Vrae van lesers
▪ Wat simboliseer “die voete en die tone” van die “groot beeld” wat in Daniël 2:31-45 beskryf word?
Hierdie profesie is geïnspireer deur die Een “wat geheime openbaar”, die Soewereine Heer Jehovah, en bereik sy hoogtepunt aan “die einde van die dae”, wanneer die geskil in verband met wêreldoorheersing eens en vir altyd besleg sal word (Daniël 2:28). Van die begin van “die tye van die nasies” in 607 v.G.J. tot vandag was daar ’n opeenvolging van wêreld-moondhede, wat begin het met die Babiloniese ryk en gevolg is deur die Medo-Persiese, Griekse, Romeinse en Anglo-Amerikaanse ryk. Hulle word deur die metaaldele van die beeld voorgestel.—Lukas 21:24.
Maar aan die einde van die Heidense Tye in 1914 het ’n mengelmoes van menseregerings hier op aarde verskyn (Mattheüs 24:3-12). Die gewone man (“die nageslag van die mense” [NW] wat uit die stof van die aarde gemaak is) oefen groter invloed in regeringsake uit. Sosialistiese en demokratiese regerings, sowel as ander ysteragtige, verdrukkende regeringsvorms, het na vore gekom. Hulle is soos die “yster gemeng met kleigrond” waaruit die voete en tone van die beeld bestaan.
Verskeie beskouings oor die tien “tone” is geopper. Maar aangesien “tien” dikwels in die Bybel gebruik word om volledigheid met betrekking tot aardse dinge aan te dui, skyn dit logies te wees dat die tien “tone” die hele wêreldwye regeringstelsel aan die voleinding van die dae afbeeld. ‘God se Koninkryk kom’ teen die voete en tone van die beeld en stamp die laaste manifestasies van menseregering fyn. Hoe bly kan ons tog wees dat die vreedsame, voorspoedige regering van Christus se Koninkryk dan die hele aarde sal vul!a—Mattheüs6:9, 10; vergelyk Jesaja 11:1, 9.
Nebukadnesar se ander droom, wat in Daniël hoofstuk 4 beskryf word, dui ook op gebeure ná die einde van die Heidense Tye. Mense sal uiteindelik moet “erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil”, dit wil sê, aan die Koning, Jesus Christus.—Daniël 4:25; 7:13, 14.
[Voetnote]
a Kyk “Laat u wil geskied op aarde”, wat in 1967 uitgegee is deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, bladsye 108-127, vir ’n breedvoeriger bespreking van die “groot beeld”.