Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 11/1 bl. 4-7
  • Onafhanklikheid van God—Waarom nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onafhanklikheid van God—Waarom nie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Eeue-oue probleem
  • Die behoefte aan goddelike leiding
  • Die waarde van goddelike leiding
  • Wanneer God se wil op aarde geskied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Soek God se leiding in alles
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • God se wette strek ons tot voordeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Dien Jehovah volgens sy hoë standaarde
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 11/1 bl. 4-7

Onafhanklikheid van God​—Waarom nie?

“EK SOEK opwinding.” “Ek is siek en sat daarvan dat ander vir my voorskryf wat ek moet doen!” “Los my uit!” Sulke uitdrukkings kan ’n aanduiding van ’n onafhanklike gees wees. Soms word hierdie woorde selfs deur Christene geuiter.

Hoe kan Christene besmet word met ’n onafhanklike gees, selfs onafhanklikheid van God? Dit begin gewoonlik met ’n verwronge beskouing van Jehovah God se vereistes (Psalm 73:2, 13, 14). Hulle beskou God se wette as pretbederwers eerder as beskermers van hulle genieting van die lewe. Die verloklikheid van die goddelose wêreld bedrieg hulle sodat hulle dink dat hulle plesier misloop. Wat van jou? Hoe voel jy oor onafhanklikheid van God?

’n Eeue-oue probleem

Die begeerte na onafhanklikheid van God is nie iets nuuts nie. Dit is amper so oud soos die mens. Satan die Duiwel het die gees van onafhanklikheid ingebring. Hy het die eerste vrou, Eva, mislei sodat sy gedink het dat sy gelukkiger sou wees as sy net vry van haar Skepper se leiding kon wees. Eva het geglo dat so ’n onafhanklike weg vir haar talle verrassende ondervindinge en genietinge sou bring wat God van haar weerhou het.​—Genesis 3:1-5; Openbaring 12:9.

Met oë wat verblind is deur haar pasgevormde, selfsugtige begeertes, het Eva by haar man gepleit om saam met haar te rebelleer. Adam het ook onafhanklikheid van God gekies. Die gevolg: Smart het geluk vervang. Sonde, skande, siekte, pyn en die dood het gevolg, nie net vir Adam en Eva nie, maar ook vir al hulle nakomelinge.​—Genesis 3:6, 16-19; Romeine 5:12.

Die Bybel deel ons mee dat engele ook besluit het om die weg van onafhanklikheid van God te volg deur ongeoorloofde genot met die ‘mooi dogters van die mense’ te begeer. Het so ’n onafhanklike weg ware bevrediging meegebring? Nee. Dit het eerder soveel growwe onsedelikheid en geweld veroorsaak dat Jehovah besluit het om daardie wêreld van goddelose mense te vernietig. Die onafhanklike engele het demone geword, wat nou hierdie selfde vernietigende gees van opstand onder die mensdom aanblaas.​—Genesis 6:1-7, 11; Efesiërs 2:2; Judas 6-12.

Die behoefte aan goddelike leiding

Die voormelde feite behoort ons te help om ’n grondwaarheid te besef: Ten einde ’n suksesvolle en aangename lewenswyse te geniet, moet die mens op God steun vir leiding. Dit is een rede waarom die Bybel sê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die eertydse wyse man Salomo het besef hoe gevaarlik dit is om persoonlike lewenstandaarde onafhanklik van goddelike leiding vas te stel. Hy het geskryf: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”​—Spreuke 14:12.

Kom ons lig hierdie gedagte op twee maniere toe. Gestel al die vlieëniers van handelsvliegtuie ignoreer die instruksies wat by lughawens gegee word en land wanneer of waar hulle ook al wil. Hoe veilig sou lugreis wees? Of gestel ’n groep bouers gooi die bloudrukke weg en elkeen besluit om te doen wat hy wil met sy deel van die bouwerk. Watter soort gebou sou verrys? Ons begryp dat standaarde gevolg moet word as ’n ordelike gemeenskap moet bestaan.

Niemand is meer bevoeg as die Skepper van die mens, Jehovah, om hierdie riglyne te voorsien nie. Omdat hy die Skepper is, het Jehovah God, nie die mens nie, die absolute reg om standaarde te stel waarvolgens sy intelligente skepsele moet lewe. Hy ken ons beperkinge; hy weet presies wat die skeidslyn tussen geluk en smart is (Handelinge 17:26, 27). Die lewensondervindinge toon keer op keer dat God se weg werklik prakties is. Dit is die beste weg vir ons.

