deur rassegrense verdeel nie, en hulle het mekaar in liefde en as geestelike susters, verenig in die ware geloof, omhels. Danksy juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus het hulle hulle gemoed vernuwe.—Romeine 12:1, 2.
Daar is geen rassehaat onder Jehovah se knegte nie. Hulle het mekaar eerder lief in ooreenstemming met Jesus se woorde: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.