Koninkrykswaarheid bloei op in ‘die beblomde eiland’
DIE eiland Martinique, wat in die blou waters van die Karibiese See lê en deur die ligte passaatwind verkoel word, is so na aan ’n paradys as wat enige plek vandag kan wees. Die oorspronklike inwoners, die Karibes, het hierdie eiland van 1 100 vierkante kilometer in die Kleiner Antille gepas ‘die beblomde eiland’ genoem. Hier smelt helderpers en -rooi bougainvillea met bloedrooi vlambome en reënboogkleurige krotons saam. Daar is inderdaad ’n simfonie van glansende, skouspelagtige kleure oor die hele eiland.
Die opbloei van Koninkrykswaarheid
Soos die kleurryke blomme bloei daar vandag 24 gemeentes van Jehovah se Getuies dwarsoor die eiland. Fort-de-France, die hoofstad met sy 100 000 inwoners, het agt gemeentes. Maar dit is alles die gevolg van goddelike seën op die saadjies van Koninkrykswaarheid wat gedurende die afgelope 35 jaar geplant is.
In 1949 het vier gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead die eerste saadjies van Koninkrykswaarheid gesaai. Hoewel die plaaslike owerheid die sendelinge net twee jaar op die eiland vergun het, het hulle ywerig gesaai en nat gemaak, terwyl hulle vertrou het op Jehovah se belofte: “Op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop.”—Jesaja 51:5.
Sulke vertroue op God is beloon, want Jehovah se arm is nooit te kort nie. In 1954 het ’n egpaar uit Frankryk na Martinique gekom. Hulle was Xavier en Sarah Noll, voltydse bedienaars. Deur harde werk en die seën van Jehovah het die getal Koninkryksverkondigers in 1963 tot 138 aangegroei. Teen 1976 was daar 1 055 persone wat ywerig die goeie nuus in hierdie ‘beblomde eiland’ verkondig het.
In 1984 was daar sewe opeenvolgende hoogtepunte in Koninkryksverkondigers. Die getal gewone pioniers het gestyg van 19 tot 44, en in April het 491 as hulppioniers gedien. Gedurende die jaar het ’n hoogtepunt van 1 635 persone, ongeveer een uit elke 200 eilandbewoners, met die verkondiging van die goeie nuus gehelp. Waarlik, soos die profeet Jesaja voorspel het, ‘hulle wat op die eilande van die see woon, moet Jehovah prys’.—Jesaja 24:15, NAV.
Die tak word toegewy
Die opbloei van Koninkrykswaarheid in Martinique het op 22 Augustus 1984 ’n hoogtepunt bereik. Nagenoeg 2 000 gaste uit Frankryk, Kanada, Frans-Guiana, Guadeloupe en die Verenigde State het byeengekom vir die toewyding van ’n pragtige vierverdiepinggebou, die nuwe Wagtoringtakkantoor en -Bethelhuis vir Martinique.
’n Ryk geestelike program is vir die oggend gereël. Dit het begin met broer Noll wat vertel het van die klein begin van die predikingswerk op die eiland. Die gehoor was verheug om te hoor dat die eerste sendelinge daardie oggend teenwoordig was.
Daarna was daar ’n verslag oor die bouwerk, gelewer deur broer Faustini, ’n sendeling. Veertig broers het twee en ’n half jaar lank voltyds aan die projek gewerk. Maar gedurende naweke het 100 tot 200 vrywilligers van die omliggende gemeentes kom help. Onder die voltydse werkers was broers uit Kanada, Frans-Guiana, Guadeloupe en Frankryk, wat betrekkings, huise, vriende en familie tydelik agtergelaat het om met die werk te kom help. Verskeie van hulle het van die geleentheid gebruik gemaak om hulle waardering uit te spreek vir die voorreg om ’n deel te kon hê aan die Koninkryksuitbreiding in hierdie deel van die veld.
Die hoogtepunt van die oggend was ’n aansporende toespraak met die tema “Gaan vooruit saam met Jehovah se organisasie”. Dit is gehou deur J. E. Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Hy het gewys op die belangrikheid van noue samewerking ten einde God se wil te doen en om vorentoe te beur. Die Getuies in Martinique het dit beslis gedoen, soos blyk uit die uitbreiding en die opbloei van Koninkrykswaarheid op die eiland.
Die nuusmedia het geesdriftig gereageer. Televisiedekking het die gebeurtenis onder die publiek se aandag gebring. Die koerant France-Antilles het gesê dat die hoë gehalte van die vakmanskap wat in die gebou te sien is ’n “groot liefde vir welgedane werk” weerspieël en het die gebou ’n “argitektoniese meesterstuk” genoem wat nadere ondersoek deur vakmanne waardig is.
’n Gasvrye volk
Die aantrekkingskrag van Martinique lê nie net in sy reputasie as ‘die beblomde eiland’ nie. Onder sy vriendelike en gasvrye bewoners is dit gebruiklik om ’n besoeker in te nooi en na hom te luister en hom nie te laat gaan sonder om hom iets aan te bied nie. Al is mense deesdae meer gejaag, staan hulle nog die tyd af om te gesels en te luister. Dit alles maak die predikingswerk ’n ware genot. Dit was die ondervinding van die Nolls op hulle eerste dag in die predikingswerk in Martinique.
“Ons was natuurlik gretig om uit te vind hoe die mense ons gaan ontvang, maar hulle reaksie het al ons verwagtinge oortref”, het broer Noll vertel. “Daardie oggend moes ek en my vrou twee keer teruggaan huis toe om ons tasse met Bybellektuur te vul. Party het die lektuur geneem sodra hulle gesien het dat dit oor God handel; ander het dit geneem bloot omdat ons hulle besoek het. Hoe stimulerend om sulke gasvryheid te sien! Waar ons in ander plekke moet sorg dat ons nie te lank vertoef nie omdat mense besig is, moet ons hier sorg dat ons nie te lank opgehou word nie sodat ons soveel mense moontlik kan besoek.”
Die ondervinding van ’n reisende opsiener het getoon hoe gasvry en vrygewig die eilanders is. “Ons broers het nog nooit geaarsel om te gee wat hulle het nie”, het hy gesê. “Eendag het ’n egpaar ons vir aandete genooi. Toe ons in hulle klein eenvertrekhuisie kom, wat geen lopende water of elektrisiteit gehad het nie, was ons verbaas oor wat ons gesien het. Daar, op ’n klein tafeltjie, was net twee borde. ‘Hoekom net twee?’ het ons gevra. Met hulle klein inkomste het hulle net twee borde, twee vurke en twee lepels gehad. Hulle het gesê dat hulle sou eet sodra ons klaar was. Elke keer dat ons aan hierdie egpaar gedink het, het ons oë vol trane geskiet.”
Liefde vir God se Woord
Die meeste mense in Martinique het ’n diepe eerbied vir die Heilige Skrif. Die Bybel, oopgeslaan by die boek Psalms, lê dikwels prominent op ’n tafel. Hulle glo dat die Bybel die huis beskerm wanneer hulle weg is. Wanneer mense die waarheid uit God se Woord leer, beskou hulle God se Woord natuurlik nie meer as ’n gelukbringer nie, maar as God se boodskap aan die mensdom.
Dit was die geval met die hoof van ’n plaaslike skool. Toe sy geleer het wat die Bybel oor beelde-aanbidding sê, het sy al haar godsdiensbeelde vernietig (Psalm 115:4-8; 1 Korinthiërs 10:14). Toe die bure hoor wat sy met haar “heiliges” gedoen het, het die nuus gou deur die dorpie versprei. Dit het ’n opskudding veroorsaak, aangeblaas deur die plaaslike priester se bitsige aanmerkings van die kansel af. Maar dit het nie verhinder dat sy die waarheid aanneem nie. Vandag help hierdie 75-jarige Getuie ywerig met die opbloei van ware aanbidding in haar deel van die eiland.
’n Jong man wat op ’n afgeleë plek woon, het die Bybel deur korrespondensie saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Kort daarna het hy ’n kringbyeenkoms bygewoon. Hy was so beïndruk deur wat hy gehoor het dat hy met sy terugkeer in sy tuisdorp, waar hy die klokkespeler van die plaaslike kerk was, vir al sy vriende daarvan vertel het. Een van sy vriende, wat verstom was oor die Bybelkennis wat hy in so ’n kort tydjie verkry het, het die priester besoek om hom te vra wat sy opinie van die Getuies is. “Net tussen ons”, het die priester gesê, “Jehovah se Getuies verkondig die waarheid.” Eerlank het die Getuie wat die studie gehou het hierdie boodskap van die jong man ontvang: “Ek het besluit om op te hou rook en op te hou om die klokke te lui.” Vandag help hy ander om die geluid van die waarheid te hoor en dien hy as ’n ouere man in een van die gemeentes in Fort-de-France.
Selfs die kinders toon merkwaardige belangstelling in God se Woord. Ter toeligting: ’n Getuie-onderwyseres het vir haar klas die boek Jou Jeug—Hoe om dit ten beste te benut gewys, en vier leerlinge wou ’n eksemplaar hê. Toe die Getuie die volgende dag vier eksemplare van die boek skool toe bring, was daar so baie ander leerlinge wat die boek wou hê dat sy moes reël dat hulle die boeke by haar huis kom haal. “’n Paar dae later het ’n vrou my genader en twee eksemplare van die boek gevra”, het die suster vertel. Die vrou het die boek wat haar dogter gekry het so waardeer dat sy dit met haar kinders wou bestudeer. “Ek het by haar die 105de eksemplaar van hierdie boek vir die jeug gelaat”, het die suster gesê.
Bybelwaarheid verander lewens
Soos in baie dele van die wêreld is dwelmgebruik ’n probleem in Martinique. Maar een jong man, wat eens ’n baard en lang hare gehad het en ’n strawwe dwelmgebruiker was, was so beïndruk deur die liefde en hartlikheid van die Getuies en die duidelike Bybelboodskap wat hulle verkondig het dat hy sy dwelmgewoonte opgegee, sy lewenswyse verander en sy lewe aan Jehovah God toegewy het.
Eendag het ’n motor langs hom stilgehou terwyl hy Die Wagtoring en Ontwaak! vir verbygangers op straat aangebied het. Die bestuurder, ’n polisieman, het uitgeroep: “Maar dis G—! Wat het jy gedoen om so te verander?” Hy het die jong man herken omdat hy hom in die verlede op dieselfde plek in hegtenis geneem het weens die besit van onwettige dwelms. Die jong Getuie het die Bybel en die tydskrifte uit sy briewetas gehaal en geantwoord: “Dis wat my verander het!” Die polisieman was aangenaam verras en het hom aangespoor om so aan te hou. Maar hy kon nie vertrek voordat die jong man twee tydskrifte by hom gelaat het nie.
Huweliksprobleme was vir sommige ’n struikelblok in die weg van geestelike vooruitgang. Maar God se Woord kan diegene wat waarlik hulle Skepper liefhet, help om selfs uit die moeilikste situasies los te breek. Een vrou met ses kinders by drie verskillende mans en wat met die derde man saamgelewe het, het die Bybel saam met die Getuies begin bestudeer. Sy het gou besef dat haar lewe nie aan God se vereistes voldoen nie. Haar liefde vir God en haar begeerte om hom te dien, het haar die moed gegee om die man met wie sy saamgewoon het weg te stuur, ten spyte van die swaar verantwoordelikheid om vingeralleen ses kinders te onderhou. Ander vroue in soortgelyke omstandighede het eweneens met geloof gehandel en is ryklik daarvoor geseën.
Byeenkomste gee ’n getuienis
Die kring- en streekbyeenkomste het grootliks bygedra tot die opbloei van Koninkrykswaarheid in Martinique. Die eerste kringbyeenkoms is in 1955 by die huis van broer en suster Noll gehou. Die vyf plaaslike Getuies is ondersteun deur 27 ander van die buureiland Guadeloupe. Hoewel die totale opkoms minder as 40 was, was daardie byeenkoms ’n baie opbouende ondervinding vir die broers.
Vandag kan die Getuies nie meer fasiliteite vind wat groot genoeg is sodat hulle een groot byeenkoms kan hou nie. In die plek daarvan het hulle verskeie metaalstrukture gebou wat op voetbalvelde opgeslaan kan word. Dit het dit moontlik gemaak om byeenkomste in die kleiner dorpe op die eiland te hou. Die plaaslike inwoners is altyd beïndruk deur die ordelike skaar getuies wat die byeenkoms bywoon en die bekwame wyse waarop hulle die byeenkomsfasiliteite oprig en verwyder. Meer as 4 000 mense het die twee streekbyeenkomste in 1984 bygewoon, en ’n uitstekende getuienis is gelewer.
Wat van die toekoms?
Die bou van die tak en Bethelhuis het die liefde, daardie “volmaakte band van eenheid”, onder al die broers in Martinique versterk (Kolossense 3:14, NW). Dit was ook vir almal ’n geleentheid om die gees van vrygewigheid aan te kweek. Baie het maaltye, vrugte, groente, hout, masjiene, meubels, ensovoorts bygedra. Ander het geld en duur juwele geskenk. Wat ’n bewys van onselfsugtige liefde!
Die nuwe tak sal ongetwyfeld ’n belangrike rol speel in die verdere opbloei van Koninkrykswaarheid in hierdie ‘beblomde eiland’. Daar is nog heelwat bewerking om te doen, want op 4 April 1985 was daar 4 848 mense teenwoordig by die Herdenking van Jesus Christus se dood. Al die getuies in Martinique sien uit na die tyd wanneer die hele aarde ’n beblomde tuin—’n paradys—sal wees onder die regverdige heerskappy van God se Messiaanse Koninkryk.—Lukas 23:43, NW.
[Kaarte/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MARTINIQUE
Fort-de-France
[Kaart]
SUID-AMERIKA
[Prent op bladsy 28]
Jongmense gee ook vreugdevol gehoor aan Koninkrykswaarheid