Ons hoef nie te raai wat Jehovah se standaarde is nie; hy vertel ons liefdevol in sy Woord, die Bybel: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel” (Josua 1:8). Die apostel Paulus verduidelik hoe alomvattend God se standaarde is. Hy het in 2 Timotheüs 3:16, 17 geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Jehovah nooi ons om sy standaarde op die proef te stel, ‘om vir onsself te beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is’ (Romeine 12:2). ’n Deeglike studie van die Bybel is natuurlik nodig om dit behoorlik te doen. Hetsy ons die Bybel onlangs begin studeer het of God se Woord reeds dekades bestudeer, die doelwit om juiste kennis en insig van God se wil te verkry, is belangrik. As ons versuim om ons waarnemingsvermoëns deur gebruik te oefen, sal ons nie Jehovah se riglyne duidelik in gedagte hou nie.​—Hebreërs 5:14, vgl. NW.

Dit is moeilikheid soek om God se standaarde te ignoreer. Daar is eenvoudig te veel hindernisse waarvoor ’n persoon te staan kom om op grond van sy eie insig welslae te behaal. ’n Persoon het eerstens te kampe met die subtiele, bomenslike invloede van Satan en sy demone (1 Johannes 5:19; Openbaring 12:12). Dan is daar die wêreldwye menslike stelsel wat deurtrek is van die gees van ongehoorsaamheid en uiterste selfsug (Efesiërs 2:2; 1 Johannes 2:15-17). En ons moet natuurlik teen ons eie onvolmaakthede en bedrieglike harteneigings stry (Psalm 51:5-7; Jeremia 17:9, 10). Om sonder Jehovah se leiding te lewe, het dus net soveel sin as om in ’n motor sonder ’n stuurwiel te ry. Jesus Christus is die beste voorbeeld van iemand wat goddelike leiding waardeer het. Hoewel hy volmaak was, het hy van homself gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie” (Johannes 5:19). Jesus het nie gelewe om homself te behaag nie. By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:28, 29). Wil jy gelei word deur dieselfde standaard wat Jesus Christus erken het?​—1 Petrus 2:21.

Die waarde van goddelike leiding

Jehovah is “die gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW). Hy wil ons nie van gesonde genot, opwinding of geluk beroof nie. Dink ’n oomblik na oor die reguit woorde in Romeine 1:28-32. Onafhanklikheid van God het net slegte gevolge, want volgens die nuwe Afrikaanse vertaling lui die verslag:

“Omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is. Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hulle is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers; hulle is onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, hardvogtig. Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.”

Diegene wat verkies om God se standaarde te volg, word andersyds aangespoor om hulle ou persoonlikheid met sy onafhanklike gees af te lê en dit deur ’n nuwe Christelike persoonlikheid te vervang. Die nuwe persoonlikheid sluit vriendelikheid, tere medelye en vergewensgesindheid in (Efesiërs 4:20-32, vgl. NW). En dit openbaar die vrug van God se heilige gees: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.​—Galasiërs 5:22.

Beskou albei persoonlikhede goed. Watter soort persoon is jy? Watter een van die twee sou jy in jou metgeselle wou sien?

Daarbenewens leer die Bybel dat alle goddelose persone in die nabye toekoms deur God vernietig gaan word (2 Petrus 3:7; 2 Thessalonicense 1:7-9). Jesus Christus het voorspel dat mense oor die algemeen, kort voor hierdie goddelike reiniging van die aarde, net so onverskillig teenoor gehoorsaamheid aan God se standaarde sal wees soos die mense in Noag se dag was (Lukas 17:26-30). Dit is gevolglik dringend dat ons ’n diepe waardering verkry vir die waarde van die riglyne wat God gestel het. As ons behoue wil bly, is dit vir ons vandag net so noodsaaklik soos dit vir Noag in sy dag was.

Onafhanklikheid van God verskaf dus nie ware geluk nie; dit is die doen van God se wil wat dit meebring. Diegene wat hulle aan Jehovah se leiding onderwerp, sal beloon word met die ewige lewe op ’n aarde vol mense met die Christelike persoonlikheid.​—Psalm 37:27-29.

[Prent op bladsy 5]

Watter soort gebou sal dit tot gevolg hê as elke werker die bloudrukke weggooi en bou soos hy wil?

[Prent op bladsy 6]

Jy het die vryheid om te reis, maar om dit veilig te doen, moet jy jou voertuig slegs binne wettige perke bestuur

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel